Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Bewaar praktiese wysheid”—Hoe?

“Bewaar praktiese wysheid”—Hoe?

DAAR is ’n verhaal van ’n arm seuntjie wat in ’n afgeleë dorpie gewoon het. Die mense in die dorpie het gedink dat hy dom is en het vir hom gelag. Hulle het met hom die spot gedryf wanneer hulle vriende kom kuier het. Hulle het gewoonlik twee muntstukke na hom toe uitgehou. Die een was ’n groot silwer muntstuk en die ander ’n klein goue muntstuk wat baie meer werd was. “Kies vir jou een”, het hulle dan gesê. Die seuntjie het elke keer die silwer muntstuk gekies en weggehardloop.

Eendag het ’n besoeker die seuntjie gevra: “Weet jy nie dat die goue muntstuk twee keer soveel werd is as die silwer muntstuk nie?” Die seuntjie het geglimlag en gesê: “Ja, ek weet.” “Waarom vat jy dan die silwer muntstuk?” het die man gevra. “As jy die goue muntstuk vat, sal jy twee keer soveel geld hê!” “Maar”, het die seuntjie gesê, “as ek die goue muntstuk vat, sal mense nie meer die speletjie met my speel nie. Weet Oom hoeveel silwer muntstukke het ek al?” Die seuntjie in hierdie verhaal het ’n eienskap aan die dag gelê waarby volwassenes kan baat vind—praktiese wysheid.

Die Bybel sê: “Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë, dan sal jy in veiligheid op jou weg wandel, en selfs jou voet sal teen niks stamp nie” (Spr. 3:21, 23). As ons weet wat “praktiese wysheid” is en hoe om dit toe te pas, sal dit dus vir ons ’n beskerming wees. Dit kan ons help om ons geestelike balans te behou.

WAT IS DIT?

Praktiese wysheid verskil van kennis en begrip. Iemand met kennis het inligting, of feite, bymekaargemaak. Iemand met begrip kan sien hoe een feit met ’n ander verband hou. Iemand met wysheid kan kennis en begrip saam gebruik om goeie besluite te neem.

Byvoorbeeld, ’n persoon kan die boek Wat leer die Bybel werklik? dalk in ’n redelike kort tydjie deurlees en verstaan. Gedurende sy Bybelstudie gee hy dalk die regte antwoorde. Hy woon moontlik vergaderinge by en gee selfs goeie antwoorde. Al hierdie dinge kan toon dat hy geestelike vordering maak, maar beteken dit dat hy wysheid verkry het? Nie noodwendig nie. Hy is dalk net iemand wat vinnig leer. Maar as hy die waarheid begin toepas, deurdat hy kennis en begrip reg gebruik, word hy wys. As sy besluite goeie resultate het en toon dat hy eers goed nagedink het, word dit duidelik dat hy praktiese wysheid aan die dag lê.

In Matteus 7:24-27 lees ons Jesus se illustrasie van twee mans wat elkeen ’n huis gebou het. Een van hulle word as “’n verstandige man” beskryf. Hierdie man het vooruitgedink aan wat kan gebeur, en daarom het hy sy huis op die rots gebou. Hy was versiende en prakties. Hy het nie geredeneer dat dit goedkoper of vinniger sal wees om sy huis op die sand te bou nie. Hy het wyslik gedink aan die gevolge wat sy dade later kon hê. Toe ’n storm losbreek, was sy huis veilig. Die vraag is dus: Hoe kan ons hierdie kosbare eienskap, naamlik praktiese wysheid, verkry en bewaar?

HOE KAN EK DIT VERKRY?

Eerstens, let op wat Miga 6:9 sê: “Wie praktiese wysheid het, sal [God se] naam vrees.” As ’n mens Jehovah se naam vrees, beteken dit dat jy hom respekteer. Dit beteken dat jy eerbied het vir alles wat deur sy naam verteenwoordig word, insluitende sy standaarde. As jy iemand wil respekteer, moet jy weet hoe hy dink. Dan kan jy vertroue in hom stel en by hom leer en soos hy suksesvol wees. As ons dink aan die gevolge wat ons dade op ons verhouding met Jehovah sal hê en sy standaarde volg wanneer ons besluite neem, lê ons praktiese wysheid aan die dag.

Tweedens, Spreuke 18:1 sê: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.” As ons nie versigtig is nie, kan ons ons van Jehovah en sy volk afsonder. Om dit te voorkom, moet ons tyd deurbring met ander wat God se naam vrees en sy standaarde respekteer. Tensy ons spesiale omstandighede het, moet ons die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon om gereeld met die Christengemeente te assosieer. Terwyl ons by die vergaderinge is, moet ons aandagtig luister en toelaat dat wat ons hoor, ons hart raak.

Ons wil ook in gebed ons hart voor Jehovah uitstort, want dit sal ons nader aan hom laat kom (Spr. 3:5, 6). Wanneer ons die Bybel en ons publikasies lees en toelaat dat dit ons hart raak, help dit ons om wys op te tree omdat ons sien watter gevolge ons dade kan hê. Ons moet ook luister na die raad van ervare broers (Spr. 19:20). As ons dit doen, sal ons nie ‘praktiese wysheid verwerp’ nie, maar hierdie belangrike eienskap eerder versterk.

