Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

Hoe God ons vertroos

Hoe God ons vertroos

Die apostel Paulus beskryf Jehovah * as “die God van alle vertroosting, . . . wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Die Bybel verseker ons dus dat daar geen persoon is wat nie deur God gehelp kan word nie en dat geen tragedie so groot is dat ons hemelse Vader ons nie kan vertroos nie.

Ons moet natuurlik iets doen as ons wil hê dat God ons moet vertroos. Hoe kan ’n dokter ons help as ons nie ’n afspraak maak om hom te besoek nie? Die profeet Amos vra: “Sal twee saamloop tensy hulle mekaar volgens afspraak ontmoet het?” (Amos 3:3). Die Skrif spoor ons dus aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

Hoe kan ons seker wees dat God nader aan ons sal kom? Eerstens, hy sê herhaaldelik dat hy ons wil help. (Sien die  bygaande venster.) En tweedens, ons het die getuienis van mense wat al deur God vertroos is—werklike mense uit die verlede sowel as mense wat nou lewe.

Soos baie mense wat vandag God se hulp nodig het, het koning Dawid ook goed geweet hoe dit voel om tragedies deur te maak. “Hoor die stem van my dringende versoeke wanneer ek tot u om hulp roep”, het hy Jehovah eenkeer gesmeek. Het God gereageer? Ja. Dawid het bygevoeg: “Ek is gehelp, sodat my hart jubel.”—Psalm 28:2, 7.

JESUS SE ROL OM AL DIE TREURENDES TE VERTROOS

Dit was God se wil dat Jesus ander vertroos. Van die take wat God Jesus gegee het, was “om die gebrokenes van hart te verbind” en “om al die treurendes te vertroos” (Jesaja 61:1, 2). Soos voorspel is, het Jesus spesiale belangstelling getoon in mense “wat swoeg en swaar belaai is”.—Matteus 11:28-30.

Jesus het mense vertroos deur hulle wyse raad te gee, deur hulle liefdevol te behandel en in sommige gevalle selfs deur hulle siektes te genees. Eendag het ’n melaatse Jesus gesmeek: “As u net wil, kan u my rein maak.” Jesus het innig jammer vir hom gevoel en gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Markus 1:40, 41). En die melaatse is genees.

Vandag is die Seun van God nie op die aarde om ons persoonlik te vertroos nie. Maar sy Vader, Jehovah, “die God van alle vertroosting”, help nog steeds diegene wat deur moeilike tye gaan (2 Korintiërs 1:3). Kyk na vier dinge wat God gebruik om mense te vertroos.

  • Die Bybel. “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

  • God se heilige gees. Nie lank ná Jesus se dood nie het die hele Christengemeente ’n tydperk van vrede ingegaan. Waarom? “Dit [het] in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel” (Handelinge 9:31). Die heilige gees, God se werkende krag, is baie kragtig. God kan dit gebruik om enigiemand in enige situasie te vertroos.

  • Gebed. “Moet julle oor niks kwel nie”, sê die Bybel vir ons. “Maar laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.”—Filippense 4:6, 7.

  • Mede-Christene kan ons in ’n moeilike situasie vertroos omdat hulle ware vriende is. Die apostel Paulus het sy medegelowiges beskryf as “’n versterkende hulp” in tye van “nood en verdrukking”.—Kolossense 4:11; 1 Tessalonisense 3:7.

Maar jy wonder dalk hoe God vertroosting deur middel van hierdie dinge voorsien. Kom ons kyk na die ondervindinge van mense wat die probleme ondervind het wat in die eerste artikel gemeld is. Soos hulle kan jy uitvind dat God nog steeds hierdie bemoedigende belofte nakom: “Soos ’n man wat voortdurend deur sy moeder vertroos word, so sal ek julle voortdurend vertroos.”​—⁠Jesaja 66:⁠13.

^ par. 3 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.