Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die waarheid bring nie vrede nie, maar ’n swaard

Die waarheid bring nie vrede nie, maar ’n swaard

“Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie; ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard.”—MATT. 10:34.

LIEDERE: 125, 135

1, 2. (a) Watter vrede kan ons nou geniet? (b) Hoekom kan ons nie nou ware vrede geniet nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

ONS almal wil in vrede lewe, sonder enige bekommernisse. Ons is baie dankbaar dat Jehovah ons “die vrede van God” gee! Hierdie vrede is ’n kalmte wat ons beskerm teen enige negatiewe gedagtes en gevoelens wat ons kan ontstel (Fil. 4:6, 7). Omdat ons ons aan Jehovah toegewy het, geniet ons ook “vrede . . . met God”. Dit beteken dat ons ’n goeie verhouding met hom het.—Rom. 5:1.

2 Maar God se tyd om ware vrede te bring, het nog nie gekom nie. Ons lewe in die laaste dae vol probleme en ons is omring deur geweld (2 Tim. 3:1-4). Ons het ook ’n geestelike geveg teen Satan en sy valse leringe (2 Kor. 10:4, 5). Maar ons familie wat nie in die waarheid is nie kan ons ook van ons vrede beroof. Party spot ons dalk vir wat ons glo en beskuldig ons daarvan dat ons die familie opbreek. Hulle dreig dalk selfs om ons te onterf as ons nie ophou om Jehovah te dien nie. Hoe moet ons teenstand van familie beskou? Wat kan ons in so ’n situasie help?

HOE BESKOU ONS TEENSTAND VAN FAMILIE?

3, 4. (a) Hoe reageer mense op Jesus se leringe? (b) Wanneer is dit veral moeilik om Jesus na te volg?

3 Jesus het geweet dat nie almal sy leringe sal aanvaar nie. Hy het ook geweet dat party sy dissipels sal teëstaan en dat hulle moed nodig sal hê. Sulke teenstand kan die vrede in die familie versteur. Jesus het gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie; ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard. Want ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder. Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees.”—Matt. 10:34-36.

4 Toe Jesus gesê het: “Moenie dink dat ek gekom het om vrede . . . te bring nie”, het hy bedoel dat die mense wat na hom geluister het, moes nadink oor wat sou gebeur as hulle hom sou volg. Jesus se doel was om mense die waarheid te leer, nie om families op te breek nie (Joh. 18:37). Maar dit is nogtans moeilik om Jesus na te volg as jou familie of vriende nie die waarheid aanvaar nie.

5. Wat het Jesus se volgelinge ondervind?

5 Jesus het gesê dat teenstand van familie deel sal wees van vervolging (Matt. 10:38). Jesus se dissipels moes bespotting of verwerping van hulle families verduur om te wys dat hulle hom getrou navolg. Maar hulle is met baie meer beloon as wat hulle verloor het.—Lees Markus 10:29, 30.

6. Wat moet ons in gedagte hou as ons familie ons teëstaan?

6 Al wil ons familie miskien nie hê ons moet Jehovah dien nie, is ons nog steeds lief vir hulle. Maar ons moet onthou dat ons liefde vir Jehovah en Jesus eerste moet kom (Matt. 10:37). Ons moet besef dat Satan ons liefde vir ons familie kan gebruik om ons te kry om dislojaal aan Jehovah te wees. Kom ons kyk na situasies wat dit moeilik kan maak om Jehovah te dien en hoe ons dit kan oorkom.

’N ONGELOWIGE HUWELIKSMAAT

7. Hoe moet jy jou situasie beskou as jy ’n ongelowige huweliksmaat het?

7 Die Bybel waarsku dat dié wat trou “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Kor. 7:28). As jy ’n huweliksmaat het wat Jehovah nie dien nie, kan dit baie probleme veroorsaak. Maar dit is belangrik om jou situasie deur Jehovah se oë te sien. Jehovah sê dat jy nie kan skei of uitmekaar kan gaan net omdat jou huweliksmaat Hom nie dien nie (1 Kor. 7:12-16). Al neem jou man nie die geestelike leiding omdat hy Jehovah nie dien nie, moet jy hom nog steeds respekteer as die hoof van die gesin. En as jou vrou Jehovah nie dien nie, moet jy haar aanhou liefhê en vir haar sorg.—Ef. 5:22, 23, 28, 29.

8. Watter vrae moet jy jou afvra as jou maat jou diens aan Jehovah probeer beperk?

8 Wat moet jy doen as jou maat jou diens aan Jehovah probeer beperk? ’n Suster se man het byvoorbeeld vir haar gesê dat sy net op sekere dae velddiens mag doen. As jy in so ’n situasie is, vra jou af: ‘Sê my maat dat ek Jehovah moet ophou dien? Sal dit verkeerd wees om te doen wat my maat van my vra?’ Deur redelik te wees, sal jy minder probleme in jou huwelik hê.—Fil. 4:5.

