Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons moet in ons hele gedrag heilig wees

Ons moet in ons hele gedrag heilig wees

“Word . . . in julle hele gedrag heilig.”—1 PET. 1:15.

1, 2. (a) Wat word van God se volk verwag wat hulle gedrag betref? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel beantwoord word?

DIE apostel Petrus het die boek Levitikus onder inspirasie aangehaal en verduidelik dat Christene heilig moet wees net soos die Israeliete heilig moes wees. (Lees 1 Petrus 1:14-16.) “Die Heilige”, Jehovah, verwag dat die gesalfdes en die “ander skape” hulle bes moet doen om heilig te wees in hulle hele gedrag—nie net in sekere aspekte daarvan nie.—Joh. 10:16.

2 ’n Verdere ondersoek van die geestelike skatte in Levitikus sal baie voordelig wees, en as ons toepas wat ons leer, sal dit ons help om in ons hele gedrag heilig te wees. Ons sal vrae bespreek soos: Waarom moet ons nie Bybelbeginsels skend nie? Wat leer ons uit Levitikus oor hoe om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun? Wat kan ons leer uit die offerandes wat gebring is?

MOENIE BYBELBEGINSELS SKEND NIE

3, 4. (a) Waarom moet Christene nie Bybelwette en -beginsels skend nie? (b) Waarom moet ons nie wraak neem of ’n wrok koester nie?

3 As ons Jehovah se hart wil bly maak, moet ons streng by sy wette en beginsels bly en nooit ’n onheilige, traak-my-nieagtige gesindheid teenoor dit aanneem nie. Hoewel ons nie onder die Mosaïese Wet is nie, help die vereistes daarvan ons om te verstaan wat vir God aanvaarbaar sowel as onaanvaarbaar is. Die Israeliete is byvoorbeeld beveel: “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester teen die kinders van jou volk nie; en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is Jehovah.”—Lev. 19:18.

4 Jehovah wil nie hê dat ons wraak moet neem of ’n wrok moet koester nie (Rom. 12:19). As ons God se wette en beginsels ignoreer, sal die Duiwel baie bly wees en kan ons oneer op Jehovah se naam bring. Selfs as iemand ons opsetlik seergemaak het, moet ons nie toelaat dat gegriefdheid ’n houvas op ons kry nie. God het ons die voorreg gegee om “erdehouers” te wees wat die skatte van die bediening dra (2 Kor. 4:1, 7). Gegriefdheid, wat net so vernietigend is soos suur, behoort nie in so ’n erdehouer nie!

5. Wat kan ons leer uit die verslag van Aäron en die dood van sy seuns? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

5 In Levitikus 10:1-11 lees ons van ’n hartverskeurende ondervinding wat Aäron se gesin deurgemaak het. Hulle moes verpletterd gewees het toe Aäron se seuns Nadab en Abihu by die tabernakel deur vuur uit die hemel verteer is. Wat ’n toets van geloof was dit tog vir Aäron en sy gesin om nie oor hulle dooie gesinslede te treur nie! Bewys jy dat jy heilig is deur nie te assosieer met gesinslede of ander wat uitgesit is nie?—Lees 1 Korintiërs 5:11.

6, 7. (a) Wat moet ons in ag neem wanneer ons besluit of ons aan ’n kerktroue gaan deelneem? (Sien voetnoot.) (b) Hoe kan ons met familielede wat nie Getuies is nie, oor ons standpunt aangaande kerktroues redeneer?

6 Ons kom dalk nie voor so ’n hewige toets soos dié van Aäron en sy gesin te staan nie. Maar sê nou ons word genooi na ’n kerktroue van ’n familielid wat nie ’n Getuie is nie en gevra om aan die seremonie deel te neem? Daar is geen Bybelwet wat ons verbied om dit by te woon nie, maar daar is Bybelbeginsels wat ons in ag moet neem wanneer ons voor so ’n besluit te staan kom. *

7 Ons familielede wat nie Getuies is nie, sal ons vasbeslotenheid om onder sulke omstandighede in Jehovah se oë heilig te bly, dalk vreemd vind (1 Pet. 4:3, 4). Ons probeer natuurlik om hulle nie aanstoot te gee nie, maar dit is gewoonlik die beste om op ’n vriendelike en tog reguit manier met hulle te praat. Dit kan dalk lank voor die geleentheid gedoen word. Ons kan hulle bedank en sê dat ons bly is dat hulle ons gevra het om aan die troue deel te neem. Dan kan ons vir hulle sê dat ons nie die geluk van hulle spesiale dag wil bederf en hulle sowel as hulle gaste in die verleentheid wil stel omdat ons weens ons godsdiensoortuigings nie aan die godsdiensseremonie kan deelneem nie. Dit is een manier waarop ons kan verseker dat ons nie ons opvattings en geloof prysgee nie.

