Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie lei God se volk vandag?

Wie lei God se volk vandag?

“Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem.”—HEB. 13:7.

LIEDERE: 125, 43

1, 2. Waaroor het Jesus se apostels moontlik gewonder nadat hy hemel toe gegaan het?

JESUS se apostels het op die Olyfberg gestaan en na die hemel opgekyk. Hulle het pas gesien hoe hulle heer en vriend, Jesus, opgelig en deur ’n wolk verberg word (Hand. 1:9, 10). Jesus het hulle omtrent twee jaar lank geleer, aangemoedig en gelei. Nou was hy weg. Wat sou hulle doen?

2 Jesus het sy volgelinge ’n opdrag gegee: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Hoe sou hulle hierdie toewysing kon uitvoer? Jesus het hulle wel verseker dat hulle binnekort heilige gees sou ontvang (Hand. 1:5). Maar ’n wêreldwye predikingskampanje sou leiding en organisasie verg. Jehovah het sigbare verteenwoordigers gebruik om sy eertydse volk te lei en te organiseer. Die apostels kon dus gewonder het: ‘Sal Jehovah nou ’n nuwe leier aanstel?’

3. (a) Watter belangrike besluit het die getroue apostels geneem nadat Jesus hemel toe gegaan het? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Minder as twee weke later het Jesus se dissipels die Skrif geraadpleeg, vir goddelike leiding gebid en Mattias gekies om Judas Iskariot as die 12de apostel te vervang (Hand. 1:15-26). Waarom was hierdie keuse so belangrik vir hulle en vir Jehovah? Die dissipels het besef dat daar 12 apostels moet wees. * Jesus het sy apostels nie net gekies om hom in sy bediening te vergesel nie, maar om ’n belangrike rol onder God se volk te vervul. Wat was hierdie rol, en hoe het Jehovah hulle deur Jesus daarvoor toegerus? Watter soortgelyke reëling bestaan vandag onder God se volk? En hoe kan ons ‘dié in gedagte hou wat die leiding onder ons neem’, veral diegene wat “die getroue en verstandige slaaf” uitmaak?—Heb. 13:7; Matt. 24:45.

’N SIGBARE LIGGAAM MET ’N ONSIGBARE LEIER

4. Watter rol het die apostels en ander ouer manne in Jerusalem in die eerste eeu vervul?

4 Op Pinkster 33 HJ het die apostels die leiding in die Christengemeente begin neem. By daardie geleentheid het “Petrus . . . saam met die elf opgestaan” en lewensreddende waarhede aan ’n groot groep Jode en proseliete verkondig (Hand. 2:14, 15). Baie van hulle het gelowiges geword. Daarna het hierdie Christene “voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels” (Hand. 2:42). Die apostels het toesig gehou oor die gemeente se geldsake (Hand. 4:34, 35). Hulle het in die geestelike behoeftes van God se volk voorsien en gesê: “Ons sal ons aan gebed en aan die bediening van die woord wy” (Hand. 6:4). En hulle het ervare Christene gestuur om in nuwe gebiede te gaan preek (Hand. 8:14, 15). Later het ander gesalfde ouer manne saam met die apostels na die gemeentes omgesien. As ’n bestuursliggaam het hulle leiding aan al die gemeentes voorsien.—Hand. 15:2.

5, 6. (a) Hoe het die bestuursliggaam hulp van die heilige gees ontvang? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoe is die bestuursliggaam deur engele gehelp? (c) Hoe is die bestuursliggaam deur God se Woord gelei?

5 Christene in die eerste eeu het geweet dat Jehovah God die bestuursliggaam deur middel van Jesus lei. Hoe kon hulle hiervan seker wees? Eerstens, die bestuursliggaam is deur die heilige gees gehelp (Joh. 16:13). Heilige gees is op al die gesalfde Christene uitgestort, maar dit het veral die apostels en ander ouer manne in Jerusalem in staat gestel om hulle rol as opsieners te vervul. Byvoorbeeld, in 49 HJ het die heilige gees die bestuursliggaam gelei om ’n besluit te neem oor die besnydeniskwessie. Die gemeentes het hulle leiding gevolg en is “standvastig gemaak in die geloof en het . . . van dag tot dag in getal bly toeneem” (Hand. 16:4, 5). Die brief waarin die besluit aan die gemeentes oorgedra is, toon dat die bestuursliggaam die vrug van God se gees geopenbaar het, insluitende liefde en geloof.—Hand. 15:11, 25-29; Gal. 5:22, 23.

