Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beoefen geloof in Jehovah se beloftes

Beoefen geloof in Jehovah se beloftes

“Geloof is . . . die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.”—HEB. 11:1.

LIEDERE: 54, 125

1. Hoe moet ons Christelike geloof beskou?

CHRISTELIKE geloof is ’n kosbare eienskap. Dit is nie iets wat alle mense besit nie (2 Tess. 3:2). Maar Jehovah gee geloof aan elkeen van sy aanbidders (Rom. 12:3; Gal. 5:22). Almal wat geloof het, moet innig dankbaar wees daarvoor.

2, 3. (a) Watter seëninge kan iemand ontvang wat geloof het? (b) Watter vrae sal ons nou bespreek?

2 Jesus Christus het gesê dat sy hemelse Vader mense na Hom toe trek deur Sy Seun (Joh. 6:44, 65). En geloof in Jesus maak dit vir mense moontlik om vergifnis van hulle sondes te kry. Dit gee hulle die vooruitsig om vir ewig Jehovah se vriende te wees (Rom. 6:23). Wat het ons gedoen om so ’n wonderlike seëning te verdien? As sondaars is die dood al wat ons verdien (Ps. 103:10). Maar Jehovah het die goeie in ons gesien. Weens sy onverdiende goedhartigheid het die goeie nuus ons hart geraak. Gevolglik het ons geloof in Jesus begin beoefen en het ons die vooruitsig om vir ewig te lewe.—Lees 1 Johannes 4:9, 10.

3 Maar presies wat is geloof? Het ons geloof as ons net verstaan watter seëninge God vir ons in gedagte het? En nog belangriker, op watter maniere moet ons geloof beoefen?

‘BEOEFEN GELOOF IN JOU HART’

4. Verduidelik waarom geloof nie net beteken dat ons verstaan wat God se voorneme is nie.

4 Geloof behels baie meer as om net te verstaan wat God se voorneme is. Dit het groot krag, want dit beweeg ’n mens om in ooreenstemming met God se wil op te tree. Geloof in God se middel tot redding spoor ’n gelowige aan om die goeie nuus aan ander te vertel. Die apostel Paulus het verduidelik: “As jy daardie ‘woord in jou eie mond’, dat Jesus Here is, in die openbaar bekend maak en in jou hart geloof beoefen dat God hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Want met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding.”—Rom. 10:9, 10; 2 Kor. 4:13.

5. Waarom is geloof so belangrik, en hoe kan ons dit sterk hou? Gee ’n voorbeeld om dit te verduidelik.

5 Dit is duidelik dat ons geloof moet hê en dit sterk moet hou as ons vir ewig in God se nuwe wêreld wil lewe. Ons kan die voorbeeld van ’n plant wat water nodig het, gebruik om te wys hoe belangrik dit is dat ons ons geloof sterk hou. ’n Plant wat nie water kry nie, sal verlep, maar ’n plant wat gereeld water kry, sal floreer. Selfs ’n gesonde plant sal uiteindelik doodgaan as dit nie water kry nie. Dieselfde is waar van ons geloof. Dit sal verswak en tot niet gaan as ons dit verwaarloos (Luk. 22:32; Heb. 3:12). Maar as ons aandag gee aan ons geloof, sal dit lewend bly en aanhou “groei”, en ons sal “gesond in geloof” wees.—2 Tess. 1:3; Tit. 2:2.

DIE BYBEL SE BESKRYWING VAN GELOOF

6. Op watter twee maniere word geloof in Hebreërs 11:1 beskryf?

6 Die Bybel se beskrywing van geloof word gevind in Hebreërs 11:1. (Lees.) Geloof sluit twee dinge in wat vir ons onsigbaar is: (1) “Dinge waarop gehoop word”—dit kan gebeure insluit wat vir die toekoms voorspel is, maar wat nog nie plaasgevind het nie, byvoorbeeld die einde van alle goddeloosheid en die komende nuwe wêreld. (2) “Die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.” Die Griekse woord wat hier met “duidelike bewys” vertaal word, beteken dat daar oortuigende bewys is van werklikhede wat onsigbaar is, soos die bestaan van Jehovah God, Jesus Christus, die engele en die bedrywighede van die hemelse Koninkryk (Heb. 11:​3). Hoe bewys ons dat ons hoop lewend is en dat ons glo dat die onsigbare dinge waarvan God se Woord praat, werklik bestaan? Deur ons woorde en dade—waarsonder ons nie werklik kan sê dat ons geloof het nie.

