Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HOE BESKOU GOD OORLOG?

God se beskouing van oorlog in die eerste eeu

God se beskouing van oorlog in die eerste eeu

Die mense is onderdruk. Soos hulle voorouers, het die eerste-eeuse Jode ongetwyfeld herhaaldelik tot God gebid om verligting, dié keer van die onderdrukkende juk van die Romeinse Ryk. Toe het hulle van Jesus gehoor. Sou hy die voorspelde Messias wees? Dit is nie verbasend dat baie ‘gehoop het dat hierdie man die een is wat bestem is om Israel te verlos’ van hulle Romeinse onderdrukkers nie (Lukas 24:21). Nogtans het geen verligting gekom nie. Maar in 70 HJ het die Romeinse leër gekom en Jerusalem en die tempel vernietig.

Wat het gebeur? Waarom het God nie vir die Jode geveg, soos in die verlede nie? Of waarom het hy nie vir hulle gesê dat hulle oorlog mag voer om hulleself van onderdrukking te bevry nie? Het God se beskouing van oorlog verander? Nee. Maar iets het drasties verander in verband met die Jode. Hulle het God se Seun, Jesus, as die Messias verwerp (Handelinge 2:36). Hulle het dus as ’n nasie hulle spesiale verhouding met God verloor.—Matteus 23:37, 38.

Die Joodse nasie en die Beloofde Land het nie meer God se beskerming geniet nie, en die Jode kon nooit weer tereg beweer dat hulle met God se goedkeuring of steun oorlog voer nie. Soos Jesus voorspel het, is die seëninge wat met God se guns gepaardgaan, van die vleeslike nasie Israel oorgedra aan ’n nuwe nasie, ’n geestelike nasie, wat later in die Bybel “die Israel van God” genoem is (Galasiërs 6:16; Matteus 21:43). Die gemeente van geesgesalfde Christene is die geestelike Israel van God. In die eerste eeu is daar vir hulle gesê: “Julle . . . is nou God se volk.”—1 Petrus 2:9, 10.

Het God vir die eerste-eeuse Christene geveg om hulle van Romeinse onderdrukking te bevry, aangesien hulle toe “God se volk” was? Of het hy gesê dat húlle oorlog teen hulle onderdrukkers mag voer? Nee, hy het nie. Waarom nie? Wanneer dit kom by oorlogvoering wat deur God goedgekeur word, besluit slegs God wanneer dit gevoer moet word, soos die vorige artikel getoon het. God het nie ten behoewe van die eerste-eeuse Christene geveg nie en het hulle ook nie die reg gegee om aan oorloë deel te neem nie. Dit is duidelik dat dit nie in die eerste eeu God se bestemde tyd was om teen goddeloosheid en onderdrukking oorlog te voer nie.

Soos God se knegte van die ou tyd, moes daardie eerste-eeuse Christene dus wag op God se bestemde tyd om ’n einde aan goddeloosheid en onderdrukking te maak. Intussen het God hulle nie die reg gegee om dit op hulleself te neem om oorlog teen hulle vyande te voer nie. Jesus Christus het dit in sy leringe duidelik gemaak. Hy het sy volgelinge byvoorbeeld nie beveel om aan oorlog deel te neem nie, maar het eerder vir hulle gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:44). Toe Jesus voorspel het dat die Romeinse leër eerste-eeuse Jerusalem sou aanval, het hy sy dissipels nie beveel om te bly en te veg nie, maar om te vlug—en dit is presies wat hulle gedoen het.—Lukas 21:20, 21.

Die apostel Paulus het ook onder inspirasie geskryf: “Moet julle nie wreek nie, . . . want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Romeine 12:19). Paulus het aangehaal wat God eeue tevore gesê het, soos opgeteken in Levitikus 19:18 en Deuteronomium 32:35. Soos ons in die vorige artikel gesien het, het God sy volk in die ou tyd gewreek deur hulle te help om oorlog te voer teen hulle vyande. Paulus se woorde toon dus dat God se beskouing van oorlog nie verander het nie. In die eerste eeu het God oorlog nog steeds as ’n aanvaarbare manier beskou om sy knegte te wreek en ’n einde te maak aan verskeie vorme van onderdrukking en goddeloosheid. Maar, soos in die verlede, het slegs God besluit wanneer sulke oorloë gevoer moes word en wie daarby betrokke moes wees.

Dit is duidelik dat God Christene in die eerste eeu nie die reg gegee het om in oorloë te veg nie. Maar wat van vandag? Het God vandag enige groep die reg gegee om oorlog te voer? Of is dit nou God se bestemde tyd om self in te tree en oorlog ten behoewe van sy knegte te voer? Wat is vandag God se beskouing van oorlog? Die laaste artikel in hierdie reeks sal hierdie vrae beantwoord.