Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die opstanding van Jesus—Wat dit vir ons beteken

Die opstanding van Jesus—Wat dit vir ons beteken

“Hy is opgewek.”—MATT. 28:6.

1, 2. (a) Wat wou party godsdiensleiers weet, en hoe het Petrus geantwoord? (Sien die prent aan die begin van die artikel.) (b) Waarom was Petrus by daardie geleentheid moedig?

NIE lank nadat Jesus gesterf het nie, moes die apostel Petrus voor ’n groep invloedryke en vyandige manne verskyn. Hulle was magtige Joodse godsdiensleiers—die einste manne wat vir Jesus se dood verantwoordelik was. Die manne het ’n verduideliking van hom geëis. Petrus het ’n man genees wat van geboorte af verlam was, en hulle wou weet deur watter krag of in wie se naam Petrus dit gedoen het. Die apostel het moedig geantwoord: “In die naam van Jesus Christus die Nasarener, wat julle aan die paal gehang het maar wat God uit die dode opgewek het, . . . deur hóm [staan] hierdie man hier gesond voor julle.”—Hand. 4:5-10.

2 Vroeër het Petrus Jesus drie keer uit vrees verloën (Mark. 14:66-72). Waarom was hy moedig noudat hy voor die godsdiensleiers gestaan het? Heilige gees het ’n baie belangrike rol gespeel, maar Petrus se oortuiging dat Jesus opgewek is, het ook. Wat het die apostel so seker gemaak dat Jesus lewe? En waarom kan ons ook daarvan oortuig wees?

3, 4. (a) Watter opstandings het voor die geboorte van Jesus se apostels plaasgevind? (b) Watter opstandings het Jesus verrig?

3 Die idee dat die dooies weer kan lewe, was nie vir Jesus se apostels iets nuuts nie; opstandings het plaasgevind selfs voordat hulle gebore is. Hulle het geweet dat God die profete Elia en Elisa die krag gegee het om sulke wonderwerke te verrig (1 Kon. 17:17-24; 2 Kon. 4:32-37). ’n Dooie man het selfs lewend geword toe sy liggaam in ’n graf gegooi is en aan Elisa se beendere geraak het (2 Kon. 13:20, 21). Die vroeë Christene het hierdie skriftuurlike verslae geglo, net soos ons glo dat God se Woord waar is.

4 Ons almal is waarskynlik al diep geraak deur die verslae van die opstandings wat Jesus verrig het. Toe hy ’n weduwee se enigste seun opgewek het, was sy ongetwyfeld verstom (Luk. 7:11-15). By ’n ander geleentheid het Jesus ’n 12-jarige dogtertjie opgewek. Stel jou die vreugde en verwondering voor wat haar bedroefde ouers gevoel het toe hulle dogter opgewek is! (Luk. 8:49-56). En hoe verheug moes omstanders tog gewees het toe hulle gesien het hoe Lasarus lewend en gesond uit die graf kom!—Joh. 11:38-44.

WAAROM JESUS SE OPSTANDING UNIEK WAS

5. Hoe het Jesus se opstanding van vorige opstandings verskil?

5 Die apostels het geweet dat Jesus se opstanding anders was as vorige opstandings. Mense wat vroeër opgewek is, het met fisiese liggame teruggekeer en het uiteindelik weer gesterf. Jesus is opgewek met ’n geesliggaam wat onverderflik was. (Lees Handelinge 13:34.) Petrus het geskryf dat Jesus “doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees”. Wat meer is, “hy is aan God se regterhand, want hy het na die hemel gegaan; en engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp” (1 Pet. 3:18-22). Die ander opstandings was ongelooflike wonderwerke, maar Jesus se opstanding was die grootste wonderwerk wat nog ooit plaasgevind het.

6. Watter uitwerking het Jesus se opstanding op sy dissipels gehad?

6 Jesus se opstanding het ’n verreikende uitwerking op sy dissipels gehad. Hy was nie meer dood, soos sy vyande gedink het nie. Jesus was lewend as ’n magtige geespersoon wat deur geen mens leed aangedoen kon word nie. Sy opstanding het bewys dat hy die Seun van God is, en dit het die dissipels se gemoedstemming van diepe droefheid tot groot vreugde verander. Wat meer is, hulle was nie meer bevrees nie, maar was nou moedig. Jesus se opstanding het ten nouste verband gehou met Jehovah se voorneme en met die goeie nuus wat hulle wyd en syd met vrymoedigheid verkondig het.

7. Wat doen Jesus vandag, en watter vrae ontstaan?

7 As Jehovah se knegte weet ons goed dat Jesus nie net ’n uitsonderlike mens was nie. Hy lewe vandag en rig ’n werk wat almal op die aarde raak. As die heersende Koning van God se hemelse Koninkryk sal Jesus Christus binnekort die aarde van goddeloosheid reinig en dit in ’n paradys omskep waar mense vir ewig sal lewe (Luk. 23:43). Dit sou nie moontlik gewees het as Jesus nie opgewek is nie. Watter redes het ons dus om te glo dat hy opgewek is? En wat beteken sy opstanding vir ons?

