Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om jou met die nuwe persoonlikheid te beklee

Hou aan om jou met die nuwe persoonlikheid te beklee

“Beklee julle met die nuwe persoonlikheid.”—KOL. 3:10.

LIEDERE: 43, 106

1, 2. (a) Waarom is dit moontlik om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee? (b) Watter eienskappe wat deel is van die nuwe persoonlikheid word in Kolossense 3:10-14 genoem?

“DIE nuwe persoonlikheid.” Hierdie uitdrukking kom twee keer in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif voor (Ef. 4:24; Kol. 3:10). Dit verwys na ’n persoonlikheid wat “na God se wil . . . geskep is”. Kan ons ons met die nuwe persoonlikheid beklee? Ja, want Jehovah het die mens na sy beeld geskep, en daarom kan ons sy pragtige eienskappe weerspieël.—Gen. 1:26, 27; Ef. 5:1.

2 Omdat ons onvolmaak is, het ons soms verkeerde begeertes. En die omstandighede waarin ons grootgeword het, het ook ’n invloed op ons. Ons sal nou ’n paar eienskappe bespreek wat deel is van die nuwe persoonlikheid. Dit sal ons help om, met Jehovah se hulp, die soort persoon te word wat hy wil hê ons moet wees. (Lees Kolossense 3:10-14.) Ons gaan ook bespreek hoe ons hierdie eienskappe in ons bediening kan openbaar.

“JULLE IS ALMAL EEN”

3. Watter eienskap is ’n belangrike deel van die nuwe persoonlikheid?

3 Nadat Paulus ons vermaan het om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee, beskryf hy hoe onpartydigheid ’n belangrike deel van die nuwe persoonlikheid is. Hy het gesê: ‘Daar is nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skitiër, slaaf, of vrygeborene nie.’ * Waarom moet niemand in die gemeente voel dat hy beter as ander is as gevolg van sy ras, nasionaliteit of sosiale status nie? Omdat ware volgelinge van Christus ‘almal een is’.—Kol. 3:11; Gal. 3:28.

4. (a) Hoe moet Jehovah se knegte ander mense behandel? (b) Watter situasie kan dit moeilik maak om verenig te wees?

4 As ons met die nuwe persoonlikheid beklee is, sal ons almal met eer en respek behandel, maak nie saak van watter ras hulle is of waar hulle vandaan kom nie (Rom. 2:11). In sommige lande kan dit moeilik wees. In die verlede het die regering in Suid-Afrika byvoorbeeld bepaal waar mense van verskillende rasse moet bly. Die meeste mense, insluitende Getuies, bly nog steeds in daardie plekke. In Oktober 2013 het die Bestuursliggaam ons broers aangemoedig om ‘verruim te word’. Hulle het ’n spesiale reëling goedgekeur om die broers te help om mekaar beter te leer ken.—2 Kor. 6:13.

5, 6. (a) Wat het die broers in een land gehelp om meer verenig te wees? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat was die resultaat?

5 Die broers het gereël dat twee gemeentes van verskillende tale of rasse sommige naweke bymekaarkom. Broers en susters van beide gemeentes het saam velddiens gedoen, saam vergaderinge bygewoon en by mekaar se huise gekuier. Honderde gemeentes het deelgeneem en die takkantoor het baie goeie terugvoering gekry, selfs van mense wat nie Getuies is nie. ’n Predikant het byvoorbeeld gesê: “Ek is nie ’n Getuie nie, maar ek kan sien dat julle predikingswerk baie goed georganiseerd is en dat julle rasse-eenheid het.” Hoe het die broers en susters oor hierdie reëling gevoel?

6 Noma, ’n Xhosa-suster, was skrikkerig om wit broers van ’n Engelse gemeente na haar huisie te nooi. Maar nadat sy saam met hulle velddiens gedoen het en by hulle gaan kuier het, het sy meer op haar gemak gevoel. Sy het gesê: “Hulle is normale mense, net soos ons!” Toe die Engelse gemeente die Xhosa-gemeente besoek het, het sy ’n paar broers oorgenooi om by haar te kom eet. Een van die broers was ’n wit ouer man. Noma het gesê: “Ek was beïndruk dat hy bereid was om op ’n plastiekkrat te sit.” Hierdie reëling het hulle baie gehelp om nuwe vriende te maak en hulle wil aanhou om broers en susters van verskillende agtergronde te leer ken.

“TERE GENEENTHEDE VAN MEDELYE, GOEDHARTIGHEID”

7. Waarom moet ons altyd medelye hê?

7 Totdat Satan se wêreld tot ’n einde kom, sal ons beproewinge hê soos werkloosheid, ernstige siektes, vervolging, natuurrampe, diefstal en ander probleme. Ons het opregte medelye nodig as ons mekaar in moeilike tye wil ondersteun. As ons tere medelye het, sal ons goedhartig teenoor ander wees (Ef. 4:32). Hierdie eienskappe is deel van die nuwe persoonlikheid en dit sal ons help om God na te volg en om ander te vertroos.—2 Kor. 1:3, 4.

