Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se voorneme sal vervul word!

Jehovah se voorneme sal vervul word!

“Ek het dit gespreek; ek sal dit ook laat kom. Ek het daaraan vorm gegee, ek sal dit ook doen.”—JES. 46:11.

LIEDERE: 147, 149

1, 2. (a) Wat het Jehovah aan ons bekendgemaak? (b) Watter versekering vind ons in Jesaja 46:10, 11 en 55:11?

DIE heel eerste woorde in die Bybel bevat hierdie eenvoudige maar betekenisvolle stelling: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Gen. 1:1). Ons het min begrip van die baie dinge wat God geskep het, soos die hemelruim, lig en swaartekrag, en ons het nog net ’n baie klein deel van die heelal gesien (Pred. 3:11). Maar Jehovah het sy voorneme vir die aarde en die mensdom aan ons bekendgemaak. Die aarde moes ’n ideale tuiste wees vir mans en vroue wat na God se beeld geskep is (Gen. 1:26). Hulle sou sy kinders wees, en Jehovah sou hulle Vader wees.

2 Die derde hoofstuk van Genesis toon dat Jehovah se voorneme teëgestaan is (Gen. 3:1-7). Maar daar is geen probleem wat Jehovah nie kan oplos nie. Niemand kan in Jehovah se pad staan nie (Jes. 46:10, 11; 55:11). Daarom kan ons seker wees dat Jehovah se oorspronklike voorneme op presies die regte tyd vervul sal word!

3. (a) Watter waarhede help ons om die Bybel se boodskap te verstaan? (b) Waarom hersien ons sulke leringe nou? (c) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Ons is ongetwyfeld bekend met Bybelwaarhede oor God se voorneme vir die aarde en die mensdom. Ons weet ook dat Jesus Christus ’n noodsaaklike rol speel in die vervulling van God se voorneme. Hierdie waarhede is van die allergrootste belang en is waarskynlik van die eerste dinge wat ons geleer het toe ons God se Woord begin studeer het. Ons wil opregte mense help om ook hierdie belangrike waarhede te leer ken. Gedurende hierdie tyd van die jaar probeer ons soveel mense as moontlik na die Herdenking van Christus se dood nooi (Luk. 22:19, 20). Diegene wat dit bywoon, sal baie oor God se voorneme leer. Daarom is dit nou ’n goeie tyd om te dink aan spesifieke vrae wat ons kan gebruik om ons Bybelstudente en ander opregte persone aan te spoor om hierdie belangrike gebeurtenis by te woon. Ons sal drie vrae bespreek: Wat was God se oorspronklike voorneme vir die aarde en die mensdom? Wat het verkeerd geloop? En waarom is Jesus se losprysoffer uiters belangrik in die vervulling van God se voorneme?

WAT WAS DIE SKEPPER SE OORSPRONKLIKE VOORNEME?

4. Hoe maak die skepping die heerlikheid van Jehovah bekend?

4 Jehovah is ’n wonderlike Skepper. Alles wat hy skep, voldoen aan die hoogste standaarde (Gen. 1:31; Jer. 10:12). Wat kan ons leer uit die prag en orde wat in die skepping te sien is? Wanneer ons na die skepping kyk, is ons beïndruk omdat al Jehovah se skeppingswerke, klein en groot, ’n spesifieke doel het. Hoe voel jy wanneer jy aan die mensesel dink, wanneer jy ’n pasgebore baba sien of wanneer jy ’n pragtige sonsondergang aanskou? Ons bewonder hierdie skeppingswerke omdat ons geskep is met die vermoë om mooi dinge te waardeer.—Lees Psalm 19:1; 104:24.

