Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het weggebreek van valse godsdiens

Hulle het weggebreek van valse godsdiens

“Gaan uit haar uit, my volk.”—OP. 18:4.

LIEDERE: 101, 93

1. Waarom kon God se volk hoop om uit Babilon die Grote bevry te word, en watter vrae sal ons ondersoek?

IN DIE vorige artikel het ons geleer hoe getroue Christene gevangenes van Babilon die Grote geword het. Die goeie nuus is egter dat hulle nie vir ewig in daardie toestand sou bly nie. God se bevel: “Gaan uit haar uit, my volk”, sou niks beteken het as niemand ooit van die invloed van die wêreldryk van valse godsdiens bevry kon word nie. (Lees Openbaring 18:4.) Ons wil graag weet wanneer God se volk geheel en al uit Babilon se kloue bevry is! Maar ons moet eers die volgende vrae beantwoord: Watter standpunt het die Bybelstudente voor 1914 teenoor Babilon die Grote ingeneem? Hoe bedrywig was ons broers gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die predikingswerk? Was hulle gedurende daardie tyd in Babiloniese gevangenskap omdat hulle teregwysing en dissipline nodig gehad het?

BABILON SE VAL

2. Watter standpunt het die vroeë Bybelstudente teenoor valse godsdiens ingeneem?

2 In die dekades voor die Eerste Wêreldoorlog het Charles Taze Russell en sy metgeselle besef dat die organisasies van die Christendom nie Bybelwaarheid leer nie. Hulle het dus besluit om niks met valse godsdiens te doen te hê nie. Zion’s Watch Tower het reeds in November 1879 reguit gesê wat hulle skriftuurlike standpunt is: “Ons moet elke kerk wat beweer dat sy ’n rein maagd en die bruid van Christus is, maar wat in werklikheid met die wêreld . . . verenig is en daardeur ondersteun word, in die taal van die Skrif veroordeel as ’n kerk wat hoerery pleeg”, ’n kerk wat deel is van Babilon die Grote.—Lees Openbaring 17:1, 2.

3. Wat het die Bybelstudente gedoen omdat hulle besef het dat hulle hulle van valse godsdiens moet afskei? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Godvresende mans en vroue het geweet wat hulle moet doen. Hulle kon nie God se seën verwag as hulle aanhou om valse godsdiens te steun nie. Gevolglik het baie Bybelstudente ’n brief geskryf om uit hulle kerk te bedank. In sommige gevalle het hulle die briewe by kerkvergaderings voorgelees. As dit nie toegelaat is nie, het party ’n afskrif aan elke lid van die kerk gestuur. Hulle wou niks meer met valse godsdiens te doen hê nie! In vorige eeue sou hulle met hulle lewe hiervoor betaal het. Maar in die laat 1800’s het die kerk in baie lande die ondersteuning van die Staat begin verloor. In hierdie lande kon mense godsdienssake vryelik bespreek en openlik van die gevestigde kerke verskil sonder om enige gevolge te vrees.

4. Watter beskouing het God se volk gedurende die Eerste Wêreldoorlog van Babilon die Grote gehad?

4 Die Bybelstudente het besef dat hulle meer moes doen as om net hulle familielede, hegte vriende en kerklidmate in te lig oor hulle standpunt teenoor valse godsdiens. Die hele wêreld moes weet wat Babilon die Grote is—’n godsdienshoer! Daarom het die paar duisend Bybelstudente tussen Desember 1917 en die vroeë deel van 1918 ywerig deelgeneem aan die verspreiding van 10 000 000 traktate met die titel “The Fall of Babylon” (Babilon se val). Dit was ’n kragtige veroordeling van die Christendom. Soos jy kan dink, was die godsdiensleiers woedend; maar die Bybelstudente het eenvoudig aangehou met hierdie belangrike werk. Hulle was vasbeslote om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense” (Hand. 5:29). Wat toon dit? Hierdie Christenmanne en -vroue het beslis nie gedurende die oorlog slawe van Babilon die Grote geword nie. Hulle was eerder besig om weg te breek van valse godsdiens en het ander gehelp om dieselfde te doen.

YWERIG GEDURENDE DIE EERSTE WÊRELDOORLOG

5. Hoe weet ons dat die broers baie ywerig was gedurende die Eerste Wêreldoorlog?

5 Voorheen het ons gedink dat Jehovah ontevrede was omdat sy volk gedurende die Eerste Wêreldoorlog nie ywerig deelgeneem het aan die predikingswerk nie. Ons het tot die slotsom gekom dat Jehovah Babilon die Grote om dié rede toegelaat het om sy volk vir ’n kort rukkie gevange te neem. Maar getroue broers en susters wat God gedurende 1914-1918 gedien het, het later verduidelik dat die Here se volk as ’n groep alles in hulle vermoë gedoen het om aan te hou preek. En daar is oortuigende bewys dat hulle dit wel gedoen het. ’n Beter begrip van ons teokratiese geskiedenis het ons gehelp om sekere gebeure wat in die Bybel opgeteken is, beter te verstaan.

