Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verheerlik jy God deur jou kleredrag?

Verheerlik jy God deur jou kleredrag?

“Doen alles tot heerlikheid van God.”—1 KOR. 10:31.

LIEDERE: 34, 61

1, 2. Waarom handhaaf Jehovah se Getuies hoë standaarde wanneer dit by kleredrag kom? (Sien prent aan begin van artikel.)

“BAIE mense was informeel aangetrek, veral toe dit warm was”, het ’n Nederlandse koerant oor ’n vergadering van kerkleiers berig. “Dit is nie die geval by die byeenkoms van Jehovah se Getuies nie. . . . Seuns en mans dra ’n baadjie en das, terwyl die lengte van die meisies en vroue se rokke . . . beskeie en tog modern is.” Ja, Jehovah se Getuies word dikwels geprys omdat hulle “hulle met goed versorgde kleredrag . . . versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, . . . soos dit [diegene] betaam wat bely dat hulle God vereer” (1 Tim. 2:9, 10). Die apostel Paulus het van vroue gepraat, maar dieselfde basiese standaard is van toepassing op Christenmans.

2 Dit is vir ons as Jehovah se volk belangrik dat ons kleredrag aan hoë standaarde voldoen, en dit is ook vir die God wat ons aanbid, belangrik (Gen. 3:21). Wat die Skrif oor kleredrag en persoonsversorging sê, maak dit duidelik dat die Soewerein van die heelal heilsame standaarde vir sy ware aanbidders stel wanneer dit by kleredrag kom. Wanneer ons dus besluite neem oor kleredrag en persoonsversorging, moet ons nie net dink aan waarvan ons hou nie. Ons moet ook in ag neem wat die Soewereine Heer Jehovah behaag.

3. Wat leer ons oor kleredrag uit God se Wet aan die Israeliete?

3 In God se Wet aan die Israeliete was daar byvoorbeeld reëls wat hulle beskerm het teen die uiters onsedelike lewenswyse van die nasies om hulle. Die Wet het getoon dat Jehovah kleredrag haat wat dit moeilik maak om tussen ’n man en ’n vrou te onderskei—wat in ons dag soms as uniseksmodes beskryf word. (Lees Deuteronomium 22:5.) Uit wat God oor kleredrag sê, kan ons duidelik sien dat God nie hou van klerestyle wat mans vroulik laat lyk, wat vroue manlik laat lyk of wat dit moeilik maak om die verskil tussen mans en vroue te sien nie.

4. Wat kan Christene help om goeie besluite te neem oor kleredrag?

4 God se Woord bevat beginsels wat Christene help om goeie besluite oor kleredrag te neem. Dit is die geval ongeag waar hulle woon, wat hulle kultuur is of wat die klimaat is. Ons het nie lang lyste nodig wat sê watter klerestyle aanvaarbaar of onaanvaarbaar is nie. Ons word eerder deur skriftuurlike beginsels gerig wat ruimte laat vir persoonlike voorkeur. Kom ons bespreek ’n paar Bybelbeginsels wat ons kan help om vas te stel “wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” wanneer ons besluit wat om aan te trek.—Rom. 12:1, 2.

‘ONS BEVEEL ONS AS GOD SE BEDIENAARS AAN’

5, 6. Watter uitwerking behoort ons kleredrag op ander te hê?

5 Die apostel Paulus is geïnspireer om die belangrike beginsel te beklemtoon wat ons vind in 2 Korintiërs 6:4. (Lees.) Ons persoonlike voorkoms sê baie omtrent ons. Baie mense verkry ’n indruk omtrent ons en vorm ’n opinie weens “wat vir die oë sigbaar is” (1 Sam. 16:7). Daarom besef ons as God se bedienaars dat ons nie net kan aantrek wat vir ons gemaklik is en waarvan ons hou nie. Die beginsels in God se Woord moet ons beweeg om nie stywe, ontblotende of seksueel prikkelende klere te dra nie. Dit beteken dat ons nie klere moet dra wat privaat dele van ons liggaam ontbloot of beklemtoon nie. Niemand moet ongemaklik voel of voel dat hulle moet wegkyk wanneer hulle sien hoe ons aangetrek is nie.

6 Mense sal meer geneig wees om ons as bedienaars van die Soewereine Heer Jehovah te respekteer as ons netjies, skoon en goed versorg is en beskeie klere dra. En dit sal hulle moontlik aantrek tot die God wat ons aanbid. Boonop sal ons gepaste kleredrag ’n goeie indruk skep van die organisasie wat ons verteenwoordig. Dit kan tot gevolg hê dat ander meer geneig sal wees om na ons lewensreddende boodskap te luister.

7, 8. Wanneer moet ons veral daarop let dat ons kleredrag gepas is?

