Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Waarom het Jesus gely en gesterf?

Waarom het Jesus gely en gesterf?

‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde.’​—Romeine 5:12.

Wat sou jy sê as iemand jou gevra het: “Wil jy vir ewig lewe?” Die meeste mense sal waarskynlik sê dat hulle wil, maar dat dit onrealisties is om te dink dat dit moontlik is. Hulle sê dat die dood ’n normale deel van die lewe is, die natuurlike uiteinde van ons bestaan.

Maar sê nou jy word die teenoorgestelde gevra: “Is jy gereed om te sterf?” Normaalweg sal die meeste mense nee sê. Wat is die punt? Ons normale en natuurlike begeerte is om te lewe, ten spyte van die beproewinge en probleme waarvoor ons te staan kom. Die Bybel toon dat God mense geskep het met die begeerte en die wil om te lewe. Trouens, dit sê dat hy ‘die ewigheid in hulle hart gesit het’.​—Prediker 3:11NW.

Maar die werklikheid is dat mense nie vir ewig lewe nie. Wat het dus verkeerd geloop? En het God enigiets gedoen om die situasie reg te stel? Die Bybel se antwoorde is bemoedigend en hou direk verband met waarom Jesus gely en gesterf het.

WAT VERKEERD GELOOP HET

Die eerste drie hoofstukke van die Bybelboek Genesis sê dat God die eerste mensepaar, Adam en Eva, die vooruitsig gegee het om vir ewig te lewe en vir hulle gesê het wat hulle moet doen om dit te verkry. Daarna sê die verslag dat hulle ongehoorsaam aan God was en hierdie vooruitsig verloor het. Die verhaal is eenvoudig​—so eenvoudig dat party gou is om te sê dat dit net volksoorlewering is. Maar soos met die Evangelies, dui alles daarop dat Genesis ’n geskiedkundige verslag is wat op feite gegrond is. *

Wat was die gevolg van Adam se ongehoorsaamheid? Die Bybel sê dat “die sonde [deur een mens, Adam,] in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Deur aan God ongehoorsaam te wees, het Adam gesondig. So het hy die vooruitsig op eindelose lewe verloor en uiteindelik gesterf. Omdat ons sy nakomelinge is, het ons sy sondige toestand geërf. Gevolglik word ons siek, oud en sterf ons. Hierdie verduideliking oor waarom ons sterf, stem ooreen met wat ons vandag omtrent oorerflikheid weet. Maar het God enigiets gedoen om die situasie reg te stel?

WAT GOD GEDOEN HET

Ja, God het reëlings getref om terug te koop wat Adam vir sy nakomelinge verloor het—die vooruitsig op eindelose lewe. Hoe het God dit gedoen?

Die Bybel sê in Romeine 6:23: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood.” Dit beteken dat die dood die gevolg is van die sonde. Adam het gesondig, en daarom het hy gesterf. Ons sondig ook en is dus onderhewig aan die loon van die sonde, die dood. Maar dit is nie ons skuld dat ons in hierdie sondige toestand gebore is nie. Daarom het God sy Seun, Jesus, uit liefde gestuur om ‘die loon van die sonde’ namens ons te dra. Wat beteken dit?

Jesus se dood maak ’n gelukkige, eindelose lewe moontlik

Aangesien een man, die volmaakte man Adam, ongehoorsaam was en so die sonde en die dood oor ons gebring het, kon slegs ’n volmaakte man wat tot die dood gehoorsaam sou bly, ons van hierdie las bevry. Die Bybel verduidelik dit so: “Net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars gemaak is, so sal ook baie deur die gehoorsaamheid van die een persoon regverdig gemaak word” (Romeine 5:19). Jesus was daardie “een persoon”. Hy het die hemel verlaat, ’n volmaakte man * geword en vir ons gesterf. Gevolglik kan ons ’n regverdige posisie voor God hê, sowel as die vooruitsig op eindelose lewe.

WAAROM JESUS GELY EN GESTERF HET

Maar waarom moes Jesus sterf om dit alles moontlik te maak? Kon God die Almagtige nie net besluit het dat Adam se nakomelinge vir ewig kan lewe nie? Hy het beslis die gesag gehad om dit te doen. Maar dan sou hy sy uitdruklike wet dat die loon van die sonde die dood is, verontagsaam het. Hierdie wet is nie iets kleins wat gerieflikheidshalwe verontagsaam of verander kan word nie. Ware geregtigheid vereis dat hierdie wet onderhou word.​—Psalm 37:28.

As God geregtigheid in hierdie geval opsygeskuif het, sou mense dalk gewonder het of hy dit in ander gevalle ook sou doen. Byvoorbeeld, sou hy op ’n regverdige wyse bepaal het wie onder Adam se nakomelinge die ewige lewe sou kry? Sou ’n mens op hom kon vertrou om sy beloftes te hou? Die feit dat God by sy standaard van geregtigheid gebly het toe hy ons redding bewerk het, verseker ons dat hy altyd sal doen wat reg is.

Deur middel van Jesus se offerdood het God eindelose lewe in die Paradys op aarde moontlik gemaak. Let op Jesus se woorde in Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Jesus se dood is dus nie net ’n bewys van God se onfeilbare geregtigheid nie, maar in die besonder van sy groot liefde vir mense.

Maar waarom moes Jesus ly en die pynlike dood sterf wat in die Evangelies beskryf word? Deur hom aan die allergrootste toets te onderwerp en getrou te bly, het Jesus die Duiwel se aantyging dat mense nie tydens beproewinge lojaal aan God sal bly nie, eens en vir altyd weerlê (Job 2:4, 5). Dit het dalk gelyk of hierdie aantyging geldig is, aangesien Satan die volmaakte man Adam sover gekry het om te sondig. Maar Jesus​—wat net soos Adam ’n volmaakte man was—​het ten spyte van verskriklike lyding gehoorsaam gebly (1 Korintiërs 15:45). So het hy bewys dat Adam ook gehoorsaam aan God kon bly as hy wou. Deur tydens beproewinge te volhard, het Jesus vir ons ’n voorbeeld gelaat om te volg (1 Petrus 2:21). God het sy Seun beloon vir sy volmaakte gehoorsaamheid deur hom onsterflike lewe in die hemel te gee.

HOE JY KAN BAAT VIND

Jesus het werklik gesterf. Die ewige lewe is moontlik. Wil jy vir ewig lewe? Jesus het getoon wat ons moet doen toe hy gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”​—Johannes 17:3.

Die uitgewers van hierdie tydskrif nooi jou om meer te leer omtrent Jehovah, die ware God, en omtrent sy Seun, Jesus Christus. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help. Jy kan ook nuttige inligting vind op ons webwerf, jw.org/af.

^ par. 8 Sien “The Historical Character of Genesis” in Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 922, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 13 Toe God sy Seun se lewe uit die hemel na Maria se baarmoeder oorgeplaas het, het sy swanger geword, en God se heilige gees het voorkom dat Jesus onvolmaaktheid van Maria erf.​—Lukas 1:31, 35.