Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe Gajus sy broers gehelp het

Hoe Gajus sy broers gehelp het

AAN die einde van die eerste eeu was daar mense wat met hulle leuens probeer het om die gemeente te verswak en te verdeel. Dit was vir Gajus en ander Christene ’n groot probleem (1 Joh. 2:18, 19; 2 Joh. 7). Diotrefes het die apostel Johannes en ander met “goddelose woorde” beskinder, hy het geweier om reisende Christene gasvry te ontvang en hy het ander probeer verhinder om dit ook te doen (3 Joh. 9, 10). Dit was op hierdie stadium dat Johannes aan Gajus geskryf het. Die apostel se brief, wat omtrent 98 HJ geskryf is, word “Die Derde Brief van Johannes” in die Christelike Griekse Geskrifte genoem.

Gajus het Jehovah getrou bly dien. Hoe het hy gewys dat hy getrou is? Waarom wil ons Gajus se voorbeeld navolg? Hoe kan Johannes se brief ons help om dit te doen?

’N BRIEF AAN ’N DIERBARE VRIEND

Die skrywer van Derde Johannes noem homself “die ouer man”. Met hierdie woorde het sy geliefde geestelike kind, Gajus, hom dadelik as die apostel Johannes herken. Johannes noem Gajus “die geliefde, wat ek waarlik liefhet”. Johannes het toe gesê dat hy hoop dat dit fisies met Gajus net so goed gaan as wat dit met hom geestelik gaan. Wat ’n mooi gedagte en ’n pragtige kompliment!—3 Joh. 1, 2, 4.

Hoewel die brief nie so sê nie, was Gajus moontlik ’n opsiener in die gemeente. Johannes het Gajus vir sy gasvryheid teenoor die broers bedank, al het hy hulle nie eers geken nie. Johannes het hierdie gasvryheid beskou as ’n teken van Gajus se getrouheid. God se knegte was nog altyd gasvry.—Gen. 18:1-8; 1 Tim. 3:2; 3 Joh. 5

Hierdie woorde oor Gajus se gasvryheid wys dat Christene Johannes gereeld besoek het. Die reisigers het moontlik vir Johannes van hulle ondervindinge vertel. Miskien is dit hoe Johannes nuus van ander gemeentes gehoor het.

Reisende Christene sal vir seker by medegelowiges wou bly. Herberge het slegte diens gehad en was onsedelike plekke. Reisigers het liewer by vriende gebly en Christene by hulle broers in die gemeente.

‘TER WILLE VAN SY NAAM HET HULLE UITGEGAAN’

Johannes het Gajus weer aangemoedig om gasvry te wees en gevra dat hy die reisigers help “op ’n wyse wat God waardig is”. Dit beteken dat hy die reisigers sal help om hulle reis te kan voortsit en hulle alles sal gee wat hulle nodig het om hulle bestemming te bereik. Johannes het geweet dat Gajus ander reisigers gehelp het, aangesien hulle vir Johannes van Gajus se liefde en geloof vertel het.—3 Joh. 3, 6.

Die reisigers was dalk sendelinge, reisende opsieners of broers wat deur Johannes gestuur was. Hulle het ter wille van die goeie nuus gereis. Johannes het gesê: “Dit was ter wille van sy naam dat hulle uitgegaan het” (3 Joh. 7). Johannes het in vers 6 na God verwys, daarom verwys die uitdrukking “ter wille van sy naam” waarskynlik na Jehovah se naam. Die broers was deel van die Christengemeente en moes vriendelik verwelkom word. Johannes het gesê: “Ons staan dus onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word.”—3 Joh. 8.

’N MOEILIKE SITUASIE

Johannes het nie net aan Gajus geskryf om hom te bedank nie. Johannes wou hom ook met ’n ernstige probleem help. Diotrefes, ’n lid van die Christengemeente, het om die een of ander rede geweier om gasvryheid aan reisende Christene te betoon. Hy wou ook nie hê dat die broers gasvryheid moes betoon nie.—3 Joh. 9, 10.