5. Hoe verseker Jehovah dat al sy skeppingswerke goed saamwerk?

5 Ons kan in die skepping sien dat Jehovah vir alles perke gestel het. Hy het natuurwette sowel as sedewette ingestel om te verseker dat alles goed saamwerk (Ps. 19:7-9). Alles in die heelal het dus ’n vasgestelde plek en rol. Jehovah stel die standaard vir hoe sy skepping moet saamwerk. Byvoorbeeld, die wet van swaartekrag hou die atmosfeer na aan die aarde, beheer die getye en oseane en dra by tot die fisiese orde wat noodsaaklik is vir lewe op die aarde. Die hele skepping, mense ingesluit, beweeg en funksioneer binne hierdie perke. Die orde in die skepping toon dus duidelik dat God ’n doel vir die aarde en die mensdom het. Kan ons in ons bediening die aandag vestig op die Bron van hierdie indrukwekkende orde?—Op. 4:11.

6, 7. Watter gawes het Jehovah aan Adam en Eva gegee?

6 Jehovah se oorspronklike voorneme was dat die mensdom vir ewig hier op die aarde moet lewe (Gen. 1:28; Ps. 37:29). Hy het vir Adam en Eva ’n verskeidenheid kosbare gawes gegee wat dit vir hulle moontlik gemaak het om die lewe te geniet. (Lees Jakobus 1:17.) Jehovah het hulle wilsvryheid en die vermoë om te redeneer, gegee. Hy het hulle ook die vermoë gegee om lief te hê en vriendskap te geniet. Die Skepper het vir Adam gesê wat hy moet doen om gehoorsaamheid te toon. Adam het ook geleer hoe om na sy behoeftes om te sien en vir die diere en die aarde te sorg (Gen. 2:15-17, 19, 20). Jehovah het Adam en Eva ook met sintuie geskep—smaak, gevoel, sig, gehoor en reuk. Hulle kon dus die prag en oorvloed van hulle paradystuiste ten volle geniet. Die eerste mensepaar het die geleentheid gehad om bevredigende werk te geniet, baie uit te rig en baie nuwe dinge te leer.

7 Wat het God se voorneme nog behels? Jehovah het Adam en Eva geskep met die vermoë om volmaakte kinders te hê. God wou hê dat hulle kinders ook kinders moes hê en die aarde moes vul. Jehovah wou hê dat Adam en Eva, en alle ouers ná hulle, hulle kinders moes liefhê soos hy sy eerste volmaakte mensekinders liefgehad het. Die aarde, met al sy hulpbronne, moes hulle permanente tuiste gewees het.—Ps. 115:16.

WAT HET VERKEERD GELOOP?

8. Wat was die doel van die wet in Genesis 2:16, 17?

8 Dinge het nie onmiddellik uitgewerk soos God in gedagte gehad het nie. Waarom nie? Jehovah het Adam en Eva ’n eenvoudige wet gegee om te toets of hulle die perke van hulle vryheid erken. Hy het gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Gen. 2:16, 17). Dit was nie vir Adam en Eva moeilik om hierdie wet te verstaan nie; en dit was ook nie ’n moeilike wet om te gehoorsaam nie. Hulle het immers meer as genoeg voedsel gehad om te eet.

9, 10. (a) Waarvan het Satan Jehovah beskuldig? (b) Wat het Adam en Eva besluit? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Satan die Duiwel het ’n slang gebruik om Eva te verlei om ongehoorsaam aan haar Vader, Jehovah, te wees. (Lees Genesis 3:1-5; Op. 12:9.) Satan het ’n geskil gemaak van die feit dat God se mensekinders nie “van al die bome van die tuin” kon eet nie. Dit was asof hy gesê het: ‘Bedoel jy dat jy nie kan doen wat jy wil nie?’ Toe het hy ’n blatante leuen vertel: “Julle sal sekerlik nie sterf nie.” Daarna het hy Eva probeer oortuig dat sy nie na God hoef te luister nie en gesê: “God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word.” Satan het te kenne gegee dat Jehovah nie wou hê dat hulle die vrug moes eet nie omdat dit hulle spesiale kennis sou gee. Satan het toe hierdie valse belofte gemaak: “Julle [sal] sekerlik soos God . . . word deur goed en kwaad te ken.”