7. Hoe help Noag se voorbeeld ons om te verstaan wat dit beteken om geloof te hê? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Hebreërs 11:7 verwys na die geloof van Noag, wat “nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou [het] tot redding van sy huisgesin”. Noag het geloof beoefen deur ’n kolossale ark te bou. Sy bure het hom ongetwyfeld gevra waarom hy ’n ark bou. Het Noag stilgebly of vir hulle gesê dat dit niks met hulle te doen het nie? Glad nie! Sy geloof het hom beweeg om moedig te getuig en sy tydgenote te waarsku dat God se oordeel gaan kom. Noag het heel moontlik vir die mense gesê presies wat Jehovah vir hom gesê het: “Die einde van alle vlees het voor my gekom, want die aarde is vol geweld as gevolg van hulle . . . Ek bring die sondvloed van waters op die aarde om alle vlees waarin die lewenskrag werksaam is, onder die hemel uit te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal sterf.” En Noag het ongetwyfeld vir die mense verduidelik dat hulle slegs gered kan word as hulle God se bevel gehoorsaam: “[Julle] moet in die ark ingaan.” Noag het dus ook geloof beoefen deur “’n prediker van regverdigheid” te wees.—Gen. 6:13, 17, 18; 2 Pet. 2:5.

8. Hoe het die dissipel Jakobus verduidelik wat ware Christelike geloof beteken?

8 Die dissipel Jakobus het ook oor geloof geskryf. Hy het dit waarskynlik gedoen kort nadat die apostel Paulus sy geïnspireerde beskrywing van geloof neergeskryf het. Soos Paulus het Jakobus verduidelik dat ware Christelike geloof nie net beteken dat ’n mens glo nie; dit moet met werke gepaardgaan. “Toon my jou geloof sonder die werke”, het Jakobus geskryf, “en ek sal jou my geloof deur my werke toon” (Jak. 2:18). Jakobus verduidelik dan dat om te glo glad nie dieselfde is as om geloof te beoefen nie. Die demone glo dat God bestaan, maar hulle het nie ware geloof nie. Inteendeel, hulle staan die vervulling van God se voorneme teë (Jak. 2:19, 20). Daarna verwys Jakobus na nog ’n eertydse man van geloof en vra: “Is Abraham, ons vader, nie regverdig verklaar deur werke nadat hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Jy sien dat sy geloof met sy werke saamgewerk het en dat sy geloof deur sy werke tot volmaaktheid gebring is.” Om die punt tuis te bring dat geloof met werke gepaard moet gaan, voeg Jakobus by: “Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook geloof sonder werke dood.”—Jak. 2:21-23, 26.

9, 10. Hoe help die apostel Johannes ons om te besef dat dit belangrik is om geloof te beoefen?

9 Meer as 30 jaar later het die apostel Johannes sy Evangelie en drie briewe geskryf. Soos ander geïnspireerde Bybelskrywers het hy geweet wat dit beteken om ware Christelike geloof te hê. Johannes het die Griekse werkwoord wat soms met “geloof beoefen” vertaal word, meer as enige ander Bybelskrywer gebruik.

10 Johannes het byvoorbeeld verduidelik: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom” (Joh. 3:36). Christelike geloof sluit in dat ons Jesus se gebooie gehoorsaam. Johannes het Jesus se woorde wat toon dat dit belangrik is om aan te hou om geloof te beoefen, dikwels aangehaal.—Joh. 3:16; 6:29, 40; 11:25, 26; 14:1, 12.

11. Hoe kan ons waardering toon vir die feit dat ons die waarheid ken?

11 Ons is beslis baie dankbaar dat Jehovah sy heilige gees gebruik het om die waarheid aan ons bekend te maak en ons te help om geloof in die goeie nuus te beoefen! (Lees Lukas 10:21.) Ons moet Jehovah altyd dank omdat hy ons deur sy Seun, “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof”, na hom toe getrek het (Heb. 12:2). Om ons waardering vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid te toon, moet ons aanhou om ons geloof te versterk deur middel van gebed en ’n studie van God se Woord.—Ef. 6:18; 1 Pet. 2:2.

Beoefen geloof deur by elke geleentheid die goeie nuus bekend te maak (Sien paragraaf 12)

12. Hoe toon ons dat ons geloof beoefen?

12 Ons moet aanhou om geloof in Jehovah se beloftes te beoefen. Ons dade moet toon dat dit die geval is. Byvoorbeeld, ons hou aan om God se Koninkryk te verkondig en om deel te neem aan die werk om dissipels te maak. Ons hou ook aan om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Gal. 6:10). En ons werk hard om “die ou persoonlikheid met sy gebruike af [te lê]” en om teen enigiets te waak wat ons geestelik kan laat verswak.—Kol. 3:5, 8-10.

