Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om die ou persoonlikheid vir eens en vir altyd af te lê

Hoe om die ou persoonlikheid vir eens en vir altyd af te lê

“Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af.”—KOL. 3:9.

LIEDERE: 83, 129

1, 2. Wat sê mense oor Jehovah se Getuies?

BAIE mense het al gesien dat Jehovah se Getuies uniek is. Die skrywer Anton Gill het byvoorbeeld die volgende oor die broers en susters in Nazi-Duitsland gesê: “Die Nazi’s het Jehovah se Getuies veral gehaat. . . . Teen 1939 was daar 6 000 van hulle in [konsentrasiekampe].” Hy het ook gesê dat al het die Getuies baie gely, was hulle betroubaar, kalm onder druk, lojaal aan hulle God en verenig.

2 Onlangs het mense in Suid-Afrika ook gesien dat Jehovah se Getuies uniek is. In vroeër jare was Getuies van verskillende rasse nie toegelaat om saam te vergader nie. Maar op Sondag 18 Desember 2011 het meer as 78 000 broers en susters van verskillende rasse by die grootste stadion in Johannesburg bymekaargekom om saam ’n geestelike program te geniet. Hulle het van regoor die hele Suidelike Afrika gekom. Dit was wonderlik om te sien. Een van die stadion se bestuurders het gesê: “Ek het nog nooit ’n skare met sulke goeie maniere in hierdie stadion gesien nie. Almal was netjies aangetrek. En julle het die stadion so mooi skoongemaak. Ons kan sien dat julle werklik verenig is.”

3. Wat maak ons broederskap uniek?

3 Sulke kommentare deur mense wat nie Getuies is nie wys dat ons broederskap werklik uniek is (1 Pet. 5:9). Waarom is ons organisasie so uniek? Met die hulp van God se Woord en sy heilige gees, werk ons hard om ‘die ou persoonlikheid af te lê’. In die plek daarvan ‘beklee ons ons met die nuwe persoonlikheid’.—Kol. 3:9, 10.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en waarom?

4 Dit is een ding om die ou persoonlikheid af te lê, maar dit is iets anders om nie toe te laat dat dit weer ’n houvas op jou kry nie. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe ons die ou persoonlikheid kan aflê, waarom dit dringend is en dat dit moontlik is om te verander al het jy verkeerde dinge gedoen. Ons gaan ook sien wat diegene wat lank in die waarheid is, kan doen om te verhoed dat die ou persoonlikheid weer ’n houvas op hulle kry. Waarom moet ons dit bespreek? Ongelukkig het dié wat Jehovah voorheen gedien het, weer verkeerde dinge begin doen. Daarom moet ons almal luister na die waarskuwing: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Kor. 10:12.

MAAK ENIGE ONSEDELIKE SEKSUELE BEGEERTES DOOD

5. (a) Waarom moet ons dringend die ou persoonlikheid aflê? Gee ’n voorbeeld. (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter gebruike wat deel is van die ou persoonlikheid word in Kolossense 3:5-9 genoem?

5 Wat sal jy doen as jou klere vuil word of selfs begin stink? Jy sal dit so gou as moontlik uittrek. Net so wil ons ook onmiddellik van enige slegte gewoontes ontslae raak wat God nie goedkeur nie. Ons wil gehoorsaam wees aan Paulus se raad: “Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle.” Kom ons bespreek twee van hierdie dinge wat Paulus genoem het—hoerery en onreinheid.—Lees Kolossense 3:5-9.

6, 7. (a) Hoe wys Paulus se woorde dat ons hard moet werk om die ou persoonlikheid af te lê? (b) Watter soort lewe het Sakoera gelei, en wat het haar gehelp om te verander?

6 Hoerery. Die woord “hoerery” in die Bybel sluit onder andere homoseksualiteit in en om seks met enigiemand te hê met wie jy nie wetlik getroud is nie. Paulus het gesê dat Christene hulle “liggaamsdele” moet doodmaak “ten opsigte van hoerery”. Dit beteken dat ons streng moet optree om van enige verkeerde begeertes ontslae te raak. Jy kan hierdie stryd wen.

7 Kyk na die voorbeeld van Sakoera * van Japan. As kind het Sakoera dikwels hartseer en alleen gevoel. Toe sy 15 jaar oud was, het sy begin om met verskillende mense seks te hê om nie so alleen te voel nie. Sakoera het drie aborsies gehad. Sy sê: “Aan die begin het hierdie onsedelike lewe my goed laat voel en ek het gedink dat mense my nodig het en liefhet. Maar hoe meer ek dit gedoen het, hoe onsekerder het ek gevoel.” Dit het aangehou totdat Sakoera 23 jaar oud was. Toe het sy die Bybel saam met die Getuies begin studeer en sy het dit baie geniet. Jehovah het haar gehelp om op te hou om onsedelik te lewe en ook nie meer skuldig en skaam te voel nie. Sakoera is nou ’n gewone pionier en voel nie meer eensaam nie. Sy sê: “Ek is baie bly om elke dag Jehovah se liefde te geniet.”

