Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Slaan ag op vroegtydige waarskuwings​—⁠Dit kan jou lewe red!

Slaan ag op vroegtydige waarskuwings​—⁠Dit kan jou lewe red!

OP 26 Desember 2004 is Simeulue, ’n eiland aan die noordwestelike kus van Soematra, Indonesië, deur ’n aardbewing van 9,1 geskud. Almal se oë was op die see gerig. Die gety het baie verder as gewoonlik teruggetrek. Almal het onmiddellik na die heuwels begin hardloop en geskreeu: “Smong! Smong!” wat die plaaslike woord vir tsoenami is. Binne 30 minute het kragtige golwe die kus getref en die meeste van die huise en dorpies platgevee.

Die eiland Simeulue is eerste deur hierdie vernietigende tsoenami getref. Maar net 7 van die 78 000 eilandbewoners het gesterf. Waarom so min? * ’n Gesegde onder die eilandbewoners is: ‘As daar ’n sterk skudding is en die see terugtrek, hardloop na die heuwels toe, want kort daarna gaan die see oor die land spoel.’ Die mense van Simeulue het uit vorige ondervinding geleer om ’n naderende tsoenami te herken aan die verandering in die see. Omdat hulle op die vroegtydige waarskuwing ag geslaan het, is hulle lewe gered.

Die Bybel praat van ’n naderende ramp, ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Maar dit is nie die einde van die planeet Aarde as gevolg van onverantwoordelike mensebedrywighede of ’n natuurramp nie—want God se voorneme is dat die aarde vir ewig bly staan (Prediker 1:4). Die komende verdrukking is eerder ’n daad van God om “die verderwers van die aarde te verderf”. Dit sal alle goddeloosheid en lyding tot ’n einde bring (Openbaring 11:18; Spreuke 2:22). Wat ’n seën sal dit tog wees!

Wat meer is, die komende vernietiging sal nie soos tsoenami’s, aardbewings of vulkaniese uitbarstings die dood van onskuldige mense veroorsaak nie. “God is liefde”, sê die Bybel, en God, wie se naam Jehovah is, belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (1 Johannes 4:8; Psalm 37:29). Maar hoe kan jy die groot verdrukking oorleef en die beloofde seëninge geniet? Die sleutel is: Slaan ag op die vroegtydige waarskuwing!

WEES BEWUS VAN DIE VERANDERENDE GETY

Ons kan nie sê presies wanneer alle goddeloosheid en lyding tot ’n einde sal kom nie, want Jesus het gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.” Jesus het ons nietemin aangespoor om ‘aan te hou waak’ (Matteus 24:36; 25:13). Waarom? Die Bybel gee ons ’n beskrywing van hoe wêreldtoestande sal wees voordat God die einde bring. Net soos die skielike verandering in die gety die inwoners van Simeulue van ’n naderende tsoenami bewus gemaak het, sal dramatiese veranderinge in wêreldgebeure aandui dat die einde naby is. Die bygaande venster meld party van die ingrypende veranderinge waarvan die Bybel praat.

Dit is waar dat party van die gebeure of toestande wat in die venster gemeld word, tot ’n mate in die verlede voorgekom het, maar as afsonderlike gevalle. Jesus het egter gesê dat ons sal weet dat die einde naby is wanneer ons “al hierdie dinge” sien (Matteus 24:33). Vra jou af: ‘Wanneer in die geskiedenis het alles wat hier beskryf word (1) op wêreldskaal plaasgevind, (2) terselfdertyd gebeur en (3) op ongeëwenaarde skaal toegeneem? Dit is duidelik dat ons in so ’n tyd lewe.

’N BLYK VAN GOD SE LIEFDE

“Vroeë waarskuwingstelsels . . . red lewens”, het ’n voormalige Amerikaanse president gesê. Ná die tsoenami in 2004 is ’n waarskuwingstelsel voorsien in die gebied wat getref is om ’n soortgelyke lewensverlies in die toekoms te probeer voorkom. Net so het God voorsiening gemaak dat mense vroegtydig gewaarsku word voor die einde kom. Die Bybel het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”​—Matteus 24:14.

Verlede jaar alleen het Jehovah se Getuies ver oor die 1,9 miljard uur daaraan bestee om die goeie nuus in 240 lande en in meer as 700 tale te verkondig. Hierdie verwikkeling bied oortuigende bewys dat die einde naby is. Jehovah se Getuies word beweeg deur liefde vir hulle naaste en doen alles in hulle vermoë om ander te waarsku dat God se oordeelsdag vinnig nader kom (Matteus 22:39). Die feit dat jy by hierdie inligting kan baat vind, is ’n bewys van Jehovah se liefde vir jou. Onthou dat “[God] nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Sal jy op God se liefde reageer en op die vroegtydige waarskuwing ag slaan?

VLUG NA VEILIGHEID!

Onthou dat die inwoners van Simeulue se kusdorpies dadelik gevlug het na hoërliggende gebiede toe hulle gesien het dat die gety terugtrek; hulle het nie gewag dat dit terugkeer nie. Hulle daadwerklike optrede het hulle lewe gered. Om die komende groot verdrukking te oorleef, moet jy ook as ’t ware na ’n hoërliggende gebied vlug voordat dit te laat is. Hoe? Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf oor ’n besielende uitnodiging wat gerig word gedurende “die einde van die dae”, die tyd waarin ons nou lewe. Dit sê: “Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah, . . . en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.”​—Jesaja 2:2, 3.

Wanneer jy opgaan na die top van ’n berg, gee dit jou ’n beter uitsig en is jy veilig. Vandag gaan miljoene mense op na die berg van Jehovah​—hulle leer in die Bybel wat God se weë is en bring dan nuttige veranderinge in hulle lewe aan (2 Timoteus 3:16, 17). Sodoende begin hulle “in [God se] paaie wandel” en geniet hulle sy guns en beskermende sorg.

Sal jy aan daardie uitnodiging gehoor gee en in hierdie kritieke dae van God se liefdevolle beskerming gebruik maak? Ons spoor jou aan om die Skriftuurlike bewyse van “die laaste dae” sorgvuldig te ondersoek. Dit word in die bygaande venster uiteengesit. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou graag wil help om hierdie tekste beter te verstaan en toe te pas. Of jy kan antwoorde op jou vrae vind op ons webwerf, jw.org/af. Kyk onder BYBELLERINGE > ANTWOORDE OP BYBELVRAE.

^ par. 3 Hierdie tsoenami van 2004 het die lewe van meer as 220 000 mense geëis​—een van die vernietigendste tsoenami’s wat in die geskiedenis opgeteken is.