6 Tweedens, die bestuursliggaam is deur engele gehelp. ’n Engel het vir Kornelius, die eerste onbesnede nie-Jood wat ’n Christen geword het, gesê om die apostel Petrus te laat haal. Nadat Petrus vir Kornelius en sy familie gepreek het, is heilige gees op hulle uitgestort, al was die mans nie besny nie. Dit het die apostels en ander broers aangespoor om hulle aan God se wil te onderwerp en onbesnede nie-Jode in die Christengemeente te aanvaar (Hand. 11:13-18). En engele het die predikingswerk, waaroor die bestuursliggaam toesig gehou het, daadwerklik ondersteun (Hand. 5:19, 20). Derdens, die bestuursliggaam is deur God se Woord gelei. Hierdie geesgesalfde ouer manne het die Skrif gebruik om besluite te neem oor leerstellige kwessies en om leiding aan die gemeentes te voorsien.—Hand. 1:20-22; 15:15-20.

7. Hoe weet ons dat Jesus die vroeë Christene gelei het?

7 Al het die bestuursliggaam gesag in die vroeë gemeente gehad, het hulle Jesus as hulle Leier erken. “Hy [Christus] het party as apostels gegee”, het die apostel Paulus geskryf. “Laat ons . . . deur liefde in alles opgroei in hom wat die hoof is, Christus” (Ef. 4:11, 15). Die dissipels het nie die naam van ’n vooraanstaande apostel aangeneem nie, maar is “deur goddelike voorsienigheid Christene genoem” (Hand. 11:26). Paulus het wel erken dat dit belangrik is om ‘vas te hou aan die oorleweringe’, of skriftuurlike gebruike, van die apostels en ander manne wat die leiding geneem het. Hy het nietemin bygevoeg: “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man [insluitende elke lid van die bestuursliggaam]; . . . en God is die hoof van die Christus” (1 Kor. 11:2, 3). Ja, Jehovah God het die onsigbare en verheerlikte Christus Jesus aangestel om die gemeente te lei.

“DIT IS NIE ’N MENS SE WERK NIE”

8, 9. Watter belangrike rol het broer Russell gespeel?

8 Aan die einde van die 19de eeu het Charles Taze Russell en party van sy metgeselle hulle ingespan om ware aanbidding te herstel. Om hulle te help om Bybelwaarhede in verskeie tale te versprei, is Zion’s Watch Tower Tract Society in 1884 gestig, met broer Russell as president. * Hy was ’n goeie student van die Bybel, en hy het vreesloos bekendgemaak dat leerstellings soos die Drie-eenheidsleer en die onsterflikheid van die siel vals is. Hy het tot die besef gekom dat Christus onsigbaar sou terugkeer en dat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 sou eindig (Luk. 21:24). Broer Russell het sy tyd, energie en geld gebruik om hierdie waarhede aan ander te verkondig. Dit is duidelik dat broer Russell op hierdie belangrike tyd deur Jehovah en die hoof van die gemeente gebruik is.

9 Broer Russell wou nie deur mense vereer word nie. In 1896 het hy geskryf: “Ons soek geen hulde, geen verering, vir onsself of ons geskrifte nie; en ons wil ook nie as Eerwaarde of Rabbi aangespreek word nie. Ons wil ook nie hê dat enige groep na ons vernoem moet word nie.” Hy het later gesê: “Dit is nie ’n mens se werk nie.”

10. (a) Wanneer het Jesus “die getroue en verstandige slaaf” aangestel? (b) Verduidelik hoe daar geleidelik ’n onderskeid getref is tussen die Bestuursliggaam en die Wagtoringgenootskap.

10 In 1919, drie jaar na broer Russell se dood, het Jesus “die getroue en verstandige slaaf” aangestel. Met watter doel? Om sy huisknegte “voedsel op die regte tyd” te gee (Matt. 24:45). Selfs in daardie vroeë jare het ’n klein groepie gesalfde broers wat by die hoofkwartier in Brooklyn, New York, gedien het, geestelike voedsel voorberei en aan Jesus se volgelinge versprei. Die uitdrukking “bestuursliggaam” het in die 1940’s in ons publikasies begin verskyn. Op daardie tyd is daar gedink dat die Bestuursliggaam ten nouste verband hou met die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Maar in 1971 is daar ’n onderskeid getref tussen die Bestuursliggaam en die Wagtoringgenootskap, wat na wetlike sake omgesien het. Die Bestuursliggaam het van toe af gesalfde broers ingesluit wat nie direkteure van die Genootskap was nie. In onlangse jare dien verantwoordelike broers van die “ander skape” as direkteure van die wetlike Genootskap sowel as ander korporasies wat deur God se volk gebruik word. Dit stel die Bestuursliggaam in staat om te fokus op die voorsiening van geestelike onderrigting en leiding (Joh. 10:16; Hand. 6:4). Die Wagtoring van 15 Julie 2013 het verduidelik dat “die getroue en verstandige slaaf” ’n klein groepie gesalfde broers is wat as die Bestuursliggaam dien.

