Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dankbaar vir God se onverdiende goedhartigheid

Dankbaar vir God se onverdiende goedhartigheid

“Ons het almal . . . onverdiende goedhartigheid op onverdiende goedhartigheid [ontvang].”—JOH. 1:16.

LIEDERE: 95, 13

1, 2. (a) Beskryf Jesus se gelykenis van die eienaar van die wingerd. (b) Hoe toon die verhaal wat vrygewigheid en onverdiende goedhartigheid beteken?

’N WINGERDBOER het vroeg een oggend na die markplein gegaan om werkers te huur om in sy wingerd te werk. Die werkers wat hy gevind het, was tevrede met die loon wat hy hulle aangebied het en het gaan werk. Maar omdat die eienaar nog werkers nodig gehad het, het hy ’n paar keer deur die dag na die markplein gegaan en nog werkers gehuur. Hy het selfs vir diegene wat hy teen die einde van die middag gehuur het, ’n goeie loon aangebied. Toe dit aand word, het hy die werkers geroep om hulle hulle loon te gee, en hy het vir almal dieselfde loon gegee, of hulle nou baie ure of net een uur gewerk het. Toe diegene wat hy eerste gehuur het, dit besef, het hulle gekla. Die wingerdboer het geantwoord: ‘Het julle nie met my ooreengekom vir die loon wat ek aangebied het nie? Het ek nie die reg om al my werkers te betaal wat ek wil nie? Is julle afgunstig omdat ek vrygewig is?’—Matt. 20:1-15, vtn. in NW.

2 Jesus se gelykenis herinner ons aan een van Jehovah se eienskappe wat dikwels in die Bybel genoem word—sy “onverdiende goedhartigheid”. (Lees 2 Korintiërs 6:1.) Dit het dalk gelyk of die werkers wat net een uur gewerk het, nie die volle loon verdien nie, maar die eienaar van die wingerd het buitengewone goedhartigheid aan hulle betoon. ’n Geleerde het die volgende gesê oor die woord “onverdiende goedhartigheid”, wat in party Bybelvertalings ook met “genade” vertaal word: “Die woord verwys basies na ’n vrye en onverdiende gawe, iets wat aan ’n persoon gegee word sonder dat hy daarvoor gewerk het of dit verdien.”

JEHOVAH SE GROOT VRYGEWIGHEID

3, 4. Waarom en hoe het Jehovah onverdiende goedhartigheid teenoor die hele mensdom betoon?

3 Die Skrif praat van “die vrye gawe van die onverdiende goedhartigheid van God” (Ef. 3:7). Waarom en hoe gee Jehovah hierdie “vrye gawe”? As ons al Jehovah se vereistes ten volle kon nakom, sou ons sy goedhartigheid teenoor ons verdien het. Maar ons kan dit nie ten volle nakom nie. Daarom het die wyse koning Salomo geskryf: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Pred. 7:20). En die apostel Paulus het gesê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, en “die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Rom. 3:23; 6:23a). Dit is wat ons verdien.

4 Maar Jehovah het die sondige mensdom so liefgehad dat hy “sy enigverwekte Seun” na die aarde gestuur het om vir ons te sterf. Dit was die grootste bewys van onverdiende goedhartigheid (Joh. 3:16). Paulus het gesê dat Jesus nou “met heerlikheid en eer gekroon [is] omdat hy die dood ondergaan het, sodat hy deur God se onverdiende goedhartigheid vir elke mens die dood sou smaak” (Heb. 2:9). Ja, “die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here”.—Rom. 6:23b.

5, 6. Wat is die gevolge wanneer (a) die sonde oor ons heers? (b) onverdiende goedhartigheid oor ons heers?

5 Hoe het die mens sonde en die dood geërf? Die Bybel verduidelik dat “die dood deur die oortreding van die een mens [Adam] as koning geheers [het]” oor Adam se nakomelinge (Rom. 5:12, 14, 17). Maar gelukkig kan ons besluit om nie langer deur die sonde oorheers te word nie. As ons geloof beoefen in Christus se losprysoffer, laat ons toe dat Jehovah se onverdiende goedhartigheid oor ons heers. Hoe so? “Waar die sonde oorvloedig geword het, het onverdiende goedhartigheid nog oorvloediger geword. Met watter doel? Sodat, net soos die sonde as koning geheers het saam met die dood, die onverdiende goedhartigheid ook as koning sou heers deur middel van regverdigheid met die ewige lewe in die vooruitsig deur middel van Jesus Christus.”—Rom. 5:20, 21.

