Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help die kinders van “inwonende vreemdelinge”

Help die kinders van “inwonende vreemdelinge”

“Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 JOH. 4.

LIEDERE: 88, 41

1, 2. (a) Watter probleem het kinders van immigrante-ouers? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

“EK HET van kleins af die taal van my immigrante-ouers by die huis en in die gemeente gepraat”, vertel Joshua. “Maar toe ek skool toe is, het ek die plaaslike taal begin verkies. Binne ’n paar jaar kon ek nie meer my ouers se taal praat nie. Ek kon nie verstaan wat by die vergaderinge gesê word nie en my ouers se kultuur was vir my vreemd.” Baie ander jongmense voel dieselfde.

2 Vandag woon 240 000 000 mense nie meer in hulle geboorteland nie. Hoe kan jy as ’n immigrante-ouer jou kinders help om geestelike vordering te maak sodat hulle sal “voortgaan om in die waarheid te wandel”? (3 Joh. 4). En hoe kan ons hulle help?

OUERS, STEL ’N GOEIE VOORBEELD

3, 4. (a) Hoe kan ouers ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders stel? (b) Wat moet ouers nie van hulle kinders verwag nie?

3 Ouers, as julle ’n goeie voorbeeld stel, sal dit julle kinders help om Jehovah se vriend te word en vir ewig te lewe. As jou kinders sien dat jy “eers die koninkryk . . . soek”, sal hulle leer om op Jehovah te vertrou en dat hy in hulle daaglikse behoeftes sal voorsien (Matt. 6:33, 34). Maak seker dat geestelike dinge, en nie materiële dinge nie, die belangrikste in jou lewe is. Moenie onnodige skuld maak nie en lei ’n eenvoudige lewe. Soek “’n skat in die hemel”—Jehovah se goedkeuring—en nie rykdom of “die heerlikheid van mense” nie.—Lees Markus 10:21, 22; Joh. 12:43.

4 Moet nooit te besig vir jou kinders wees nie. Sê vir hulle dat julle trots is op hulle wanneer hulle Jehovah eerste stel en nie daarna streef om jou of hulle ryk of beroemd te maak nie. Vermy die onchristelike idee dat kinders ’n gerieflike aftrede vir hulle ouers moet voorsien. Onthou, “die kinders behoort nie vir hulle ouers op te spaar nie, maar die ouers vir hulle kinders”.—2 Kor. 12:14.

TAALPROBLEME

5. Waarom moet ouers met hulle kinders oor Jehovah praat?

5 Soos daar voorspel is, stroom mense “uit al die tale van die nasies” na Jehovah se organisasie (Sag. 8:23). Maar as jou kinders jou taal nie verstaan nie kan dit moeilik wees om hulle die waarheid te leer. Jou kinders is jou belangrikste Bybelstudente. Hulle moet Jehovah leer ken om vir ewig te kan lewe (Joh. 17:3). Praat gedurig met jou kinders oor wat Jehovah ons in sy Woord leer.—Lees Deuteronomium 6:6, 7.

6. Waarom is dit goed as jou kinders jou taal leer? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Jou kinders sal heel moontlik die plaaslike taal by die skool leer. Maar hulle sal slegs jou taal leer as jy gereeld in jou taal met hulle praat. Dit sal vir hulle makliker wees om vir jou te sê hoe hulle voel as hulle jou taal kan praat. Maar om tweetalig te wees, het ook ander voordele. Dit sal jou kinders se denkvermoë verbeter en hulle help om beter met ander te kommunikeer. Dit kan hulle ook help om meer in die bediening te doen. “Dit is lekker om in ’n anderstalige gemeente te wees”, sê Carolina, wie se ouers immigrante is. “En dit is ook baie lekker om te help waar daar hulp nodig is.”

7. Wat kan jy doen as daar ’n taalprobleem by die huis is?

7 Sodra kinders van immigrante die plaaslike taal en gewoontes leer, wil of kan party van hulle nie meer hulle ouers se taal praat nie. Ouers, is dit die geval in julle huis? Kan julle miskien ’n paar woorde in die plaaslike taal leer? Dit sal jou baie help om jou kinders in die waarheid groot te maak en om hulle gesprekke, vermaak en skoolwerk te verstaan. Jy sal ook self met hulle onderwysers kan praat. Dit kos natuurlik tyd, inspanning en nederigheid om ’n ander taal te leer. Maar sê nou jou kind word doof. Sal jy nie probeer om gebaretaal te leer sodat jy met hom kan kommunikeer nie? As ’n kind ’n ander taal beter as jou eie praat, moet jy dan nie daardie taal ook leer nie? *

8. Hoe kan jy jou kinders help as jy die plaaslike taal nie goed kan praat nie?

8 Dit kan baie moeilik vir immigrante-ouers wees om hulle kinders se nuwe taal vlot te praat. Dit maak dit vir ouers moeilik om die diep dinge van die “heilige geskrifte” vir hulle kinders te leer (2 Tim. 3:15). Julle kan julle kinders nogtans help om Jehovah te leer ken en lief te hê. ’n Ouer man met die naam Shan vertel: “My ma kon ons taal nie goed praat nie en ek en my susters kon haar taal ook nie goed praat nie. Maar toe ons gesien het hoe sy studeer, bid en haar bes doen om ons gesinsaanbidding elke week te hou, het ons besef dat dit baie belangrik is om Jehovah te leer ken.”