JEHOVAH TOON DIE KRAG WAT HY OOR DIE DOOD HET

8, 9. (a) Waarom het die Joodse godsdiensleiers gevra dat Jesus se graf beveilig moet word? (b) Wat het gebeur toe vroue na die graf toe gekom het?

8 Nadat Jesus tereggestel is, het die hoofpriesters en die Fariseërs na Pilatus toe gekom en gesê: “Meneer, ons onthou dat daardie bedrieër, toe hy nog gelewe het, gesê het: ‘Ná drie dae sal ek opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot die derde dag toe beveilig moet word, sodat sy dissipels nie dalk kom en hom steel en vir die volk sê: ‘Hy is uit die dode opgewek!’ en hierdie laaste bedrog erger as die eerste sal wees nie.” Pilatus het hulle geantwoord: “Julle het ’n wag. Gaan beveilig dit na julle beste wete.” En dit is presies wat hulle gedoen het.—Matt. 27:62-66.

9 Jesus se liggaam is in ’n graf geplaas wat in ’n rots uitgekap is en met ’n groot klip verseël is. Dit is waar die Joodse godsdiensleiers wou hê Jesus vir ewig moes bly—leweloos in daardie graf. Maar Jehovah het iets heeltemal anders in gedagte gehad. Toe Maria Magdalena en die ander Maria op die derde dag na die graf toe gekom het, het hulle gevind dat die klip weggerol is en dat ’n engel daarop sit. Die engel het vir die vroue gesê om in die graf te kyk sodat hulle kon sien dat dit leeg is. “Hy is nie hier nie, want hy is opgewek”, het die engel gesê (Matt. 28:1-6). Jesus was lewend!

10. Watter bewyse van Jesus se opstanding het Paulus voorsien?

10 Die gebeure van die volgende 40 dae het alle twyfel uit die weg geruim dat Jesus opgewek is. Die apostel Paulus het die bewyse opgesom en aan die Korintiërs geskryf: “Een van die eerste dinge wat ek aan julle oorgedra het, is wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif; en dat hy aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf. Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, waarvan die meeste nou nog lewe, maar party ontslaap het. Daarna het hy aan Jakobus verskyn, toe aan al die apostels; maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn asof aan een wat te vroeg gebore is.”—1 Kor. 15:3-8.

HOE ONS WEET DAT JESUS OPGEWEK IS

11. Hoe het Jesus se opstanding “volgens die Skrif” plaasgevind?

11 Een rede waarom ons weet dat Jesus uit die dode opgewek is, is dat sy opstanding “volgens die Skrif” plaasgevind het. God se Woord het sy opstanding voorspel. Dawid het byvoorbeeld geskryf dat “hy wat teenoor [God] lojaal is”, nie in Sjeool, oftewel die Graf, gelaat sou word nie. (Lees Psalm 16:10.) Op Pinkster 33 HJ het die apostel Petrus hierdie profetiese vers op Jesus toegepas en gesê: “[Dawid het] die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat, dat hy nie in Hades [die Graf] verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.”—Hand. 2:23-27, 31.

12. Wie het die verrese Jesus gesien?

12 ’n Tweede rede waarom ons weet dat Jesus opgewek is, is dat ons die getuienis van baie getuies het. Oor ’n tydperk van 40 dae het die verrese Jesus aan sy dissipels verskyn in die tuin waar die graf was sowel as op die pad na Emmaus en op ander plekke (Luk. 24:13-15). By hierdie geleenthede het hy met individue, insluitende Petrus, sowel as met groepe mense gepraat. Trouens, die verrese Jesus het eenkeer aan ’n skare van meer as 500 mense verskyn! Die getuienis van soveel ooggetuies kan nie geïgnoreer word nie.

13. Hoe het die ywer van die dissipels getoon dat hulle seker was dat Jesus opgewek is?

13 ’n Derde rede waarom ons weet dat Jesus se opstanding plaasgevind het, is die ywer waarmee sy dissipels dit verkondig het. Omdat hulle ywerig van die opstanding van Christus getuig het, is hulle vervolg, het hulle gely en is hulle doodgemaak. As Jesus nie opgewek is nie—as dit alles ’n leuen was—sou Petrus tog sekerlik nie sy lewe gewaag het om Christus se opstanding te verkondig aan die godsdiensleiers, wat Jesus gehaat het en vir sy dood verantwoordelik was nie. Dit was omdat Petrus en die ander dissipels seker was dat Jesus lewe en dat hy die werk rig wat God gedoen wou hê. Wat meer is, Jesus se opstanding het sy volgelinge verseker dat hulle ook opgewek sou word. Stefanus het byvoorbeeld gesterf in die oortuiging dat daar ’n opstanding van die dooies sou wees.—Hand. 7:55-60.