9. Hoe kan Christene hulle kinders leer om ’n ouer te respekteer wat nie in die waarheid is nie?

9 Dit kan baie moeilik wees om kinders in die waarheid groot te maak as een ouer Jehovah nie dien nie. Jy moet byvoorbeeld jou kinders leer om die Bybel se bevel te gehoorsaam: “Eer jou vader en jou moeder” (Ef. 6:1-3). Maar wat as jou maat nie volgens die Bybel se standaarde lewe nie? Jy kan ’n goeie voorbeeld vir jou kinders wees deur jou maat te respekteer. Fokus op jou maat se goeie eienskappe en sê dankie vir al die goeie dinge wat hy of sy doen. Moenie negatiewe dinge van jou maat voor jou kinders sê nie. Maar verduidelik vir hulle dat elke persoon self moet besluit of hulle Jehovah gaan dien of nie. Die kinders se goeie gedrag kan dalk die ongelowige maat motiveer om Jehovah te begin dien.

Leer jou kinders Bybelwaarhede by elke geleentheid (Sien paragraaf 10)

10. Hoe kan Christenouers hulle kinders die waarheid leer as hulle ’n ongelowige maat het?

10 Soms sal die ongelowige maat wil hê dat hulle kinders aan heidense vieringe moet deelneem of dat hulle valse leringe leer. Party mans sê dalk dat hulle Christenvrou hulle kinders nie uit die Bybel mag leer nie. Maar ’n Christenvrou sal haar bes doen om die kinders Bybelwaarhede te leer (Hand. 16:1; 2 Tim. 3:14, 15). Byvoorbeeld, ’n man wil dalk nie hê dat sy vrou die Bybel met hulle kinders studeer of dat hulle saam met haar vergaderinge toe gaan nie. Sy kan haar man se besluit respekteer en nog steeds oor haar geloof praat wanneer sy saam met haar kinders is. So leer hulle van Jehovah en wat reg en verkeerd is (Hand. 4:19, 20). Maar die kinders moet later self kies of hulle Jehovah gaan dien of nie.—Deut. 30:19, 20. *

FAMILIELEDE WAT GEKANT IS TEEN DIE WAARHEID

11. Wat kan veroorsaak dat jou familie jou begin teëstaan?

11 Jy het dalk nie van die begin af jou familie vertel dat jy die Bybel saam met die Getuies studeer nie. Maar toe jou geloof sterker geword het, het jy besef dat jy hulle moet vertel dat jy Jehovah wil dien (Mark. 8:38). Omdat jy hierdie standpunt vir die waarheid ingeneem het, het dit dalk probleme tussen jou en jou familie veroorsaak. Kom ons kyk wat jy kan doen om die vrede te bewaar terwyl jy lojaal aan Jehovah bly.

12. Hoekom is party familielede gekant teen jou aanbidding van Jehovah, en hoe kan jy wys dat jy verstaan hoe hulle voel?

12 Probeer verstaan hoe jou ongelowige familie voel. Ons is dalk baie bly oor wat ons in die Bybel geleer het, maar ons familie glo dalk dat ons om die bos gelei is of dat ons deel geword het van ’n vreemde godsdiensgroep. Hulle dink dalk dat ons nie meer lief is vir hulle nie omdat ons nie meer vakansiedae saam met hulle vier nie. Hulle is ook dalk bang dat iets slegs met ons gaan gebeur nadat ons sterf. Luister na hulle en probeer verstaan hoe hulle voel en hoekom hulle bekommerd is oor jou (Spr. 20:5). Die apostel Paulus het probeer om “alle soorte mense” te verstaan, sodat hy die goeie nuus vir hulle kon vertel. As ons ons familielede probeer verstaan, kan dit ons help om hulle die waarheid te leer.—1 Kor. 9:19-23.

13. Hoe moet ons met ons familie praat wat nie in die waarheid is nie?

13 Gebruik aangename woorde. Die Bybel sê: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees” (Kol. 4:6). Ons kan Jehovah vra vir sy heilige gees om ons te help om aangename woorde te gebruik wanneer ons met ons familie praat. Ons moenie met hulle stry oor wat hulle glo nie. As hulle ons seermaak met wat hulle sê of doen, kan ons die apostels se voorbeeld volg. Paulus het geskryf: “Wanneer ons uitgeskel word, seën ons; wanneer ons vervolg word, hou ons uit; wanneer ons beswadder word, smeek ons [of, “antwoord ons vriendelik”]”.—1 Kor. 4:12, 13.

14. Wat is die voordele as ons ons altyd goed gedra?

14 Gedra jou altyd goed. Al help aangename woorde ons wanneer ons met ons familielede praat, kan ons goeie gedrag selfs ’n groter impak maak. (Lees 1 Petrus 3:1, 2, 16.) Deur ons voorbeeld moet ons familielede kan sien dat Jehovah se Getuies gelukkige huwelike het, goed vir hulle kinders sorg, die standaarde in die Bybel volg en ’n betekenisvolle lewe lei. Selfs al kom van ons familielede nooit in die waarheid nie, weet ons dat ons goeie gedrag Jehovah bly maak.