6, 7. (a) Voor watter uitdagings het die Bybelstudente gedurende die Eerste Wêreldoorlog te staan gekom? (b) Gee voorbeelde om te toon hoe ywerig die Bybelstudente was.

6 Om die waarheid te sê, die Bybelstudente het gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) ’n ontsaglike getuienis gegee. Dit was om verskeie redes nie vir hulle maklik nie. Ons sal twee van hierdie redes bespreek. Eerstens, die werk het in daardie dae hoofsaaklik behels dat hulle Bybellektuur versprei. Toe die boek The Finished Mystery vroeg in 1918 deur die regerings verbied is, het dit vir baie broers moeilik geword om te preek. Hulle het nog nie geleer om net die Bybel in die predikingswerk te gebruik nie, en hulle het staatgemaak daarop dat The Finished Mystery die “praatwerk” namens hulle sou doen. Tweedens, die verskriklike Spaanse griepepidemie het in 1918 uitgebreek. Hierdie aansteeklike siekte het dit moeilik gemaak vir verkondigers om vryelik rond te beweeg. Maar ten spyte van hierdie en ander uitdagings het die Bybelstudente as ’n groep hulle bes gedoen om met die predikingswerk voort te gaan.

Daardie Bybelstudente was ywerig! (Sien paragraaf 6, 7)

7 In 1914 alleen het die klein groepie Bybelstudente die “Fotodrama van die Skepping” aan meer as 9 000 000 mense vertoon. Die Drama, soos dit genoem is, het bestaan uit rolprente en skyfies wat met klank gesinchroniseer is. Dit was iets merkwaardigs in daardie tyd. Die Drama het die verhaal van die mensdom vertel van die skepping af tot aan die einde van die Millennium. Die getal mense wat hierdie vertoning in 1914 gesien het, is groter as die getal Koninkryksverkondigers wat vandag regoor die wêreld bedrywig is! En verslae toon dat 809 393 mense in 1916 die openbare vergaderinge in die Verenigde State bygewoon het, en in 1918 het die getal tot 949 444 toegeneem. Daardie Bybelstudente was beslis ywerig!

8. Hoe is daar gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die broers se geestelike behoeftes voorsien?

8 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die broers wat die leiding geneem het, alles in hulle vermoë gedoen om al die Bybelstudente van geestelike voedsel en aanmoediging te voorsien. Hierdie voorsienings het die broers die krag gegee om voort te gaan met die predikingswerk. Richard H. Barber, wat gedurende daardie tyd bedrywig was in God se diens, het vertel: “Ons het daarin geslaag om ’n paar reisende opsieners in die veld te hou, om voort te gaan om The Watch Tower uit te gee en om dit na Kanada te stuur waar dit verbied was. Ek het die voorreg gehad om sakformaatuitgawes van The Finished Mystery te stuur aan ’n paar broers wie se boeke gekonfiskeer is. Broer Rutherford het gevra dat ons byeenkomste reël in verskeie stede in die westelike deel van die Verenigde State en dat ons sprekers stuur om die broers soveel as moontlik aan te moedig.”

VERDERE REINIGING

9. (a) Waarom het God se volk tussen 1914 en 1919 teregwysing en dissipline nodig gehad? (b) Wat het die dissipline nie beteken nie?

9 Nie alles wat die Bybelstudente gedurende die tydperk tussen 1914 en 1919 gedoen het, was in ooreenstemming met die Skrif nie. Al was die broers opreg, het hulle nie altyd die regte beskouing van onderdanigheid aan die regerings gehad nie (Rom. 13:1). As ’n groep was hulle dus nie altyd neutraal gedurende die oorlog nie. Byvoorbeeld, toe die president van die Verenigde State gesê het dat 30 Mei 1918 opsygesit sal word as ’n biddag vir vrede, het The Watch Tower die Bybelstudente aangespoor om ook te bid. Sommige broers het obligasies gekoop om die oorlogspoging geldelik te ondersteun, en ’n paar het selfs met gewere en bajonette na die loopgrawe gegaan. Maar dit sou ’n fout wees om tot die slotsom te kom dat die Babiloniese gevangenskap op hierdie stadium begin het omdat die Bybelstudente teregwysing en dissipline nodig gehad het. Inteendeel, hulle het besef dat hulle hulle van valse godsdiens moet afskei, en gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle al byna heeltemal weggebreek van die wêreldryk van valse godsdiens.—Lees Lukas 12:47, 48.

10. Hoe het die Bybelstudente getoon dat hulle lewe as heilig beskou?

10 Die Bybelstudente het nie elke aspek van Christelike neutraliteit so goed verstaan soos ons dit vandag verstaan nie, maar hulle het een ding geweet: Die Bybel sê dat dit verkeerd is om enigiemand dood te maak. Selfs die paar broers wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog wel die wapen opgeneem het en na die loopgrawe gegaan het, het geweier om daardie wapens te gebruik om ’n ander mens dood te maak. Party wat geweier het om ander dood te maak, is na die voorste gevegslinies gestuur, waar hulle heel waarskynlik hulle lewe sou verloor.