ONDERSTEUN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT

8. Hoe beklemtoon die boek Levitikus Jehovah se soewereiniteit?

8 Die boek Levitikus beklemtoon Jehovah se soewereiniteit. Dit sê meer as 30 keer dat die wette daarin van Jehovah af kom. Moses het dit erken en het gedoen wat Jehovah hom beveel het (Lev. 8:4, 5). Net so moet ons altyd doen wat ons Soewerein, Jehovah, wil hê ons moet doen. Hoewel God se organisasie ons hiermee help, kom ons dalk voor ’n toets van geloof te staan wanneer ons alleen is, soos toe Jesus in die wildernis versoek is (Luk. 4:1-13). As ons God se soewereiniteit duidelik voor oë hou en op hom vertrou, kan niemand ons ons beginsels laat prysgee nie en sal ons nie in die strik van lafhartige mensevrees trap nie.—Spr. 29:25.

9. Waarom word God se volk in nasies regoor die wêreld gehaat?

9 As volgelinge van Christus en Getuies van Jehovah word ons in verskillende nasies regoor die wêreld vervolg. Ons kan dit verwag, want Jesus het vir sy dissipels gesê: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matt. 24:9). Maar ondanks hierdie haat volhard ons in die Koninkrykspredikingswerk en handhaaf ons ons heiligheid voor Jehovah. Waarom word ons dan so gehaat, terwyl ons eerlike, wetsgehoorsame burgers is wat ’n skoon lewe lei? (Rom. 13:1-7). Omdat ons Jehovah as ons Soewereine Heer gekies het! Ons verrig heilige diens aan “hom alleen” en sal nooit sy regverdige wette en beginsels skend nie.—Matt. 4:10.

10. Wat het by een geleentheid gebeur toe ’n broer sy neutraliteit prysgegee het?

10 Ons is ook “geen deel van die wêreld” nie. Daarom is ons neutraal wat die wêreld se oorloë en politiek betref. (Lees Johannes 15:18-21; Jesaja 2:4.) Party wat hulle aan God toegewy het, het hulle neutraliteit prysgegee. Baie van hulle het berou getoon en het weer ’n goeie verhouding met ons genadige hemelse Vader verkry (Ps. 51:17). ’n Paar het nie berou getoon nie. Byvoorbeeld, gedurende die Tweede Wêreldoorlog het amptenare 160 van ons broers onder die ouderdom van 45 wat weens hulle godsdiensoortuigings opgesluit is, uit al die tronke in Hongarye geneem en hulle in een dorp bymekaargebring. Daar het hulle die broers beveel om militêre diens te doen. Die getroue broers het ferm geweier, maar nege uit die groep het die militêre eed afgelê en uniforms aanvaar. Twee jaar later was een van dié wat hulle geloof prysgegee het, deel van ’n vuurpeloton wat die getroue Getuies moes teregstel. Sy eie vleeslike broer was een van die Getuies! Op die ou end het die teregstellings nooit plaasgevind nie.

GEE JEHOVAH JOU BESTE

11, 12. Wat kan ons leer uit die offerandes wat in eertydse Israel gebring is?

11 Volgens die Mosaïese Wet moes die Israeliete spesifieke offerandes bring (Lev. 9:1-4, 15-21). Die offerandes moes smetloos wees, want dit het Jesus se volmaakte offerande voorafgeskadu. Wat meer is, met elke soort offerande moes ’n spesifieke prosedure gevolg word. Byvoorbeeld, dink aan wat verwag is van ’n moeder wat ’n pasgebore baba gehad het. Levitikus 12:6 sê: “Wanneer die dae van haar reiniging vir ’n seun of vir ’n dogter vervul is, dan moet sy ’n jong ram in sy eerste jaar as ’n brandoffer en ’n jong duif of ’n tortelduif as ’n sondoffer bring na die ingang van die tent van samekoms na die priester toe.” God se vereistes was spesifiek, maar sy liefdevolle redelikheid skyn skitterend in die Wet. As die moeder nie ’n skaap kon bekostig nie, is sy toegelaat om twee tortelduiwe of twee jong duiwe te offer (Lev. 12:8). Hoewel so ’n aanbidder arm was, het Jehovah haar net so liefgehad en waardeer soos iemand wat ’n duurder offerande gebring het. Wat kan ons hieruit leer?