15. Wat kan ons help om nie met ons familie te stry nie?

15 Wees voorbereid. Dink aan situasies wat stryery kan veroorsaak en kyk hoe jy dit kan hanteer (Spr. 12:16, 23). ’n Suster van Australië sê: “My skoonpa was gekant teen die waarheid. Voor ons hom gebel het om te hoor hoe dit gaan, het ek en my man gebid en Jehovah gevra om ons te help om kalm te bly wanneer hy kwaad word. Ons het vooraf besluit hoe lank die oproep sou wees en waaroor ons sou praat om lang gesprekke te vermy wat kon veroorsaak dat ons oor godsdiens stry.”

16. Wat kan jy doen om nie skuldig te voel wanneer jy jou familie teleurstel nie?

16 Jy kan natuurlik nie alle argumente met jou ongelowige familie vermy nie. Sulke argumente kan jou skuldig laat voel omdat jy lief is vir jou familie en jy hulle nie wil teleurstel nie. As jy so voel, moet jy onthou dat jou lojaliteit aan Jehovah belangriker moet wees as jou liefde vir jou familie. Wanneer hulle dit besef, sal hulle dalk verstaan hoe belangrik dit vir jou is om Jehovah te dien. Onthou, jy kan niemand forseer om die waarheid te aanvaar nie. Maar jy kan eerder jou familie wys hoe dit jou gehelp het om Jehovah te dien. Ons liefdevolle God gee hulle ook die geleentheid om hom te dien.—Jes. 48:17, 18.

AS ’N FAMILIELID OPHOU OM JEHOVAH TE DIEN

17, 18. Wat kan jou help as ’n familielid ophou om Jehovah te dien?

17 Wanneer ’n familielid uitgesit word of nie meer ’n Getuie wil wees nie, kan dit voel asof iemand jou met ’n swaard gesteek het. Wat kan jou help om deur hierdie moeilike situasie te kom?

18 Bly by jou geestelike roetine. As jy in hierdie moeilike situasie is, moet jy jou geloof sterk hou. Jy kan dit doen deur gereeld die Bybel te lees, vir vergaderinge voor te berei en dit by te woon, velddiens te doen en te bid vir krag om te volhard (Jud. 20, 21). Maar wat as jy al hierdie dinge doen en die pyn wil nog steeds nie weggaan nie? Moenie opgee nie! ’n Goeie geestelike roetine kan jou help om jou gedagtes en gevoelens te beheer. Dink aan wat met die skrywer van Psalm 73 gebeur het. Hy het ook op ’n stadium in sy lewe gesukkel om sy gedagtes en gevoelens te beheer. Maar omdat hy Jehovah bly dien het, het dit hom gehelp om sy denke reg te stel (Ps. 73:16, 17). As jy aanhou om Jehovah te dien, sal dit jou ook help.

19. Hoe kan jy wys dat jy Jehovah se dissipline respekteer?

19 Respekteer Jehovah se dissipline. God weet dat almal by sy dissipline kan baat vind, selfs dié wat uitgesit is. Al maak dit ons baie hartseer as iemand vir wie ons lief is gedissiplineer word, kan dit hulle help om in die toekoms na Jehovah terug te keer. (Lees Hebreërs 12:11.) Jehovah sê vir ons om nie met mense wat uitgesit is “om te gaan” nie (1 Kor. 5:11-13). Dit is nie maklik nie, maar ons moet seker maak dat ons alledaagse kontak met hulle vermy. Dit sluit in gesprekke oor die telefoon, boodskappe, briewe, e-posse of selfs kontak op sosiale netwerke.

20. Watter hoop moet ons nie verloor nie?

20 Moenie hoop verloor nie. Die liefde “hoop alles”, selfs dat dié wat opgehou het om Jehovah te dien terug sal kom (1 Kor. 13:7). As jy sien dat een van jou familielede Jehovah weer wil dien, kan jy bid dat die Bybel die persoon sal help om te reageer op Jehovah se uitnodiging: “Keer tog terug tot my.”—Jes. 44:22.

21. Wat moet jy doen as jou familie jou teëstaan omdat jy Jesus navolg?

21 Jesus het gesê dat ons hom meer moet liefhê as enigiemand anders. En hy was oortuig daarvan dat sy dissipels die moed sou hê om lojaal aan hom te bly, al sou hulle familie hulle teëstaan. As jou familie jou teëstaan omdat jy Jesus navolg, moet jy op Jehovah vertrou om jou te help (Jes. 41:10, 13). Jy kan gelukkig wees in Jehovah se diens, want jy weet dat dit Jehovah en Jesus baie bly maak as jy hulle lojaal dien en dat hulle jou daarvoor sal seën.

^ par. 10 Vir meer inligting oor hoe om kinders te leer as net een ouer Jehovah dien, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2002.