9. Hoe kan ouers hulle kinders wat die Bybel in twee tale moet studeer, help?

9 Party kinders moet in twee tale van Jehovah leer—in hulle skooltaal en in hulle huistaal. Party ouers gebruik publikasies, oudio-opnames en video’s in albei tale om hulle hiermee te help. Immigrante-ouers moet baie hard werk om hulle kinders te help om Jehovah se vriend te word.

VERGADERINGE—IN WATTER TAAL?

10. (a) Wie moet besluit in watter taal die gesin die vergaderinge gaan bywoon? (b) Wat moet ’n gesinshoof doen voordat hy ’n besluit neem?

10 As daar nie ’n gemeente in die taal van die immigrante is nie, moet hulle na ’n gemeente gaan wat die plaaslike taal praat (Ps. 146:9). Maar as daar ’n gemeente is wat julle moedertaal gebruik, is die vraag natuurlik: Na watter een van die twee gemeentes moet julle gaan? Nadat die gesinshoof goed daaroor nagedink en gebid het en met sy vrou en kinders daaroor gepraat het, moet hy die besluit neem (1 Kor. 11:3). Wat sal die gesinshoof in gedagte hou? Watter beginsels moet hy in ag neem?

11, 12. (a) In watter taal leer ’n kind die beste by die vergaderinge? (b) Waarom wil party kinders nie hulle ouers se taal leer nie?

11 Ouers moet mooi nadink oor wat hulle kinders nodig het. Vir ’n kind om Bybelwaarhede goed te verstaan, het hy natuurlik baie meer nodig as om net na die vergaderinge toe te gaan. Maar dink hieraan: As kinders ’n vergadering bywoon in die taal wat hulle die beste verstaan, leer hulle baie makliker en dalk selfs meer as wat hulle ouers besef. Maar as kinders nie die taal verstaan nie, sal hulle nie so maklik kan leer nie. (Lees 1 Korintiërs 14:9, 11.) En ’n kind se moedertaal sal nie noodwendig altyd die taal wees wat sy denke en gevoelens gaan beïnvloed nie. Om die waarheid te sê, party kinders kan in hulle moedertaal kommentare gee, lektuur aanbied en toesprake hou sonder dat die woorde regtig uit hulle hart kom.

12 ’n Taal is nie die enigste ding wat ’n invloed op ’n kind se geloof het nie. Dit was die geval met Joshua wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Sy suster Esther het gesê: “Kinders word beïnvloed deur hulle ouers se taal, kultuur en godsdiens.” As kinders nie hulle ouers se kultuur verstaan nie, sal hulle miskien nie hulle ouers se taal wil leer of hulle geloof wil aanvaar nie. Wat kan immigrante-ouers doen?

13, 14. (a) Waarom het ’n immigrante-egpaar en hulle kinders na ’n gemeente gegaan wat die plaaslike taal praat? (b) Hoe het die ouers geestelik sterk gebly?

13 Christen-ouers stel hulle kinders se geestelike belange bo hulle eie (1 Kor. 10:24). Joshua en Esther se pa, Samuel, sê: “Ek en my vrou het gekyk om te sien watter taal die beste vir ons kinders was om geestelik vordering te maak, en ons het gebid vir wysheid. Die besluit wat ons geneem het, was nie wat vir ons gerieflik was nie. Maar toe ons gesien het dat hulle min by die vergaderinge in ons taal geleer het, het ons besluit om na ’n gemeente te gaan wat die plaaslike taal praat. Ons het gereeld die vergaderinge bygewoon en velddiens gedoen. Ons het ook die plaaslike broers genooi om by ons te kom eet en om saam met ons op uitstappies te gaan. Dit het die kinders gehelp om die broers beter te leer ken en Jehovah te leer ken, nie net as hulle God nie, maar ook as hulle Vader en Vriend. Dit was vir ons belangriker as om die kinders ons taal te leer.”

14 Samuel sê verder: “Ek en my vrou het ook die vergaderinge in ons taal bygewoon om geestelik sterk te bly. Ons lewe was baie besig en ons was moeg. Maar ons dank Jehovah dat hy ons werk en opofferings geseën het. Al drie ons kinders dien Jehovah in die voltydse diens.”