HOE SAL DIT MY GESIN HELP?

Praktiese wysheid kan gesinne beskerm. Die Bybel sê byvoorbeeld dat ’n vrou “diep respek” vir haar man moet hê (Ef. 5:33). Hoe kan ’n man diep respek verkry? As hy hardvogtig is en op respek aandring, sal dit nie blywende resultate hê nie. Om konfrontasie te vermy, sal sy vrou dalk ’n mate van respek toon wanneer sy by hom is. Maar sal sy geneig wees om hom te respekteer wanneer hy nie daar is nie? Heel waarskynlik nie. Hy moet dink aan wat sy vrou sal beweeg om hom altyd te respekteer. As hy die vrug van die gees weerspieël deur liefdevol en goedhartig te wees, sal hy haar diep respek verdien. ’n Christenvrou moet natuurlik respek vir haar man toon, of hy dit verdien of nie.—Gal. 5:22, 23.

Die Bybel sê ook dat ’n man sy vrou moet liefhê (Ef. 5:28, 33). ’n Vrou is dalk bang dat sy haar man se liefde sal verloor, en daarom dink sy miskien dat dit beter is om onaangename dinge vir hom weg te steek, al het hy die reg om daarvan te weet. Maar toon dit praktiese wysheid? Wat sal gebeur wanneer hy later uitvind dat sy iets vir hom weggesteek het? Sal dit maak dat hy liewer vir haar word? Heel waarskynlik nie. As sy eerder ’n gepaste tyd kies om onaangename dinge kalm met haar man te bespreek, sal hy haar eerlikheid heel moontlik waardeer. Dan sal hy liewer vir haar word.

Hoe jy jou kinders vandag dissiplineer, het ’n uitwerking op hoe julle later sal kommunikeer

Kinders moet hulle ouers gehoorsaam en Jehovah se weë geleer word (Ef. 6:1, 4). Beteken dit dat ’n kind ’n lang lys moets en moenies moet hê? ’n Kind moenie net die huisreëls ken of weet wat die straf vir ongehoorsaamheid is nie—meer is nodig. ’n Ouer met praktiese wysheid help sy kind om te verstaan waarom hy gehoorsaam moet wees.

Sê nou ’n kind praat disrespekvol met een van sy ouers. As die ouer die kind uitskel of straf sonder om te dink, kan dit die kind verleë laat voel of hom laat stilbly. Maar in sy hart sal hy dalk gegrief voel, en dit kan maak dat hy nie met sy ouers wil praat nie.

Ouers wat praktiese wysheid aan die dag lê, sal dink aan hoe hulle hulle kinders dissiplineer en die uitwerking wat dit in die toekoms op hulle kinders sal hê. Ouers moenie oorhaastig reageer wanneer hulle kinders hulle in die verleentheid stel nie. Hulle kan wag totdat hulle alleen is en dan op ’n kalm en liefdevolle manier met die kind redeneer. Hulle kan verduidelik dat Jehovah van hom verwag om sy ouers te respekteer omdat dit tot sy ewige voordeel sal wees. Daarna sal die kind besef dat hy Jehovah eer as hy sy ouers respekteer (Ef. 6:2, 3). Hierdie liefdevolle benadering kan die kind se hart raak. Hy sal aanvoel dat sy ouers opreg vir hom omgee, en hy sal meer respek vir hulle hê. Die kind sal nou meer geneig wees om hulp te vra wanneer belangrike sake opduik.

Sommige ouers dissiplineer nie hulle kinders nie omdat hulle bang is dat hulle die kinders se gevoelens sal seermaak. Maar wat sal gebeur wanneer die kind ouer word? Sal hy Jehovah vrees en besef dat dit wys is om God se standaarde te volg? Sal hy bereid wees om na Jehovah te luister of sal hy hom geestelik afsonder?—Spr. 13:1; 29:21.

’n Goeie beeldhouer beplan voordat hy met ’n kunswerk begin. Hy begin nie net kap of sny en hoop dan op die beste nie. Ouers met praktiese wysheid bestee baie tyd daaraan om Jehovah se standaarde te leer ken en toe te pas, en sodoende toon hulle dat hulle sy naam vrees. Omdat hulle hulle nie afsonder van Jehovah en sy organisasie nie, verkry hulle praktiese wysheid, en hulle gebruik dit om hulle gesin op te bou.

Ons kom elke dag voor besluite te staan wat jare lank ’n uitwerking op ons lewe kan hê. In plaas van onmiddellik te reageer en ’n oorhaastige besluit te neem, moet ’n mens eerder stop en dink. Dink goed na oor die gevolge wat ’n besluit kan hê. Soek Jehovah se leiding en pas sy wysheid toe. So bewaar ons praktiese wysheid, en dit sal vir ons lewe beteken.—Spr. 3:21, 22.