Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy geskille oplos en vrede maak?

Sal jy geskille oplos en vrede maak?

JEHOVAH GOD wil hê dat sy aanbidders vrede moet geniet en vrede met mekaar moet nastreef. Wanneer hulle dit doen, is daar vrede in die Christengemeente. Dit maak die Christengemeente ’n plek waarheen mense wil gaan.

’n Bekende toordokter in Madagaskar het die eenheid onder Jehovah se Getuies gesien. Hy het gedink: ‘As ek ooit aan ’n godsdiens sou behoort, sal dit hierdie een wees.’ Later het hy opgehou om demone te aanbid, veranderinge in sy huwelik gemaak en Jehovah, die God van vrede, begin aanbid.

Elke jaar word duisende mense deel van die Christengemeente en vind hulle daar die vrede waarna hulle soek. Maar die Bybel sê dat “bittere jaloesie en twisgierigheid” in die gemeente vriendskappe kan beëindig en probleme kan veroorsaak (Jak. 3:14-16). Die Bybel gee goeie raad oor hoe ons sulke probleme kan vermy en vrede kan maak. Kom ons kyk hoe hierdie raad ander al gehelp het.

PROBLEME EN OPLOSSINGS

“Ek het gesukkel om met ’n broer saam met wie ek gewerk het oor die weg te kom. Eendag het ons op mekaar geskree en twee mense het ingestap en die hele storie gesien.”—CHRIS.

“’n Suster saam met wie ek gereeld in die bediening gewerk het, het ewe skielik opgehou om saam met my te werk. Sy het ook nie meer met my gepraat nie. Ek het nie geweet hoekom nie.”—JANET.

“Ek het met twee mense oor die telefoon gepraat. Een van hulle het totsiens gesê en ek het gedink dat hy neergesit het. Toe het ek met die ander persoon wat nog op die lyn was oor hom sleg gepraat, maar hy het alles gehoor wat ek gesê het.”—MICHAEL.

“Twee pioniers in ons gemeente het met mekaar begin stry. Die een het op die ander geskree. Hulle stryery het almal ontstel.”—GARY.

Hierdie dinge lyk dalk nie of dit baie ernstig is nie. Maar dit kan vir almal blywende emosionele en geestelike skade veroorsaak. Gelukkig het hierdie broers en susters die Bybel gebruik om vrede te maak. Watter Bybelbeginsels het hulle toegepas?

“Moenie op mekaar vertoornd word op die pad nie” (Gen. 45:24). Josef het hierdie raad aan sy broers gegee voordat hulle na hulle vader teruggekeer het. Dit was beslis wyse woorde! Wanneer ’n persoon nie sy gevoelens beheers nie en gou ontsteld word, kan hy ander kwaad maak. Chris het besef dat hy trots is en dat hy sukkel om raad te aanvaar. Hy wou verbeter en het vir die broer met wie hy gestry het om verskoning gevra en toe hard gewerk om sy humeur in toom te hou. Chris se werksmaat het ook probeer om te verbeter toe hy sien dat Chris aan sy probleem werk. Nou geniet hulle dit om Jehovah saam te dien.

“Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie” (Spr. 15:22). Toe Janet se vriendin nie meer met haar wou praat nie, het sy besluit om hierdie teks toe te pas. Sy het besluit om met die suster te praat. Janet het die suster gevra of sy iets gedoen het wat haar ontstel het. Die gesprek was aan die begin ’n bietjie ongemaklik, maar hulle het kalm gebly en die saak uitgepraat. Die suster het besef dat dit ’n misverstand was en dat Janet niks teenoor haar verkeerd gedoen het nie. Sy het om verskoning gevra en hulle dien Jehovah weer saam.

“As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer” (Matt. 5:23, 24). Dit is die raad wat Jesus in sy Bergpredikasie gegee het. Michael het aaklig gevoel nadat hy slegte dinge van die broer gesê het. Hy het besluit dat hy alles sal doen wat nodig is om vrede met die broer te maak. Hy het die broer wat hy seergemaak het, gaan sien en om verskoning gevra. Wat het gebeur? Michael sê: “My broer het my vergewe.” Nou is hulle weer vriende.

“Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kol. 3:12-14). Onthou jy die twee pioniers wat in velddiens met mekaar gestry het? ’n Ouer man het hulle liefdevol gehelp deur die volgende vrae te vra: ‘Is dit reg om ander met ons stryery hartseer te maak? Kan ons Jehovah in vrede dien as ons mekaar nie kan verdra nie?’ Hulle het die ouer man se raad aanvaar en dit toegepas. Hulle kom nou goed oor die weg en verkondig die goeie nuus saam.

Wanneer iemand ons seermaak, kan ons die raad in Kolossense 3:12-14 toepas. As ons nederig is, kan ons ander vergewe en daarvan vergeet. Wanneer ons sien dat ons meer sal moet doen, kan ons die raad in Matteus 18:15 toepas. Jesus gee hier raad oor wat om te doen as iemand ’n ernstige sonde teen iemand anders begaan het. Maar ons kan dit ook toepas wanneer dit nie so ernstig is nie. Gaan na jou broer of suster toe en bespreek die saak nederig en vriendelik.