6 Al is ons nog steeds sondaars, hoef ons nie toe te laat dat die sonde oor ons heers nie. Wanneer ons wel sondig, sal ons Jehovah vra om ons te vergewe. Paulus het Christene gewaarsku: “Die sonde moet nie meester oor julle wees nie, aangesien julle nie onder die wet is nie maar onder onverdiende goedhartigheid” (Rom. 6:14). Ons vind dus baat by God se onverdiende goedhartigheid. Wat beteken dit vir ons? Paulus het verduidelik: “Die onverdiende goedhartigheid van God . . . onderrig ons om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe.”—Tit. 2:11, 12.

ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID WORD OP VERSKILLENDE MANIERE BETOON

7, 8. Wat beteken dit dat Jehovah se onverdiende goedhartigheid op verskillende maniere betoon word? (Sien prente aan begin van artikel.)

7 Die apostel Petrus het geskryf: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word” (1 Pet. 4:10). Wat beteken dit? Ongeag watter beproewinge ons in die lewe ondervind, Jehovah kan ons help om te volhard (1 Pet. 1:6). God sal goedhartigheid aan ons betoon wat ons in staat sal stel om enige beproewing te verduur.

8 Ja, Jehovah se onverdiende goedhartigheid word op verskillende maniere betoon. Die apostel Johannes het geskryf: “Ons het almal uit sy volheid ontvang, ja, onverdiende goedhartigheid op onverdiende goedhartigheid” (Joh. 1:16). Die verskillende maniere waarop Jehovah goedhartigheid aan ons betoon, bring vir ons baie seëninge mee. Wat is party van hierdie seëninge?

9. Hoe vind ons baat by Jehovah se onverdiende goedhartigheid, en hoe kan ons ons dankbaarheid daarvoor toon?

9 Ons sondes word vergewe. Weens Jehovah se onverdiende goedhartigheid word ons sondes vergewe, maar ons moet berou toon en hard stry teen ons sondige neigings. (Lees 1 Johannes 1:8, 9.) God se barmhartigheid moet ons dankbaar maak en ons beweeg om hom te verheerlik. Toe Paulus aan gesalfde mede-Christene geskryf het, het hy gesê: “[Jehovah] het ons verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde, deur middel van wie ons ons bevryding deur ’n losprys het, die vergifnis van ons sondes” (Kol. 1:13, 14). Vergifnis van ons sondes maak dit vir ons moontlik om baie ander wonderlike seëninge te geniet.

10. Wat geniet ons weens God se onverdiende goedhartigheid?

10 Ons geniet ’n vreedsame verhouding met God. As sondaars was ons van geboorte af vyande van God. Paulus het dit erken: “Toe ons vyande was, [het ons] met God versoen geraak . . . deur die dood van sy Seun” (Rom. 5:10). Omdat ons met Jehovah versoen is, kan ons vrede met hom geniet. Paulus het hierdie voorreg met Jehovah se onverdiende goedhartigheid verbind en gesê: “Laat ons [Christus se gesalfde broers], noudat ons regverdig verklaar is as gevolg van geloof, vrede geniet met God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons ook deur geloof ons toegang verkry het tot hierdie onverdiende goedhartigheid waarin ons nou staan” (Rom. 5:1, 2). Wat ’n seën is dit tog!

Bewyse van God se onverdiende goedhartigheid: Die voorreg om die goeie nuus te hoor (Sien paragraaf 11)

11. Hoe bring die gesalfdes die “ander skape” tot regverdigheid?

11 Ons word tot regverdigheid gebring. Ons is almal van nature onregverdig. Maar die profeet Daniël het voorspel dat “dié wat insig het”, dit wil sê die gesalfde oorblyfsel, “baie tot regverdigheid [sal] bring” gedurende die tyd van die einde. (Lees Daniël 12:3.) Deur middel van hulle predikings- en onderrigtingswerk het hulle miljoene “ander skape” gehelp om ’n regverdige posisie voor Jehovah te verkry (Joh. 10:16). Maar dit is slegs moontlik weens Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Paulus het verduidelik: “Dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy [God se] onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.”—Rom. 3:23, 24.

Die voorreg van gebed (Sien paragraaf 12)

12. Hoe hou gebed verband met God se onverdiende goedhartigheid?

12 Ons kan God se troon deur middel van gebed nader. Weens Jehovah se onverdiende goedhartigheid het ons die voorreg om sy hemelse troon deur middel van gebed te nader. Trouens, Paulus noem Jehovah se troon “die troon van onverdiende goedhartigheid” en nooi ons om dit “met vrymoedigheid van spraak” te nader (Heb. 4:16a). Jehovah het ons hierdie voorreg deur middel van sy Seun gegee, “deur middel van wie ons hierdie vrymoedigheid van spraak en toegang met vertroue deur ons geloof in hom het” (Ef. 3:12). Die voorreg om Jehovah vryelik in gebed te nader, is beslis ’n wonderlike bewys van sy onverdiende goedhartigheid.

