Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Soek na geestelike skatte

Soek na geestelike skatte

“Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—LUK. 12:34.

LIEDERE: 153, 104

1, 2. (a) Watter drie geestelike skatte het Jehovah vir ons gegee? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

JEHOVAH is die rykste Persoon in die heelal (1 Kron. 29:11, 12). Jehovah is ’n vrygewige Vader wat sy geestelike skatte aan almal gee wat dit waardeer. Wat is van hierdie skatte? Hulle is (1) God se Koninkryk, (2) ons bediening wat mense se lewens red en (3) die kosbare waarhede in sy Woord! As ons nie versigtig is nie kan ons ons waardering vir hierdie skatte verloor en dit begin weggooi. Ons moet bly nadink oor hoe kosbaar dit vir ons is en ons liefde daarvoor versterk. Jesus het gesê: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—Luk. 12:34.

2 Kom ons kyk hoe ons die Koninkryk, die bediening en die waarheid nog meer kan waardeer en lief kan hê. Peins oor hoe jy jou liefde vir geestelike skatte kan versterk.

GOD SE KONINKRYK IS SOOS ’N KOSBARE PÊREL

3. Wat was die handelaar in Jesus se illustrasie bereid om te doen om ’n kosbare pêrel te kry? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Lees Matteus 13:45, 46. Jesus het vertel van ’n handelaar wat pêrels gekoop en verkoop het. Eendag het hy ’n pragtige pêrel gevind wat meer werd was as enige ander pêrel wat hy nog gesien het. Hy wou dit so graag hê dat hy alles verkoop het om dit te kry. Kan jy jou voorstel hoe kosbaar daardie pêrel vir hom was?

4. Wat moet ons bereid wees om vir die Koninkryk te doen?

4 Wat is die les vir ons? Die waarheid omtrent God se Koninkryk is soos daardie kosbare pêrel. As ons so lief vir die Koninkryk is soos daardie handelaar vir die pêrel was, sal ons bereid wees om alles prys te gee om onderdane van die Koninkryk te word en te bly. (Lees Markus 10:28-30.) Kom ons kyk hoe twee persone dit gedoen het.

5. Wat was Saggeus bereid om vir die Koninkryk te doen?

5 Saggeus was ’n belastinggaarder wat op ’n oneerlike manier ryk geword het (Luk. 19:1-9). Maar toe hy hoor wat Jesus oor die Koninkryk sê, het hy besef hoe waardevol dit is en hy het dadelik iets daaromtrent gedoen. Hy het gesê: “Kyk! Die helfte van my besittings, Here, gee ek vir die armes, en wat ek ook al deur valse beskuldiging van iemand afgepers het, gee ek viervoudig terug.” Hy was bereid om al die geld wat hy op ’n oneerlike manier gemaak het terug te gee en om nie meer geldgierig te wees nie.

6. Hoe het een vrou haar lewe verander, en waarom het sy dit gedoen?

6 Toe een vrou ’n paar jaar gelede die Koninkryksboodskap gehoor het, was sy in ’n lesbiese verhouding. Sy was die voorsitter van ’n organisasie wat vir homoseksuele se regte veg. Maar toe sy die Bybel begin studeer het, het sy besef hoe kosbaar die waarheid oor die Koninkryk is en dat sy groot veranderinge in haar lewe moes maak (1 Kor. 6:9, 10). Omdat sy lief was vir Jehovah het sy as voorsitter van die organisasie bedank en haar lesbiese verhouding beëindig. Sy is in 2009 gedoop en het die jaar daarna begin pionier. Sy het hierdie veranderinge gemaak omdat haar liefde vir Jehovah en sy Koninkryk sterker was as haar vleeslike begeertes.—Mark. 12:29, 30.

7. Hoe kan ons ons liefde vir die Koninkryk sterk hou?

7 Baie van ons het groot veranderinge in ons lewe gemaak om onderdane van God se Koninkryk te word (Rom. 12:2). Maar dit is maar net die begin. Ons moenie toelaat dat enigiets ons liefde vir die Koninkryk verminder nie, nie eers die liefde vir materiële dinge en onsedelike seksuele begeertes nie (Spr. 4:23; Matt. 5:27-29). Jehovah het ons nog ’n kosbare skat gegee om ons liefde vir die Koninkryk sterk te hou.

ONS BEDIENING RED LEWENS

8. (a) Waarom het die apostel Paulus ons bediening ’n “skat in erdehouers” genoem? (b) Hoe het Paulus gewys dat sy bediening vir hom kosbaar was?

