Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom beskeidenheid nog steeds belangrik is

Waarom beskeidenheid nog steeds belangrik is

“Wysheid is by die beskeidenes.”—SPR. 11:2.

LIEDERE: 38, 69

1, 2. Waarom het God Saul verwerp? (Sien prent aan begin van artikel.)

KONING SAUL van eertydse Israel was ’n beskeie en gerespekteerde man toe hy begin regeer het (1 Sam. 9:1, 2, 21; 10:20-24). Maar kort nadat hy koning geword het, het hy vermetel begin optree. Toe God se profeet Samuel nie op die vasgestelde tyd by Gilgal opgedaag het nie, het Saul ongeduldig geraak. Die Filistyne het hulle gereedgemaak om oorlog te voer, en die Israeliete het Saul begin verlaat. Hy het seker gedink: ‘Ek moet iets doen—en gou ook.’ Toe het hy ’n brandoffer aan God geoffer, iets wat hy nie die reg gehad het om te doen nie. Jehovah was baie ontevrede.—1 Sam. 13:5-9.

2 Toe Samuel by Gilgal aangekom het, het hy Saul bestraf. Saul het nie die teregwysing aanvaar nie, maar verskonings gemaak, ander blameer en te kenne probeer gee dat dit nie so erg is nie (1 Sam. 13:10-14). Dit het gelei tot ’n reeks gebeure wat veroorsaak het dat Saul uiteindelik sy koningskap en, nog erger, Jehovah se goedkeuring verloor het (1 Sam. 15:22, 23). Saul se lewe het goed begin, maar baie sleg geëindig.—1 Sam. 31:1-6.

3. (a) Watter beskouing het baie mense van beskeidenheid? (b) Watter vrae moet beantwoord word?

3 In vandag se mededingende wêreld meen baie mense dat hulle bo ander moet uitblink om vooruitgang te maak. Dit veroorsaak dat hulle glad nie beskeie is nie. ’n Welbekende filmster en politikus het byvoorbeeld eenkeer gesê: “Beskeidenheid is ’n woord wat glad nie op my van toepassing is nie—en ek hoop dat dit nooit sal wees nie.” Maar waarom is beskeidenheid nog steeds belangrik? Wat is beskeidenheid, en wat is dit nie? En hoe kan ons beskeie bly ten spyte van moeilike situasies of druk van ander? In hierdie artikel sal ons die eerste twee vrae beantwoord. Die derde vraag sal in die volgende artikel bespreek word.

WAAROM IS BESKEIDENHEID BELANGRIK?

4. Wat is vermetele dade?

4 Die Bybel toon dat beskeidenheid die teenoorgestelde van vermetelheid is. (Lees Spreuke 11:2.) Dawid het Jehovah gevra om hom “terug [te hou] van vermetele dade” (Ps. 19:13). Wat is “vermetele dade”? Iemand tree vermetel op wanneer hy oorhaastig en voorbarig is en iets doen wat hy nie die reg het om te doen nie. Omdat ons sonde geërf het, tree ons almal soms vermetel op. Maar soos koning Saul se voorbeeld toon, sal ons die een of ander tyd Jehovah se goedkeuring verloor as ons in die gewoonte kom om vermetel op te tree. Psalm 119:21 sê dat Jehovah die “vermeteles bestraf”. Waarom doen hy dit?

5. Waarom is dit ’n ernstige fout om vermetel te wees?

5 Vermetele dade is ernstiger as onskuldige foute. Eerstens, wanneer ons onbeskeie optree, eer ons nie Jehovah as ons regmatige Soewerein nie. Tweedens, as ons iets doen wat ons nie die reg het om te doen nie, sal dit waarskynlik probleme tussen ons en ander veroorsaak (Spr. 13:10). En derdens, wanneer dit duidelik word dat ons vermetel opgetree het, kan dit tot verleentheid of selfs vernedering lei (Luk. 14:8, 9). Vermetele dade het nie ’n goeie uiteinde nie. Soos die Skrif toon, is dit altyd beter om beskeie te wees.

WAT BEHELS BESKEIDENHEID?

6, 7. Wat is nederigheid, en hoe hou beskeidenheid daarmee verband?

6 Beskeidenheid en nederigheid hou ten nouste verband met mekaar. In die Bybel verwys nederigheid na die afwesigheid van trots of verwaandheid. ’n Nederige persoon ag ander hoër as homself (Fil. 2:3). ’n Nederige persoon is gewoonlik ook ’n beskeie persoon, iemand wat die regte beskouing van sy vermoëns en prestasies het, wat sy foute erken en voorstelle en nuwe idees aanvaar. Nederigheid maak Jehovah se hart bly.

