Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | ENGELE—BESTAAN HULLE REGTIG? WAAROM DIT SAAK MAAK

Die waarheid omtrent engele

Die waarheid omtrent engele

Wil jy graag weet wat die waarheid is omtrent engele—wie hulle is, waar hulle vandaan kom en wat hulle doen? Die beste plek om antwoorde te kry, is in God se geïnspireerde Woord, die Bybel (2 Timoteus 3:16). Wat sê die Bybel vir ons?

  • Net soos God ’n Gees is, is engele ook onsigbare geeste wat “nie vlees en bene” het nie. Die getroue engele woon in die hemel en het direkte toegang tot God se hemelse teenwoordigheid.—Lukas 24:39; Matteus 18:10; Johannes 4:24.   

  • Engele het al in menslike vorm verskyn om opdragte van God op die aarde uit te voer, en daarna het hulle weer as geespersone teruggekeer hemel toe.—Rigters 6:11-23; 13:15-20.

  • Hoewel engele in die Bybel as manlik voorgestel word en nog altyd manlike liggame aangeneem het, is hulle nie manlik of vroulik nie. Hulle trou nie en kan nie kinders hê nie. Engele het nie eers as mense op die aarde gelewe—as baba’s, kinders of grootmense—en toe hemel toe gegaan nadat hulle gesterf het nie. Jehovah het engele geskep, en daarom noem die Bybel hulle “seuns van die ware God”.—Job 1:6; Psalm 148:2, 5.

  • Die Bybel praat van “die tale van mense en van engele”, wat wys dat geespersone ’n taal het en kan kommunikeer. Hoewel God engele gebruik het om met mense te kommunikeer, laat hy ons nie toe om engele te aanbid of tot hulle te bid nie.—1 Korintiërs 13:1; Openbaring 22:8, 9.

  • Daar is tienduisende maal tienduisende engele, dalk selfs miljarde. *Daniël 7:10; Openbaring 5:11.

  • Engele is “magtig in krag”. Hulle is baie sterker as mense en het bomenslike intelligensie. Hulle kan blykbaar vinniger beweeg as enigiets op die aarde, en hulle word nie deur natuurwette beperk nie.—Psalm 103:20; Daniël 9:20-23.

  • Hoewel engele baie intelligenter en sterker as mense is, het hulle wel beperkings. Daar is ook dinge wat hulle nie weet nie.—Matteus 24:36; 1 Petrus 1:12.

  • Engele is geskep met persoonlikhede, goddelike eienskappe en wilsvryheid. Daarom kan hulle, soos mense, kies om te doen wat reg of verkeerd is. Ongelukkig het party engele gekies om teen God in opstand te kom.—Judas 6.

^ par. 8 Tienduisend maal tienduisend is 100 miljoen. Maar in Openbaring praat dit van “tienduisende van tienduisende” engele. Dit is honderde miljoene, dalk miljarde, geespersone!