8. Watter goeie uitwerking kan dit hê as ons medelye en goedhartigheid aan almal in die gemeente toon? Gee ’n voorbeeld.

8 Hoe kan ons goedhartiger wees teenoor dié wat van ’n ander land kom en dié wat minder bevoorreg is? Ons moet hulle in die gemeente verwelkom en hulle tuis laat voel (1 Kor. 12:22, 25). Kyk na die voorbeeld van Dannykarl wat van die Filippyne na Japan getrek het. Omdat hy van ’n ander land was, is hy by sy werk nie so goed behandel soos die ander werkers nie. Toe het hy ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. “Amper almal was Japannees”, sê Dannykarl. “Maar hulle het my hartlik verwelkom asof hulle my al jare lank ken.” Die broers het hom baie goed behandel en dit het hom gehelp om geestelike vooruitgang te maak. Hy is gedoop en dien nou as ’n ouer man. Die ouer manne in sy gemeente beskou hom en sy vrou, Jennifer, as ’n seën vir die gemeente. Die ouer manne sê: “Hulle lei ’n baie eenvoudige lewe as pioniers en is ’n goeie voorbeeld van hoe om die Koninkryk eerste te stel.”—Luk. 12:31.

9, 10. Watter goeie uitwerking het dit wanneer ons medelye in die velddiens toon? Gee voorbeelde.

9 Ons het ’n goeie geleentheid om ‘aan almal goed te doen’ wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk aan ander verkondig (Gal. 6:10). Baie Getuies leer ’n ander taal aan om immigrante te help (1 Kor. 9:23). Dit het tot groot seëninge gelei. Byvoorbeeld, Tiffany, ’n suster in Australië, het Swahili geleer om ’n gemeente in Brisbane te help. Al was dit nie maklik nie, is Tiffany baie bly dat sy dit gedoen het. Sy sê: “As jy jou bediening wil geniet, dan moet jy in ’n anderstalige veld dien. Dit is soos om op reis te gaan sonder om jou stad te verlaat. Jy sien ons wêreldwye broederskap en die wonderlike eenheid met jou eie oë.”

Waarom wil Christene immigrante graag help? (Sien paragraaf 10)

10 Kyk ook na die voorbeeld van ’n gesin in Japan. Die dogter, Sakiko, sê: “In die 1990’s het ons baie immigrante van Brasilië in die velddiens ontmoet. Wanneer ons tekste soos Openbaring 21:3, 4 of Psalm 37:10, 11, 29 uit hulle Portugese Bybel gelees het, het hulle geluister en partykeer trane in hulle oë gekry.” Maar dit was nie al nie. “Toe ons sien hoe baie hulle in die waarheid belangstel”, sê Sakiko, “het ons Portugees begin leer.” Die gesin het gehelp om ’n Portugese gemeente te stig. Hulle het oor die jare heen baie immigrante gehelp om die waarheid te leer ken. “Dit was baie moeilik om Portugees te leer”, sê Sakiko, “maar die seëninge het dit die moeite werd gemaak. Ons dank Jehovah hiervoor.”—Lees Handelinge 10:34, 35.

BEKLEE JULLE MET NEDERIGHEID

11, 12. (a) Waarom is dit belangrik dat ons die regte beweegrede moet hê as ons ons met die nuwe persoonlikheid wil beklee? (b) Wat sal ons help om nederig te bly?

11 Ons beweegrede om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee, moet wees om Jehovah te eer, nie om deur mense vereer te word nie. Onthou dat selfs ’n volmaakte geesskepsel trots geword en gesondig het. (Vergelyk Esegiël 28:17.) Ons is onvolmaak, en daarom is dit baie moeiliker om nie trots te wees nie. Maar dit is moontlik om ons met nederigheid te beklee. Wat sal ons help om dit te doen?

12 Om nederig te bly, moet ons elke dag God se Woord lees en peins oor wat ons lees (Deut. 17:18-20). Ons moet veral nadink oor Jesus se leringe en oor sy wonderlike voorbeeld van nederigheid (Matt. 20:28). Jesus het selfs die voete van sy apostels gewas (Joh. 13:12-17). Ons moet aanhou bid vir God se gees. Dit sal ons help om te stry teen die neiging om beter as ander te wil wees.—Gal. 6:3, 4; Fil. 2:3.

13. Hoe sal ons geseën word as ons nederig is?

13 Lees Spreuke 22:4. Alle ware aanbidders moet nederig wees. As ons nederig is, sal dit vrede en eenheid in die gemeente bevorder. Jehovah sal ook onverdiende goedhartigheid aan ons gee. Die apostel Petrus het gesê: “Omgord julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Pet. 5:5.

