Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee eer aan dié wat dit toekom

Gee eer aan dié wat dit toekom

“Aan die Een wat op die troon sit en aan die Lam die lof en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd.”—OP. 5:13.

LIEDERE: 9, 108

1. Waarom verdien party persone om geëer te word, en wat sal ons nou bespreek?

WANNEER jy ’n persoon eer, gee jy hom spesiale aandag en toon jy respek vir hom. Ons sal natuurlik verwag dat ’n persoon wat sulke aandag en respek waardig is, iets gedoen het om dit te verdien of ’n spesiale posisie het. Ons kan ons dus afvra: ‘Wie moet ons eer en waarom verdien hulle sulke eer?’

2, 3. (a) Waarom verdien veral Jehovah om geëer te word? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wie is die Lam in Openbaring 5:13, en waarom verdien hy om geëer te word?

2 Volgens Openbaring 5:13 verdien “die Een wat op die troon sit en . . . die Lam”, beslis om geëer te word. Openbaring hoofstuk 4 gee een rede waarom Jehovah verdien om geëer te word. Geesskepsele in die hemel sing tot lof van Jehovah, “die Een wat vir ewig en altyd lewe”. Hulle sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Op. 4:9-11.

3 Die Lam is Jesus Christus, “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Die Bybel sê vir ons dat hy ver verhewe is bo mensekonings. Dit verduidelik: “Hy [is] die Koning van dié wat as konings heers en Here van dié wat as here heers, wat alleen onsterflikheid het, wat in ontoeganklike lig woon, wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie” (1 Tim. 6:14-16). Watter ander koning was al ooit bereid om vir die sondes van sy onderdane te sterf? Dit spoor jou moontlik aan om soos die tienduisende engele uit te roep: “Die Lam wat geslag is, is waardig om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.”—Op. 5:12.

4. Waarom moet ons eer aan Jehovah en Christus betoon?

4 Om Jehovah en Christus te eer, is nie opsioneel nie. Ons ewige lewe hang daarvan af. Jesus se woorde in Johannes 5:22, 23 help ons om dit te besef: “Die Vader oordeel hoegenaamd niemand nie, maar hy het die oordeel geheel en al aan die Seun toevertrou, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Hy wat die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat hom gestuur het nie.”—Lees Psalm 2:11, 12.

5. Waarom verdien alle mense ’n mate van eer en respek?

5 Mense is “na God se beeld” geskep (Gen. 1:27). Die meeste mense weerspieël God se eienskappe, al verskil die mate waarin hulle dit doen van persoon tot persoon. Mense het die vermoë om liefde, goedhartigheid en medelye te betoon. Omdat mense geskep is met ’n gewete, het hulle gewoonlik ’n ingebore sin vir wat reg of verkeerd, eerlik of oneerlik, gepas of ongepas is—al is dit soms verdraaid (Rom. 2:14, 15). Die meeste mense hou van iets wat mooi en skoon is. Oor die algemeen wil hulle in vrede met ander lewe. Of hulle dit besef of nie, hulle weerspieël in ’n mate Jehovah se heerlikheid, en daarom verdien hulle ’n mate van eer en respek.—Ps. 8:5.

GEPASTE EERBETONING

6, 7. Hoe verskil Jehovah se Getuies van baie ander wanneer dit kom by eerbetoning aan mense?

6 Balans is nodig wanneer dit kom by die soort eer wat ons aan ander gee en die mate waarin ons hulle eer. Die meeste mense word beïnvloed deur die gees van Satan se wêreld. Dit is waarom mense geneig is om sekere mans of vroue as helde te vereer, eerder as om net gepaste eer en respek aan hulle te betoon. Mense gee hopeloos te veel eer aan godsdiens- en politieke leiers, sport- en vermaaklikheidsterre en ander beroemdes, en beskou hulle amper as gode. Jonk sowel as oud beskou hulle as rolmodelle en boots hulle maniertjies, modes en gedrag na.

7 Ware Christene weet dat dit nie reg is om mense in so ’n mate te vereer nie. Van al die mense wat ooit gelewe het, is Christus die enigste een wat ’n volmaakte rolmodel is (1 Pet. 2:21). Dit sal God nie behaag as ons meer eer aan mense gee as wat hulle toekom nie. Ons moet altyd onthou: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Ja, geen mens verdien die soort eer wat op afgodediens neerkom nie.

8, 9. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies regeringsamptenare? (b) Wanneer is dit nie gepas om gehoorsaam te wees aan regeringsamptenare nie?