7 Ons is dit aan ons heilige God, aan ons geestelike broers en susters sowel as aan mense in ons gebied verskuldig om klere te dra wat waardigheid verleen aan ons boodskap en wat Jehovah verheerlik (Rom. 13:8-10). Dit is veral die geval wanneer ons aan Christelike bedrywighede deelneem, soos wanneer ons vergaderinge bywoon of die predikingswerk doen. Ons moet aantrek “soos dit [mense] betaam wat bely dat hulle God vereer” (1 Tim. 2:10). Party klerestyle is dalk gepas op een plek, maar nie op ’n ander nie. Jehovah se volk regoor die wêreld neem dus plaaslike gebruike in ag sodat hulle kleredrag ander nie aanstoot gee nie.

Verheerlik jy die God wat jy verteenwoordig deur jou kleredrag? (Sien paragraaf 7, 8)

8 Lees 1 Korintiërs 10:31. Ons kleredrag moet gepas en beskeie wees wanneer ons byeenkomste bywoon. Daarom wil ons die uiterste modes vermy wat algemeen is in die wêreld. Selfs wanneer ons by ’n hotel aankom of vertrek sowel as wanneer ons voor en ná byeenkomssessies ontspan, moet ons klere nie te informeel of slordig wees nie. Dan sal ons nie skaam wees om te sê dat ons Jehovah se Getuies is nie. En ons sal ook die vrymoedigheid hê om te getuig as ons die geleentheid kry.

9, 10. Watter uitwerking moet Filippense 2:4 op ons kleredrag hê?

9 Lees Filippense 2:4. Waarom moet Christene in ag neem watter uitwerking hulle kleredrag op medeaanbidders het? Een rede is dat God se volk hard werk om hierdie vermaning in die Bybel toe te pas: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif” (Kol. 3:2, 5). Ons wil dit nie vir medegelowiges moeilik maak om hierdie raad te volg nie. Broers en susters wat ’n seksueel onsedelike lewenswyse laat vaar het, stry dalk nog steeds teen sondige neigings (1 Kor. 6:9, 10). Ons wil nie hulle stryd vir hulle moeiliker maak nie, of hoe?

10 Ons kleredrag moet ons geestelike broers en susters laat voel dat die gemeente ’n plek is waar sedelike reinheid bevorder word. Dit moet die geval wees wanneer ons by die vergadering is of saam ontspan. Ons kan kies watter klere ons wil dra. Maar ons almal het die verantwoordelikheid om klere te dra wat dit vir ander makliker maak om rein te bly en God se standaarde te volg, wat vereis dat ons gedagtes, woorde en gedrag heilig is (1 Pet. 1:15, 16). Opregte liefde “gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie”.—1 Kor. 13:4, 5.

DIE REGTE KLERE VIR DIE REGTE TYD EN PLEK

11, 12. Wat hou ons in gedagte wanneer ons besluit wat om aan te trek?

11 Wanneer God se knegte besluit wat hulle gaan aantrek, hou hulle in gedagte dat daar “’n tyd vir elke aangeleentheid en aangaande elke werk” is (Pred. 3:1, 17). Verskillende klimate en seisoensveranderinge beïnvloed natuurlik wat ons dra. So ook verskillende omstandighede en ons omgewing. Maar Jehovah se standaarde verander nie met die weer nie.—Mal. 3:6.

12 In warmer klimate kan dit besonder moeilik wees om seker te maak dat ons klere gepas is en van goeie oordeel getuig. Maar ons broers en susters waardeer dit as ons nie klere dra wat so styf of so los sit dat dit onbeskeie is nie (Job 31:1). En wanneer ons by die strand of by ’n swembad ontspan, moet ons swemklere ook beskeie wees (Spr. 11:2, 20). Selfs al dra baie mense in die wêreld skrapse swemklere, wil ons Jehovah, ons heilige God vir wie ons lief is, in ’n goeie lig stel.

13. Waarom moet die raad in 1 Korintiërs 10:32, 33 ons keuse van klere beïnvloed?

13 Daar is nog ’n belangrike beginsel wat ons help om gepaste klere te kies. Dit is ons besorgdheid oor die gewete van ander—of hulle medeaanbidders is of nie. (Lees 1 Korintiërs 10:32, 33.) Ons moet ons verantwoordelikheid om nie klere te dra wat ander aanstoot kan gee nie, ernstig opneem. “Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing”, het Paulus geskryf. Toe het hy hierdie rede bygevoeg: “Want selfs die Christus het homself nie behaag nie” (Rom. 15:2, 3). Ja, om ander te help, was vir Jesus belangriker as sy eie gerief—deur hulle te help, het hy God se wil gedoen. Al hou ons dus van sekere kledingstukke of style, sal ons dit vermy as dit kan veroorsaak dat mense nie na ons boodskap wil luister nie.