8 Jesus het vir ons gesê om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matt. 28:19, 20). Die apostel Paulus het besef hoe kosbaar die bediening is. Hy het die bediening van die nuwe verbond as ’n “skat in erdehouers” beskryf (2 Kor. 4:7; 1 Tim. 1:12). Omdat ons onvolmaak is, is ons soos kleipotte. Maar die boodskap wat ons verkondig is soos ’n kosbare skat omdat dit die ewige lewe vir ons en dié wat na ons luister, kan beteken. Dit is waarom Paulus gesê het: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Kor. 9:23). Paulus was lief vir die bediening, en daarom het hy hard gewerk om dissipels te maak. (Lees Romeine 1:14, 15; 2 Timoteus 4:2.) Dit het hom gehelp om vervolging te verduur (1 Tess. 2:2). Hoe kan ons ook sulke liefde vir die bediening hê?

9. Hoe kan ons wys dat ons lief is vir die bediening?

9 Paulus het by elke geleentheid met mense oor die goeie nuus gepraat. Dit is hoe hy gewys het dat hy lief is vir die bediening. Ons volg die voorbeeld van die apostels en die vroeë Christene deur informeel, in die openbaar en van huis tot huis te preek (Hand. 5:42; 20:20). Ons soek na maniere om meer in die bediening te doen. Ons kan dalk ’n hulppionier of ’n gewone pionier wees. Ons leer miskien ’n ander taal of ons gaan dien waar daar meer verkondigers nodig is.—Hand. 16:9, 10.

10. Hoe is Irene geseën omdat sy hard in die bediening gewerk het?

10 Kom ons kyk na die voorbeeld van Irene, ’n ongetroude suster in die Verenigde State. Sy wou graag vir mense preek wat Russies praat. In 1993 het sy ’n Russiese taalgroep in die stad New York gaan help wat slegs 20 verkondigers gehad het. Irene het na 20 jaar gesê: “My Russies is nog steeds nie vlot nie.” Maar Jehovah het haar en ander verkondigers gehelp om vir mense in Russies te preek. Vandag is daar ses Russiese gemeentes in die stad New York. Irene het die Bybel met baie mense gestudeer en 15 van hulle is gedoop. Party dien as Betheliete, pioniers en ouer manne. Irene sê: “Ek kon baie ander dinge met my lewe gedoen het, maar ek kan nie dink dat enigiets my so gelukkig sou gemaak het nie.” Irene se bediening is vir haar baie kosbaar!

Is jou bediening vir jou kosbaar en neem jy elke week daaraan deel? (Sien paragraaf 11, 12)

11. Waarom moet ons aanhou preek, al word ons vervolg?

11 As ons bediening vir ons kosbaar is, sal ons soos die apostel Paulus wees en aanhou preek al word ons vervolg (Hand. 14:19-22). Gedurende die 1930’s en vroeë 1940’s is ons broers in die Verenigde State baie vervolg. Maar hulle het soos Paulus aangehou om te preek. Ons broers het baie hofsake gewen wat hulle die reg gegee het om te preek. In 1943 het Broer Nathan H. Knorr na ’n hofsaak verwys wat ons in die Amerikaanse Hooggeregshof gewen het. Hy het gesê dat daar geen hofsake sou gewees het as die broers nie aangehou het om te preek nie. Hy het ook gesê dat baie broers regoor die wêreld nou die vryheid het om te kan preek omdat hierdie sake voor die hof gebring is. Broers in ander lande het ook soortgelyke sake gewen. As ons lief is vir die bediening sal vervolging ons nie keer om die predikingswerk te doen nie.

12. Wat is jy vasbeslote om te doen?

12 As ons bediening vir ons ’n kosbare skat van Jehovah is, is ons nie net besorg oor die aantal ure wat ons velddiens doen nie. Ons wil ons bes doen “om deeglik van die goeie nuus . . . te getuig” (Hand. 20:24; 2 Tim. 4:5). Maar wat sal ons ander leer? Kom ons kyk na nog ’n skat van God.

KOSBARE WAARHEDE

13, 14. Na watter “skatkamer” verwys Jesus in Matteus 13:52, en hoe maak ons dit vol?

13 ’n Derde geestelike skat is al die waarhede wat ons by Jehovah geleer het. Jehovah is die God van waarheid (2 Sam. 7:28; Ps. 31:5). Jehovah is ’n vrygewige Vader en hy gee goddelike waarhede aan almal wat hom vrees. Ons leer hierdie waarhede deur die Bybel en ons publikasies te lees en ons byeenkomste en weeklikse vergaderinge by te woon. Ons het nou al ’n “skatkamer” vol “nuwe en ou dinge” wat ons geleer het. (Lees Matteus 13:52.) As ons na sulke waarhede soek soos na verborge skatte, sal Jehovah ons help om ons “skatkamer” met nuwe waarhede vol te maak. (Lees Spreuke 2:4-7.) Hoe doen ons dit?

