Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAT JY OMTRENT ANGSTIGHEID KAN DOEN

Angstigheid oor gevaar

Angstigheid oor gevaar

“Wanneer ek die sirene hoor, begin my hart vinniger klop en hardloop ek na ’n bomskuiling”, sê Alona. “Maar selfs daar voel ek angstig. Wanneer ek buite is en nie ’n plek kan vind om te skuil nie, is dit nog erger. Eenkeer, terwyl ek in die straat afgestap het, het ek begin huil en kon ek nie asemhaal nie. Dit het my ure geneem om te kalmeer. Toe hoor ek weer die sirene.”

Alona

Benewens oorlog is daar baie ander dinge wat ons in gevaar stel. Byvoorbeeld, as jy uitvind dat jy of ’n geliefde ’n dodelike siekte het, kan dit jou laat voel asof jy deur ’n bom getref is. En ander voel dalk angstig oor die toekoms. Hulle bekommer hulle en vra: ‘Sal ons kinders, of ons kleinkinders, in ’n wêreld moet lewe waar daar oorlog, geweld, besoedeling, klimaatsverandering en epidemies is?’ Wat kan ons doen om minder angstig oor hierdie dinge te voel?

“Die skerpsinnige wat die rampspoed gesien het”, weet dat slegte dinge gebeur, en daarom ‘verberg hy hom’ (Spreuke 27:12). En net soos ons probeer om onsself fisies te beskerm, kan ons dinge doen om ons verstandelike en emosionele gesondheid te beskerm. Gewelddadige vermaak en selfs nuusberigte vol afgryslike beelde dra by tot ons en ons kinders se angstigheid. As ons onnodige blootstelling aan hierdie dinge vermy, beteken dit nie dat ons ons kop in die sand wegsteek nie. God het ons verstand nie gemaak om heeltyd aan bose dinge te dink nie. Ons moet dit eerder vul met ‘alles wat waar, regverdig, kuis en lieflik is’. As ons dit doen, sal “die God van vrede” ons gemoedsrus gee.—Filippense 4:8, 9.

DIE BELANGRIKHEID VAN GEBED

Ware geloof help ons om minder angstig te voel. Die Bybel spoor ons aan om “waaksaam met die oog op gebede” te wees (1 Petrus 4:7). Ons kan God vir sy hulp vra en vir die wysheid en moed om die beste van ons situasie te maak in die vertroue dat “hy ons hoor met betrekking tot wat ons ook al vra”.—1 Johannes 5:15.

Saam met haar man, Avi

Die Bybel verduidelik dat Satan, nie God nie, “die heerser van hierdie wêreld” is en dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose [lê]” (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Jesus het dit dus nie figuurlik bedoel toe hy ons leer bid het: “Verlos ons van die bose” nie (Matteus 6:13). “Wanneer ek die sirene hoor, vra ek Jehovah om my te help om my gevoelens onder beheer te hou”, sê Alona. “En my dierbare man bel my en bid dan saam met my. Dit help werklik om te bid.” Dit is waar wat die Bybel sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in opregtheid aanroep.”—Psalm 145:18, voetnoot in NW.

ONS HOOP VIR DIE TOEKOMS

In sy Bergpredikasie het Jesus sy volgelinge geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:10). God se Koninkryk sal ’n einde maak aan alle skadelike angsgevoelens. Deur middel van Jesus, die “Vredevors”, sal God “oorloë [laat] ophou tot aan die einde van die aarde” (Jesaja 9:6; Psalm 46:9). “Hy [God] sal beslis oordeel tussen baie volke . . . Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. . . . Daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:3, 4). Gelukkige gesinne “sal . . . huise bou en dit bewoon; en hulle sal . . . wingerde plant en die vrug daarvan eet” (Jesaja 65:21). “En geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.

Ondanks al die voorsorgmaatreëls wat ons vandag tref, is dit nie altyd moontlik om te keer dat “onvoorsiene gebeurtenisse” plaasvind of te verhoed dat ons op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is nie (Prediker 9:11). Soos in vorige eeue, gaan goeie mense nog steeds dood as gevolg van oorlog, geweld en siekte. Watter hoop is daar vir hierdie onskuldige slagoffers?

Miljoene der miljoene mense sal weer lewe; net God weet presies hoeveel hulle sal wees. Hulle slaap nou, veilig in God se volmaakte geheue, totdat die dag aanbreek wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is, . . . sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Die Bybel verseker ons aangaande die opstanding: “Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:19). En God “het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy [Jesus] uit die dode opgewek het”.—Handelinge 17:31.

Vir eers sal selfs diegene wat God probeer behaag, van tyd tot tyd angstig voel. Wat het Paul, Janet en Alona gehelp om minder angstig te voel? Hulle het praktiese stappe gedoen, soos om deur middel van gebed nader aan God te kom en hulle geloof in die Bybel se hoop vir die toekoms op te bou. Soos Hy in hulle geval gedoen het, kan “die God wat hoop gee, julle [ook] met alle vreugde en vrede vervul deurdat julle glo.”—Romeine 15:13.