Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dank Jehovah en word geseën

Dank Jehovah en word geseën

“Dank Jehovah, want hy is goed.”—PS. 106:1.

1. Waarom verdien Jehovah dat ons hom dank?

JEHOVAH, die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”, verdien beslis dat ons hom dank (Jak. 1:17). As ons liefdevolle Herder voorsien hy met teerheid in al ons fisiese en geestelike behoeftes (Ps. 23:1-3). Hy is vir ons “’n toevlug en sterkte”—veral in tye van benoudheid! (Ps. 46:1). Ons het ongetwyfeld baie redes om heelhartig saam te stem met die psalmis wat geskryf het: “Dank Jehovah, want hy is goed; want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd.”—Ps. 106:1.

Ons jaarteks vir 2015: “Dank Jehovah, want hy is goed.”—Psalm 106:1

2, 3. (a) Watter gevare hou dit in as ons ons seëninge as vanselfsprekend aanneem? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Waarom is dit belangrik om ’n bespreking oor dankbaarheid te hê? Soos voorspel is, het mense in hierdie laaste dae al hoe ondankbaarder geword (2 Tim. 3:2). Baie mense neem hulle seëninge as vanselfsprekend aan. Miljoene mense word deur die handelswêreld en advertensies beïnvloed om meer besittings te probeer verkry eerder as om tevrede te wees met wat hulle het. Ons kan ook deur hierdie ondankbare gesindheid beïnvloed word. Soos die eertydse Israeliete, kan ons ondankbaar word en waardering verloor vir ons kosbare verhouding met Jehovah en vir die seëninge wat ons al van hom ontvang het.—Ps. 106:7, 11-13.

3 Dink ook aan wat kan gebeur wanneer ons met moeilike beproewinge te kampe het. Ons kan maklik oorweldig voel en ons seëninge uit die oog verloor (Ps. 116:3). Hoe kan ons dus ’n dankbare hart verkry en behou? En wat sal ons help om positief te bly selfs wanneer ons met hewige beproewinge te kampe het? Kom ons kyk.

“BAIE DINGE HET U GEDOEN, O JEHOVAH”

4. Hoe kan ons ’n dankbare hart behou?

4 As ons ’n dankbare hart wil verkry en behou, moet ons die seëninge raaksien wat ons van Jehovah ontvang, met waardering daaroor peins en diep nadink oor sy dade van lojale liefde. Toe die psalmis dit gedoen het, is hy met ontsag vervul weens die talle wonderlike dinge wat Jehovah gedoen het.—Lees Psalm 40:5; 107:43.

5. Wat kan ons by die apostel Paulus leer oor hoe om ’n dankbare gesindheid aan te kweek?

5 Ons kan baie by die apostel Paulus leer oor hoe om ’n dankbare gesindheid aan te kweek. Hy het beslis oor sy seëninge gepeins, want hy het dikwels sy opregte dank uitgespreek. Paulus was deeglik daarvan bewus dat hy “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man” was. Daarom was hy dankbaar dat God en Christus barmhartigheid aan hom bewys het en ’n bediening aan hom toevertrou het ten spyte van sy sondige gedrag van die verlede. (Lees 1 Timoteus 1:12-14.) Paulus het ook diepe waardering vir sy mede-Christene gehad en Jehovah dikwels gedank vir hulle goeie eienskappe en getroue diens (Fil. 1:3-5, 7; 1 Tess. 1:2, 3). En toe Paulus voor moeilike situasies te staan gekom het, was hy gou om Jehovah te dank vir die tydige ondersteuning wat hy van sy geestelike broers ontvang het (Hand. 28:15; 2 Kor. 7:5-7). Dit is dus nie verbasend nie dat Paulus se geskrifte Christene aanspoor om te “toon dat [hulle] dankbaar is”, om mekaar aan te moedig met “psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere” wat met dankbaarheid gesing word.—Kol. 3:15-17.

BEPEINSING EN GEBED HELP ONS OM DANKBAAR TE BLY

6. Waarvoor is jy veral dankbaar teenoor Jehovah?

6 Hoe kan ons Paulus se goeie voorbeeld navolg en dankbaarheid aankweek en uitspreek? Soos Paulus moet ons peins oor wat Jehovah vir ons persoonlik gedoen het (Ps. 116:12). Hoe sal jy antwoord as jy gevra word: ‘Watter seëninge van Jehovah waardeer jy?’ Sal jy jou kosbare verhouding met Jehovah noem? Of die vergifnis wat jy ontvang weens jou geloof in Christus se losprysoffer? Sal jy die name noem van broers en susters wat jou tydens moeilike beproewinge bygestaan het? Dan sal jy natuurlik ook jou geliefde huweliksmaat of jou kosbare kinders noem. As jy tyd neem om te peins oor hierdie pragtige seëninge van jou liefdevolle Vader, Jehovah, sal dit jou hart met waardering vul en jou beweeg om hom elke dag te dank.—Lees Psalm 92:1, 2.