HOU OP OM ONREIN TE WEES

8. Hoe kan ons in God se oë onrein wees?

8 Onreinheid. Die woord “onreinheid” in die Bybel sluit baie meer in as net seksuele sondes. Dit kan rook of vuil grappe insluit (2 Kor. 7:1; Ef. 5:3, 4). Dit sluit ook slegte dinge in wat mense doen wanneer hulle alleen is, soos om boeke te lees wat verkeerde seksuele begeertes by hulle wek of om na pornografie te kyk. Dit kan tot die onrein gewoonte van masturbasie lei.—Kol. 3:5. *

9. Waartoe kan onbeheerste “geslagsdrif” lei?

9 Mense wat gereeld na pornografie kyk, ontwikkel onbeheerste “geslagsdrif” wat daartoe kan lei dat hulle verslaaf word aan seks. Navorsing wys dat ’n verslawing aan pornografie soortgelyk is aan dwelm- en alkoholverslawing. Dit is geen wonder nie dat die gewoonte om na pornografie te kyk, skadelik kan wees. Dit kan jou werk beïnvloed en lei tot skuldgevoelens, ’n ongelukkige gesinslewe, egskeiding en selfmoord. ’n Jaar nadat ’n man sy verslawing aan pornografie verbreek het, het hy gesê dat hy weer selfrespek het.

10. Hoe het Ribeiro sy verslawing aan pornografie oorkom?

10 Vir baie mense is dit ’n groot stryd om nie weer na pornografie te kyk nie. Maar hierdie stryd kan gewen word. Kom ons kyk na die voorbeeld van Ribeiro van Brasilië. Toe hy ’n tiener was, het hy die huis verlaat en by ’n fabriek begin werk wat papier herwin. Daar het hy pornografiese tydskrifte gesien. Ribeiro het gesê: “Ek het stadig maar seker verslaaf geraak. Dit het so erg geword dat ek nie kon wag dat die vrou saam met wie ek gebly het die huis moes verlaat sodat ek na pornografiese video’s kon kyk nie.” Maar eendag het Ribeiro na ’n stapel boeke gekyk wat herwin moet word en een van die boeke was Die geheim van gesinsgeluk. Hy het dit opgetel en begin lees. Wat hy gelees het, het hom beweeg om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te begin studeer. Maar dit het hom baie lank gevat om met sy slegte gewoonte op te hou. Wat het hom gehelp? Hy verduidelik: “Gebed, Bybelstudie en bepeinsing oor wat ek geleer het, het my waardering vir God se eienskappe vergroot totdat my liefde vir Jehovah sterker geword het as my begeerte na pornografie.” God se Woord en heilige gees het Ribeiro gehelp om die ou persoonlikheid af te lê. Hy is gedoop en dien nou as ’n ouer man.

11. Wat moet ’n persoon doen om nie weer na pornografie te kyk nie?

11 Ribeiro moes meer doen as om net die Bybel te studeer om nie weer na pornografie te kyk nie. Hy moes diep nadink oor wat hy in die Bybel gelees het en toelaat dat dit sy hart raak. Deur gebed en bepeinsing het sy liefde vir God sterker geword as sy begeerte na pornografie. Om nie weer na pornografie te kyk nie, moet ons baie lief wees vir Jehovah en haat wat sleg is.—Lees Psalm 97:10.

VERWYDER WOEDE, WOORDE WAT SEERMAAK EN LEUENS

12. Wat het Stephen gehelp om sy humeur te beteuel en sy woorde te tel?

12 Mense wat kort van draad is, sê soms dinge wat ander baie seermaak. En sulke dinge dra natuurlik nie by tot ’n gelukkige gesinslewe nie. Stephen, ’n pa van Australië, sê: “Ek het baie gevloek en die kleinste dingetjies het my woedend gemaak. Ek en my vrou is drie keer uitmekaar en was besig om te skei.” Toe het die egpaar die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Wat het gebeur toe Stephen die Bybel se raad toegepas het? Hy sê: “Ons gesinslewe het drasties verbeter. Met Jehovah se hulp het ek nou ’n gevoel van kalmte en vrede in my lewe. Voorheen was ek soos ’n tydbom, reg om oor die kleinste dingetjie te ontplof.” Vandag is Stephen ’n bedieningskneg en sy vrou is al ’n paar jaar lank ’n pionier. Die ouer manne in Stephen se gemeente sê: “Stephen is ’n stil broer wat hard werk en hy is baie nederig.” Hulle het hom nog nooit kwaad gesien nie. Aanvaar Stephen al die eer hiervoor? Hy sê: “Ek sou nie hierdie seëninge kon geniet het as ek nie Jehovah se hulp aanvaar het om ’n verandering in my lewe te maak en die ou persoonlikheid af te lê nie.”