10 Adam en Eva moes besluit wat hulle gaan doen. Sou hulle aan Jehovah gehoorsaam wees, of sou hulle na die slang luister? Hulle het besluit om ongehoorsaam aan God te wees. Hulle het dus saam met Satan in opstand gekom. Hulle het Jehovah as hulle Vader verwerp en dus die sekuriteit van sy beskermende heerskappy verloor.—Gen. 3:6-13.

11. Waarom kan Jehovah sonde nie ignoreer nie?

11 Adam en Eva het hulle volmaaktheid verloor toe hulle teen Jehovah in opstand gekom het. Hulle opstand het hulle van Jehovah vervreem omdat sy ‘oë te suiwer is om die kwaad te sien’. Hy kan goddeloosheid dus nie ignoreer nie (Hab. 1:13). As hy Adam en Eva se sonde geïgnoreer het, sou dit die welsyn van alle lewende skepsele—in die hemel en op die aarde—in gevaar gestel het. En as God niks omtrent die sonde in Eden gedoen het nie, sou dit vrae oor sy betroubaarheid laat ontstaan het. Maar Jehovah is getrou aan sy eie standaarde; hy skend dit nooit (Ps. 119:142). Wilsvryheid het Adam en Eva dus nie die reg gegee om ongehoorsaam te wees aan God se wet nie. Omdat hulle teen Jehovah in opstand gekom het, het hulle gesterf en teruggekeer na die stof waaruit hulle geneem is.—Gen. 3:19.

12. Wat het met Adam se kinders gebeur?

12 Toe Adam en Eva van die vrug geëet het, kon hulle nie meer deel wees van God se universele gesin nie. God het hulle uit die tuin van Eden gesit, en hulle het geen hoop gehad om ooit weer terug te keer nie (Gen. 3:23, 24). Deur dit te doen het Jehovah hulle tereg die gevolge van hulle dade laat dra. (Lees Deuteronomium 32:4, 5.) Die mens was nie meer volmaak nie en kon God se eienskappe dus nie meer volmaak weerspieël nie. Adam het nie net self ’n wonderlike toekoms verloor nie, maar hy het ook onvolmaaktheid, sonde en die dood aan sy kinders oorgedra (Rom. 5:12). Hy het sy nageslag beroof van die vooruitsig op die ewige lewe. Adam en Eva kon nie meer ’n volmaakte kind voortbring nie, en hulle kinders kon ook nie. Satan die Duiwel het Adam en Eva teen Jehovah laat draai en hou tot vandag toe aan om die mensdom te mislei.—Joh. 8:44.

DIE LOSPRYS MAAK VRIENDSKAP MET GOD MOONTLIK

13. Wat is Jehovah se wil vir die mensdom?

13 God is egter nog steeds lief vir mense. Ten spyte van Adam en Eva se opstand wil Jehovah hê dat die mensdom ’n goeie verhouding met hom moet geniet. Hy wil nie hê dat enigiemand moet sterf nie (2 Pet. 3:9). God het dus onmiddellik ná die opstand reëlings getref sodat mense weer sy vriende kan wees. Terselfdertyd het hy by sy regverdige standaarde gebly. Hoe het Jehovah dit reggekry?

14. (a) Watter voorsiening het God volgens Johannes 3:16 gemaak? (b) Watter vraag kan ons met belangstellendes bespreek?

14 Lees Johannes 3:16. Baie van die mense wat ons na die Gedenkmaal nooi, ken hierdie vers baie goed. Maar die vraag is: Hoe maak Jesus se offerande ewige lewe moontlik? Die Gedenkmaalkampanje, die Gedenkmaal self en die besoeke wat ons later doen op diegene wat dit bygewoon het, kan ons die geleentheid gee om mense wat na die waarheid soek, te help om die antwoord op hierdie belangrike vraag te verstaan. Dit kan sulke persone se harte raak wanneer hulle beter begin verstaan hoe Jehovah se liefde en wysheid deur die voorsiening van die losprys getoon word. Watter belangrike punte omtrent die losprys kan ons beklemtoon?