Die Bybel gee vir ons nog praktiese raad. Hierdie raad is gebaseer op “die vrugte van die gees”, naamlik “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22, 23). Hierdie eienskappe is soos olie wat ’n masjien glad laat loop en kan ons help om vrede te maak.

VERSKEIDENHEID IN DIE GEMEENTE

Ons almal het ons eie persoonlikheid. Ons het verskillende karaktertrekke en ons sê en doen dinge op ons eie manier. Dit maak ons vriendskappe interessant. Maar dit kan ook probleme veroorsaak. ’n Ouer man met baie ervaring noem ’n voorbeeld: “Dit is vir ’n skaam persoon moeilik om in die geselskap van iemand te wees wat luidrugtig is. Miskien lyk dit soos niks nie, maar dit kan groot probleme veroorsaak.” Dink jy dat mense met verskillende persoonlikhede glad nie met mekaar oor die weg kan kom nie? Kom ons kyk na twee apostels. Watter soort persoon was Petrus? Jy dink dalk net aan hom as iemand wat gepraat het voordat hy gedink het. En wat van Johannes? Ons dink aan hom as ’n liefdevolle persoon wat gewoonlik sy woorde getel het. Hulle het verskillende persoonlikhede gehad, maar hulle het nogtans goed saam gewerk (Hand. 8:14; Gal. 2:9). Christene met verskillende geaardhede kan vandag ook saam werk.

Daar is miskien iemand in die gemeente wat jou baie irriteer. Maar jy besef dat Christus vir daardie persoon gesterf het en dat jy vir hom lief moet wees (Joh. 13:34, 35; Rom. 5:6-8). Dit sal nie reg wees om te sê dat jy nie sy vriend wil wees of dat jy hom gaan vermy nie. Vra jou af: ‘Doen my broer iets wat volgens die Bybel verkeerd is? Probeer hy my opsetlik seermaak? Of verskil ons persoonlikhede maar net? Kan ek dalk iets by hom leer?’

Die laaste vraag is baie belangrik. As jy ’n stil persoon is en hy praat baie, dink net hoe maklik kan hy gesprekke met ander mense begin. Werk saam met hom in velddiens en kyk wat jy by hom kan leer. Is hy vrygewiger as jy? Het jy gesien hoe bly dit hom maak wanneer hy iets vir bejaardes, siekes of behoeftiges doen? Al het julle verskillende persoonlikhede kan julle tog by mekaar iets leer. Miskien sal julle nooit beste vriende word nie, maar julle sal mekaar dalk beter verstaan. Dit sal vrede vir julle en die gemeente beteken.

Euodia en Sintige se persoonlikhede het hemelsbreed van mekaar verskil. Die apostel Paulus het hulle aangemoedig “om eendersdenkend te wees in die Here” (Fil. 4:2). Ons wil Jehovah saam met ons broers en susters in vrede aanbid.

DOEN IETS OMTRENT DIE PROBLEEM

Kwade gevoelens is soos onkruid in ’n pragtige tuin. As jy dit nie wortel en tak uitroei nie, sal dit net al hoe erger word. As kwade gevoelens eers begin posvat, kan die hele gemeente daaronder ly. As ons vir Jehovah en ons broers lief is, sal ons nooit toelaat dat persoonlike geskille die vrede in die gemeente versteur nie.

As jy nederig probeer om vrede te maak, sal jy dalk aangenaam verras word

As ons probeer om vrede te maak, sal ons dalk aangenaam verras word. Kom ons kyk na die voorbeeld van ’n suster. Sy sê: “Dit het vir my gevoel of ’n suster my net soos ’n kind behandel. Sy het my so geïrriteer. Ek het haar later baie kortaf behandel. Ek het gedink: ‘Ek gaan haar nie met respek behandel nie, want sy behandel my nie met respek nie.’”

Toe het hierdie suster oor haar eie gedrag begin nadink. “Ek het my eie foute begin raaksien en ek was diep teleurgesteld. Ek moes iets doen. Nadat ek gebid het, het ek ’n klein geskenkie en ’n kaartjie vir die suster gekoop en vir haar gesê hoe jammer ek is oor my slegte gedrag. Ons het mekaar ’n drukkie gegee en van die saak vergeet. Dit was die einde van die storie.”

Mense smag na vrede. Maar as mense trots is of voel dat hulle bedreig word, is hulle nie meer so vredeliewend nie. Dit is algemeen in die wêreld. Maar Jehovah se Getuies moet vrede en eenheid nastreef. Jehovah het Paulus geïnspireer om te skryf: “Ek . . . versoek julle dan dringend om te wandel op ’n wyse wat die roeping waarmee julle geroep is, waardig is, met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:1-3). Hierdie “verenigende band van vrede” is kosbaar. Kom ons maak hierdie band sterker deur enige geskille met mekaar op te los.