12 Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om “’n lofoffer” aan God te bring (Heb. 13:15). Ons lippe moet Jehovah se heilige naam in die openbaar bekend maak. Dowe broers en susters gebruik gebaretaal om God te loof. Christene wat huisgebonde is, loof hom deur briewe te skryf, telefoongetuieniswerk te doen en vir versorgers en besoekers te getuig. Ons lofoffer—oftewel die lof wat ons aan Jehovah bring deur sy naam bekend te maak en die goeie nuus te verkondig—moet met ons gesondheid en vermoëns ooreenstem. Dit moet ons beste wees.—Rom. 12:1; 2 Tim. 2:15.

13. Waarom moet ons ons velddiensbedrywighede rapporteer?

13 Ons lofoffers is offerandes wat ons vrywilliglik aan God bring omdat ons hom liefhet (Matt. 22:37, 38). Tog is ons gevra om ons bedrywigheid in die bediening te rapporteer. Watter gesindheid moet ons dus teenoor hierdie reëling hê? Die rapport wat ons elke maand indien, hou verband met ons godvrugtige toegewydheid (2 Pet. 1:7). Maar nie een van ons moet onder druk voel om baie ure aan die bediening te bestee net sodat ons meer ure op ons velddiensrapport kan skryf nie. Dit is waarom ’n Koninkryksverkondiger wat in ’n verpleeginrigting is of ernstige beperkings het, velddiens in eenhede van 15 minute kan rapporteer eerder as in volle ure. Jehovah beskou hierdie minute as die Koninkryksverkondiger se beste offerande en as ’n bewys van sy liefde vir Hom en sy waardering vir die onskatbare voorreg om een van Sy Getuies te wees. Net soos die Israeliete wie se omstandighede hulle nie toegelaat het om duur offerandes te bring nie, kan Jehovah se kosbare knegte wat sekere beperkings het, nog steeds ’n rapport indien. En ons individuele rapporte maak deel uit van die wêreldrapport, wat die organisasie help om toekomstige predikingsbedrywighede te beplan. Dit is tog sekerlik nie te veel van ons gevra om ons deelname aan die predikingswerk te rapporteer nie.

ONS STUDIEGEWOONTES EN LOFOFFERS

14. Verduidelik waarom ons ons studiegewoontes moet ondersoek.

14 Noudat ons ’n paar geestelike skatte uit Levitikus bespreek het, dink jy dalk: ‘Ek verstaan nou beter waarom hierdie boek in God se geïnspireerde Woord ingesluit is’ (2 Tim. 3:16). Jy is dalk nou meer vasbeslote om heilig te wees, nie net omdat Jehovah dit vereis nie, maar omdat hy jou ywerige pogings om hom bly te maak, verdien. Wat jy uit hierdie twee artikels oor Levitikus geleer het, het moontlik jou begeerte vergroot om dieper in die Skrif te delf. (Lees Spreuke 2:1-5.) Ondersoek jou studiegewoontes biddend. Jy wil ongetwyfeld hê dat jou lofoffers vir Jehovah aanvaarbaar moet wees. Laat jy toe dat televisieprogramme, videospeletjies, sportbedrywighede of stokperdjies jou aandag aflei en met jou geestelike vordering inmeng? As dit die geval is, sal jy moontlik baie daarby baat vind om te peins oor wat die apostel Paulus in die boek Hebreërs gesê het.

Gee jy prioriteit aan Bybelstudie en Gesinsaanbidding? (Sien paragraaf 14)

15, 16. Waarom was Paulus so reguit toe hy aan die Hebreeuse Christene geskryf het?