7. (a) Waarom moet ons Jehovah in ons gebede dank? (b) Hoe sal jy daarby baat vind as jy Jehovah in jou gebede dank?

7 Wanneer ons ons seëninge duidelik voor oë hou en koester, sal ons Jehovah in gebed daarvoor wil dank (Ps. 95:2; 100:4, 5). Baie beskou gebed bloot as ’n manier om God vir dinge te vra. Maar ons weet dat dit Jehovah behaag wanneer ons hom dank vir wat ons het. Die Bybel bevat talle roerende dankgebede, insluitende dié van Hanna en Hiskia (1 Sam. 2:1-10; Jes. 38:9-20). Volg dus die dankbare gesindheid van hierdie getroue knegte na. Ja, dank Jehovah in gebed vir die seëninge wat jy het (1 Tess. 5:17, 18). Dit bring baie voordele mee. Dit sal jou opbeur, jou liefde vir Jehovah sal toeneem en jy sal al hoe nader aan hom kom.—Jak. 4:8.

Watter seëninge van Jehovah waardeer jy? (Sien paragrawe 6, 7)

8. Wat kan veroorsaak dat ons waardering verloor vir alles wat Jehovah vir ons gedoen het?

8 Waarom moet ons altyd bewus wees van die gevaar dat ons ons waardering vir Jehovah se goedheid kan verloor? Omdat ons ’n oorgeërfde neiging het om ondankbaar te wees. Dink hieraan: Ons eerste ouers, Adam en Eva, is in ’n paradystuin geplaas. Daar is in al hulle behoeftes voorsien, en hulle het die vooruitsig gehad om vir ewig in vrede te lewe (Gen. 1:28). Maar hulle het nie hulle seëninge waardeer nie. Hulle het hebsugtig meer begeer. Gevolglik het hulle alles verloor (Gen. 3:6, 7, 17-19). Omdat ons in ’n ondankbare wêreld lewe, kan ons ook begin vergeet van alles wat Jehovah vir ons gedoen het. Ons kan ons vriendskap met hom as vanselfsprekend begin aanneem. Ons kan waardering verloor vir ons voorreg om deel te wees van ons wêreldwye broederskap. Ons kan vasgevang word in die dinge van hierdie wêreld wat binnekort sal verbygaan (1 Joh. 2:15-17). Om hierdie strik te vermy, moet ons peins oor ons seëninge en Jehovah gereeld dank vir die voorreg wat ons het om sy volk te wees.—Lees Psalm 27:4.

WANNEER ONS MET BEPROEWINGE TE KAMPE HET

9. Waarom moet ons oor ons seëninge peins wanneer ons swaar beproewinge verduur?

9 ’n Dankbare hart kan ons help wanneer ons met swaar beproewinge te kampe het. Dit kan vir ons oorweldigend wees as ons skielik te staan kom voor beproewinge wat ons lewe kan verander, soos die ontrouheid van ’n huweliksmaat, ’n lewensgevaarlike siekte, die dood van ’n geliefde of ’n verwoestende natuurramp. As ons in sulke situasies oor ons seëninge peins, sal dit ons vertroos en versterk. Beskou die volgende ondervindinge.

10. Hoe het Irina daarby baat gevind om haar seëninge te tel?

10 Irina *, ’n gewone pionier in Noord-Amerika, was met ’n ouer man getroud. Hy was ontrou aan haar en het haar en hulle kinders verlaat. Wat het Irina gehelp om voort te gaan om Jehovah getrou te dien? Sy sê: “Ek is dankbaar vir Jehovah se persoonlike sorg. Omdat ek besluit het om my seëninge elke dag te tel, besef ek hoe groot die voorreg is om deur ons beskermende hemelse Vader geken te word en sy liefde te ervaar. Ek weet dat hy my nooit sal verlaat nie.” Al het Irina talle tragiese gebeure ondervind, help haar vreugdevolle gees haar om positief te bly en is sy ’n bron van aanmoediging vir ander.

11. Wat het Kjoeng-Soek gehelp om positief te bly ten spyte van ’n lewensgevaarlike siekte?

11 Kjoeng-Soek, wat in Asië woon, het meer as 20 jaar lank saam met haar man gepionier. Toe is sy met gevorderde longkanker gediagnoseer, en daar is vir haar gesê dat sy drie tot ses maande het om te lewe. Hoewel sy en haar man al voor baie beproewinge, groot sowel as klein, te staan gekom het, het hulle nooit gedink dat hulle met gesondheidsprobleme te kampe sou hê nie. Sy het gesê: “Dit was vir my ’n groot slag. Dit het gevoel asof ek alles verloor het, en ek was baie bang.” Wat het Kjoeng-Soek gehelp om voort te gaan? Sy sê: “Elke aand, voordat ek gaan slaap, gaan ek op na ons huis se dak en bid ek hardop oor vyf dinge waarvoor ek op daardie dag dankbaar is. Dit stel my gerus, en dit beweeg my om my liefde vir Jehovah uit te spreek.” Hoe het Kjoeng-Soek by hierdie gebede baat gevind? Sy sê: “Ek het besef dat Jehovah ons tydens beproewende omstandighede onderskraag en dat daar baie meer seëninge as beproewinge in ons lewe is.”

Saam met haar broer, John, wat ook die storm oorleef het (Sien paragraaf 13)

12. Hoe het Jason vertroosting gevind ná die dood van sy vrou?

12 Jason, wat by ’n takkantoor in Afrika dien, is al meer as 30 jaar lank in die voltydse diens. Hy vertel: “Sewe jaar gelede het ek my vrou aan die dood afgestaan, en die pyn is soms oorweldigend. Dit is baie ontmoedigend as ek myself toelaat om te tob oor wat sy deurgemaak het terwyl sy teen kanker gestry het.” Wat het Jason gehelp om dit te verwerk? Hy sê: “Ek het eendag gedink aan ’n aangename tyd wat ek en my vrou saam geniet het, en ek het Jehovah in gebed gedank vir daardie herinnering. Ek het beter gevoel, en daarna het ek Jehovah gereeld begin dank vir sulke goeie herinneringe. Dankbaarheid het my beskouing baie verander. Ek voel nog steeds die pyn van my verlies, maar die feit dat ek Jehovah kan dank vir die gelukkige huwelik wat ek gehad het, sowel as vir die voorreg om hom te kon dien saam met iemand wat hom opreg liefgehad het, help my om ’n positiewer beskouing te hê.”

“Ek is baie dankbaar dat Jehovah my God is.”—Sheryl

13. Wat het Sheryl gehelp om ’n verskriklike tragedie te verwerk?

13 Toe die supertifoon Haiyan die Sentraal-Filippyne laat in 2013 getref het, het Sheryl, wat toe net 13 jaar oud was, feitlik alles verloor. Sy het gesê: “Ek het my huis verloor, en ek het die meeste van my gesinslede verloor.” Haar pa, ma, twee susters sowel as een van haar broers het in die kragtige storm omgekom. Wat het Sheryl gehelp om hierdie tragedie te verwerk sonder om verbitterd te raak? Dit was die feit dat sy ’n dankbare hart het en dink aan die seëninge wat sy nog het. “Ek het gesien wat die broers en susters alles gedoen het om hulp en aanmoediging te voorsien aan almal wat dit nodig gehad het. Ek het geweet dat broers regoor die wêreld vir my bid.” Sy het bygevoeg: “Ek is baie dankbaar dat Jehovah my God is. Hy gee ons altyd wat ons nodig het.” Ja, as ons dink aan ons seëninge, kan dit ons grootliks help om nie deur droefheid verswelg te word nie. ’n Dankbare hart help ons om voort te gaan ondanks enige beproewinge waarvoor ons te staan kan kom.—Ef. 5:20; lees Filippense 4:6, 7.

‘EK SAL MY IN JEHOVAH VERHEUG’

14. Watter opwindende vooruitsig het ons? (Sien prent aan begin van artikel.)

14 Deur die geskiedenis heen het Jehovah se volk hulle verheug oor hulle seëninge. Nadat die Israeliete byvoorbeeld by die Rooisee verlos is van Farao en sy leër, het hulle uiting gegee aan hulle vreugde deur liedere van lof en dank te sing (Eks. 15:1-21). Een van die kosbaarste seëninge wat ons vandag het, is ons vaste hoop op verlossing van alles wat vir ons pyn en benoudheid veroorsaak (Ps. 37:9-11; Jes. 25:8; 33:24). Stel jou voor hoe ons sal voel wanneer Jehovah al sy vyande verbrysel en ons in ’n nuwe wêreld van vrede en regverdigheid verwelkom. Dit sal beslis ’n dag wees waarop ons Jehovah sal dank!—Op. 20:1-3; 21:3, 4.

15. Wat is jy vasbeslote om gedurende 2015 te doen?

15 Ons sien daarna uit om gedurende 2015 tallose seëninge van Jehovah te ontvang. Maar ons sal dalk ook beproewinge verduur. Ongeag wat gebeur, ons weet dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie (Deut. 31:8; Ps. 9:9, 10). Hy sal aanhou om alles te voorsien wat ons nodig het om hom getrou te dien. Mag ons dus vasbeslote wees om ’n gesindheid te behou soos dié van die profeet Habakuk, wat gesê het: “Al bloei die vyeboom nie en is daar geen opbrengs aan die wingerdstokke nie, al loop die werk van die olyfboom op ’n mislukking uit en bring die terrasse geen voedsel voort nie, al word die kleinvee van die kraal afgesny en is daar geen beeste in die kampe nie—nogtans sal ek my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding” (Hab. 3:17, 18). Ja, mag ons gedurende die komende jaar vreugdevol peins oor ons seëninge en beweeg word om gehoor te gee aan die aansporing in ons jaarteks vir 2015: “Dank Jehovah, want hy is goed.”—Ps. 106:1.

^ par. 10 Van die name in hierdie artikel is verander.