Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die nuttigste vergelyking wat jy kan maak

Die nuttigste vergelyking wat jy kan maak

BESKOU jy jouself as ’n Christen? Indien wel, is jy een van meer as tweemiljard mense op aarde—amper 1 uit elke 3—wat bely dat hulle Christus volg. Daar is vandag duisende gelowe wat sê dat hulle Christelik is, maar hulle teenstrydige leerstellings en verskillende beskouings verdeel hulle. Daarom is daar dalk ’n groot verskil tussen jou oortuigings en dié van ander verklaarde Christene. Maak dit werklik saak wat jy glo? Ja, dit maak saak—as jy die Christelike godsdiens wil beoefen wat in die Bybel geleer word.

Die vroeë volgelinge van Jesus Christus het as “Christene” bekend gestaan (Handelinge 11:26). Daar was geen behoefte aan ander name om hulle te identifiseer nie, aangesien daar slegs een Christelike geloof was. Christene het die leringe en onderrigting van die Stigter van die Christelike godsdiens, Jesus Christus, eendragtig gevolg. Wat van jou kerk? Glo jy dat jou kerk leer wat Christus geleer het en wat die vroeë volgelinge van Christus geglo het? Hoe kan jy daarvan seker wees? Daar is slegs een manier—om die Bybel as ’n maatstaf te gebruik.

Dink hieraan: Jesus Christus het ’n diepe respek gehad vir die Skrif as die Woord van God. Mense wat die Bybel se leringe afgewater het deurdat hulle voorkeur gegee het aan mensgemaakte tradisies, het nie Jesus se goedkeuring gehad nie (Markus 7:9-13). Ons kan dus met sekerheid sê dat ware volgelinge van Jesus hulle oortuigings op die Bybel sal baseer. Dit sal dus goed wees as elke Christen hom afvra: ‘Stem die leringe van my kerk ooreen met wat die Bybel leer?’ Om hierdie vraag te beantwoord, kan jy gerus jou kerk se leringe vergelyk met wat die Bybel werklik sê.

Jesus het gesê dat ons aanbidding van God gegrond moet wees op waarheid— die waarheid wat in die Bybel gevind word (Johannes 4:24; 17:17). En die apostel Paulus het gesê dat ons slegs gered kan word as ons tot ’n “juiste kennis van die waarheid” kom (1 Timoteus 2:4). Dit is dus baie belangrik dat ons oortuigings op juiste Bybelwaarhede gegrond is. Ons lewe is op die spel!

HOE OM ONS OORTUIGINGS MET DIE BYBEL TE VERGELYK

Ons nooi jou om die ses vrae wat voorsien word te lees en te kyk wat die Bybel se antwoord op hierdie vrae is. Slaan die teksverwysings na en peins oor die antwoorde. Vra jou dan af: ‘Hoe vergelyk my kerk se leringe met wat die Bybel sê?’

Hierdie paar vrae kan jou help om ’n baie nuttige vergelyking te maak—die nuttigste vergelyking wat jy kan maak. Is jy bereid om ook van die ander leringe van jou kerk te vergelyk met wat die Bybel sê? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die duidelike waarhede in die Bybel te ondersoek. Jy kan een van Jehovah se Getuies gerus vra vir ’n gratis Bybelstudie. Of jy kan ons webwerf, jw.org/af, besoek.