BEKLEE JULLE MET SAGMOEDIGHEID EN GEDULD

14. Wie is die beste voorbeeld van sagmoedigheid en geduld?

14 Mense wat sagmoedig en geduldig is, word in vandag se wêreld as swak beskou. Maar dit is glad nie waar nie! Hierdie pragtige eienskappe kom van die magtigste Persoon in die heelal. Jehovah God is die beste voorbeeld van sagmoedigheid en geduld (2 Pet. 3:9). Dink aan hoe geduldig Jehovah was toe Abraham en Lot vir hom deur middel van die engele vrae gevra het (Gen. 18:22-33; 19:18-21). Jehovah was ook 1 500 jaar lank geduldig met die ongehoorsame nasie Israel.—Eseg. 33:11.

15. Hoe het Jesus gewys dat hy sagmoedig en geduldig is?

15 Jesus was “saggeaard” (Matt. 11:29). Hy was baie geduldig met sy dissipels en hulle swakhede. Jesus is tydens sy aardse bediening onregverdig behandel. Maar hy was sagmoedig en geduldig selfs tot sy dood toe. Toe Jesus se vyande hom aan die paal gehang het en hy onbeskryflike pyn verduur het, het hy gebid dat sy Vader hulle moet vergewe. Hy het gesê: “Hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Hy is ’n uitsonderlike voorbeeld van iemand wat sagmoedig en geduldig gebly het selfs toe hy geweldige druk en pyn verduur het!—Lees 1 Petrus 2:21-23.

16. Hoe kan ons wys dat ons sagmoedig en geduldig is?

16 Paulus het een manier genoem waarop ons kan wys dat ons sagmoedig en geduldig is. Hy het geskryf: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13). Ons moet sagmoedig en geduldig wees om ander te kan vergewe. Dit sal vrede en eenheid in die gemeente bevorder.

17. Waarom is sagmoedigheid en geduld belangrik?

17 Jehovah vereis dat Christene sagmoedig en geduldig moet wees. Hierdie eienskappe is noodsaaklik as ons in sy nuwe wêreld wil lewe (Matt. 5:5; Jak. 1:21). As ons sagmoedig en geduldig is, eer ons Jehovah en help ons ander om dieselfde te doen.—Gal. 6:1; 2 Tim. 2:24, 25.

‘BEKLEE JULLE MET LIEFDE’

18. Wat is die verband tussen liefde en onpartydigheid?

18 Daar is ’n noue verband tussen liefde en al die eienskappe wat ons sover bespreek het. Die dissipel Jakobus moes byvoorbeeld sy broers raad gee omdat hulle die rykes beter behandel het as die armes. Hy het verduidelik dat dit teen die koninklike wet is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Toe het hy bygevoeg: “As julle aanhou om sommige voor te trek, bedryf julle ’n sonde” (Jak. 2:8, 9). As ons vir mense lief is, sal ons nie teen hulle diskrimineer weens hulle opvoeding, ras of sosiale status nie. Ons moenie maak asof ons onpartydig is nie. Dit moet deel van ons persoonlikheid wees.

19. Waarom is dit belangrik dat ons ons met liefde beklee?

19 Liefde is “lankmoedig en goedhartig” en “raak nie opgeblase nie” (1 Kor. 13:4). Ons het geduld, goedhartigheid en nederigheid nodig om die goeie nuus van die Koninkryk aan ons bure te verkondig (Matt. 28:19). Hierdie eienskappe maak dit ook makliker om met al ons broers en susters in die gemeente oor die weg te kom. As ons almal liefde betoon, sal ons gemeentes verenig wees en Jehovah eer. Ander sal hierdie eenheid onder ons sien en dit sal hulle na die waarheid toe trek. Die Bybel se beskrywing van die nuwe persoonlikheid sluit af met die woorde: “Beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kol. 3:14.

‘WORD VERNUWE’

20. (a) Watter vrae moet ons ons afvra, en waarom? (b) Waarna sien ons uit?

20 Elkeen moet homself afvra: ‘Wat moet ek nog doen om die ou persoonlikheid vir eens en vir altyd af te lê?’ Ons moet Jehovah smeek om ons te help. Ons moet onsself ook ywerig inspan om verkeerde denke en dade te vermy sodat ons God se Koninkryk kan beërf (Gal. 5:19-21). Ons moet ons ook afvra: ‘Word ek vernuwe in die krag wat my verstand aandryf?’ (Ef. 4:23, 24). Ons is onvolmaak, en daarom moet alle Christene aanhou om hulleself met die nuwe persoonlikheid te beklee. Stel jou voor hoe die lewe sal wees wanneer almal beklee is met die nuwe persoonlikheid en Jehovah se eienskappe volmaak sal weerspieël!

^ par. 3 In Bybeltye was die Skitiërs as onbeskaafd beskou en mense het op hulle neergekyk.