Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se geskenk van die losprys, wat ewige lewe moontlik maak, is die heel beste geskenk

VOORBLADONDERWERP | WAT IS DIE HEEL BESTE GESKENK?

Wat is die heel beste geskenk?

Wat is die heel beste geskenk?

“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte” (Jakobus 1:17). Hierdie teks wys hoe vrygewig ons hemelse Vader, Jehovah God, is. Maar van al die geskenke wat God aan die mens gegee het, is daar een wat die heel beste is. Wat is dit? Jesus het die volgende bekende woorde in Johannes 3:16 gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”

Die geskenk van God se enigverwekte Seun is beslis die grootste geskenk wat enigeen van ons nog ooit gekry het. Deur middel van hierdie geskenk kan ons bevry word uit slawerny aan sonde, ouderdom en die dood (Psalm 51:5; Johannes 8:34). Al probeer ons hoe hard, is daar niks wat ons op ons eie kan doen om uit hierdie slawerny vrygelaat te word nie. Maar omdat God ons baie liefhet, het hy voorsien wat nodig is sodat ons vrygemaak kan word. Deur sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, as die losprys te gee, het Jehovah God dit vir gehoorsame mense moontlik gemaak om die vooruitsig op die ewige lewe te hê. Maar wat presies is die losprys? Hoekom is dit nodig? En hoe kan dit ons bevoordeel?

’n Losprys word betaal om iets wat aan jou behoort het, terug te koop of om iemand uit slawerny te bevry. Die Bybel verduidelik dat ons eerste ouers, Adam en Eva, sonder sonde geskep was. Hulle het die vooruitsig gehad om vir ewig op ’n paradysaarde te woon saam met die kinders wat hulle later sou hê (Genesis 1:26-28). Ongelukkig het hulle dit alles verloor omdat hulle gekies het om ongehoorsaam aan God te wees. Deur dit te doen, het hulle sondaars geword. Wat was die gevolg? Die Bybel sê: “Daarom, net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Adam kon toe nie meer volmaakte lewe aan sy nageslag oordra nie, net sonde en die dood.

Die waarde van ’n losprys moet gelyk wees aan die waarde van dit wat verloor is. Toe Adam opsetlik ongehoorsaam aan God was, het hy gesondig en as gevolg hiervan is ’n volmaakte menselewe verloor—Adam se lewe. Volgens die Bybel is dit hoe Adam se nageslag slawe van sonde en die dood geword het. Daarom moes ’n ander volmaakte menselewe opgeoffer word—Jesus se lewe. Hierdie offerande het bevryding van slawerny moontlik gemaak (Romeine 5:19; Efesiërs 1:7). Dit is net omdat God hierdie losprys uit liefde betaal het dat die mens die vooruitsig het om iets te geniet wat Adam en Eva verloor het—ewige lewe op ’n paradysaarde.—Openbaring 21:3-5.

As ons besef dat God se geskenk van die losprys die ewige lewe moontlik maak, is dit duidelik dat dit die heel beste geskenk is. Kom ons kyk weer na die faktore wat in die vorige artikel bespreek is om uit te vind hoekom die losprys ’n “volmaakte geskenk” is.

Dit gee ons alles wat ons wil hê. Mense wil baie graag aanhou lewe (Prediker 3:11). Al is dit ons begeerte, is daar niks wat ons op ons eie kan doen om langer te lewe nie. Maar die losprys maak dit vir ons moontlik om vir ewig te lewe. Die Bybel sê: “Want die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”—Romeine 6:23.

Dit is presies wat ons nodig het. Geen mens kon die losprys voorsien nie. Die Bybel verduidelik: “Die loskoopprys vir hulle siel is so kosbaar dat dit tot onbepaalde tyd ontbreek” (Psalm 49:8). Daarom het ons God se hulp dringend nodig gehad om ons van slawerny aan sonde en die dood te bevry. Maar God het presies voorsien wat ons nodig het, “bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.”—Romeine 3:23, 24.

Dit kom op die regte tyd. Die Bybel sê: ‘Christus het vir ons gesterf terwyl ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8). Omdat die losprys voorsien is “terwyl ons nog sondaars was”, verseker dit ons dat God ons baie liefhet al is ons sondig. En dit gee ons baie om na uit te sien, al moet ons die gevolge van sonde dra.

Die rede daarvoor is goed en onselfsugtig. Die Bybel wys waarom God sy Seun as ’n losprys gegee het: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad . . . het.”—1 Johannes 4:9, 10.

Hoe kan jy wys dat jy die heel beste geskenk waardeer? Jesus het in Johannes 3:16 gesê dat net die mense wat “geloof in hom beoefen”, gered sal word. Volgens die Bybel is geloof “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word” (Hebreërs 11:1). Om hierdie waarborg te hê, moet jy akkurate kennis inneem. Daarom spoor ons jou aan om die tyd te neem om van Jehovah God te leer, wat die Gewer van hierdie “volmaakte geskenk” is. Jy moet ook uitvind wat jy moet doen om die ewige lewe te kan geniet wat moontlik gemaak word deur die losprysofferande van Jesus.

Jy kan meer hieroor leer deur inligting wat op die Bybel gebaseer is, te ondersoek. Dit is aanlyn beskikbaar by www.pr418.com/af. Jehovah se Getuies sal jou graag wil help. Ons is daarvan oortuig dat jy, wanneer jy van die grootste geskenk leer en daardeur bevoordeel word, ook sal sê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!”—Romeine 7:25.