Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wie was Josef se vader?

Josef, die timmerman van Nasaret, was Jesus se pleegvader. Maar wie was Josef se vader? Jesus se geslagslys in Matteus se Evangelie sê dat dit ’n man met die naam Jakob was, terwyl Lukas se Evangelie sê dat Josef “die seun van Heli” was. Waarom die skynbare teenstrydigheid?—Lukas 3:23; Matteus 1:16.

Matteus se verslag sê: “Jakob het die vader geword van Josef.” Hier word ’n Griekse term gebruik wat duidelik toon dat Jakob Josef se biologiese vader was. Matteus het dus Josef se natuurlike geslagslyn neergeskryf, die koninklike lyn van Dawid, waardeur Jesus, die pleegseun van Josef, die wetlike reg tot die troon sou ontvang.

Maar Lukas se verslag sê: “Josef, die seun van Heli.” Hierdie uitdrukking, “seun van”, kan “skoonseun van” beteken. ’n Soortgelyke geval word in Lukas 3:27 gevind, waar Sealtiël “die seun van Neri” genoem word, terwyl sy vader eintlik Jegonja was (1 Kronieke 3:17; Matteus 1:12). Sealtiël was heel moontlik getroud met ’n dogter van Neri, wie se naam nie bekend is nie, en was dus Neri se skoonseun. Josef was in dieselfde sin die “seun” van Heli, aangesien hy met Heli se dogter Maria getrou het. Lukas se verslag bevat dus Jesus se natuurlike geslagslyn “na die vlees”, oftewel deur sy biologiese moeder, Maria (Romeine 1:3). Die Bybel gee ons dus twee afsonderlike en nuttige geslagslyne van Jesus.

Watter weefstowwe en kleurstowwe was in Bybeltye beskikbaar?

Gekleurde wol wat in ’n grot naby die dooie see gevind is en voor 135 HJ geproduseer is

Skaapwol en bok- en kameelhaar is in die eertydse Midde-Ooste algemeen gebruik om weefstof te maak. Weefstof van wol was die algemeenste, en die Bybel verwys dikwels na skape, skaapskeerdery en wolklere (1 Samuel 25:⁠2; 2 Konings 3:⁠4; Job 31:​20). Vlas, wat gebruik is om linne te maak, is in Egipte en Israel verbou (Genesis 41:​42; Josua 2:⁠6). Die Israeliete in Bybeltye het moontlik nie katoen verbou nie, maar die Skrif sê dat dit in Persië gebruik is (Ester 1:⁠6). Sy, ’n duur luukse-artikel, is waarskynlik net deur reisende handelaars uit die Verre Ooste ingevoer.​—⁠Openbaring 18:​11, 12.

“Wol was beskikbaar in ’n verskeidenheid natuurlike kleure, wat gewissel het van spierwit tot donkerbruin en baie skakerings tussenin”, sê die boek Jesus and His World. Wol is ook dikwels gekleur. ’n Duur pers kleurstof is van sekere weekdiere verkry, en verskeie plante, wortels, blare en insekte is gebruik om kleurstowwe te vervaardig in kleure soos rooi, geel, blou en swart.