14 Ons moet gereeld die Bybel en ons publikasies studeer en deeglike navorsing doen. Dit sal ons help om “nuwe” waarhede te ontdek (Jos. 1:8, 9; Ps. 1:2, 3). Hierdie tydskrif se eerste nommer, wat in Julie 1879 gedruk is, het gesê: “Waarheid is, soos ’n beskeie blommetjie in die wildernis van die lewe, omring en amper verstik deur die welige onkruid van valsheid. As jy dit wil vind, moet jy altyd op die uitkyk wees. . . . As jy dit wil hê, moet jy afbuk om dit te kry. Moenie met een blommetjie van waarheid tevrede wees nie. . . . Hou aan om bymekaar te maak, soek meer.” Ons moet ywerig hierdie waarhede in ons eie skatkamer bymekaarmaak.

15. Waarom is party waarhede “ou dinge”, en watter is jou gunsteling?

15 Toe ons die Bybel begin studeer het, het ons kosbare waarhede geleer. Hierdie waarhede kan “ou dinge” genoem word omdat ons hulle heel eerste geleer het. Wat is party van hierdie kosbare waarhede? Ons het geleer dat Jehovah die Skepper en Lewegewer is en dat hy wel ’n voorneme vir die mens het. Ons het ook geleer dat God liefdevol sy Seun as ’n losprys voorsien het om ons van sonde en die dood te bevry. En ons het geleer dat sy Koninkryk al ons probleme gaan oplos en dat ons vir ewig in vrede en geluk op die aarde kan lewe.—Joh. 3:16; Op. 4:11; 21:3, 4.

16. Wat moet ons doen wanneer ons begrip van waarhede verander?

16 Van tyd tot tyd word ons begrip van ’n Bybelprofesie of ’n teks dalk verander. Wanneer dit gebeur, moet ons dit bestudeer en daaroor nadink (Hand. 17:11; 1 Tim. 4:15). Ons wil nie net weet wat die nuwe begrip is nie, maar ons wil ook verstaan wat die verskil tussen die ou en nuwe begrip is. So sal ons hierdie nuwe waarheid veilig in ons skatkamer bêre. Hoekom is dit die moeite werd?

17, 18. Hoe kan die heilige gees ons help?

17 Jesus het gesê dat die heilige gees ons kan help om dinge te onthou wat ons geleer het (Joh. 14:25, 26). Hoe kan dit ons help wanneer ons die goeie nuus verkondig? Kom ons kyk na die ondervinding van ’n broer met die naam Peter. In 1970 was hy 19 en hy het kort te vore by die Bethel in Brittanje begin dien. Terwyl hy velddiens gedoen het, het hy ’n middeljarige man met ’n baard ontmoet. Peter het hom gevra of hy die Bybel wil verstaan. Ietwat uit die veld geslaan, het die man gesê dat dit ’n huis is waar Joodse rabbi’s bly. Om Peter te toets, het die rabbi gevra: “Jongman, in watter taal was die boek Daniël geskryf?” “’n Deel daarvan was in Aramees geskryf”, het Peter gesê. “Die rabbi was verbaas dat ek dit geweet het. Maar ek was nog meer verbaas! Hoe het ek dit geweet? Ek het in Die Wagtoring en die Ontwaak! van die vorige paar maande gaan soek en ’n artikel gekry wat gesê het dat die boek Daniël gedeeltelik in Aramees geskryf was” (Dan. 2:4, vtn. in NW). Die heilige gees kan ons help om dinge te onthou wat ons voorheen gelees het en wat ons in ons skatkis gesit het.—Luk. 12:11, 12; 21:13-15.

18 As die waarhede wat Jehovah ons geleer het vir ons kosbaar is, sal ons aanhou om ons skatkis met nuwe en ou waarhede vol te maak. As ons dit doen, sal dit ons help wanneer ons velddiens doen.

PAS JOU SKATTE OP

19. Waarom moet ons ons geestelike skatte goed oppas?

19 In hierdie artikel het ons gesien hoe kosbaar geestelike skatte is. Satan en sy wêreld wil hê dat ons ons waardering vir geestelike skatte moet verloor. Ons kan maklik mislei word deur beloftes van groot geld, drome van ’n lekker lewe of die begeerte om te spog met wat ons besit. Die apostel Johannes het gewaarsku dat hierdie wêreld en sy begeerte verbygaan (1 Joh. 2:15-17). Daarom moet ons hierdie kosbare geestelike skatte goed oppas.

20. Wat gaan jy doen om jou geestelike skatte op te pas?

20 Jy moet bereid wees om enigiets prys te gee wat jou liefde vir God se Koninkryk kan verswak. Hou aan om die goeie nuus ywerig te verkondig en moet nooit jou liefde vir die bediening verloor nie. Hou aan om na geestelike skatte te soek. As jy dit doen, sal jy ’n “skat in die hemele [hê], waar geen dief naby kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—Luk. 12:33, 34.