8 Sommige persone dien in gesagsposisies in die wêreld. Daar word van regeringsamptenare verwag om wet en orde te handhaaf en in die behoeftes van die mense te voorsien. Dit bring voordele vir almal. Die apostel Paulus het Christene gevolglik aangeraai om sulke menseregerings as “hoër owerhede” te beskou waaraan Christene onderdanig moet wees. Hy het gesê: “Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; . . . aan hom wat eer verlang, sulke eer.”—Rom. 13:1, 7.

9 Dit is gepas dat Jehovah se Getuies die nodige eer aan openbare dienaars betoon. Sulke eerbetoning neem die gebruike van die land in ag. Ons gee hulle ons samewerking, maar daar is natuurlik redelike en skriftuurlike perke aan die eer en samewerking wat ons hulle gee. Ons kan nie ongehoorsaam aan God wees of ons Christelike neutraliteit prysgee nie.—Lees 1 Petrus 2:13-17.

10. Wat leer ons uit hoe Jehovah se knegte in die verlede teenoor regerings en regeringsamptenare opgetree het?

10 Jehovah se knegte in die verlede het getoon hoe ons teenoor regerings en regeringsamptenare moet optree. Toe die Romeinse Ryk vereis het dat mense aan ’n sensus deelneem, was Josef en Maria gehoorsaam. Hulle het na Betlehem gereis ten spyte van die feit dat die tyd naby was dat Maria aan haar eerste kind geboorte sou gee (Luk. 2:1-5). Toe Paulus daarvan aangekla is dat hy iets verkeerds gedoen het, het hy homself respekvol verdedig en gepaste eer betoon aan koning Herodes Agrippa en aan Festus, die goewerneur van die Romeinse provinsie Judea.—Hand. 25:1-12; 26:1-3.

11, 12. (a) Waarom tref ons ’n onderskeid tussen regeringsamptenare en godsdiensleiers? (b) Wat het gebeur toe ’n Oostenrykse Getuie ’n politikus met respek behandel het?

11 Maar Jehovah se Getuies betoon nie spesiale eer aan godsdiensleiers nie, selfs al sou die godsdiensleiers dit verwag. Valse godsdiens stel Jehovah verkeerd voor en verdraai die leringe in sy Woord. Ons sal godsdiensleiers dus as mense respekteer, maar hulle verdien nie spesiale eer nie. Jesus het sulke manne in sy dag as huigelaars en blinde gidse veroordeel (Matt. 23:23, 24). As ons egter gepaste eer en respek aan regeringsamptenare betoon, kan dit soms positiewe resultate tot gevolg hê.

12 Leopold Engleitner was ’n ywerige Getuie van Oostenryk. Die Nazi’s het hom in hegtenis geneem en per trein na die Buchenwald-konsentrasiekamp gestuur. Dr. Heinrich Gleissner was ook ’n gevangene op die trein. Hy was ’n Oostenrykse politikus, maar hy het die guns van die Nazi’s verloor. Tydens die reis na die kamp het broer Engleitner respekvol sy oortuigings aan Gleissner verduidelik. Gleissner het aandagtig geluister. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Gleissner herhaaldelik sy invloed gebruik om die Getuies in Oostenryk te help. Jy weet dalk van ander voorbeelde waar dit goeie resultate opgelewer het toe Getuies gepaste eer en respek aan openbare amptenare betoon het.

ANDER WAT EER VERDIEN

13. Veral wie verdien ons eer en respek, en waarom?

13 Diegene wat in die geloof aan ons verwant is, verdien beslis ons eer en respek. Dit geld veral vir ouer manne, aangesien hulle die leiding neem. (Lees 1 Timoteus 5:17.) Ons betoon eer aan hierdie broers, ongeag hulle nasionaliteit, opvoeding, sosiale of finansiële status. Die Bybel verwys na hulle as “gawes in die vorm van mense”, en God gebruik hulle om in die behoeftes van sy volk te voorsien (Ef. 4:8). Dink aan gemeentelike ouer manne, kringopsieners, Takkomiteelede en die lede van die Bestuursliggaam. Ons broers en susters in die eerste eeu het groot respek getoon vir diegene wat aangestel is om die leiding te neem, en ons volg hulle voorbeeld. Ons vereer nie welbekende verteenwoordigers van die Christengemeente of tree in hulle teenwoordigheid op asof engele naby ons staan nie. Ons betoon wel eer en respek aan sulke broers weens hulle harde werk en nederigheid.—Lees 2 Korintiërs 1:24; Openbaring 19:10.

14, 15. Hoe verskil ware Christenherders van baie godsdiensleiers?