Die bestuursliggaam, 1950’s

11. Hoe funksioneer die Bestuursliggaam?

11 Die Bestuursliggaam neem belangrike besluite as ’n groep. Hoe doen hulle dit? Die lede vergader elke week, wat goeie kommunikasie en eenheid bevorder (Spr. 20:18). Aangesien geen lid van die Bestuursliggaam belangriker as die ander lede is nie, kry elkeen ’n beurt om ’n jaar lank die voorsitter by hierdie vergaderinge te wees (1 Pet. 5:1). Die lede van die ses komitees van die Bestuursliggaam neem ook beurte om by hulle vergaderinge die voorsitter te wees. Geen lid van die Bestuursliggaam beskou homself as die leier van sy broers nie. Elkeen van hulle is een van die “huisknegte” wat deur die getroue slaaf gevoed en gelei word.

Die getroue slaaf voorsien sedert sy aanstelling in 1919, geestelike voedsel aan God se volk (Sien paragraaf 10, 11)

“WIE IS WERKLIK DIE GETROUE EN VERSTANDIGE SLAAF?”

12. Watter vrae ontstaan, aangesien die Bestuursliggaam nie geïnspireer of onfeilbaar is nie?

12 Die Bestuursliggaam is nie geïnspireer of onfeilbaar nie. Hulle kan dus foute maak ten opsigte van leerstellings of in die leiding wat hulle voorsien. Trouens, die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies bevat ’n opskrif “Aanpassings in ons begrip”, wat ’n lys aangee van aanpassings in ons begrip van Bybelwaarhede. Jesus het natuurlik nie vir ons gesê dat sy getroue slaaf volmaakte geestelike voedsel sal voorsien nie. Hoe kan ons dus Jesus se vraag beantwoord: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” (Matt. 24:45). Watter bewyse is daar dat die Bestuursliggaam hierdie rol vervul? Kom ons bespreek dieselfde drie dinge wat die bestuursliggaam in die eerste eeu gehelp het.

13. Hoe het die heilige gees die Bestuursliggaam gehelp?

13 Die heilige gees help die Bestuursliggaam. Die heilige gees het die Bestuursliggaam gehelp om skriftuurlike waarhede te verstaan wat hulle nie voorheen verstaan het nie. Dink byvoorbeeld aan die lys van aanpassings in ons begrip waarna daar in die vorige paragraaf verwys is. Geen mens kon hierdie “diep dinge van God” op sy eie verstaan of verduidelik het nie! (Lees 1 Korintiërs 2:10.) Die Bestuursliggaam voel soos die apostel Paulus, wat geskryf het: “Hierdie dinge spreek ons ook, nie met woorde wat deur menslike wysheid geleer word nie, maar met dié wat deur die gees geleer word” (1 Kor. 2:13). Waarom was daar sedert 1919, ná honderde jare van afvalligheid en geestelike duisternis, ’n skielike toename in geestelike begrip? Dit kan alleenlik wees omdat God die Bestuursliggaam deur middel van sy heilige gees gehelp het!

14. Hoe help engele God se volk vandag volgens Openbaring 14:6, 7?

14 Engele help die Bestuursliggaam. Die Bestuursliggaam het die groot taak om toesig te hou oor die wêreldwye predikingswerk waaraan meer as agtmiljoen verkondigers deelneem. Waarom is hierdie werk so suksesvol? Een rede is dat engele by hierdie werk betrokke is (Lees Openbaring 14:6, 7.) Daar was al baie gevalle waar verkondigers persone besoek het wat pas om hulp gebid het! * Daar is ’n groot toename in die predikings- en dissipelmaakwerk, selfs in lande waar daar hewige teenstand is. Dit is slegs moontlik omdat die engele met hierdie werk help.