14. Hoe kan ouers hulle kinders leer om God deur hulle kleredrag te verheerlik?

14 Christenouers het die verantwoordelikheid om hulle gesinne te leer om Bybelbeginsels toe te pas. Dit sluit in dat hulle seker maak dat hulle en hulle kinders God se hart probeer bly maak deur hulle beskeie kleredrag en persoonsversorging (Spr. 22:6; 27:11). Ouers kan hulle kinders leer om ’n gesonde respek te hê vir die heilige God wat hulle aanbid deur die regte voorbeeld vir hulle kinders te stel en deur hulle op ’n liefdevolle en praktiese manier te onderrig. Dit is goed as ouers hulle kinders leer hoe en waar om gepaste klere te vind. Dit beteken dat hulle nie net klere moet kies waarvan hulle hou nie, maar klere wat Jehovah, die God wat hulle verteenwoordig, tot eer strek.

GEBRUIK JOU WILSVRYHEID WYSLIK

15. Wat kan ons help om wyse keuses te maak wanneer ons klere kies?

15 God se Woord voorsien praktiese leiding wat ons kan help om wyse keuses te maak wat God sal verheerlik. Maar daar is ruimte vir persoonlike smaak. Ons smaak verskil, en so ook wat ons kan bekostig. Maar ons klere moet altyd netjies, skoon, beskeie, gepas vir die geleentheid en plaaslik aanvaarbaar wees.

16. Waarom moet ons moeite doen om gepaste klere te vind?

16 Ons moet erken dat dit nie altyd maklik is om ’n besluit te neem wat van goeie oordeel getuig, prakties is en alle faktore in ag neem nie. Baie winkels hou modes aan wat gewild is, en daarom kan dit baie tyd en moeite verg om beskeie rompe, rokke en bloese te vind sowel as pakke en langbroeke wat nie te styf sit nie. Maar medegelowiges sal waarskynlik sien dat ons moeite gedoen het om mooi en gepaste klere te vind en sal dit waardeer. En die tevredenheid wat ons ervaar omdat ons ons liefdevolle hemelse Vader verheerlik, vergoed deur en deur vir die opofferings wat ons maak om gepaste klere te vind wat hom tot eer strek.

17. Wat is sommige faktore wat kan beïnvloed of ’n broer ’n baard sal dra of nie?

17 Is dit gepas vir broers om ’n baard te dra? Die Mosaïese Wet het vereis dat mans ’n baard dra. Maar Christene is nie onder die Mosaïese Wet of verplig om dit te onderhou nie (Lev. 19:27; 21:5; Gal. 3:24, 25). In sommige kulture is ’n netjiese baard miskien aanvaarbaar en sal dit dalk glad nie afbreuk doen aan die Koninkryksboodskap nie. Trouens, party aangestelde broers het ’n baard. En tog besluit party broers dalk om nie ’n baard te dra nie (1 Kor. 8:9, 13; 10:32). In ander kulture of plekke is baarde nie algemeen nie en word dit as onaanvaarbaar vir Christenbedienaars beskou. As ’n broer in so ’n geval ’n baard het, kan dit daarop neerkom dat hy God nie deur sy kleredrag en persoonsversorging verheerlik nie en dat hy nie onberispelik is nie.—Rom. 15:1-3; 1 Tim. 3:2, 7.

18, 19. Hoe help Miga 6:8 ons terwyl ons daarna streef om God te verheerlik deur ons kleredrag?

18 Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons nie belas met ’n lang lys moets en moenies oor ons kleredrag en persoonsversorging nie. Hy laat ons eerder toe om ons wilsvryheid te gebruik en verstandige persoonlike besluite te neem, wat deur betroubare Bybelbeginsels gerig moet word. Ons kan dus selfs deur ons kleredrag en persoonsversorging toon dat dit vir ons belangrik is om ‘beskeie te wandel met ons God’.—Miga 6:8.

19 Beskeidenheid sluit in dat ons besef hoe rein en heilig Jehovah is in vergelyking met ons en dat ons heeltemal afhanklik is van sy betroubare leiding. Beskeidenheid beteken ook dat ons die gevoelens en menings van ander respekteer. Daarom ‘wandel ons beskeie met God’ deur ons lewe in ooreenstemming met sy verhewe standaarde te bring en deur respek vir ander se gevoelens te toon.

20. Watter uitwerking moet ons kleredrag en persoonsversorging op ander hê?

20 Die klere wat ons kies, moet geen twyfel by mense laat dat ons aanbidders van Jehovah is nie. Ons broers en susters sowel as mense oor die algemeen moet kan sien dat ons ons regverdige God verteenwoordig. Hy het hoë standaarde, en dit is vir ons ’n vreugde om hierdie standaarde te probeer weerspieël. Broers en susters wie se voorkoms en goeie gedrag opregte mense na die Bybel se lewensreddende boodskap aantrek, moet geprys word. Dit verheerlik Jehovah en maak hom bly. As ons wyse besluite neem oor ons kleredrag, sal ons beslis aanhou om die Een te verheerlik wat hom “met waardigheid en prag” beklee.—Ps. 104:1, 2.