Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy bereid om geduldig te wag?

Is jy bereid om geduldig te wag?

“Julle moet ook geduld beoefen.”—JAK. 5:8.

LIEDERE: 78, 139

1, 2. (a) Waarom wil ons partykeer vra: “Hoe lank”? (b) Hoe kan die voorbeelde van getroue knegte uit die verlede ons aanmoedig?

“HOE lank?” Dit is die vraag wat die getroue profete Jesaja en Habakuk gevra het (Jes. 6:11; Hab. 1:2). Koning Dawid het vier keer in Psalm 13 gevra: “Hoe lank?” (Ps. 13:1, 2). Jesus Christus het ook hierdie vraag gevra toe hy met mense gepraat het wat nie geloof gehad het nie (Matt. 17:17). Dit moet ons nie verbaas as ons ook partykeer dieselfde vraag vra nie.

2 Wat kan veroorsaak dat ons vra: “Hoe lank”? Miskien word ons onregverdig behandel. Of dalk is ons siek, word ons oud of voel ons die druk van die “kritieke tye” wat so “moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Of die verkeerde gesindhede van ander mense kan ons mismoedig maak. Dit is egter aanmoedigend om te weet dat Jehovah nooit sy getroue knegte veroordeel het omdat hulle hierdie vraag gevra het nie!

3. Wat kan ons help as ons probleme het?

3 Maar wat kan ons help as ons probleme het? Jesus se halfbroer Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Beoefen dan geduld, broers, tot die teenwoordigheid van die Here” (Jak. 5:7). Ja, ons moet almal geduldig wees. Maar wat is geduld, en hoe kan ons hierdie pragtige eienskap aan die dag lê?

WAT IS GEDULD?

4, 5. (a) Wat beteken dit om geduldig te wees? (b) Hoe verduidelik Jakobus geduld? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Volgens die Bybel is lankmoedigheid, of geduld, ’n eienskap wat deur die heilige gees voortgebring word. Sonder God se hulp is dit baie moeilik vir onvolmaakte mense om geduldig te wees. Geduld is ’n gawe van God en as ons geduldig is, wys ons dat ons Jehovah en ander mense liefhet. As ons altyd ongeduldig is, verswak dit die liefde tussen Christene, maar geduld versterk dit (1 Kor. 13:4; Gal. 5:22). Wat beteken dit om geduldig te wees? Dit beteken onder andere dat ons tydens moeilike omstandighede met ’n positiewe gesindheid sal volhard (Kol. 1:11; Jak. 1:3, 4). Geduld help ons ook om getrou aan Jehovah te bly, kom wat wil. Dit sal ons help om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Die Bybel sê ook dat ons bereid moet wees om te wag. Dit word beklemtoon in Jakobus 5:7, 8. (Lees.)

5 Waarom moet ons bereid wees om te wag dat Jehovah optree? Jakobus vergelyk ons situasie met dié van ’n boer. Al werk ’n boer baie hard, het hy geen beheer oor die weer of hoe vinnig die plante groei nie. Hy kan ook nie die oes gouer laat kom nie. Hy aanvaar dat hy geduldig vir die “kosbare vrug van die aarde” moet wag. Daar is ook baie dinge wat buite ons beheer is terwyl ons wag dat Jehovah se beloftes vervul word (Mark. 13:32, 33; Hand. 1:7). Ons moet net soos daardie boer geduldig wees.

6. Wat kan ons uit die voorbeeld van die profeet Miga leer?

6 Die wêreld waarin die profeet Miga gelewe het, is baie soos die wêreld van vandag. Hy het gelewe toe die goddelose koning Agas regeer het. In daardie tyd was daar baie korrupsie. (Lees Miga 7:1-3.) Miga het besef dat hy niks omtrent hierdie situasie kon doen nie. Maar wat kon hy wel doen? Hy sê vir ons: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding [“geduldig wag”, vtn. NW] teenoor die God van my redding inneem. My God sal my hoor” (Miga 7:7). Ons moet net soos Miga “’n wagtende houding” hê.

7. Waarom moet ons meer doen as om net op Jehovah te wag om sy beloftes te vervul?

7 As ons die soort geloof het wat Miga gehad het, sal ons bereid wees om op Jehovah te wag. Ons situasie is nie soos dié van ’n gevangene wat wag om tereggestel te word nie. Hy moet wag, maar hy sien nie uit na daardie dag nie. Ons situasie is heeltemal anders! Ons is bereid om op Jehovah te wag, want ons weet dat hy sy beloftes op presies die regte tyd, die beste tyd, sal vervul! Ons sal “ten volle . . . volhard en lankmoedig . . . wees met vreugde” (Kol. 1:11, 12). Terwyl ons wag, sal Jehovah glad nie daarvan hou as ons kerm en kla en sê dat hy nie gou genoeg optree nie.—Kol. 3:12.

