Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly geestelik sterk terwyl jy in ’n anderstalige veld dien

Bly geestelik sterk terwyl jy in ’n anderstalige veld dien

“In my hart het ek u woord as ’n skat bewaar.”—PS. 119:11.

LIEDERE: 142, 92

1-3. (a) Waaraan moet ons voorkeur gee, ongeag ons omstandighede? (b) Voor watter spesifieke uitdagings kom diegene te staan wat ’n nuwe taal leer, en watter vrae ontstaan? (Sien prent aan begin van artikel.)

DUISENDE Getuies van Jehovah speel ’n groot rol in die vervulling van die visioen om die goeie nuus “aan elke nasie en stam en taal en volk” te verkondig (Op. 14:6). Is jy soos baie ander besig om ’n ander taal te leer? Dien jy as ’n sendeling of dien jy in ’n ander land waar daar hulp nodig is, of het jy vergaderinge in ’n anderstalige gemeente in jou eie land begin bywoon?

2 As God se knegte moet ons geestelikheid en dié van ons gesin vir ons van die grootste belang wees (Matt. 5:3). Maar soms maak ons besige rooster dit vir ons moeilik om betekenisvolle persoonlike studie te doen. En diegene wat in ’n anderstalige veld dien, kom voor verdere uitdagings te staan.

3 Hulle moet nie net ’n nuwe taal leer nie, maar moet ook seker maak dat hulle hulle hart gereeld voed met vaste geestelike voedsel (1 Kor. 2:10). Hoe kan hulle dit doen as hulle die taal wat in die gemeente gepraat word, nie goed verstaan nie? En waarom moet Christenouers seker maak dat God se Woord hulle kinders se hart bereik?

’N GEVAAR VIR ONS GEESTELIKHEID

4. Wat kan ’n gevaar vir ons geestelikheid inhou? Gee ’n voorbeeld.

4 As ons sukkel om God se Woord in ’n vreemde taal te verstaan, kan dit ’n groot gevaar vir ons geestelikheid inhou. In die vyfde eeu VHJ was Nehemia baie besorg daaroor dat party kinders onder die Jode wat uit Babilon teruggekeer het, nie Hebreeus kon praat nie. (Lees Nehemia 13:23, 24.) Hierdie kinders het in werklikheid hulle identiteit as God se knegte begin verloor omdat hulle God se Woord nie ten volle kon verstaan nie.—Neh. 8:2, 8.

5, 6. Wat het party ouers besef wat in ’n anderstalige veld dien, en waarom gebeur dit?

5 Party Christenouers wat in ’n anderstalige veld dien, het besef dat hulle kinders se belangstelling in die waarheid afneem. Omdat die kinders die vergaderinge nie ten volle verstaan het nie, is hulle hart nie werklik geraak deur die geestelike program by die Koninkryksaal nie. “Wanneer ’n mens oor geestelike sake praat, moet die hart en emosies daarby betrokke wees”, sê Pedro, [1] wat met sy gesin van Suid-Amerika na Australië getrek het.—Luk. 24:32.

6 Wanneer ons iets in ’n vreemde taal lees, raak dit ons hart dalk nie soveel soos wanneer ons iets in ons eie taal lees nie. En as ons sukkel om goed in ’n ander taal te kommunikeer, kan dit ons verstandelik en geestelik uitput. Ons wil ons begeerte sterk hou om Jehovah in ’n anderstalige veld te dien, maar ons moet ook sorg dat ons geestelik sterk bly.—Matt. 4:4.

HULLE HET OMGESIEN NA HULLE GEESTELIKHEID

7. Hoe het die Babiloniërs Daniël sover probeer kry om hulle kultuur en godsdiens aan te neem?

7 Toe Daniël en sy vriende in ballingskap was, het die Babiloniërs hulle sover probeer kry om die Babiloniese kultuur aan te neem deur hulle “die taal van die Galdeërs te leer”. Die hofbeampte wat verantwoordelik was vir hulle opleiding, het hulle boonop Babiloniese name gegee (Dan. 1:3-7). Die naam wat vir Daniël gegee is, het verwys na Bel, die hoofgod van Babilon. Koning Nebukadnesar wou Daniël moontlik laat glo dat Babilon se god magtiger is as Daniël se God, Jehovah.—Dan. 4:8.