14. Waarom glo jy dat Jesus lewe?

14 ’n Vierde rede waarom ons weet dat Jesus opgewek is, is dat ons bewyse het dat hy nou as Koning heers en as Hoof van die Christengemeente dien. Die ware Christelike godsdiens floreer dus. Sou dit gebeur het as Jesus nie uit die dode opgewek is nie? Trouens, ons sou waarskynlik nooit geweet het wie hy is as hy nie opgewek is nie. Maar ons het grondige redes om te glo dat Jesus nou lewe en ons rig en lei terwyl ons die goeie nuus wyd en syd verkondig.

WAT JESUS SE OPSTANDING VIR ONS BETEKEN

15. Waarom gee Jesus se opstanding ons die moed om te preek?

15 Die opstanding van Christus gee ons die moed om te preek. God se vyande gebruik al 2 000 jaar lank elke soort wapen om die predikingswerk stop te sit—afvalligheid, spottery, massageweld, verbiedinge, foltering en teregstelling. Tog het niks—‘geen wapen wat teen ons gesmee is’—ons Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk gekeer nie (Jes. 54:17). Ons is nie bang vir Satan se trawante, of slawe, nie. Jesus is met ons, en hy ondersteun ons net soos hy belowe het (Matt. 28:20). Ons het alle rede om vreesloos te wees, want ongeag wat ons vyande probeer doen, hulle sal ons nooit stilmaak nie!

Jesus se opstanding gee ons die moed om te preek (Sien paragraaf 15)

16, 17. (a) Hoe bevestig die opstanding alles wat Jesus geleer het? (b) Watter krag het God Jesus volgens Johannes 11:25 gegee?

16 Jesus se opstanding bevestig alles wat hy geleer het. Paulus het geskryf dat Christene se geloof en die predikingswerk tevergeefs sou wees as Christus nie uit die dood opgewek is nie. ’n Bybelgeleerde het geskryf: “As Christus nie opgewek is nie, . . . sou Christene patetiese slagoffers van ’n groot bedrogspul gewees het.” Sonder Jesus se opstanding is die Evangelieverslae net ’n hartseer verhaal van ’n goeie en wyse man wat deur sy vyande doodgemaak is. Maar Christus is opgewek, en dit bevestig dat alles wat hy geleer het, insluitende wat hy oor die toekoms gesê het, waar is.—Lees 1 Korintiërs 15:14, 15, 20.

17 Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Joh. 11:25). Hierdie treffende stelling sal ongetwyfeld waar word. Jehovah het Jesus die krag gegee om nie net diegene op te wek wat in die hemel sal heers nie, maar ook die miljarde wat die vooruitsig op ewige lewe op die aarde het. Jesus se soenofferande en opstanding beteken dat die dood iets van die verlede sal wees. Versterk hierdie kennis jou nie om enige beproewing te verduur of selfs die dood moedig tegemoet te gaan nie?

18. Watter waarborg voorsien Jesus se opstanding?

18 Die opstanding van Jesus gee ons die versekering dat die aarde se bewoners volgens Jehovah se liefdevolle standaarde geoordeel sal word. Toe Paulus ’n groep mans en vroue in eertydse Atene aangespreek het, het hy gesê: “[God is] van voorneme . . . om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het” (Hand. 17:31). Ja, Jesus is die Regter wat deur God aangestel is, en ons kan seker wees dat sy oordeel regverdig en liefdevol sal wees.—Lees Jesaja 11:2-4.

19. Hoe raak geloof in Christus se opstanding ons?

19 Geloof in Jesus se opstanding beweeg ons om God se wil te doen. As dit nie vir sy offerdood en opstanding was nie, sou ons nog steeds onder die vloek van sonde en die dood gewees het (Rom. 5:12; 6:23). As Jesus nie opgewek is nie, kon ons net sowel gesê het: “Eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Kor. 15:32). Maar ons fokus nie op die genietinge van die lewe nie. Ons koester eerder die opstandingshoop en het alle rede om Jehovah se leiding in alles te volg.

20. Hoe getuig Jesus se opstanding van God se grootheid?

20 Christus se opstanding lewer stille maar duidelike bewys van die grootheid van Jehovah, wat “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Heb. 11:6). Watter krag en wysheid het Jehovah tog getoon deur Jesus tot onsterflike hemelse lewe op te wek! Wat meer is, God het sodoende getoon dat hy die vermoë het om al sy beloftes te vervul. Dit sluit God se profetiese belofte in dat ’n spesiale “saad”, of nageslag, ’n noodsaaklike rol daarin sou speel om die geskil van universele soewereiniteit te besleg. Jesus moes sterf en opgewek word sodat hierdie belofte vervul kon word.—Gen. 3:15.

21. Wat beteken die opstandingshoop vir jou?

21 Is jy nie dankbaar teenoor Jehovah, wat ons die vaste hoop van die opstanding gegee het nie? Die Skrif voorsien hierdie versekering: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Hierdie wonderlike vooruitsig is oorgedra aan die getroue apostel Johannes, vir wie daar gesê is: “Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.” By wie het Johannes die geïnspireerde openbaring ontvang? Dit is deur die verrese Jesus Christus gegee.—Op. 1:1; 21:3-5.