GETROUE VOORBEELDE VAN GEDULD

8. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons nadink oor die voorbeelde van getroue manne en vroue in die Bybel?

8 Ons sal meer bereid wees om te wag as ons dink aan die getroue manne en vroue in die Bybel wat geduldig gewag het op die vervulling van Jehovah se beloftes (Rom. 15:4). As ons nadink oor hulle voorbeeld, moet ons in gedagte hou hoe lank hulle moes wag, waarom hulle bereid was om te wag en hoe hulle vir hulle geduld geseën is.

Abraham moes jare lank wag voordat sy kleinseuns Esau en Jakob gebore is (Sien paragraaf 9, 10)

9, 10. Hoe lank moes Abraham en Sara op Jehovah wag?

9 Dink aan die voorbeeld van Abraham en Sara. Hulle word getel onder “dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” het. Die Bybel sê dat ‘nadat Abraham geduld aan die dag gelê het’, Jehovah belowe het dat hy hom sou seën en sy nageslag sou vermeerder (Heb. 6:12, 15). Waarom moes Abraham geduldig wees? Want die belofte sou nie gou vervul word nie. Die verbond wat Jehovah met Abraham gemaak het, het op 14 Nisan 1943 VHJ in werking getree. Dit was toe Abraham en Sara en hulle hele huis die Eufraatrivier oorgesteek het en in die Beloofde Land aangekom het. Abraham moes toe 25 jaar lank wag voordat sy seun Isak in 1918 VHJ gebore is, en nog 60 jaar voordat sy kleinseuns Esau en Jakob in 1858 VHJ gebore is.—Heb. 11:9.

10 Hoe groot was die land wat Abraham beërf het? Die Bybel sê: “En tog het hy [Jehovah] hom [Abraham] geen erfbesitting daarin gegee nie, nee, nie ’n voetbreedte nie; maar hy het beloof om dit as ’n besitting aan hom te gee, en ná hom aan sy saad, hoewel hy nog geen kind gehad het nie” (Hand. 7:5). Eers 430 jaar nadat Abraham die Eufraat oorgesteek het, het sy nakomelinge ’n nasie geword wat die land bewoon het.—Eks. 12:40-42; Gal. 3:17.

11. Waarom was Abraham bereid om op Jehovah te wag, en hoe is hy vir sy geduld geseën?

11 Abraham was bereid om te wag omdat hy geweet het dat Jehovah sy beloftes sou vervul. (Lees Hebreërs 11:8-12.) Abraham het nie omgegee om te wag nie, al het hy nie die vervulling van al God se beloftes gesien nie. Maar dink net hoe bly Abraham sal wees wanneer hy in die Paradys opgewek word. Hy sal verbaas wees om te weet hoe baie die Bybel oor hom en sy nakomelinge vertel het. * Stel jou net voor hoe opgewonde hy sal wees as hy vir die eerste keer sy rol in Jehovah se voorneme in verband met die Messias verstaan! Hy sal ongetwyfeld voel dat die lang wag die moeite werd was.

12, 13. Waarom moes Josef geduldig wees, en watter goeie gesindheid het hy gehad?

12 Abraham se agterkleinseun Josef was ook bereid om geduldig te wees. Hy was baie onregverdig behandel. Sy broers het hom as ’n slaaf verkoop toe hy omtrent 17 jaar oud was. Toe is hy daarvan beskuldig dat hy sy heer se vrou probeer verkrag het en is hy in die tronk gegooi (Gen. 39:11-20; Ps. 105:17, 18). In plaas daarvan dat Josef geseën is, lyk dit of hy eerder gestraf is omdat hy aan God getrou was. Maar 13 jaar later het alles verander. Hy is uit die tronk vrygelaat en het die onderheerser van Egipte geword.—Gen. 41:14, 37-43; Hand. 7:9, 10.

13 Het hierdie onregverdige behandeling Josef verbitterd gemaak? Het hy sy vertroue in sy God, Jehovah, verloor? Nee. Wat het Josef gehelp om geduldig te wag? Dit was sy geloof in Jehovah. Hy het geweet dat Jehovah in beheer is. Ons kan dit sien in sy woorde aan sy broers: “Moenie bang wees nie, want is ek in die plek van God? Wat julle betref, julle het kwaad teen my in gedagte gehad. God het dit ten goede in gedagte gehad met die doel om soos vandag op te tree om baie mense in die lewe te hou” (Gen. 50:19, 20). Josef het geweet dat dit die moeite werd is om op Jehovah se seëninge te wag.