15. Hoe verskil die Bestuursliggaam en die Christendom se leiers van mekaar? Gee ’n voorbeeld.

15 Die Bestuursliggaam vertrou op God se Woord. (Lees Johannes 17:17.) Kyk na wat in 1973 gebeur het. Die Wagtoring van 15 Augustus het die vraag gevra: “Mag persone wat nie hulle verslaafdheid aan tabak gebreek het nie dan gedoop word?” Die antwoord was: “Die Skriftuurlike getuienis wys . . . dat hulle nie aan die vereistes voldoen nie.” Die Wagtoring het na toepaslike tekste verwys en toe verduidelik waarom ’n onberouvolle roker uitgesit moet word (1 Kor. 5:7; 2 Kor. 7:1). Dit het gesê: “Dit is nie ’n poging om op ’n willekeurige, diktatoriale wyse op te tree nie. Die strengheid is in werklikheid van God afkomstig. Hy spreek sy mening uit deur sy geskrewe Woord.” Is enige ander godsdiensorganisasie bereid om ten volle op God se Woord te vertrou, selfs al sou dit ’n groot uitdaging vir sommige van sy lede bied? ’n Onlangse boek oor godsdiens in die Verenigde State sê: “Christenleiers hersien gereeld hulle leringe om te pas by die opvattings en opinies wat onder hulle lede en die gemeenskap gewild is.” Wanneer die Bestuursliggaam besluite neem, laat hulle toe dat God se Woord hulle lei en nie die beskouings van mense nie. Wie lei dus werklik God se volk vandag?

‘HOU DIÉ IN GEDAGTE WAT DIE LEIDING NEEM’

16. Wat is een manier waarop ons die Bestuursliggaam in gedagte hou?

16 Lees Hebreërs 13:7. Die woorde ‘hou in gedagte’ kan ook met “maak melding van” vertaal word. Een manier waarop jy ‘dié in gedagte kan hou wat die leiding neem’, is dus deur die Bestuursliggaam in jou gebede te meld (Ef. 6:18). Dink na oor die verantwoordelikheid wat hulle het om geestelike voedsel te voorsien, toesig te hou oor die wêreldwye predikingswerk en om seker te maak dat bydraes goed gebruik word. Hulle het beslis ons gereelde gebede nodig!

17, 18. (a) Hoe volg ons die leiding van die Bestuursliggaam? (b) Hoe toon ons predikingswerk dat ons die getroue slaaf en Jesus ondersteun?

17 Ons kan die Bestuursliggaam ook in gedagte hou deur hulle leiding te volg. Die Bestuursliggaam voorsien die leiding wat ons in ons publikasies en by ons vergaderinge en byeenkomste kry. En hulle stel kringopsieners aan, wat op hulle beurt gemeentelike ouer manne aanstel. Kringopsieners en ouer manne hou die Bestuursliggaam in gedagte deur die riglyne wat hulle ontvang, noukeurig te volg. Ons almal toon respek vir ons Leier, Jesus, deur gehoorsaam en onderdanig te wees aan die manne wat hy gebruik om ons te lei.—Heb. 13:17.

18 Nog ’n manier waarop ons die Bestuursliggaam in gedagte kan hou, is deur ywerig te wees in die predikingswerk. Paulus het die Christene immers aangespoor om die geloof na te volg van dié wat die leiding onder hulle neem. Die getroue slaaf toon groot geloof deur die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig en te bevorder. Is jy een van die ander skape wat die gesalfdes in hierdie lewensbelangrike werk ondersteun? Dink aan hoe gelukkig jy sal voel wanneer jou Leier, Jesus, sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.”—Matt. 25:34-40.

19. Waarom is jy vasbeslote om ons Leier, Jesus, te volg?

19 Toe Jesus teruggekeer het hemel toe, het hy nie sy volgelinge sonder hulp agtergelaat nie (Matt. 28:20). Hy het self ondervind hoe die heilige gees, die engele en God se Woord hom gehelp het om die leiding te neem terwyl hy op die aarde was. Daarom gee hy die hedendaagse getroue slaaf dieselfde hulp. Die lede van hierdie slaaf, wat gesalfde Christene is, ‘bly die Lam volg ongeag waar hy gaan’ (Op. 14:4). Wanneer ons hulle leiding volg, volg ons dus ons Leier, Jesus. Hy sal ons binnekort na die ewige lewe lei (Op. 7:14-17). En geen menseleier kan dit belowe nie!

^ par. 3 Jehovah wou blykbaar hê dat 12 apostels die toekomstige “twaalf fondamentstene” van Nuwe Jerusalem moet vorm (Op. 21:14). Dit was dus nie nodig om enige getroue apostel wat later sy aardse loopbaan voltooi het, te vervang nie.

^ par. 8 Sedert 1955 staan hierdie korporasie bekend as die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.