Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?

Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?

Was jy of ’n gesinslid al ooit ’n slagoffer van geweld? Het jy rede om te dink dat so iets wel met jou sal gebeur? Geweld is al ’n “wêreldwye en toenemende openbare gesondheidsprobleem” genoem. Kyk na ’n paar voorbeelde.

GESINS- EN SEKSUELE GEWELD: “Een uit drie vroue was al ’n slagoffer van fisiese of seksuele geweld deur ’n huweliksmaat of kêrel”, berig die Verenigde Nasies. En “daar word geraam dat een uit vyf vroue regoor die wêreld ’n slagoffer van verkragting of poging tot verkragting sal wees”.

STRAATGEWELD: In die Verenigde State is daar na bewering meer as 30 000 gewelddadige bendes wat betrokke is by misdaad. In Latyns-Amerika het byna 1 uit 3 persone ’n gewelddadige misdaad teen hulle aangemeld.

MOORD: Daar word geskat dat byna ’n halfmiljoen mense gedurende ’n onlangse jaar vermoor is, meer as dié wat in oorloë gesterf het. Suider-Afrika en Sentraal-Amerika het die hoogste gemiddelde moordsyfer, meer as vier keer soveel as die wêreldgemiddelde. In een jaar is meer as 100 000 mense in Latyns-Amerika vermoor, en sowat 50 000 in Brasilië alleen. Is daar ’n permanente oplossing vir geweld?

KAN GEWELD STOPGESIT WORD?

Waarom is geweld so algemeen? Baie oorsake is al geïdentifiseer, insluitende die volgende: spanning weens maatskaplike en ekonomiese ongelykheid, ’n algemene minagting vir die lewe van ander, alkohol- en dwelmmisbruik, kinders wat blootgestel word aan die gewelddadige gedrag van volwassenes en die feit dat gewelddadige misdadigers blykbaar nie vrees dat hulle gestraf sal word nie.

In party wêrelddele het pogings om geweld te verminder, wel geslaag. Na wat berig word, het die moordsyfer in die digbevolkte stad São Paulo, Brasilië, oor die laaste dekade met sowat 80 persent afgeneem. Nogtans is allerhande geweldsmisdade volop in daardie stad, en die moordsyfer is nog omtrent 10 per 100 000 inwoners. Wat is dus nodig om geweld eens en vir altyd te beëindig?

Geweld sal slegs tot ’n einde kom as mense se gesindhede en gedrag verander. Gewelddadige mense moet eienskappe soos trots, gierigheid en selfsug vervang met liefde, respek en besorgdheid oor ander.

Wat kan ’n persoon beweeg om sulke drastiese veranderinge aan te bring? Dink aan wat die Bybel leer:

  • “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:3.

  • “Die vrees van Jehovah beteken om te haat wat sleg is.” *Spreuke 8:13.

Liefde vir God en ’n vrees om hom te mishaag, het ’n kragtige uitwerking op mense. Dit kan selfs gewelddadige mense beweeg om hulle lewe te verander—nie oppervlakkig nie, maar in so ’n mate dat hulle hele persoonlikheid verander. Gebeur dit werklik?

Neem Alex * as voorbeeld. Hy was die afgelope 19 jaar in Brasiliese tronke weens verskeie aanrandings. Hy het in die jaar 2000 een van Jehovah se Getuies geword, nadat hy die Bybel saam met die Getuies gestudeer het. Het hy werklik sy gewelddadige lewenswyse verander? Ja, en Alex is baie spyt oor al die slegte dinge wat hy gedoen het. Hy sê: “Ek het God liefgekry omdat ek weet dat hy my werklik vergewe het. Dankbaarheid en liefde vir Jehovah het my gehelp om my weë te verander.”

César, wat ook in Brasilië is, het hom skuldig gemaak aan inbraak en gewapende roof. Dit was omtrent 15 jaar lank sy lewenswyse. Wat het hom laat verander? Terwyl hy in die tronk was, het Jehovah se Getuies met hom in aanraking gekom, en hy het ook die Bybel gestudeer. César verduidelik: “Ek het vir die eerste keer ’n doel in die lewe gehad. Ek het God leer liefkry. Ek het ook geleer om hom te vrees—’n heilsame vrees wat my daarvan weerhou om terug te keer na my verkeerde weë en Jehovah teleur te stel. Ek wou nie ondankbaar wees nadat hy so goed vir my was nie. Hierdie liefde en vrees het my beweeg om te verander.”

Leer hoe jy in ’n wêreld sonder geweld kan lewe

Wat leer ons uit hierdie ondervindinge? Die Bybel het die krag om mense se lewe grootliks te verander—deur hulle denkwyse te verander (Efesiërs 4:23). Alex, wat vroeër genoem is, voeg by: “Wat ek uit die Bybel geleer het, was soos skoon water wat deur my gevloei het en my geleidelik gereinig het deur slegte gedagtes weg te was. Ek het nooit gedink dat ek van hierdie dinge ontslae sou kon raak nie.” Ja, wanneer ons ons gedagtes met die Bybel se rein boodskap vul, kan dit slegtheid verwyder of wegwas. God se Woord het die krag om mense te reinig (Efesiërs 5:26). Gevolglik kan wrede en selfsugtige mense hulle weë verander en goedhartig en vreedsaam word (Romeine 12:18). Hulle ondervind vrede in hulle lewe omdat hulle Bybelbeginsels toepas.—Jesaja 48:18.

Meer as agtmiljoen Getuies van Jehovah in 240 lande weet wat die sleutel is om geweld uit te roei. Mense van alle rasse, maatskaplike vlakke en agtergronde het geleer om God lief te hê en te vrees en ook om mekaar lief te hê, en hulle geniet vrede as ’n wêreldwye gesin (1 Petrus 4:8). Hulle is lewende bewys daarvan dat ’n wêreld sonder geweld moontlik is.

’N WÊRELD SONDER GEWELD IS NABY!

Die Bybel belowe dat God binnekort alle geweld van hierdie aarde sal verwyder. Vandag se gewelddadige wêreld stuur af op die “dag van [God se] oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:5-7). Gewelddadige mense sal nie meer lyding vir ander veroorsaak nie. Hoe kan ons seker wees dat God iets wil doen en geweld wil uitroei?

God “haat beslis elkeen wat geweld liefhet”, sê die Bybel (Psalm 11:5). Die Skepper het vrede en geregtigheid lief (Psalm 33:5; 37:28). Daarom sal hy gewelddadige mense nie vir ewig duld nie.

Ja, ’n nuwe wêreld van vrede is op hande (Psalm 37:11; 72:14). Jy kan gerus meer leer oor wat jy moet doen sodat jy in daardie wêreld kan lewe waar daar geen geweld sal wees nie!