Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAT JY OMTRENT ANGSTIGHEID KAN DOEN

’n Wêreld vol angs!

’n Wêreld vol angs!

“Ek het kos gaan koop, maar daar was net koekies—wat 10 000 keer duurder was as gewoonlik! Die volgende dag was daar geen kos in die winkels nie.”—Paul, Zimbabwe.

“My man het reguit vir my gesê dat hy ons gaan verlaat. Hoe sou ek dit verduur? Wat sou met ons kinders gebeur?”—Janet, Verenigde State.

“Wanneer ek die sirenes hoor, hardloop ek na ’n skuiling en gaan lê ek op die vloer terwyl ek hoor hoe vuurpyle ontplof. Ure later bewe my hande nog steeds.”—Alona, Israel.

Ons lewe in tye van benoudheid, “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Baie mense kry swaar as gevolg van finansiële krisisse, gesinsverbrokkeling, oorlog, dodelike siektes en natuur- of mensgemaakte rampe. Dan is daar ook verskeie ander bekommernisse: ‘Sal die groeisel wat ek op my liggaam ontdek het, in kanker ontaard?’ ‘In watter soort wêreld sal my kleinkinders grootword?’

’n Sekere mate van angstigheid is normaal. Dit is natuurlik om gespanne te voel voor ’n toets, ’n opvoering of ’n onderhoud. En ’n gesonde vrees vir gevaar sal ons help om gevaarlike situasies te vermy. Maar as ’n mens uiters of voortdurend angstig is, kan dit vernietigend wees. ’n Onlangse reeks studies wat meer as 68 000 volwassenes ingesluit het, het getoon dat selfs matige angs die risiko van ’n vroeë dood vergroot. Jesus het dus met goeie rede gevra: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?” Ja, bekommernis verleng nie ’n mens se lewe nie. Daarom het Jesus ons aangeraai: “Hou op om julle te kwel” (Matteus 6:25, 27). Maar hoe is dit moontlik?

Ons moet praktiese wysheid aan die dag lê, ons geloof in God opbou en ’n betroubare hoop vir die toekoms koester. Selfs al ondervind ons nie nou moeilike omstandighede nie, sal ons dalk in die toekoms. Kom ons kyk dus hoe hierdie stappe Paul, Janet en Alona gehelp het om minder angstig te voel.