Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die werk is groot”

“Die werk is groot”

DIT is tyd vir ’n baie belangrike vergadering in Jerusalem. Koning Dawid het al sy prinse, hofbeamptes en sterk manne bymekaargeroep. Hulle is baie verheug om ’n spesiale aankondiging te hoor. Jehovah het Dawid se seun Salomo die opdrag gegee om ’n gebou op te rig wat gewy sal word aan die aanbidding van die ware God. Israel se bejaarde koning het die bouplanne deur inspirasie ontvang en het dit vir Salomo gegee. “Die werk is groot”, sê Dawid, “want die [tempel] is nie vir ’n mens nie, maar vir Jehovah God.”—1 Kron. 28:1, 2, 6, 11, 12; 29:1.

Dan vra Dawid hierdie vraag: “Wie bied hom vrywillig aan om vandag sy hand met ’n geskenk vir Jehovah te vul?” (1 Kron. 29:5). Hoe sou jy gereageer het as jy daar was? Sou jy gevoel het dat jy hierdie groot werk wil ondersteun? Die Israeliete het tot aksie oorgegaan. Hulle “was bly omdat hulle vrywillige gawes gegee het, want hulle het met ’n volkome hart vrywillige gawes aan Jehovah gegee”.—1 Kron. 29:9.

Eeue later het Jehovah iets opgerig wat selfs wonderliker as die tempel is. Hy het die groot geestelike tempel opgerig, die reëling wat dit vir mense moontlik maak om hom in aanbidding te nader op grond van Jesus se offerande (Heb. 9:11, 12). Hoe help Jehovah mense vandag om met hom versoen te word? Deur middel van ons dissipelmaakwerk (Matt. 28:19, 20). As gevolg van hierdie werk word daar elke jaar miljoene Bybelstudies gehou, duisende dissipels gedoop en honderde nuwe gemeentes gestig.

Hierdie vermeerdering lei daartoe dat meer Bybellektuur gedruk moet word, meer Koninkryksale gebou en onderhou moet word en dat plekke verkry moet word waar byeenkomste gehou kan word. Stem jy nie saam dat dit ’n groot en lonende werk is om die goeie nuus te verkondig nie?—Matt. 24:14.

Liefde vir God en naaste en die dringendheid van die Koninkrykspredikingswerk beweeg God se volk om hulle hand “met ’n geskenk vir Jehovah te vul” deur vrywillige bydraes te maak. Hoe wonderlik is dit tog om ‘Jehovah met ons waardevolle dinge te eer’ en te sien dat sulke bydraes getrou en verstandig gebruik word om die grootste werk in die mensegeskiedenis te doen!—Spr. 3:9.