Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET

Waarom dit saak maak

Waarom dit saak maak

Die Bybel is uniek onder godsdiensgeskrifte. Geen ander boek het die oortuigings van soveel mense oor so ’n lang tydperk beïnvloed nie. Maar daar is ook geen ander boek wat soveel noukeurige ondersoek en kritiek uitgelok het nie.

Party geleerdes twyfel byvoorbeeld of hedendaagse Bybels betroubare weergawes van die oorspronklike geskrifte is. “Ons kan eenvoudig nie seker wees of ons die oorspronklike teks akkuraat weergegee het nie”, sê ’n professor in die godsdienswetenskap. “Ons het net afskrifte wat vol foute is, en die oorgrote meerderheid daarvan is eeue ná die oorspronklikes gemaak en verskil blykbaar op duisende maniere [van die oorspronklikes].”

Ander bevraagteken die egtheid van die Bybel weens hulle godsdiensagtergrond. Byvoorbeeld, Faizal het in ’n nie-Christelike huis grootgeword en is geleer dat die Bybel ’n heilige boek is, maar dat dit verander is. “Ek was dus ietwat agterdogtig wanneer mense met my oor die Bybel wou praat”, sê hy. “Hulle het immers nie die oorspronklike Bybel nie. Dit is verander!”

Maak dit saak of die Bybel verander is of nie? Wel, dink ’n bietjie na oor hierdie vrae: Kan jy die Bybel se vertroostende beloftes vir die toekoms vertrou as jy nie weet of daardie beloftes in die oorspronklike teks was nie? (Romeine 15:4). Sal jy Bybelbeginsels gebruik om belangrike besluite te neem oor jou sekulêre werk, gesin of aanbidding as hedendaagse Bybels net foutiewe afskrifte is wat deur mense gemaak is?

Hoewel die oorspronklike Bybelboeke verdwyn het, kan ons ou afskrifte raadpleeg—insluitende duisende Bybelmanuskripte. Hoe het hierdie manuskripte behoue gebly ten spyte van verwering, teenstand en pogings om die teks te verander? Hoe kan die feit dat dit behoue gebly het, jou die vertroue gee dat die Bybels wat vandag beskikbaar is, eg is? Kyk na die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikels.