Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’

‘Die vrede van God gaan alle denke te bowe’

“Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte . . . bewaak.”—FIL. 4:7.

LIEDERE: 76, 141

1, 2. Waarom is Paulus en Silas in die tronk gegooi? (Sien prent aan begin van artikel.)

DIT was amper middernag. Twee sendelinge, Paulus en Silas, was in die tronk—die diepste, donkerste deel van die tronk—in die stad Filippi. Hulle voete was in die blok vasgemaak en hulle was in baie pyn omdat hulle erg geslaan is (Hand. 16:23, 24). Waarom was hulle in die tronk? Vroeër daardie dag het ’n skare Paulus en Silas na die markplein gesleep om dadelik verhoor te word. Hulle klere is afgeskeur en hulle is baie erg met stokke geslaan (Hand. 16:16-22). Dit was baie onregverdig! Paulus was ’n Romeinse burger en hy het die reg op ’n behoorlike verhoor gehad. *

2 Paulus het in die donkerte gesit en aan die dag se gebeure gedink. Hy het gedink aan die mense in Filippi. In teenstelling met ander stede wat Paulus besoek het, het hierdie stad nie eers ’n Joodse sinagoge gehad nie. Die Jode het buite die stad by ’n rivier bymekaargekom om te aanbid (Hand. 16:13, 14). Was dit dalk omdat daar minder as tien Joodse mans in die stad was? Dit was die vereiste aantal mans om ’n sinagoge te hê. Die mense van Filippi was baie trots op hulle Romeinse burgerskap (Hand. 16:21). Miskien is dit waarom hulle nie gedink het dat hierdie Jode, Paulus en Silas, Romeinse burgers kon gewees het nie. Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar hulle is onregverdig in die tronk gegooi.

3. Waarom was Paulus moontlik verbaas dat hy in die tronk was, maar watter gesindheid het hy gehad?

3 Dalk het Paulus ook aan die gebeure van die afgelope paar maande gedink. Hy was aan die ander kant van die Egeïese See in Klein-Asië. Terwyl Paulus daar was, het die heilige gees hom herhaaldelik gekeer om in sekere plekke te preek. Dit was asof die heilige gees hom in ’n ander rigting wou stuur (Hand. 16:6, 7). Maar waarheen? Hy het die antwoord in ’n visioen gekry toe hy in Troas was. Daar is vir hom gesê: “Kom oor na Masedonië.” Dit was duidelik wat Jehovah se wil was en hy het onmiddellik die uitnodiging aanvaar. (Lees Handelinge 16:8-10.) Maar wat het toe gebeur? Kort nadat hy in Masedonië aangekom het, is hy in die tronk gegooi! Waarom het Jehovah toegelaat dat dit met Paulus gebeur? Hoe lank sou hy in die tronk wees? Selfs al het Paulus oor hierdie vrae gewonder, het hy nie toegelaat dat dit hom van sy geloof en vreugde beroof nie. Hy en Silas was “besig om te bid en God met sang te loof” (Hand. 16:25). Die vrede van God het hulle harte en verstande vertroos.

4, 5. (a) Hoe kan ons situasie met Paulus s’n vergelyk word? (b) Hoe het Paulus se situasie onverwags verander?

4 Jy het miskien al gevoel dat jy die leiding van God se heilige gees gevolg het toe jy ’n besluit gemaak het. Maar net soos in Paulus se geval, het dinge nie gebeur soos jy verwag het nie. Jy het dalk baie uitdagings gehad of jy moes groot aanpassings in jou lewe maak (Pred. 9:11). Wanneer jy nou terugkyk, wonder jy dalk waarom Jehovah sekere dinge toegelaat het. Indien wel, wat kan jou help om aan te hou volhard met volle vertroue in Jehovah? Kom ons kyk wat met Paulus en Silas gebeur het om die antwoord op hierdie vraag te kry.

5 Terwyl Paulus en Silas gesing het, het daar ’n reeks dinge gebeur wat niemand verwag het nie. Skielik was daar ’n groot aardbewing. Die deure van die tronk het oopgegaan en die gevangenes se boeie het losgeraak. Paulus het gekeer dat die tronkbewaarder selfmoord pleeg. Die tronkbewaarder en sy hele familie is gedoop. Met dagbreek het die magistrate die konstabels gestuur om Paulus en Silas vry te laat. Die magistrate het hulle gevra om die stad in vrede te verlaat. Toe hulle gehoor het dat Paulus en Silas Romeinse burgers is en besef het dat hulle ’n groot fout gemaak het, het die magistrate hierdie twee manne uit die stad gelei. Maar Paulus en Silas het daarop aangedring om eers vir Lidia, wat onlangs gedoop is, te gaan groet. En hulle het ook die broers aangemoedig (Hand. 16:26-40). Hoe vinnig het dinge tog nie verander nie!

DIT ‘GAAN ALLE DENKE TE BOWE’

6. Wat gaan ons nou bespreek?

6 Wat leer ons uit hierdie gebeure? Jehovah kan dinge doen wat ons nie verwag nie, en daarom hoef ons nie bekommerd te wees wanneer ons beproewinge verduur nie. Dit is duidelik dat Paulus nie hierdie les vergeet het nie. Dit kan gesien word in sy brief aan die broers in Filippi oor angstigheid en die vrede van God. In hierdie artikel gaan ons Paulus se woorde in Filippense 4:6, 7 (lees) bespreek. Dan gaan ons na nog voorbeelde in die Bybel kyk waar Jehovah dinge gedoen het wat niemand verwag het nie. En laastens gaan ons bespreek hoe “die vrede van God” ons kan help om met volle vertroue in Jehovah te volhard.

7. Watter les wou Paulus hê moes die broers in Filippi uit sy brief leer, en wat kan ons daaruit leer?

7 Waaraan het die broers in Filippi waarskynlik gedink toe hulle Paulus se brief gelees het? Hulle het waarskynlik onthou wat met Paulus en Silas gebeur het en die onverwagse manier waarop Jehovah hulle gehelp het. Wat was die les in Paulus se brief? Eenvoudig gestel: ‘Moenie bekommerd wees nie. Bid en jy sal die vrede van God ontvang.’ Maar Paulus het vir hulle gesê dat “die vrede van God . . . alle denke te bowe gaan”. Wat beteken dit? Party Bybelvertalings gebruik woorde soos oortref al ons ‘drome’ of ons ‘planne’. Maar wat Paulus eintlik probeer sê het, was dat “die vrede van God” wonderliker is as wat ons ooit kan dink. Al sien ons nie ’n uitweg uit ons probleme nie, kan Jehovah dit sien en kan hy iets doen wat ons nie verwag nie.—Lees 2 Petrus 2:9.

8, 9. (a) Wat was die goeie resultate van Paulus se onregverdige behandeling? (b) Waarom kon die broers in Filippi Paulus se woorde ernstig opneem?

8 Paulus se brief sou die broers in Filippi beslis aangemoedig het as hulle nagedink het oor hoe Jehovah hulle in die verlede gehelp het. Al het Jehovah toegelaat dat Paulus en Silas onregverdig behandel word, het dit gelei tot “die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” (Fil. 1:7). Die magistrate sou twee keer dink voor hulle iets aan die nuwe Christengemeente doen. Miskien kon Lukas in Filippi agterbly omdat die magistrate geweet het dat Paulus ’n Romeinse burger was. Lukas kon die nodige hulp aan die nuwe Christene voorsien.

9 Toe daardie broers in Filippi Paulus se brief gelees het, het hulle geweet dat dit nie sy persoonlike opinie was nie. Paulus is erg vervolg; tog het hy gewys dat hy “die vrede van God” het. Toe Paulus hierdie brief aan die broers geskryf het, was hy onder huisarres in Rome. Maar hy het nog steeds gewys dat “die vrede van God” met hom was.—Fil. 1:12-14; 4:7, 11, 22.

“MOET JULLE OOR NIKS KWEL NIE”

10, 11. Wat moet ons doen as ons baie bekommerd is oor ’n probleem, en wat kan ons verwag?

10 Wat kan ons help om ons oor niks te kwel nie en om “die vrede van God” te hê? Paulus se woorde aan die Filippense wys dat gebed baie help wanneer ons bekommerd is oor ’n probleem. In plaas daarvan om bekommerd te wees, moet ons eerder bid. (Lees 1 Petrus 5:6, 7.) Wanneer jy bid, moet jy die volle vertroue hê dat Jehovah vir jou omgee. Sê dankie vir die seëninge wat jy geniet. Ons vertroue in hom word versterk wanneer ons onthou dat hy “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel”.—Ef. 3:20.

11 Net soos met Paulus en Silas in Filippi, mag ons dalk verbaas wees oor wat Jehovah vir ons doen. Dit mag dalk nie iets buitengewoons wees nie, maar dit sal altyd wees wat ons nodig het (1 Kor. 10:13). Dit beteken natuurlik nie dat ons agteroor sal sit en wag dat Jehovah die saak sal regstel of die probleem sal oplos nie. Ons moet in ooreenstemming met ons gebede optree (Rom. 12:11). Ons dade wys of ons opreg is en dit gee Jehovah iets om te seën. Terselfdertyd moet ons besef dat Jehovah nie beperk word deur ons versoeke, planne en verwagtinge nie. Soms verras hy ons deur iets te doen wat ons nie verwag nie. Kom ons kyk na ’n paar Bybelvoorbeelde wat ons vertroue sal versterk dat Jehovah wel iets vir ons kan doen wat ons nie verwag nie.

JEHOVAH DOEN DINGE WAT NIEMAND VERWAG HET NIE

12. (a) Wat het koning Hiskia gedoen toe hy deur die Assiriese koning Sanherib bedreig is? (b) Wat leer ons uit hoe Jehovah die probleem opgelos het?

12 Ons vind baie voorbeelde in die Bybel van hoe Jehovah dinge gedoen het wat niemand verwag het nie. Koning Hiskia het gelewe toe koning Sanherib van Assirië Juda ingeval en al die versterkte stede, behalwe Jerusalem, ingeneem het (2 Kon. 18:1-3, 13). Toe het Sanherib gekom om Jerusalem aan te val. Wat het koning Hiskia gedoen? Hy het tot Jehovah gebid en Jehovah se profeet Jesaja vir raad gevra (2 Kon. 19:5, 15-20). Hiskia het gewys dat hy redelik is en die boete betaal wat Sanherib vereis het (2 Kon. 18:14, 15). Hiskia het toe voorbereidings getref vir ’n lang beleëring (2 Kron. 32:2-4). Maar hoe is hierdie probleem opgelos? Jehovah het ’n engel gestuur wat 185 000 van Sanherib se soldate in een nag doodgemaak het. Nie eens Hiskia het dit verwag nie!—2 Kon. 19:35.

Wat leer ons uit wat met Josef gebeur het?—Gen. 41:42 (Sien paragraaf 13)

13. (a) Wat leer ons uit wat met Josef gebeur het? (b) Wat het met Sara gebeur?

13 Kom ons kyk wat met Josef, ’n seun van Jakob, gebeur het. Het Josef, terwyl hy in die tronk was, ooit gedink dat hy die onderheerser van Egipte sou word en dat Jehovah hom sou gebruik om sy familie tydens ’n hongersnood te red? (Gen. 40:15; 41:39-43; 50:20). Jehovah se dade het ongetwyfeld Josef se verwagtinge oortref. Dink ook aan Josef se oumagrootjie Sara. Het die bejaarde Sara ooit gedink dat Jehovah haar sou toelaat om haar eie seun te hê, buiten die seun wat sy van haar slavin ontvang het? Isak se geboorte het al haar verwagtinge oortref.—Gen. 21:1-3, 6, 7.

14. Watter vertroue kan ons in Jehovah hê?

14 Ons kan nie verwag dat Jehovah al ons probleme op ’n wonderdadige manier voor sy beloofde nuwe wêreld moet wegneem nie. En ons kan ook nie daarop aandring dat hy wonderwerke in ons lewe moet verrig nie. Maar ons weet dat die God wat sy knegte op ’n wonderdadige wyse gehelp het, ook ons God, Jehovah, is. (Lees Jesaja 43:10-13.) Dit help ons om op hom te vertrou. Ons het die vertroue dat hy ons die nodige krag sal gee om sy wil uit te voer (2 Kor. 4:7-9). Wat leer ons uit die voorbeelde van Hiskia, Josef en Sara? Jehovah kan ons selfs in die moeilikste situasies help as ons getrou aan hom bly.

Jehovah kan ons selfs in die moeilikste situasies help as ons getrou aan hom bly

15. Wat sal ons help om “die vrede van God” te behou, en hoe is dit moontlik?

15 Hoe kan ons “die vrede van God” behou selfs wanneer ons probleme het? Ons moet ons vriendskap met Jehovah sterk hou. Hierdie vriendskap is net moontlik “deur middel van Christus Jesus” wat sy lewe as ’n losprys gegee het. Die losprys is nog een van ons Vader se wonderlike werke. Jehovah gebruik die losprys om ons sondes te vergewe. Dit gee ons ’n skoon gewete en help ons om nader aan hom te kom.—Joh. 14:6; Jak. 4:8; 1 Pet. 3:21.

DIT SAL ONS HARTE EN VERSTANDELIKE VERMOËNS BEWAAK

16. Wat sal gebeur wanneer ons “die vrede van God” ontvang? Gee ’n voorbeeld.

16 Wat sal gebeur wanneer ons “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan” ontvang? Die Bybel sê dat dit ‘ons harte en ons verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus sal bewaak’ (Fil. 4:7). Die oorspronklike woord wat met “bewaak” vertaal is, laat ’n mens dink aan ’n groep soldate wat ’n stad moes bewaak of beskerm. Filippi was so ’n stad. Die inwoners van Filippi het rustig geslaap, want hulle het geweet dat soldate hulle stad beskerm. As ons “die vrede van God” het, sal ons hart en verstand ook rustig wees. Ons weet dat Jehovah vir ons omgee en wil hê dat ons suksesvol moet wees (1 Pet. 5:10). Dit sal help dat ons bekommernisse ons nie oorweldig of ontmoedig nie.

17. Wat sal ons help om tydens die groot verdrukking op Jehovah te vertrou?

17 Die grootste verdrukking in die mensdom se geskiedenis is voor die deur (Matt. 24:21, 22). Ons weet nie presies wat met elkeen van ons gaan gebeur nie. Maar ons hoef nie oormatig angstig te wees nie. Al weet ons nie wat Jehovah alles gaan doen nie, ken ons ons God. Ons weet wat hy vir sy getroue knegte in die verlede gedoen het. Maak nie saak wat gebeur nie, Jehovah sal seker maak dat sy voorneme vervul word. En soms doen hy dit op ’n manier wat ons nie verwag nie! Elke keer wat Jehovah ons nou help, ervaar ons “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan” op ’n nuwe manier.

^ par. 1 Silas was blykbaar ook ’n Romeinse burger.—Hand. 16:37.