WAT JONGMENSE KAN DOEN

15. Waarom het Kristina gedink dat dit vir haar beter sou wees om na ’n gemeente te gaan wat die plaaslike taal praat?

15 Volwasse kinders besef dalk dat hulle Jehovah beter kan dien in ’n gemeente waar hulle die taal die beste verstaan. In dié geval moet ouers nie voel dat die kinders hulle verwerp nie. “Ek kon regkom in my ouers se taal, maar die taal wat hulle by die vergaderinge gebruik het, was vir my te moeilik”, vertel Kristina. “Toe ek 12 jaar oud was, het ek ’n byeenkoms in my skooltaal bygewoon. Vir die eerste keer het ek besef dat wat ek gehoor het, die waarheid is! Nog ’n keerpunt in my lewe was toe ek in my skooltaal begin bid het. Ek kon uit my hart met Jehovah praat!” (Hand. 2:11, 41). Toe sy 18 jaar oud was, het Kristina die saak met haar ouers bespreek en besluit om na ’n gemeente te gaan wat ’n plaaslike taal praat. Sy sê: “Toe ek in my skooltaal van Jehovah geleer het, het ek geestelike vordering begin maak.” Kort daarna het Kristina ’n gewone pionier geword en sy is dolgelukkig.

16. Waarom is Nadia bly dat sy in ’n anderstalige gemeente gebly het?

16 Jongmense, wil julle eerder in ’n gemeente wees wat ’n plaaslike taal praat? Indien wel, waarom? Sal dit jou help om nader aan Jehovah te kom? (Jak. 4:8). Of wil jy na ’n ander gemeente gaan omdat jy daar meer vryheid en ’n bietjie minder werk sal hê? Nadia, wat nou in Bethel is, sê: “Toe ons tieners was, wou ons na ’n gemeente gaan wat ’n plaaslike taal praat.” Maar haar ouers het geweet dat dit nie goed vir hulle geestelikheid sou wees nie. “Nou is ons bly dat ons ouers baie moeite gedoen het om ons hulle taal te leer en ons in die anderstalige gemeente te hou. Ons het meer geleenthede om ander te help om Jehovah te leer ken.”

HOE ONS KAN HELP

17. (a) Wie se verantwoordelikheid is dit om kinders groot te maak? (b) Waar kan ouers hulp kry om hulle kinders die waarheid te leer?

17 Jehovah het gesê dat ouers—nie oupa of ouma of enigiemand anders nie—die voorreg het om hulle kinders in die waarheid groot te maak. (Lees Spreuke 1:8; 31:10, 27, 28.) As ouers nie die plaaslike taal ken nie, sal hulle dalk hulp nodig hê om die kind se hart te bereik. As hulle vir sulke hulp vra, beteken dit nie dat hulle nie hulle verantwoordelikheid nakom nie. Dit kan hulle help om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4). Ouers kan byvoorbeeld die ouer manne in die gemeente vra vir voorstelle oor hoe om gesinsaanbidding te hou en wie goeie vriende vir hulle kinders sal wees.

Kinders en ouers vind baat by vriendskappe in die gemeente (Sien paragraaf 18, 19)

18, 19. (a) Hoe kan ander broers en susters jongmense help? (b) Wat moet ouers nog steeds doen?

18 Ouers kan byvoorbeeld af en toe ander gesinne nooi om saam met hulle gesinsaanbidding te hou. Jongmense leer ook baie by ander Christene wat geestelik sterk is, soos wanneer hulle saam velddiens doen of saam opbouende ontspanning geniet (Spr. 27:17). “Ek onthou nog die broers wat my gehelp het”, sê Shan, wat vroeër genoem is. “Ek het so baie by hulle geleer toe hulle my met my toesprake in die gemeente gehelp het. Ek het dit ook geniet om saam met hulle uit te gaan.”

19 As die ouers jou vra om hulle kinders te help, moet jy die kinders help om respek vir hulle ouers te hê. Jy moet positief van hulle ouers praat en nie probeer om die rol van die ouers oor te neem nie. Jy moet ook enigiets vermy wat dit vir mense binne of buite die gemeente kan laat lyk of jy met verkeerde dinge besig is (1 Pet. 2:12). Ouers moenie die geestelike opleiding van hulle kinders aan ander oorlaat nie. Hulle moet ’n oog hou oor die hulp wat die broers en susters gee en moet nog steeds hulle kinders self leer.

20. Hoe kan ouers hulle kinders help om getroue dienaars van Jehovah te word?

20 Ouers, bid dat Jehovah julle moet help en doen julle bes. (Lees 2 Kronieke 15:7.) Julle moet julle kind se vriendskap met Jehovah bo julle eie belange stel. Doen alles in julle vermoë om seker te maak dat God se Woord julle kind se hart bereik. Julle moet nooit dink dat julle kind nie ’n getroue aanbidder van Jehovah sal word nie. Wanneer julle kinders God se Woord en julle goeie voorbeeld volg, sal julle soos die apostel Johannes voel wat van sy geestelike kinders gesê het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 Joh. 4.

^ par. 7 Sien die artikel “Jy kán ’n ander taal aanleer!” in die Ontwaak! van Maart 2007, bl. 10-12.