GELOOF IN GOD VORM DEEL VAN DIE FONDAMENT

13. Hoe belangrik is “geloof in God”, waarmee word dit vergelyk, en waarom?

13 “Sonder geloof”, sê die Bybel, “is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is [dat hy bestaan] en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Heb. 11:6). God se Woord sê dat “geloof in God” deel vorm van die “fondament” wat iemand nodig het om ’n ware Christen te word en te bly (Heb. 6:1). Christene moet op hierdie fondament bou; hulle moet ander belangrike eienskappe ‘by hulle geloof voeg’ om ‘hulle in God se liefde te hou’.—Lees 2 Petrus 1:5-7; Jud. 20, 21.

14, 15. Hoe belangrik is geloof in vergelyking met liefde?

14 Die skrywers van die Griekse Geskrifte het beklemtoon dat geloof belangrik is deur honderde kere daarna te verwys. Geen ander Christelike eienskap word so baie genoem nie. Beteken dit dat geloof die belangrikste Christelike eienskap is?

15 Paulus het geloof met liefde vergelyk en geskryf: “As ek al die geloof het sodat ek berge kan versit, maar geen liefde het nie, is ek niks” (1 Kor. 13:2). Jesus het beklemtoon dat liefde vir God van die allergrootste belang is toe hy die antwoord gegee het op die vraag: “Wat is die grootste gebod in die Wet?” (Matt. 22:35-40). Talle noodsaaklike Christelike eienskappe, insluitende geloof, is op liefde gegrond. “Die liefde”, sê die Bybel, “glo alles.” Die liefde help ons om geloof te stel in die dinge wat God in sy Woord van waarheid sê.—1 Kor. 13:4, 7.

16, 17. Hoe word geloof en liefde saam in die Skrif beklemtoon, maar watter een van die twee is die grootste, en waarom?

16 Weens die belangrikheid van geloof en liefde het skrywers van die Griekse Geskrifte hierdie eienskappe dikwels saam genoem, baie keer in dieselfde sin of frase. Paulus het sy broers aangespoor om “die borsplaat van geloof en liefde” aan te hê (1 Tess. 5:8). Petrus het geskryf: “Hoewel julle [Jesus] nooit gesien het nie, het julle hom lief. Hoewel julle hom nie nou aanskou nie, beoefen julle tog geloof in hom” (1 Pet. 1:8). Jakobus het sy gesalfde broers gevra: “God het diegene wat arm is ten opsigte van die wêreld, uitgekies om ryk in geloof en erfgename van die koninkryk te wees wat hy beloof het aan dié wat hom liefhet, nie waar nie?” (Jak. 2:5). Johannes het geskryf: “Dít is [God se] gebod, dat ons geloof in die naam van sy Seun Jesus Christus moet hê en mekaar moet liefhê.”1 Joh. 3:23.

17 Geloof is noodsaaklik, maar aspekte van hierdie eienskap sal verdwyn wanneer ons die vervulling van God se beloftes en van ons Christelike hoop sien. Maar ons sal altyd liefde vir God en vir ons naaste hê, en hierdie liefde sal altyd toeneem. Daarom het Paulus geskryf: “Maar nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 Kor. 13:13.

’N KRAGTIGE BEWYS VAN GELOOF

18, 19. Watter wonderlike bewys van geloof sien ons vandag, en aan wie is dit te danke?

18 Vandag toon Jehovah se volk dat hulle geloof in God se opgerigte Koninkryk het. Gevolglik het ’n aardwye geestelike paradys ontstaan, waarin meer as agtmiljoen mense die vrug van God se gees in hulle lewe openbaar (Gal. 5:22, 23). Wat ’n kragtige bewys is dit tog van ware Christelike geloof en liefde!

19 Geen mens kan die eer hiervoor kry nie. God is hiervoor verantwoordelik. Hierdie geestelike paradys wat “Jehovah tot roem strek, [is] ’n teken tot onbepaalde tyd wat nie uitgeroei sal word nie” (Jes. 55:13). Ja, dit is “God se gawe” dat ons “deur middel van geloof gered” word (Ef. 2:8). Ons geestelike paradys sal aanhou uitbrei en sal floreer totdat die hele aarde gevul is met volmaakte, regverdige en gelukkige mense. Dit sal Jehovah se naam vir ewig tot lof strek. Mag ons aanhou om geloof in Jehovah se beloftes te beoefen!