15 Paulus was baie reguit toe hy aan die Hebreeuse Christene geskryf het. (Lees Hebreërs 5:7, 11-14.) Die apostel het nie doekies omgedraai nie! Hy het vir hulle gesê dat hulle “afgestomp geword het” in hulle gehoor. Waarom was Paulus so reguit? Soos Jehovah, was hy lief vir daardie Christene en besorg oor hulle omdat hulle gedink het dat hulle geestelik staande kon bly deur net geestelike melk in te neem. Dit is wel noodsaaklik om die grondleringe van die Christelike godsdiens te ken. Maar “vaste voedsel” is nodig as ’n Christen tot geestelike volwassenheid wil groei.

16 In plaas daarvan om te vorder tot die punt waar hulle ander kon leer, het die Hebreërs iemand nodig gehad om hulle te leer. Waarom? Want hulle het “vaste voedsel” vermy. Vra jou af: ‘Het ek die regte gesindheid teenoor vaste geestelike voedsel? Neem ek dit in? Of is ek geneig om van gebed en diep Bybelstudie weg te skram? Indien wel, is my studiegewoontes dalk deel van die probleem?’ Ons moenie net vir mense preek nie, maar ons moet hulle ook leer en dissipels maak.—Matt. 28:19, 20.

17, 18. (a) Waarom moet ons gereeld vaste geestelike voedsel inneem? (b) Hoe kan ons die gebruik van alkohol beskou wanneer dit kom by Christelike vergaderinge?

17 Vir baie van ons is Bybelstudie dalk nie maklik nie. Jehovah gebruik natuurlik nie skuldgevoelens om sy volk te motiveer om te studeer nie. Maar hetsy ons al jare lank of ’n betreklike kort tydjie ’n toegewyde kneg van God is, ons moet aanhoudend vaste geestelike voedsel inneem. Dit is noodsaaklik as ons ’n weg van heiligheid wil nastreef.

18 Om heilig te wees, moet ons die Skrif noukeurig ondersoek en doen wat God van ons vra. Dink aan Aäron se seuns Nadab en Abihu, wat tereggestel is omdat hulle “onwettige vuur” geoffer het toe hulle moontlik onder die invloed van drank was (Lev. 10:1, 2). Let op wat God toe vir Aäron gesê het. (Lees Levitikus 10:8-11.) Gee hierdie Skrifgedeelte te kenne dat ons geen alkohol voor ’n Christelike vergadering mag drink nie? Dink aan die volgende: Ons is nie onder die Wet nie (Rom. 10:4). In party lande gebruik ons broers alkohol in matigheid gedurende maaltye voordat hulle vergaderinge bywoon. Vier bekers wyn is gedurende die Pasga gebruik. Toe Jesus die Gedenkmaal ingestel het, het hy sy apostels wyn laat drink, wat sy bloed voorgestel het (Matt. 26:27). Die Bybel veroordeel strawwe drinkery en dronkenskap (1 Kor. 6:10; 1 Tim. 3:8). En baie Christene se gewete sal hulle nie toelaat om alkohol te drink voordat hulle aan enige vorm van heilige diens deelneem nie. Maar omstandighede verskil van land tot land. Wat dus belangrik is, is dat Christene “’n onderskeid [moet] maak tussen wat heilig en wat onheilig is” sodat hulle heilige gedrag God kan bly maak.

19. (a) Wat moet ons in gedagte hou wanneer dit kom by gesinsaanbidding en persoonlike studie? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen sodat jy heilig kan wees?

19 Jy kan talle geestelike skatte vind as jy in God se Woord daarna delf. Gebruik die beskikbare navorsingsmiddele om groter voordeel uit julle gesinsaanbidding en persoonlike studie te trek. Neem meer kennis van Jehovah en sy voornemens in. Kom al hoe nader aan hom (Jak. 4:8). Bid tot God soos die psalmis gedoen het, wat gesing het: “Open my oë, sodat ek die wonderlike dinge uit u wet kan sien” (Ps. 119:18). Moet nooit Bybelwette en -beginsels skend nie. Onderwerp jou gewilliglik aan die voortreflike wet van “die Heilige”, Jehovah, en neem ywerig deel aan “die heilige werk van die goeie nuus van God” (1 Pet. 1:15; Rom. 15:16). Ja, wees heilig gedurende hierdie onstuimige laaste dae. Mag ons almal heilig wees in ons gedrag en sodoende die soewereiniteit van ons heilige God, Jehovah, ondersteun.

^ par. 6 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2002.