Hulp op die regte tyd (Sien paragraaf 13)

13. Hoe kan onverdiende goedhartigheid ons ‘op die regte tyd help’?

13 Ons ontvang hulp op die regte tyd. Paulus het ons aangespoor om Jehovah vryelik in gebed te nader “sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd” (Heb. 4:16b). Wanneer ons ook al beproewinge of probleme in ons lewe ondervind, kan ons Jehovah smeek om ons te help. Al verdien ons dit nie, verhoor Jehovah ons gebede, dikwels deur mede-Christene te gebruik, en “daarom kan ons goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?’”—Heb. 13:6.

14. Hoe help Jehovah se onverdiende goedhartigheid ons as ons hart ontsteld is?

14 Ons hart word vertroos. ’n Groot seëning wat ons weens Jehovah se onverdiende goedhartigheid geniet, is vertroosting vir ’n hart wat ontsteld is (Ps. 51:17). Paulus het die volgende geskryf aan die Christene in Tessalonika, wat vervolging verduur het: “Mag ons Here Jesus Christus self en God, ons Vader, wat ons liefgehad het en deur middel van onverdiende goedhartigheid ewige troos en goeie hoop gegee het, julle harte vertroos en julle standvastig maak” (2 Tess. 2:16, 17). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah liefdevol vir ons sorg weens sy oorvloedige goedhartigheid!

15. Watter hoop het ons danksy God se onverdiende goedhartigheid?

15 Ons het die vooruitsig op die ewige lewe. Sonder hulp sou ons as sondaars geen hoop gehad het nie. (Lees Psalm 49:7, 8.) Maar Jehovah het ons ’n wonderlike hoop gegee. Jesus het sy volgelinge belowe: “Dít is die wil van my Vader, dat elkeen wat die Seun aanskou en geloof in hom beoefen, die ewige lewe moet hê” (Joh. 6:40). Ja, die hoop op die ewige lewe is ’n gawe, ’n wonderlike bewys van God se onverdiende goedhartigheid. Paulus het groot waardering hiervoor gehad en gesê: “Die onverdiende goedhartigheid van God wat redding tot alle soorte mense bring, is geopenbaar.”—Tit. 2:11.

MOENIE GOD SE ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID MISBRUIK NIE

16. Hoe het party vroeë Christene God se onverdiende goedhartigheid misbruik?

16 Al ontvang ons baie seëninge as gevolg van Jehovah se onverdiende goedhartigheid, moet ons nie so verwaand wees om te dink dat hy alle sonde sal verskoon nie. Onder die vroeë Christene was daar party wat probeer het om “die onverdiende goedhartigheid van . . . God in ’n verskoning vir losbandige gedrag [te] verander” (Jud. 4). Hierdie ontroue Christene het blykbaar gedink dat hulle sondes kon pleeg en dat Jehovah hulle altyd sou vergewe. Nog erger, hulle het selfs hulle broers probeer oortuig om hulle slegte weë te volg. Diegene wat dit vandag doen, het ook “die gees van onverdiende goedhartigheid met veragting beledig”.—Heb. 10:29.

17. Watter streng raad het Petrus gegee?

17 Vandag mislei Satan party Christene om te dink dat hulle sondes kan pleeg omdat God barmhartig is en hulle sal vergewe. Maar hoewel Jehovah bereid is om berouvolle sondaars te vergewe, verwag hy dat ons hard moet stry teen ons sondige neigings. Hy het Petrus geïnspireer om te skryf: “Daarom, geliefdes, aangesien julle hierdie voorkennis het, moet julle op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie. Nee, maar hou aan om te groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus.”—2 Pet. 3:17, 18.

ONVERDIENDE GOEDHARTIGHEID BRING VERANTWOORDELIKHEDE MEE

18. Watter verantwoordelikhede het ons weens die onverdiende goedhartigheid wat Jehovah aan ons betoon?

18 Ons is baie dankbaar vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid, en daarom moet ons ons gawes gebruik om God te eer en ander te help. Op watter maniere? Paulus sê: “Aangesien ons dan gawes het wat verskil ooreenkomstig die onverdiende goedhartigheid wat aan ons gegee is, of dit nou . . . ’n bediening [is], laat ons ons toelê op hierdie bediening; of hy wat leer, laat hy hom toelê op sy onderrigting; of hy wat vermaan, laat hy hom toelê op sy vermaning; . . . hy wat barmhartigheid bewys, laat hy dit doen met blymoedigheid” (Rom. 12:6-8). Omdat Jehovah onverdiende goedhartigheid aan ons betoon, het ons die verantwoordelikheid om hard te werk in die bediening, om ander die Bybel te leer, om ons broers en susters aan te moedig en om diegene te vergewe wat ons aanstoot gee.

19. Watter verantwoordelikheid sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Dankbaarheid vir God se groot liefde moet ons beweeg om ons bes te doen “om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig” (Hand. 20:24). Hierdie verantwoordelikheid sal in die volgende artikel bespreek word.