14, 15. (a) Waarom is Dawid se geduld so merkwaardig? (b) Wat het Dawid gehelp om geduldig te wag?

14 Koning Dawid is ook baie onregverdig behandel. Jehovah het Dawid gesalf om die koning van Israel te wees toe hy nog jonk was, maar Dawid moes 15 jaar lank wag voordat hy die koning van sy eie stam geword het (2 Sam. 2:3, 4). Gedurende hierdie tyd moes hy vlug vir koning Saul, wat hom wou doodmaak. * Dawid moes soos ’n vlugteling lewe en het in ’n vreemde land en in grotte in die wildernis gebly. Selfs toe Saul in ’n geveg dood is, moes Dawid nog sewe jaar wag voordat hy oor die hele Israel kon regeer.—2 Sam. 5:4, 5.

15 Waarom was Dawid bereid om geduldig te wag? Hy gee die antwoord in dieselfde psalm waarin hy vier keer vra: “Hoe lank?” Hy sê: “Wat my betref, op u liefderyke goedhartigheid het ek vertrou; laat my hart bly wees in u redding. Ek wil sing tot Jehovah, want hy het aan my goed gedoen” (Ps. 13:5, 6). Dawid het geweet dat Jehovah hom liefhet en dat Jehovah lojaal aan hom sal wees. Hy het nagedink oor hoe Jehovah hom in die verlede gehelp het, en het met vreugde na sy verlossing uitgesien. Dawid het geweet dat dit die moeite werd is om op Jehovah se seëninge te wag.

Jehovah verwag nie dat ons iets moet doen wat hy nie self bereid is om te doen nie

16, 17. Hoe het Jehovah God en Jesus Christus getoon dat hulle bereid is om te wag?

16 Jehovah verwag nie dat ons iets moet doen wat hy nie self bereid is om te doen nie. Hy is die beste voorbeeld van iemand wat bereid is om te wag. (Lees 2 Petrus 3:9.) Byvoorbeeld, Satan het Jehovah duisende jare gelede daarvan beskuldig dat hy onregverdig is. Jehovah wag geduldig dat sy naam ten volle geheilig word. Dit sal wonderlike seëninge beteken vir almal wat “in afwagting van hom bly”.—Jes. 30:18.

17 Jesus is ook bereid om te wag. Hy was hier op die aarde getrou tot die dood en het die waarde van sy losprysoffer in 33 HJ vir Jehovah in die hemel aangebied. Maar hy moes tot 1914 wag voordat hy kon begin regeer (Hand. 2:33-35; Heb. 10:12, 13). En al Jesus se vyande sal eers aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy heeltemal vernietig word (1 Kor. 15:25). Dit is ’n baie lang tyd om te wag. Maar dit sal ongetwyfeld die moeite werd wees.

WAT SAL ONS HELP?

18, 19. Wat sal ons help om bereid te wees om geduldig te wag?

18 Ons moet almal geduldig wees en bereid wees om te wag. Wat sal ons help om geduldig te wees? Bid vir God se gees om jou te help. Onthou dat geduld ’n aspek van die vrug van God se gees is (Ef. 3:16; 6:18; 1 Tess. 5:17-19). Smeek Jehovah om jou te help om geduldig te volhard.

19 Hou ook in gedagte wat Abraham, Josef en Dawid gehelp het om geduldig te wag op die vervulling van Jehovah se beloftes. Dit was hulle geloof en vertroue in Jehovah wat hulle gehelp het. Hulle het nie net aan hulleself gedink nie. As ons nadink oor hoe goed dinge vir hulle uitgewerk het, sal dit ons ook aanmoedig om ’n wagtende houding te hê.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Al moet ons toetse en beproewinge verduur, moet ons vasbeslote wees om ’n ‘wagtende houding in te neem’. Soms sal ons ook vra: “Hoe lank, o Jehovah?” Met die hulp van God se heilige gees kan ons ook soos Jeremia sê: “Jehovah is my deel . . . daarom sal ek ’n wagtende houding teenoor hom inneem.”—Klaagl. 3:21, 24.

^ par. 11 Ongeveer 15 hoofstukke van die boek Genesis handel oor die verslag van Abraham. Die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte verwys meer as 70 keer na Abraham.

^ par. 14 Jehovah het Saul verwerp nadat hy slegs twee jaar lank as koning geheers het. Hy is toegelaat om tot sy dood, 38 jaar later, te heers.—1 Sam. 13:1; Hand. 13:21.