13. Wat maak woede so gevaarlik, en watter waarskuwing gee die Bybel?

13 Die Bybel waarsku ons teen woede, woorde wat seermaak en geskreeu (Ef. 4:31). Hierdie dinge lei dikwels tot geweld. Die wêreld dink dalk dat woede en geweld normaal is, maar dit bring oneer op ons Skepper. Baie van ons broers het verander en hulle met die nuwe persoonlikheid beklee.—Lees Psalm 37:8-11.

14. Kan ’n aggressiewe persoon sagmoedig word?

14 Kom ons kyk na die voorbeeld van Hans, ’n ouer man in Oostenryk. Die koördineerder van die liggaam van ouer manne in Hans se gemeente sê: “Hy is een van die sagmoedigste broers wat ons ken.” Maar Hans was nie altyd sagmoedig nie. Toe hy ’n tiener was, het hy baie gedrink en dit het hom aggressief gemaak. Eenkeer toe hy dronk was, het hy so kwaad geword dat hy sy meisie doodgemaak het. Hans was tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, maar dit het nie sy aggressiewe persoonlikheid verander nie. Sy ma het ’n ouer man gevra om hom te besoek en Hans het die Bybel begin studeer. Hy verduidelik: “Dit was baie moeilik om die ou persoonlikheid af te lê. Bybeltekste wat my aangemoedig het, was Jesaja 55:7 wat sê: ‘Laat die goddelose sy weg verlaat’ en 1 Korintiërs 6:11 wat verwys na dié wat ’n sondige weg verlaat het: ‘En tog is dit wat party van julle was.’ Dit het jare geneem, maar Jehovah was geduldig met my en met sy hulp en heilige gees het ek my met die nuwe persoonlikheid beklee.” Hans is gedoop toe hy nog in die tronk was en is na 17 en ’n half jaar vrygelaat. Hy sê: “Ek is dankbaar vir Jehovah se barmhartigheid en dat hy my vergewe het.”

15. Wat is ook deel van die ou persoonlikheid, maar wat sê die Bybel daaroor?

15 Leuens is ook deel van die ou persoonlikheid. Dit is byvoorbeeld algemeen vir mense om te lieg op hulle belastingopgawe of om te lieg om straf te vermy. Maar Jehovah is “die God van waarheid” (Ps. 31:5). Hy vereis dat al sy aanbidders “die waarheid praat” en nie “lieg nie” (Ef. 4:25; Kol. 3:9). Daarom moet ons die waarheid praat selfs al is dit moeilik of ’n verleentheid vir ons.—Spr. 6:16-19.

HOE HULLE OORWIN HET

16. Hoe kan ons dit regkry om die ou persoonlikheid af te lê?

16 Ons kan nie in ons eie krag die ou persoonlikheid aflê nie. Sakoera, Ribeiro, Stephen en Hans moes baie hard werk om hulle lewe te verander. Die krag van God se Woord en sy heilige gees het hulle gehelp om dit reg te kry (Luk. 11:13; Heb. 4:12). Om hierdie krag te kan gebruik, moet ons elke dag die Bybel lees, daaroor peins en aanhou bid vir die wysheid en krag om alles wat ons leer, toe te pas (Jos. 1:8; Ps. 119:97; 1 Tess. 5:17). As ons vir vergaderinge voorberei en dit bywoon, sal ons ook baat vind by God se Woord en heilige gees (Heb. 10:24, 25). Ons wil ook gebruik maak van al die geestelike voedsel wat Jehovah se organisasie vir ons gee.—Luk. 12:42.

Hoe kan ons die ou persoonlikheid aflê? (Sien paragraaf 16)

17. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Ons het na ’n paar slegte gebruike gekyk wat Christene moet aflê en nooit weer moet doen nie. Maar is dit al wat ons moet doen om God se goedkeuring te kry? Nee. Ons moet ons ook met die nuwe persoonlikheid beklee. In die volgende artikel sal ons ’n paar eienskappe bespreek wat deel is van die nuwe persoonlikheid wat ons altyd moet toepas.

^ par. 7 Party van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 8 Sien hoofstuk 25 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1.