Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het Jeremia bedoel toe hy gesê het dat Ragel oor haar seuns huil?

Ons lees in Jeremia 31:15: “Só het Jehovah gesê: ‘In Rama word ’n stem gehoor, geweeklaag en bitter gehuil; Ragel huil oor haar seuns. Sy het geweier om getroos te word oor haar seuns, omdat hulle nie meer daar is nie.’”

Ragel se twee seuns het nie voor haar gesterf nie. Dit kan dus lyk of die woorde wat Jeremia 1 000 jaar ná Ragel se dood opgeteken het, onakkuraat is.

Ragel se eerste seun was Josef (Gen. 30:22-24). Later het sy nog ’n seun gehad, wat Benjamin genoem is. Maar Ragel het gesterf terwyl sy geboorte gegee het aan hierdie tweede seun. Daarom ontstaan die vraag: Waarom sê Jeremia 31:15 dat sy gehuil het omdat haar seuns “nie meer daar is nie”?

Dit is opmerkenswaardig dat haar eerste seun, Josef, ná verloop van tyd die vader van Manasse en Efraim geword het (Gen. 41:50-52; 48:13-20). Later het Efraim die vernaamste en invloedrykste stam van die hele noordelike koninkryk van Israel geword en al tien stamme in die ryk verteenwoordig. En die stam wat van Ragel se tweede seun, Benjamin, afgestam het, het tesame met Juda deel geword van die suidelike koninkryk. In sekere sin kan daar dus gesê word dat Ragel al die moeders van Israel, van die noordelike sowel as die suidelike koninkryk, voorstel.

Teen die tyd dat die boek Jeremia geskryf is, was die noordelike tienstammeryk reeds deur die Assiriërs verower en is baie van die volk gevange weggevoer. Maar party van Efraim se afstammelinge het moontlik na die gebied van Juda gevlug. In 607 VHJ het die Babiloniërs die suidelike tweestammeryk van Juda verower. Dit wil voorkom of baie van die gevangenes tydens die verowering geneem is na Rama, sowat agt kilometer noord van Jerusalem (Jer. 40:1). Miskien is party van hulle doodgemaak daar in die gebied van Benjamin waar Ragel begrawe is (1 Sam. 10:2). Die feit dat Ragel oor haar seuns gehuil het, kan dus impliseer dat sy in figuurlike sin getreur het oor die Benjaminiete oor die algemeen of in die besonder oor dié in Rama. ’n Ander moontlikheid is dat dit verwys na al die moeders van God se volk wat oor die dood of ballingskap van Israeliete gehuil het.

Hoe dit ook al sy, Jeremia se woorde oor Ragel wat oor haar seuns huil, was ’n profesie wat eeue later vervul sou word toe die lewe van die jong Jesus in gevaar was. Koning Herodes het beveel dat al die seuntjies van Betlehem, suid van Jerusalem, wat twee jaar en jonger was, doodgemaak moet word. Hierdie seuns was dus nie meer daar nie; hulle was dood. Stel jou die droewige gehuil voor van die moeders wie se seuns doodgemaak is! Dit was asof hulle gehuil tot by Rama, noord van Jerusalem, gehoor kon word.​—Matt. 2:16-18.

In Jeremia se tyd sowel as in Jesus se tyd was Ragel se gehuil oor haar seuns dus ’n gepaste beskrywing van die droefheid van Joodse moeders oor hulle kinders wat doodgemaak is. Dié wat gesterf het en gegaan het na “die land van die vyand”, die dood, kan natuurlik uit die greep van hierdie vyand verlos word wanneer die dooies opgewek word.​—Jer. 31:16; 1 Kor. 15:26.