7 Die Bybel toon dat beskeidenheid behels dat ons die regte beskouing van onsself het en bewus is van ons beperkings. Die oorspronklike woord in die Bybel lê blykbaar klem op hoe hierdie bewustheid ons teenoor ander moet laat optree.

8. Wat kan aandui dat ons nie meer beskeie is nie?

8 Wat kan daarop dui dat ons denke of optrede nie meer beskeie is nie? Kyk na ’n paar waarskuwingstekens. Ons neem onsself of ons voorregte dalk te ernstig op (Rom. 12:16). Ons vestig moontlik te veel aandag op onsself (1 Tim. 2:9, 10). Of ons dink dalk dat ons die reg het om ons beskouing op ander af te dwing, bloot omdat ons ’n sekere posisie beklee, invloedryke mense ken of ’n sterk opinie het (1 Kor. 4:6). Wanneer ons so optree, besef ons dalk nie dat ons nie meer beskeie is nie, maar vermetel begin word.

9. Waarom het party vermetel begin optree? Gee ’n Bybelvoorbeeld.

9 Enigeen kan onbeskeie optree as hy voor vleeslike begeertes swig. Selfsugtige ambisie, afguns en onbeheerste woede het baie al vermetel laat optree. Bybelkarakters soos Absalom, Ussia en Nebukadnesar het voor sulke werke van die vlees geswig, en Jehovah het hulle verneder omdat hulle vermetel was.—2 Sam. 15:1-6; 18:9-17; 2 Kron. 26:16-21; Dan. 5:18-21.

10. Waarom moet ons ander nie oordeel nie? Gee ’n Bybelvoorbeeld.

10 Maar daar is ook ander redes waarom ’n persoon dalk onbeskeie sal optree. Kyk byvoorbeeld na die volgende Bybelverslae: Genesis 20:2-7 en Matteus 26:31-35. Abimeleg en Petrus het blykbaar vermetel opgetree. Was dit as gevolg van sondige begeertes? Of was hulle net nie bewus van al die feite nie of is hulle onverhoeds betrap? Aangesien ons nie harte kan lees nie, is dit wys sowel as liefdevol om ander nie te oordeel nie.—Lees Jakobus 4:12.

JOU ROL IN GOD SE REËLING

11. Waarom moet ons besef waar ons in God se reëling inpas?

11 As ons beskeie wil wees, moet ons besef waar ons in God se reëling inpas. Jehovah is ’n God van orde en hy gee elkeen van ons ’n plek in sy huishouding. Elkeen het ’n unieke rol in die gemeente, maar ons almal is nodig. Weens sy onverdiende goedhartigheid het Jehovah elkeen van ons sekere gawes, vermoëns of talente gegee. Ons kan dit gebruik om hom te verheerlik en om ander te bevoordeel (Rom. 12:4-8). Jehovah het ’n bestuurderskap aan ons toevertrou. Dit is ’n voorreg dat hy ons so eer en vertrou en hierdie verantwoordelikheid gee.—Lees 1 Petrus 4:10.

Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer wanneer ons ’n nuwe toewysing ontvang? (Sien paragraaf 12-14)

12, 13. Waarom moet ons nie verbaas wees as ons plek in God se reëling van tyd tot tyd verander nie?

12 Maar ons plek in God se reëling sal nie noodwendig dieselfde bly nie. Dit kan verander. Dink byvoorbeeld aan Jesus. Hy was eers alleen by Jehovah (Spr. 8:22). Toe het hy gehelp om ander geesskepsele, die heelal en uiteindelik mense te maak (Kol. 1:16). Later het Jesus ’n nuwe rol op die aarde gehad, eers as ’n hulpelose baba en toe as ’n volwassene (Fil. 2:7). Ná sy offerdood het Jesus weer ’n geespersoon in die hemel geword. In 1914 het hy as die Koning van God se Koninkryk begin regeer (Heb. 2:9). En sy toewysing sal weer verander. Ná sy Duisendjarige Heerskappy sal Jesus sy Koninkryk aan Jehovah oorgee sodat “God alles vir elkeen kan wees”.—1 Kor. 15:28.

13 Ons kan ook verwag dat ons rol van tyd tot tyd sal verander, dikwels weens besluite wat ons neem. Byvoorbeeld, dalk het jy besluit om te trou. Later het jy miskien kinders gehad. Toe jy ouer geword het, het jy jou lewe dalk vereenvoudig en die voltydse bediening betree. Elkeen van hierdie besluite het sekere voorregte en verantwoordelikhede meegebring. Wanneer ons omstandighede verander, kan ons dalk meer in Jehovah se diens doen of miskien minder. Is jy jonk of bejaard? Is jou gesondheid goed of sleg? Jehovah weet waar hy ons in sy diens kan gebruik. Hy verwag net wat redelik is en het groot waardering vir wat ons ook al doen.—Heb. 6:10.