11. Hoe het die owerhede gereageer omdat die Bybelstudente nie in die oorlog wou veg nie?

11 Die Duiwel was woedend oor die standpunt wat die broers tydens die oorlog ingeneem het. Daarom het hy landswette probeer gebruik om vir hulle moeilikheid te veroorsaak (Ps. 94:20). Generaal-majoor James Franklin Bell van die Amerikaanse weermag het in ’n gesprek met broers J.F. Rutherford en W.E. van Amburgh gesê dat die Amerikaanse Departement van Justisie wou hê dat ’n nuwe wet aangeneem moes word. Volgens hierdie wet kon persone die doodstraf kry as hulle weier om tydens die oorlog wapens op te neem. Hy het die Bybelstudente in gedagte gehad. In ’n oomblik van woede het generaal Bell vir broer Rutherford gesê: “Daardie wet is nie aangeneem nie omdat Wilson [die president van Amerika] dit teëgestaan het; maar ons weet hoe om julle by te kom en ons gaan dit doen!”

12, 13. (a) Waarom is agt verantwoordelike broers lang vonnisse opgelê? (b) Het tronkstraf die broers minder vasbeslote gemaak om Jehovah te gehoorsaam? Verduidelik.

12 Die owerheid het hierdie dreigement uitgevoer. Die verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap, broers Rutherford, Van Amburgh en ses ander, is in hegtenis geneem. Toe die regter wat die saak verhoor het, die vonnis uitgespreek het, het hy gesê: “Die godsdienspropaganda wat deur hierdie mans versprei word, is gevaarliker as ’n afdeling Duitse soldate . . . Hulle het nie net die geregsdienaars van die Regering asook die weermag se inligtingsdiens beledig nie, maar het ook al die bedienaars van al die kerke veroordeel. Hulle moet swaar gestraf word” (Faith on the March, deur A.H. Macmillan, bl. 99). Hulle is swaar gestraf. Die agt Bybelstudente is lang vonnisse opgelê en na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, gestuur. Maar toe die oorlog geëindig het, is hulle vrygelaat en is die aanklagte teen hulle teruggetrek.

13 Selfs toe hierdie agt mans in die tronk was, was hulle vasbeslote om gehoorsaam te wees aan die Skrif. Hulle het in ’n genadeversoek aan die president van die Verenigde State geskryf: “Die Here se wil word in die Skrif bekendgemaak: ‘Jy mag nie doodmaak nie’, en daarom sal enige lid van die Vereniging [Internasionale Bybelstudente-vereniging] wat aan die Here toegewy is en sy toewydingsgelofte skend, God se guns verloor, en dit kan tot sy algehele vernietiging lei. Lede kan dus nie uit vrye wil en met ’n skoon gewete die lewe van ander mense neem nie.” Beslis moedige woorde! Dit is duidelik dat die broers glad nie van plan was om hulle geloof prys te gee nie!

UITEINDELIK BEVRY!

14. Gebruik die Skrif om te verduidelik wat tussen 1914 en 1919 plaasgevind het.

14 Maleagi 3:1-3 beskryf die tydperk—van 1914 tot vroeg in 1919—toe die gesalfdes, die “seuns van Levi”, gelouter, of gereinig, sou word. (Lees.) Gedurende hierdie tyd het Jehovah God, “die ware Heer”, saam met Jesus Christus, “die boodskapper van die verbond”, na die geestelike tempel gekom om diegene te ondersoek wat daar dien. Nadat Jehovah se volk die nodige dissipline ontvang het en gereinig is, was hulle gereed vir nog ’n toewysing. In 1919 is ’n “getroue en verstandige slaaf” aangestel om al God se knegte van geestelike voedsel te voorsien (Matt. 24:45). God se volk was nou heeltemal bevry van Babilon die Grote se invloed. Danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid het sy volk sedertdien al hoe meer kennis opgedoen van God se wil en al hoe liewer geword vir hulle hemelse Vader. Hulle is baie dankbaar dat hy hulle seën! [1]

15. Watter uitwerking moet ons bevryding uit Babilon die Grote op ons hê?

15 Dit is wonderlik om uit Babilon die Grote bevry te wees! Satan se poging om die ware Christelike godsdiens uit te wis, het hopeloos misluk. Maar ons moet onthou waarom Jehovah ons bevry het (2 Kor. 6:1). Daar is nog miljoene opregte mense wat deur valse godsdiens gevange gehou word. Hulle het hulp nodig. Ons kan hierdie hulp voorsien. Laat ons, soos ons broers in die afgelope eeu, alles in ons vermoë doen om hulle te help om bevry te word!

^ [1] (paragraaf 14) Daar is baie ooreenkomste tussen die Jode se 70 jaar lange gevangenskap in Babilon en wat met die Christene gebeur het nadat die afvalligheid ontstaan het. Maar dit wil nie voorkom of die Joodse gevangenskap ’n profetiese tipe is van wat met Christene gebeur het nie. Om maar een ding te noem, hulle was nie vir dieselfde tydperk in gevangenskap nie. Ons moet dus nie dink dat elke besonderheid van die Joodse gevangenskap ’n profetiese betekenis het wat toegepas kan word op wat in die jare voor 1919 met gesalfde Christene gebeur het nie.