8. Wat het Daniël gehelp om geestelik sterk te bly terwyl hy in ’n vreemde land gewoon het?

8 Hoewel Daniël van die lekkernye van die koning kon eet, het hy “in sy hart besluit dat hy hom nie [daarmee] sou verontreinig” nie (Dan. 1:8). Omdat hy die “heilige boeke” in sy moedertaal bestudeer het, het hy geestelik sterk gebly terwyl hy in ’n vreemde land gewoon het (Dan. 9:2, vtn. in NW). Sowat 70 jaar nadat hy in Babilon aangekom het, was hy nog steeds onder sy Hebreeuse naam bekend.—Dan. 5:13.

9. Hoe het God se Woord die skrywer van Psalm 119 gehelp?

9 Die skrywer van Psalm 119 is geminag deur persone aan die koninklike hof. Maar God se Woord het hom die krag gegee om dit te verduur en het hom gehelp om heeltemal anders te wees as die mense om hom (Ps. 119:23, 61). Hy het toegelaat dat God se woorde sy hart raak.—Lees Psalm 119:11, 46.

BLY GEESTELIK STERK

10, 11. (a) Wat moet ons doelwit wees wanneer ons God se Woord studeer? (b) Hoe kan ons ons doelwit bereik? Gee ’n voorbeeld.

10 Al het ons moontlik baie verantwoordelikhede in die gemeente en by die werk, moet ons almal tyd inruim vir persoonlike studie en gesinsaanbidding (Ef. 5:15, 16). Ons doelwit moenie net wees om ’n groot aantal bladsye te lees of kommentare vir die vergaderinge voor te berei nie. Ons wil seker maak dat God se Woord ons hart bereik en ons geloof versterk.

11 Om hierdie doelwit te bereik, moet ons ’n balans vind wanneer ons studeer. Ons wil nie net ander se behoeftes in gedagte hou nie, maar ook ons eie geestelike behoeftes (Fil. 1:9, 10). Ons moet besef dat ons dalk nie wat ons lees op onsself toepas wanneer ons vir die bediening, vir vergaderinge of vir ’n toespraak voorberei nie. Byvoorbeeld: Hoewel ’n kok sy disse moet proe voordat hy dit bedien, het hy meer as dit nodig om gesond te bly. Hy moet voedsame etes vir homself voorberei. Net so moet ons ons hart voed met geestelike voedsel wat in ons persoonlike behoeftes voorsien.

12, 13. Waarom vind baie wat in ’n anderstalige veld dien, dit nuttig om gereeld in hulle moedertaal te studeer?

12 Baie van dié wat in ’n anderstalige veld dien, vind dit nuttig om die Bybel gereeld te studeer in die ‘taal waarin hulle gebore is’ (Hand. 2:8). Selfs sendelinge wat in die buiteland dien, besef dat hulle nie geestelik sterk sal bly as hulle net staatmaak op die geestelike voedsel wat hulle by vergaderinge ontvang nie.

13 Alain, wat Persies al omtrent agt jaar lank leer, erken: “Wanneer ek in Persies vir die vergaderinge voorberei, is ek geneig om meer op die taal te konsentreer. Omdat my verstand hoofsaaklik hiermee besig is, word my hart nie noodwendig geraak deur die geestelike gedagtes wat ek lees nie. Daarom sit ek gereeld tyd opsy om die Bybel en ander publikasies in my moedertaal te studeer.”

BEREIK JOU KINDERS SE HART

14. Waarvan moet ouers seker maak, en waarom?

14 Christenouers moet seker maak dat God se Woord hulle kinders se verstand en hart bereik. Nadat Serge en sy vrou, Muriel, meer as drie jaar lank in ’n anderstalige veld gedien het, het hulle opgelet dat hulle 17-jarige seun dit nie meer geniet om aan teokratiese bedrywighede deel te neem nie. “Hy het nie daarvan gehou om in ’n ander taal te preek nie, terwyl hy dit voorheen geniet het om in sy moedertaal, Frans, te preek”, sê Muriel. “Toe ons besef dat hierdie situasie keer dat ons seun geestelike vooruitgang maak,” verduidelik Serge, “het ons besluit om terug te gaan na ons vorige gemeente.”