15. Hoe het Jesus van Adam verskil?

15 Jehovah het ’n volmaakte man voorsien wat die verlosser kon wees. Hierdie volmaakte man sou lojaal aan Jehovah moes bly en gewillig moes wees om sy lewe in ruil vir die veroordeelde mensdom te gee (Rom. 5:17-19). Jehovah het die lewe van Jesus, sy heel eerste skeppingswerk, van die hemel na die aarde oorgeplaas (Joh. 1:14). Jesus het dus ’n volmaakte mens geword, net soos Adam was. In teenstelling met Adam het Jesus gedoen wat Jehovah van ’n volmaakte mens verwag het. Selfs toe Jesus tot die uiterste getoets is, het hy nooit gesondig of enige van God se wette verbreek nie.

16. Waarom is die losprys ’n kosbare gawe?

16 As ’n volmaakte mens kon Jesus die mensdom red van sonde en die dood deur in hulle plek te sterf. Hy het presies ooreengestem met alles wat Adam moes wees—’n volmaakte man, ten volle lojaal en gehoorsaam aan God (1 Tim. 2:6). Jesus het die losprysoffer geword wat dit “vir baie”—mans, vroue en kinders—moontlik maak om die ewige lewe te ontvang (Matt. 20:28). Ja, die losprys maak die vervulling van God se oorspronklike voorneme moontlik (2 Kor. 1:19, 20). Die losprys maak die ewige lewe vir alle getroue mense moontlik.

JEHOVAH HET DIT MOONTLIK GEMAAK OM NA HOM TOE TERUG TE KEER

17. Wat word deur die losprys moontlik gemaak?

17 Jehovah het die losprys voorsien, al was dit vir hom ’n groot opoffering (1 Pet. 1:19). Die mensdom is vir hom so kosbaar dat hy bereid was om sy enigverwekte Seun vir ons te laat sterf (1 Joh. 4:9, 10). In sekere sin neem Jesus die plek van ons eerste mensevader, Adam, in (1 Kor. 15:45). Daardeur gee Jesus ons meer as net die vooruitsig om vir ewig te lewe; hy gee ons die geleentheid om in die toekoms terug te keer na God se gesin. Ja, op grond van Jesus se offerande kan Jehovah mense terugverwelkom in sy gesin sonder om sy regverdigheid prys te gee. Dit is wonderlik om te dink dat die tyd sal kom wanneer alle getroue mense volmaak sal wees. Daar sal volkome eenheid wees tussen die hemelse en aardse deel van Jehovah se gesin. Ons sal almal in die ware sin van die woord kinders van God wees.—Rom. 8:21.

18. Wanneer sal Jehovah “alles vir elkeen” word?

18 Satan se opstand het nie gekeer dat Jehovah sy liefde aan die mensdom betoon nie. Dit kan onvolmaakte mense ook nie keer om lojaal aan Jehovah te wees nie. Deur middel van die losprys sal Jehovah al sy kinders help om volkome regverdig te word. Stel jou voor hoe die lewe sal wees wanneer elkeen wat “die Seun aanskou en geloof in hom beoefen”, die ewige lewe sal hê (Joh. 6:40). Jehovah sal die mensdom met groot liefde en wysheid tot volmaaktheid bring, soos sy voorneme oorspronklik was. Jehovah, ons Vader, sal dan “alles vir elkeen” word.—1 Kor. 15:28.

19. (a) Wat sal ons doen as ons die losprys waardeer? (Sien die venster “ Hou aan om verdienstelikes te soek”.) (b) Wat sal ons volgende oor die losprys bespreek?

19 Waardering vir die losprys moet ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om ander te vertel dat hulle by hierdie kosbare gawe kan baat vind. Mense moet weet dat Jehovah die losprys voorsien het sodat die hele mensdom die vooruitsig op die ewige lewe kan hê. Maar die losprys het selfs meer as dit bereik. Die volgende artikel sal bespreek hoe Jesus se offerande ’n antwoord voorsien op die sedelike geskille wat Satan in die tuin van Eden geopper het.