Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom ons heilig moet wees

Waarom ons heilig moet wees

“Julle moet heilig wees.”—LEV. 11:45.

1. Hoe kan die boek Levitikus ons help?

DIE boek Levitikus bevat meer verwysings na heiligheid as enige ander Bybelboek. Aangesien hierdie eienskap vir alle ware aanbidders van Jehovah ’n vereiste is, sal dit ons help om heilig te wees as ons Levitikus verstaan en waardeer.

2. Wat is ’n paar feite omtrent Levitikus?

2 Die boek Levitikus, wat deur die profeet Moses geskryf is, is deel van “die hele Skrif” wat nuttig is om te onderrig (2 Tim. 3:16). Jehovah se naam verskyn gemiddeld tien keer in elke hoofstuk van die boek. As ons Levitikus verstaan, sal dit ons versterk sodat ons niks doen wat God se naam oneer aandoen nie (Lev. 22:32). Die feit dat die woorde “Ek is Jehovah” dikwels in die boek voorkom, behoort ons te herinner om God te gehoorsaam. In hierdie en die volgende artikel sal ons ’n paar geestelike skatte bespreek uit Levitikus, ’n gawe van God wat ons help om heilige aanbidding te verrig.

HEILIGHEID WORD VEREIS

3, 4. Wat word voorgestel deur die feit dat Aäron en sy seuns gewas is? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

3 Lees Levitikus 8:5, 6Jehovah het Aäron gekies om as Israel se hoëpriester te dien, en sy seuns moes as priesters ten behoewe van die nasie dien. Aäron stel Jesus Christus voor, en Aäron se seuns stel Jesus se gesalfde volgelinge voor. Het die feit dat Aäron gewas is, voorgestel dat Jesus gereinig moes word? Nee, want Jesus was sondeloos en “onbesmet”, en daarom was dit nie nodig dat hy gereinig moes word nie (Heb. 7:26; 9:14). Maar nadat Aäron gewas is, het hy Jesus se rein en regverdige toestand voorgestel. Wat word voorgestel deur die feit dat Aäron se seuns gewas is?

4 Die feit dat Aäron se seuns gewas is, het die reiniging voorafgeskadu van diegene wat gekies is om lede van die hemelse priesterdom te wees. Hou die doop van die gesalfdes met hierdie reiniging verband? Nee, doop was sondes nie weg nie; dit simboliseer eerder dat ’n persoon ’n onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah God gemaak het. Die gesalfdes word “deur middel van die woord” gewas, en dit vereis dat hulle Christus se leringe heelhartig in hulle lewe moet toepas (Ef. 5:25-27). Hulle word dus geheilig en gereinig. Maar wat van die “ander skape”?—Joh. 10:16.

5. Waarom kan daar gesê word dat die ander skape deur middel van God se Woord gereinig word?

5 Aäron se seuns het nie die “groot menigte” van Jesus se ander skape voorgestel nie (Op. 7:9). Word hierdie gedoopte persone dus ook deur middel van God se Woord geheilig en gereinig? Ja, hulle word! Wanneer diegene met die aardse hoop lees wat die Bybel oor die krag van Jesus se vergote bloed sê, stel hulle geloof in hierdie woorde en verrig hulle “dag en nag heilige diens” (Op. 7:13-15). Die feit dat die gesalfdes en die ander skape ‘goeie gedrag handhaaf’, toon dat hulle voortdurend gereinig word (1 Pet. 2:12). Hoe bly moet dit Jehovah se hart tog maak om die reinheid en eenheid van die gesalfdes en ander skape te sien, wat na hulle Herder, Jesus, luister en hom lojaal volg!