14. Hoe kan beskeidenheid ons help om tevrede en vreugdevol te bly?

14 Jesus het vreugde geput uit elke toewysing wat hy gehad het, en ons kan ook (Spr. 8:30, 31). ’n Beskeie persoon is tevrede met die toewysing of verantwoordelikhede wat hy in die gemeente het. Hy is nie ambisieus nie en kwel hom nie oor voorregte wat ander ontvang nie. Hy doen eerder sy bes om sy huidige rol in Jehovah se diens te vervul en te geniet omdat hy weet dat dit van Jehovah kom. Terselfdertyd het hy groot respek vir die rol wat Jehovah aan ander gegee het. Beskeidenheid help ons om ander vreugdevol te eer en te ondersteun.—Rom. 12:10.

WAT BESKEIDENHEID NIE IS NIE

15. Wat kan ons uit Gideon se beskeidenheid leer?

15 Gideon is ’n uitstekende voorbeeld van ’n beskeie persoon. Toe Jehovah se engel die eerste keer aan hom verskyn het, het Gideon erken dat hy uit ’n beskeie agtergrond kom en nie ’n belangrike persoon is nie (Rigt. 6:15). Gideon het ’n toewysing van Jehovah aanvaar en seker gemaak dat hy goed verstaan wat van hom verwag word. Hy het op Jehovah se leiding vertrou (Rigt. 6:36-40). Gideon was moedig. En tog het hy versigtig en verstandig opgetree (Rigt. 6:11, 27). Hy het sy toewysing nie gebruik om vernaamheid te probeer verwerf nie. Nadat hy sy toewysing uitgevoer het, het hy teruggekeer huis toe.—Rigt. 8:22, 23, 29.

16, 17. Wat hou ’n beskeie persoon in gedagte as hy geestelike vooruitgang wil maak?

16 Beskeidenheid beteken nie dat ons nooit verdere diensvoorregte sal nastreef of aanvaar nie. Die Skrif spoor ons almal aan om vooruitgang te maak (1 Tim. 4:13-15). Beteken dit egter dat ons toewysing moet verander? Nie noodwendig nie. Met Jehovah se seën kan ons geestelike vooruitgang maak ongeag watter toewysing ons het. Ons kan ons godgegewe vermoëns verbeter en meer doen in sy diens.

17 Voordat ’n beskeie persoon ’n nuwe toewysing aanvaar, sal hy eers uitvind wat van hom verwag sal word. Dan kan hy sy omstandighede ondersoek. Byvoorbeeld, sal hy meer verantwoordelikheid of werk kan aanvaar sonder om ander belangrike dinge af te skeep? Kan iemand anders van sy huidige werk doen sodat hy na die nuwe verantwoordelikheid kan omsien? Sulke vrae sal hom help om vas te stel of hy die toewysing kan aanvaar. Ons moet ons omstandighede biddend en realisties ondersoek, want dit sal ons help om nie meer aan te pak as wat ons kan doen nie. As ons beskeie is, sal ons dalk nee moet sê.

18. (a) Wat sal ’n beskeie persoon doen as hy ’n nuwe toewysing ontvang? (b) Hoe is Romeine 12:3 van toepassing op ’n beskeie persoon?

18 As ons wel ’n nuwe toewysing aanvaar, herinner Gideon se voorbeeld ons daaraan dat ons nie sonder Jehovah se leiding en seën suksesvol kan wees nie. Ons word immers genooi om “beskeie te wandel met [ons] God”! (Miga 6:8). Wanneer ons ook al nuwe verantwoordelikhede aanvaar, moet ons biddend nadink oor wat Jehovah deur middel van sy Woord en organisasie vir ons sê. Ons moet leer om Jehovah se leiding te volg. Laat ons onthou dat dit Jehovah se nederigheid is wat ‘ons groot maak’ en nie ons eie vermoëns nie (Ps. 18:35). As ons beskeie met God wandel, sal dit ons help om nie te veel of te min van onsself te dink nie.—Lees Romeine 12:3.

19. Waarom moet ons beskeidenheid aankweek?

19 ’n Beskeie persoon besef dat hy Jehovah moet eer, aangesien Jehovah ons Skepper en Universele Soewerein is (Op. 4:11). Beskeidenheid help ons om tevrede te wees met ons plek in God se reëling en om produktief te wees. Beskeidenheid help ons om nie onvanpas op te tree nie, en dit bevorder eenheid onder Jehovah se volk. Beskeidenheid beweeg ons om ander eerste te stel, en dit help ons om versigtig te wees en so ernstige foute te vermy. Weens hierdie redes is beskeidenheid nog steeds vir al God se knegte belangrik, en Jehovah waardeer almal wat dit aankweek. Maar hoe kan ons beskeie bly wanneer ons moeilike situasies of druk ondervind? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.