Al kon getroue Christene by Diotrefes bly, sou hulle nie. Hy was iemand wat die eerste plek in die gemeente wou hê, hy het niks van Johannes met respek ontvang nie en hy het die apostel en ander beskinder. Johannes het hom nooit ’n valse onderrigter genoem nie, maar Diotrefes het nie respek vir die apostel se gesag gehad nie. Sy lojaliteit word ook betwyfel omdat hy altyd die eerste wou wees en hy hom nie soos ’n Christen gedra het nie. Mense soos hy, wat ambisieus en verwaand is, kan ’n slegte invloed op die gemeente uitoefen. Johannes het vir Gajus, en ook vir ons almal, gesê: “Wees ’n navolger, nie van wat sleg is nie.”—3 Joh. 11.

’N GOEIE REDE OM GOED TE DOEN

’n Christen genaamd Demetrius was egter ’n goeie voorbeeld. Johannes het geskryf: “Van Demetrius het hulle almal . . . getuig. Trouens, ons getuig ook, en jy weet dat die getuienis wat ons gee, waar is” (3 Joh. 12). Miskien het Demetrius Gajus se hulp nodig gehad, en die apostel het met die skrywe van Derde Johannes Demetrius bekendgestel en aanbeveel. Demetrius het dalk persoonlik die brief aan Gajus gegee. As iemand wat deur Johannes gestuur is, of miskien as ’n reisende opsiener gedien het, het Demetrius Johannes se woorde moontlik beaam.

Waarom het Johannes Gajus aangemoedig om gasvry te wees as hy alreeds gasvry was? Wou Johannes hom help om moedig te wees? Was die apostel bekommerd dat Gajus bang was omdat Diotrefes probeer het om Christene wat gasvry was uit die gemeente te sit? Johannes het Gajus gerusgestel: “Hy wat die goeie doen, het sy oorsprong by God” (3 Joh. 11). Dit is ’n goeie rede om aan te hou om goed te doen.

Het Johannes se brief Gajus gehelp om aan te hou om gasvry te wees? Dit was seker die geval, want die boek Derde Johannes is vandag deel van die Bybel en word gebruik om ander aan te moedig om te doen wat goed is.

LESSE UIT DERDE JOHANNES

Dit is ongelukkig al wat ons van ons geliefde broer Gajus weet. Maar ons kan ’n paar lesse uit sy lewe leer.

Hoe kan ons ‘die weg van gasvryheid volg’?

Eerstens, die meeste van ons het die waarheid geleer by getroue broers en susters wat bereid was om na ons toe te kom. Nie almal in die gemeente hoef natuurlik vandag ver te ry om die goeie nuus te verkondig nie. Maar soos Gajus wil ons dié wat baie reis, soos die kringopsiener en sy vrou, aanmoedig en ondersteun. Of ons kan praktiese hulp aan broers en susters gee wat na ander plekke verhuis, of selfs oorsee gaan om te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Laat ons ‘die weg van gasvryheid volg’.—Rom. 12:13; 1 Tim. 5:9, 10.

Tweedens, ons moenie verbaas wees as iemand in die gemeente dalk nie die gesag van die broers respekteer nie. Daar was mense wat Johannes en die apostel Paulus se gesag probeer ondermyn het (2 Kor. 10:7-12; 12:11-13). Wat moet ons doen as dit dalk in ons gemeente gebeur? Paulus het vir Timoteus gesê: “Maar ’n slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou, wat dié wat nie gunstiggesind is nie, met sagmoedigheid onderrig.” As ons kalm bly wanneer mense ons omkrap, kan dit hulle help om nie meer so krities te wees nie. Jehovah kan “hulle miskien berou . . . gee wat tot juiste kennis van die waarheid lei”.—2 Tim. 2:24, 25.

Derdens, mede-Christene wat Jehovah ondanks teenstand getrou dien, moet hartlik hiervoor geprys word. Die apostel Johannes het Gajus aangemoedig en hom verseker dat dit wat hy doen reg is. Ouer manne moet vandag ook Johannes se voorbeeld volg en hulle broers en susters aanmoedig sodat hulle “nie moeg raak nie”.—Jes. 40:31; 1 Tess. 5:11.

Met net 219 woorde in die Griekse teks, is die brief van die apostel Johannes aan Gajus die kortste boek in die Bybel. Maar dit is vandag vir Christene van onskatbare waarde.