6. Watter selfondersoek sal voordelig wees?

6 Die vereiste dat Israel se priesterdom fisies skoon moes wees, is vir Jehovah se hedendaagse volk betekenisvol. Diegene met wie ons die Bybel studeer, let dikwels op dat ons plekke van aanbidding skoon is en dat ons skoon en netjies geklee is. Maar die reinheid van die priesterdom help ons om te besef dat enigeen wat opgaan na die verhewe berg van Jehovah se aanbidding, “rein van hart” moet wees. (Lees Psalm 24:3, 4; Jes. 2:2, 3.) Ons heilige diens aan God moet met ’n gereinigde verstand en hart sowel as ’n skoon liggaam verrig word. Dit vereis gereelde selfondersoek, waarna party dalk groot veranderinge moet maak sodat hulle heilig kan wees (2 Kor. 13:5). ’n Gedoopte persoon wat byvoorbeeld opsetlik na pornografie kyk, moet hom afvra: ‘Toon ek dat ek heilig is?’ Dan moet hy hulp kry om van hierdie walglike gewoonte ontslae te raak.—Jak. 5:14.

WEES HEILIG DEUR GEHOORSAAM TE WEES

7. Watter voorbeeld het Jesus in ooreenstemming met Levitikus 8:22-24 gestel?

7 Toe Israel se priesterdom ingehuldig is, is die bloed van ’n ram aan die regteroor, duim en groottoon van die Hoëpriester, Aäron, en sy seuns gesmeer. (Lees Levitikus 8:22-24.) Die manier waarop bloed hier gebruik is, het getoon dat die priesters hulle gehoorsaam sou inspan om hulle pligte uit te voer. In ooreenstemming hiermee stel die Hoëpriester, Jesus, ’n volmaakte voorbeeld vir gesalfdes en die ander skape. Hy het sy oor geneig tot God se leiding. Jesus se hande is gebruik om Jehovah se wil uit te voer, en sy voete het nooit van ’n heilige weg afgedwaal nie.—Joh. 4:31-34.

8. Wat moet alle aanbidders van Jehovah doen?

8 Gesalfde Christene en Jesus se ander skape moet dieselfde weg van onkreukbaarheid as hulle Hoëpriester volg. Alle aanbidders van Jehovah moet gehoorsaam wees aan die riglyne in God se Woord. Dan sal hulle nie sy gees bedroef nie (Ef. 4:30). Hulle moet ‘reguit paaie vir hulle voete maak’.—Heb. 12:13.

9. Wat het drie broers gesê wat ten nouste saam met lede van die Bestuursliggaam werk, en hoe kan hulle woorde jou help om heilig te bly?

9 Kyk na die opregte woorde van drie broers met die aardse hoop wat al jare lank ten nouste saam met lede van die Bestuursliggaam werk. Een van hulle het gesê: “Dit is beslis ’n unieke diensvoorreg, maar as gevolg van my noue assosiasie met hierdie broers het ek van tyd tot tyd gesien dat hulle onvolmaak is, al is hulle geesgesalfdes. Oor die jare heen was een van my doelwitte dus om gehoorsaam te wees aan diegene wat die leiding neem.” Die tweede broer het gesê: “Tekste soos 2 Korintiërs 10:5, wat handel oor ‘gehoorsaamheid aan Christus’, het my gehelp om gehoorsaam te wees en my samewerking te gee aan dié wat die leiding neem. Dít is gehoorsaamheid uit die hart.” Die derde broer het gesê: “Om lief te wees vir dit waarvoor Jehovah lief is, te haat wat hy haat, voortdurend sy leiding te soek en te doen wat hom behaag, beteken dat ons gehoorsaam moet wees aan Jehovah se organisasie en aan diegene wat hy gebruik om sy voorneme met die aarde te bevorder.” Hierdie broer het gehoor dat Nathan Knorr, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam was, aanvaar het wat gesê is in die artikel “Birth of the Nation”, in ’n Watch Tower van 1925, selfs al het party ander dit bevraagteken. Hierdie gehoorsaamheid het die broer baie beïndruk. As jy peins oor die woorde van hierdie drie mans, kan dit jou help om heilig te wees deur gehoorsaam te wees.

