Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HOE BESKOU GOD OORLOG?

God se beskouing van oorlog in die ou tyd

God se beskouing van oorlog in die ou tyd

Die mense is onderdruk. Hulle het herhaaldelik tot God gebid om verligting, maar dit het nie gekom nie—ten minste nie dadelik nie. Hierdie mense was die Israeliete, God se eertydse volk. Die onderdrukkers was die magtige Egiptenaars (Eksodus 1:13, 14). Die Israeliete het jare lank gewag dat God ’n einde aan die Egiptiese onderdrukking maak. Uiteindelik het God se bestemde tyd aangebreek om op te tree (Eksodus 3:7-10). Die Bybel sê dat God self teen die Egiptenaars oorlog gevoer het. Hy het ’n reeks verwoestende plae oor Egipte gebring, en toe het hy die koning van Egipte en sy leër in die Rooi See vernietig (Psalm 136:15). Jehovah God het as ’n kragtige “krygsman” ten behoewe van sy volk opgetree.—Eksodus 15:3, 4.

Die feit dat God self teen die Egiptenaars oorlog gevoer het, toon dat hy nie teen alle oorlogvoering gekant is nie. By ander geleenthede het hy sy volk Israel die reg gegee om oorlog te voer. Byvoorbeeld, hy het hulle beveel om oorlog te voer teen die Kanaäniete, wat baie goddeloos was (Deuteronomium 9:5; 20:17, 18). Hy het Israel se koning Dawid beveel om oorlog te voer teen die onderdrukkende Filistyne. God het Dawid selfs van ’n oorlogstrategie voorsien wat tot oorwinning gelei het.—2 Samuel 5:17-25.

Hierdie Bybelverslae toon dat God oorlog goedgekeur het om die Israeliete te beskerm en ware aanbidding te bewaar wanneer sekere vorme van goddeloosheid en onderdrukking sy volk bedreig het. Maar kyk na die volgende drie sleutelpunte in verband met oorlogvoering wat deur God goedgekeur is:

  1. SLEGS GOD HET BESLUIT WIE OORLOG MAG VOER. By een geleentheid het God vir die Israeliete gesê: “Julle sal in hierdie geval nie hoef te veg nie.” Waarom nie? Omdat God namens hulle oorlog sou voer (2 Kronieke 20:17; 32:7, 8). Dit is wat hy dikwels gedoen het, soos in die geval wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. By ander geleenthede het God eertydse Israel beveel om in oorloë te veg wat hy goedgekeur het, naamlik oorloë om hulle Beloofde Land te beskerm en te verdedig.—Deuteronomium 7:1, 2; Josua 10:40.

  2. SLEGS GOD HET BESLUIT WANNEER SULKE OORLOË GEVOER SOU WORD. God se knegte moes geduldig wag op God se bestemde tyd om oorlog te voer teen die onderdrukking en goddeloosheid om hulle. Tot dan moes hulle dit nie op hulleself neem om oorlog te voer nie. Wanneer hulle dit wel gedoen het, het hulle God se goedkeuring verloor. Trouens, die Bybel toon dat die gevolge dikwels rampspoedig was wanneer die Israeliete sonder God se goedkeuring besluit het om oorlog te voer. *

  3. Hoewel God oorlog gevoer het teen die Kanaäniete, het hy party, soos Ragab en haar familie, gespaar

    GOD WIL NIE HÊ DAT ENIGIEMAND MOET STERF NIE, NIE EENS DIE GODDELOSES NIE. Jehovah God is die Bron van lewe en die Skepper van die mensdom (Psalm 36:9). En daarom wil hy nie hê dat mense moet doodgaan nie. Maar ongelukkig is daar goddelose mense wat ander doelbewus onderdruk en selfs doodmaak (Psalm 37:12, 14). Om ’n einde te maak aan sulke boosheid, het God soms beveel dat oorlog teen die goddeloses gevoer moet word. En tog was hy gedurende al die jare dat hy die Israeliete sulke oorloë laat voer het, nog steeds ’n “barmhartige” God wat “nie gou toornig” geword het teenoor Israel se onderdrukkers nie (Psalm 86:15). Voordat die Israeliete teen ’n stad oorlog gevoer het, het God byvoorbeeld beveel dat hulle “vredesvoorwaardes daaraan bekend maak” om die inwoners ’n geleentheid te gee om hulle weë te verander en oorlog te vermy (Deuteronomium 20:10-13). Sodoende het God getoon dat hy ‘geen behae skep in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat ’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe’.—Esegiël 33:11, 14-16. *

Uit die voorafgaande kan ons sien dat God oorlogvoering in die ou tyd as ’n aanvaarbare manier beskou het om ’n einde te maak aan verskeie vorme van onderdrukking en goddeloosheid. Maar dit was God—nie mense nie—wat besluit het wanneer sulke oorloë gevoer moes word en wie daarby betrokke moes wees. En was God gretig om oorlog te voer? Het hy dit op ’n bloeddorstige manier gedoen? Beslis nie. Hy haat geweld (Psalm 11:5). Het God se beskouing van oorlog verander teen die tyd dat sy Seun, Jesus Christus, in die eerste eeu met sy bediening begin het?

^ par. 7 Byvoorbeeld, die Israeliete het by een geleentheid ’n geveg teen die Amalekiete en die Kanaäniete verloor nadat God hulle beveel het om nie oorlog teen hulle te voer nie (Numeri 14:41-45). Baie jare later het die getroue koning Josia oorlog gevoer sonder goddelike goedkeuring, en hierdie ondeurdagte optrede het hom sy lewe gekos.—2 Kronieke 35:20-24.

^ par. 8 Die Israeliete het nie vredesvoorwaardes aan die Kanaäniete bekend gemaak nie. Waarom nie? Omdat die Kanaäniete 400 jaar gegee is om hulle van hulle goddelose weë af te keer. Teen die tyd dat die Israeliete gekom het om teen die Kanaäniete oorlog te voer, was hulle, as ’n groep, onveranderlik goddeloos (Genesis 15:13-16). Hulle moes dus heeltemal vernietig word. Maar individuele Kanaäniete wat hulle weë verander het, is gespaar.—Josua 6:25; 9:3-27.