Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

Ons het almal vertroosting nodig

Ons het almal vertroosting nodig

Onthou jy toe jy as ’n jong kind geval het? Miskien het jy ’n snytjie op jou hand gekry of jou knie nerfaf geval. Kan jy onthou hoe jou ma jou getroos het? Dalk het sy die seerplek skoongemaak en toe ’n pleister opgeplak. Jy het gehuil, maar sy het gerusstellend met jou gepraat en haar arms liefdevol om jou gesit, en dit het jou gou beter laat voel. Op daardie stadium in jou lewe was iemand wat jou kon troos, altyd naby.

Maar die lewe word ingewikkelder namate ons ouer word. Die probleme word groter, en dit raak al hoe moeiliker om vertroosting te vind. Ongelukkig kan volwassenes se probleme selde opgelos word met ’n pleister en ’n ma se drukkie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

  • Dalk het jy die traumatiese ondervinding gehad om jou werk te verloor. Julian sê dat dit ’n skok was toe hy afgedank is en dat dit hom wanhopig laat voel het. ‘Hoe sal ek vir my gesin sorg?’ het hy gewonder. ‘Waarom dink die maatskappy dat ek niks werd is nie nadat ek soveel jare hard gewerk het vir hulle?’

  • Miskien is jy verpletter omdat jou huwelik verbrokkel het. “Toe my man my skielik 18 maande gelede verlaat het, het dit my baie seergemaak. My hart was gebreek”, verduidelik Raquel. “Die pyn was fisies sowel as emosioneel. Dit het my bang gemaak.”

  • Jy het dalk ’n ernstige gesondheidsprobleem en dit lyk nie of jy gaan beter word nie. Soms voel jy dalk soos die aartsvader Job, wat gesê het: “Tot onbepaalde tyd sal ek nie wil lewe nie” (Job 7:16). Miskien voel jy soos Luis, ’n man in sy 80’s, wat erken het: “Soms voel dit asof ek net wag om dood te gaan.”

  • Of moontlik is dit die dood van ’n geliefde wat jou na vertroosting laat smag. “Toe my seun in ’n tragiese vliegongeluk gesterf het, kon ek dit eers nie glo nie”, verduidelik Robert. “Toe het die pyn gekom. Die Bybel gee ’n beskrywing van hierdie soort pyn—dit voel asof ’n lang swaard jou deurboor.”—Lukas 2:35.

Robert, Luis, Raquel en Julian het vertroosting gevind, selfs in hierdie moeilike omstandighede. Hulle het die beste Persoon gevind wat dit kan bied​—⁠God die Almagtige. Hoe bied hy vertroosting? Sal hy jou ook kan vertroos?