HEILIGE GEHOORSAAMHEID AAN GOD SE WET OOR BLOED

10. Hoe belangrik is dit dat ons God se wet oor bloed gehoorsaam?

10 Lees Levitikus 17:10. Jehovah het die Israeliete beveel om nie “enige bloed” te eet nie. Daar word ook van Christene vereis om hulle te weerhou van bloed—dié van diere sowel as dié van mense (Hand. 15:28, 29). Ons sidder aan die blote gedagte dat God ‘sy aangesig teen ons sal rig’ en ons uit sy gemeente sal verwyder. Ons is lief vir hom en wil hom gehoorsaam. Selfs as ons voor ’n lewensgevaarlike situasie te staan kom, is ons vasbeslote om standvastig te bly wanneer diegene wat Jehovah nie ken en hom nie wil gehoorsaam nie, druk op ons plaas. Ja, ons verwag om bespot te word omdat ons ons van bloed weerhou, maar ons kies om aan God gehoorsaam te wees (Jud. 17, 18). Die regte beskouing van bloed sal ons versterk om vasbeslote te wees om dit nie te eet of ’n bloedoortapping te aanvaar nie.—Deut. 12:23.

11. Waarom kan ons sê dat die jaarlikse Versoendag nie bloot ’n ritueel was nie?

11 Die manier waarop dierebloed deur die hoëpriester van eertydse Israel op die jaarlikse Versoendag gebruik is, help ons om God se beskouing van bloed te verstaan. Bloed was uitsluitlik gebruik om versoening te doen vir die sondes van diegene wat Jehovah se vergifnis gesoek het. Die bloed van die bul en van die bok moes in die rigting van die deksel en voor die deksel van die verbondsark gespat word (Lev. 16:14, 15, 19). Deur middel van hierdie bloed kon Jehovah die Israeliete se sondes vergewe. Wat meer is, Jehovah het beveel dat ’n man wat ’n dier vir voedsel doodgemaak het, die bloed moes uitgiet en dit met stof moes bedek, “want die siel van elke soort vlees is sy bloed” (Lev. 17:11-14). Was dit alles bloot ’n ritueel? Nee. Die gebruik van bloed op die Versoendag, sowel as die bevel om die bloed op die grond uit te giet, stem ooreen met die bevel wat Jehovah vroeër aan Noag en sy nakomelinge aangaande bloed gegee het (Gen. 9:3-6). Jehovah God het hulle verbied om bloed te eet. Wat beteken dit vir Christene?

12. Hoe word bloed met vergifnis verbind in Paulus se brief aan die Hebreeuse Christene?

12 Toe die apostel Paulus aan die Hebreeuse Christene oor die reinigende krag van bloed geskryf het, het hy verduidelik: “Byna alles word volgens die Wet met bloed gereinig, en tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22). Paulus het ook daarop gewys dat diereoffers, hoewel dit van waarde was, die Israeliete net daaraan herinner het dat hulle sondaars is en dat meer nodig was om hulle sondes heeltemal te verwyder. Ja, die Wet was “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge, maar nie die wese van die dinge nie” (Heb. 10:1-4). Hoe sou vergifnis van sondes moontlik wees?

13. Hoe voel jy oor die feit dat Jesus die waarde van sy bloed voor Jehovah aangebied het?

13 Lees Efesiërs 1:7. Die offerdood van Jesus Christus, wat “homself vir [ons] oorgegee het”, is baie betekenisvol vir almal wat hom en sy Vader liefhet (Gal. 2:20). Maar dit was wat Jesus sy dood en opstanding gedoen het wat ons werklik bevry het en vergifnis van ons sondes moontlik gemaak het. Jesus het alles vervul wat op die Versoendag in die Mosaïese Wet voorafgeskadu is. Op daardie dag het die hoëpriester van die offerdiere se bloed in die Allerheiligste van die tabernakel, en later in Salomo se tempel, ingeneem en dit voor God aangebied, asof hy in Sy teenwoordigheid was (Lev. 16:11-15). Net so het Jesus met die waarde van sy mensebloed in die hemel self ingegaan en dit voor Jehovah aangebied (Heb. 9:6, 7, 11-14, 24-28). Hoe dankbaar is ons tog dat ons sondes vergewe kan word en dat ons ’n rein gewete kan hê omdat ons geloof in die bloed van Jesus beoefen!