14 Sulke ouer manne is nederige geestelike herders. Hulle wil nie soos beroemdes behandel word nie. Hulle is nie soos die hedendaagse godsdiensleiers en ook nie soos die eerste eeuse godsdiensleiers nie. Jesus het van hulle gesê: “Hulle hou van die vernaamste plek by aandmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges en die begroetinge op die markpleine.”—Matt. 23:6, 7.

15 Ware Christenherders gehoorsaam nederig Jesus se woorde: “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus. Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word” (Matt. 23:8-12). Ouer manne in gemeentes regoor die wêreld verdien dus die liefde, respek en eer van hulle mede-Getuies.

Wanneer ouer manne nederig is, verdien hulle liefde, eer en respek van ander (Sien paragraaf 13-15)

16. Waarom moet ons hard werk om te verstaan en toe te pas wat die Bybel omtrent eerbetoning leer?

16 Dit kan dalk tyd neem om die regte balans te verkry ten opsigte van eerbetoning. Dit was ook die geval met die vroeë Christene (Hand. 10:22-26; 3 Joh. 9, 10). Maar dit is die moeite werd om toe te pas wat die Bybel omtrent eerbetoning leer. Balans in hierdie verband hou baie voordele in.

DIE VOORDELE VAN GEPASTE EERBETONING

17. Watter voordele hou dit in om eer te betoon aan diegene in gesagsposisies?

17 Wanneer ons eer en respek betoon aan dié wat gesagsposisies in die wêreld beklee, is die kans groter dat hulle ons reg om te preek, sal verdedig. Dit kan hulle selfs help om ’n positiewe beskouing van ons predikingswerk te verkry. Kyk na wat ’n paar jaar gelede met ’n pionier in Duitsland gebeur het. Toe Birgit se dogter skool klaargemaak het, het die onderwysers vir Birgit gesê dat hulle dit deur die jare geniet het om met Getuiekinders te werk. Hulle het gesê dat dit ’n jammerte sou wees as hulle nie Getuiekinders in hulle skool gehad het nie. Birgit het verduidelik: “Ons kinders word geleer om God se standaarde te volg en dit sluit in om eer en respek aan onderwysers te betoon.” Een onderwyser het gesê: “As al die kinders soos julle s’n was, sou die skool ’n paradys gewees het.” ’n Paar weke later het een van die onderwysers ’n byeenkoms in Leipzig bygewoon.

18, 19. Waarom moet ons gepaste eer aan ouer manne betoon?

18 Die beginsels in God se Woord kan ons help om te verstaan hoe om eer aan gemeentelike ouer manne te betoon. (Lees Hebreërs 13:7, 17.) Ons kan en moet hulle prys vir hulle harde werk. Ons moet ook probeer om die leiding te volg wat hulle voorsien. As ons dit doen, kan dit hulle help om hulle werk met vreugde te doen. Dit beteken nie dat ons ’n “vooraanstaande” ouer man sal probeer naboots wanneer dit kom by sy kleredrag en persoonsversorging, die manier waarop hy toesprake hou of selfs sy alledaagse spraak nie. As ons dit sou doen, kan dit die verkeerde indruk skep. Ons moet onthou dat hy ook ’n onvolmaakte mens is. Christus is die een wat ons moet navolg.

19 Ons help die ouer manne wanneer ons gepaste eer en respek aan hulle betoon en hulle nie as beroemdes behandel nie. Hoe so? Dit sal help voorkom dat hulle trots word, te veel van hulleself dink of dink dat hulle altyd reg is.

20. Hoe help dit ons wanneer ons aan ander eer betoon?

20 As ons eer betoon aan dié wat dit toekom, kan dit ons ook help om nederig te bly en nie selfsugtig te word nie. Dit help ons om nie te veel van onsself te dink wanneer ander eer aan ons betoon nie. Dit help ons om in ooreenstemming met Jehovah se organisasie op te tree, wat nie oormatige of ongepaste eer aan mense betoon nie, hetsy hulle gelowiges of ongelowiges is. Bowenal is dit ’n beskerming vir ons, want dit sal ons help om nie gestruikel te word wanneer iemand aan wie ons eer betoon het, ons teleurstel nie.

21. Wat is die grootste voordeel wanneer ons gepaste eer betoon?

21 Die grootste voordeel wat dit het wanneer ons gepaste eer betoon aan dié wat dit toekom, is dat ons God behaag. Ons doen wat hy van ons verwag en bly dus lojaal aan hom. Jehovah kan dan ’n antwoord gee aan enigeen wat hom probeer uittart (Spr. 27:11). Die wêreld is vol mense wat nie weet hoe om gepaste eer te betoon nie. Ons is dankbaar dat ons weet hoe om eer te betoon op ’n manier wat Jehovah behaag.