Maak seker dat die waarheid julle kinders se hart bereik (Sien paragraaf 14, 15)

15. (a) Wat kan ouers help om te besluit of hulle moet teruggaan na ’n gemeente wat die taal gebruik wat hulle kinders die beste verstaan? (b) Watter raad gee Deuteronomium 6:5-7 aan ouers?

15 Wat kan ouers help om te besluit of hulle moet teruggaan na ’n gemeente wat die taal gebruik wat hulle kinders die beste verstaan? Eerstens, hulle moet bepaal of hulle werklik genoeg tyd en energie het om liefde vir Jehovah by hulle kinders in te skerp en hulle terselfdertyd ’n nuwe taal te leer. Tweedens, hulle let dalk op dat hulle kinders nie regtig belangstel in geestelike bedrywighede nie of dat hulle nie in die anderstalige veld wil dien nie. As dit die geval is, sal Christenouers dit dalk oorweeg om terug te gaan na ’n gemeente wat die taal gebruik wat die kinders die beste verstaan sodat die kinders die waarheid eers hulle eie kan maak.—Lees Deuteronomium 6:5-7.

16, 17. Hoe het party ouers dit reggekry om hulle kinders geestelik te help terwyl hulle in ’n anderstalige veld dien?

16 Sommige ouers het egter maniere gevind om hulle kinders in hulle moedertaal te leer, al woon hulle die vergaderinge van ’n anderstalige gemeente of groep by. Charles, ’n pa wat drie dogters tussen die ouderdom van 9 en 13 jaar het, woon ’n Lingala-sprekende groep by. Hy verduidelik: “Ons het besluit om studiesessies en gesinsaanbidding in ons moedertaal met ons kinders te hou. Maar ons hou ook oefensessies en speel speletjies in Lingala sodat dit vir hulle pret is om hierdie taal te leer.”

Wend ’n poging aan om die plaaslike taal te leer en om aan die vergaderinge deel te neem (Sien paragraaf 16, 17)

17 Kevin is ’n pa van twee dogters wat vyf en agt jaar oud is. Hy het ’n manier gevind om sy dogters te help, aangesien hulle die taal waarin die vergaderinge gehou word, nie goed verstaan nie. Hy verduidelik: “Ek en my vrou hou ’n studie met elkeen van ons dogters in Frans, hulle moedertaal. Ons probeer ook om een keer per maand ’n Franse vergadering by te woon, en ons reël ons vakansie so dat ons streekbyeenkomste in ons moedertaal kan bywoon.”

18. (a) Watter beginsel in Romeine 15:1, 2 kan jou help om te bepaal wat die beste vir jou kinders sal wees? (b) Watter wenke het sommige ouers gegee? (Sien eindnota.)

18 Elke gesin moet natuurlik self bepaal wat die beste sal wees vir hulle kinders se geestelikheid (Gal. 6:5). [2] Muriel, wat vroeër aangehaal is, erken dat sy en haar man opofferings moes maak ter wille van hulle seun se geestelikheid. (Lees Romeine 15:1, 2.) Serge voel dat hulle die regte besluit geneem het. Hy sê: “Toe ons teruggegaan het na die Franse gemeente, het ons seun geestelik gefloreer en is hy gedoop. Hy dien nou as ’n gewone pionier. Hy oorweeg dit selfs om terug te gaan na ’n anderstalige groep!”

LAAT GOD SE WOORD JOU HART BEREIK

19, 20. Hoe kan ons toon dat ons lief is vir God se Woord?

19 Uit liefde het Jehovah sy Woord, die Bybel, in honderde tale beskikbaar gemaak sodat ‘alle soorte mense tot juiste kennis van die waarheid kan kom’ (1 Tim. 2:4). Hy weet dat dit vir mense makliker is om hulleself geestelik te voed as hulle sy gedagtes in die taal van hulle hart lees.

20 Ons moet vasbeslote wees om ons hart met vaste geestelike voedsel te voed, ongeag ons persoonlike omstandighede. As ons die Bybel gereeld in die taal van ons hart studeer, sal dit ons en ons gesin help om geestelik sterk te bly en toon dit dat God se Woord vir ons waarlik kosbaar is.—Ps. 119:11.

^ [1] (paragraaf 5) Name is verander.

^ [2] (paragraaf 18) Sien die artikel “Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—Die uitdagings en belonings” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2002 vir ’n bespreking van Bybelbeginsels wat jou gesin kan help.