14, 15. Waarom is dit belangrik om Jehovah se wet oor bloed te verstaan en te gehoorsaam?

14 Dalk is dit nou vir jou duideliker waarom Jehovah ons beveel om nie “enige bloed” te eet nie (Lev. 17:10). Verstaan jy die rede waarom God bloed as heilig beskou? Omdat bloed in sy oë gelyk is aan lewe (Gen. 9:4). Stem jy saam dat ons God se beskouing van bloed moet aanvaar en gehoorsaam moet wees aan sy bevel om ons daarvan te weerhou? Die enigste manier waarop enigeen van ons vrede met God kan geniet, is om geloof in Jesus se losprysoffer te stel en te begryp dat bloed spesiale betekenis vir ons Skepper het.—Kol. 1:19, 20.

15 Enigeen van ons kan skielik voor die bloedkwessie te staan kom. Of ’n familielid of ’n dierbare vriend kan onverwags voor die besluit te staan kom om ’n bloedoortapping te aanvaar of nie. Gedurende so ’n krisis moet besluite ook geneem word aangaande bloedfraksies en mediese prosedures. Daarom is dit baie belangrik dat ons navorsing moet doen en ons op ’n moontlike noodgeval moet voorberei. Sulke maatreëls, tesame met gebed, sal ons help om ’n ferm standpunt in te neem en nie ’n bloedoortapping te aanvaar nie. Ons wil Jehovah se hart tog sekerlik nie seermaak deur iets te aanvaar wat deur sy Woord veroordeel word nie! Baie mediese deskundiges en ander voorstanders van bloedoortappings vra mense om bloed te skenk in die hoop dat dit lewens sal red. Maar Jehovah se heilige volk erken dat die Skepper die reg het om te sê hoe bloed gebruik moet word. Vir hom is “enige bloed” heilig. Ons moet vasbeslote wees om sy wet oor bloed te gehoorsaam. En deur ons heilige gedrag bewys ons aan hom dat ons die lewegewende krag van Jesus se bloed waardeer. Dit is die enigste bloed wat die vergifnis van sonde en die ewige lewe moontlik maak.—Joh. 3:16.

Is jy vasbeslote om Jehovah se wet oor bloed te gehoorsaam? (Sien paragrawe 14, 15)

WAAROM JEHOVAH VERWAG DAT ONS HEILIG MOET WEES

16. Waarom moet Jehovah se volk heilig wees?

16 Toe God die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het, het hy vir hulle gesê: “Ek is Jehovah wat julle uit Egipteland laat optrek om my aan julle as God te bewys; en julle moet heilig wees, want ek is heilig” (Lev. 11:45). Die volk Israel moes heilig wees omdat Jehovah heilig is. As Jehovah se Getuies moet ons ook heilig wees. Die boek Levitikus laat geen twyfel hieroor nie.

17. Hoe voel jy nou oor die Bybelboek Levitikus?

17 Ons het beslis baat gevind by ons bespreking van sekere dele van Levitikus. Hierdie studie het jou waarskynlik gehelp om groter waardering vir hierdie geïnspireerde Bybelboek te hê. Om te peins oor die kosbare inligting in Levitikus, het jou ongetwyfeld gehelp om beter te verstaan waarom ons heilig moet wees. Maar watter ander geestelike skatte bevat hierdie deel van God se geïnspireerde Woord? Wat kan ons nog uit Levitikus leer oor hoe om heilige diens aan Jehovah te verrig? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.