Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sagaria se visioene—Hoe dit jou raak

Sagaria se visioene—Hoe dit jou raak

“Keer terug tot my . . . en ek sal tot julle terugkeer.”—SAG. 1:3.

LIEDERE: 120, 117

1-3. (a) Wat was die situasie van Jehovah se volk toe Sagaria begin profeteer het? (b) Waarom het Jehovah sy volk gevra om na hom toe ‘terug te keer’?

’N VLIEËNDE boekrol, ’n vrou wat in ’n houer geseël is en twee vrouens wat vlieg met vlerke soos ’n ooievaar. Hierdie is van die opwindende visioene wat Sagaria gesien het (Sag. 5:1, 7-9). Hoekom het Jehovah hierdie visioene vir sy profeet gegee? Wat was die Israeliete se situasie in daardie tyd? Hoe raak Sagaria se visioene ons vandag?

2 Die jaar 537 VHJ was ’n tyd van vreugde vir Jehovah se toegewyde volk. Nadat hulle 70 jaar lank in gevangenskap in Babilon was, is hulle vrygelaat. Hulle was baie opgewonde om na Jerusalem terug te keer om die tempel te herbou en ware aanbidding te herstel. In 536 VHJ was die tempel se fondasie klaar. Die volk was so bly dat hulle gejuig het “met ’n groot gejuig, en die geluid is tot ver weg gehoor” (Esra 3:10-13). Maar daar was mense wat die bouwerk wou stopsit. Die Israeliete het mismoedig geword en het opgehou om die tempel te bou. Hulle het eerder hulle eie huise gebou en hulle landerye bewerk. Sestien jaar later was Jehovah se tempel nog steeds nie klaar nie. God se volk moes daaraan herinner word dat hulle moet terugkeer na Jehovah en ophou om aan hulleself te dink. Jehovah wou hê dat hulle hom weer ywerig moes dien.

3 In 520 VHJ het Jehovah sy profeet Sagaria gestuur om sy volk te help onthou waarom Hy hulle uit Babilon vrygelaat het. Sagaria se naam beteken “Jehovah het onthou”. Al het die Israeliete vergeet wat Jehovah vir hulle gedoen het, het Hy hulle nie vergeet nie. (Lees Sagaria 1:3, 4.) Hy het hulle liefdevol verseker dat hy hulle sal help om ware aanbidding te herstel. Maar hy het hulle gewaarsku dat hy nie hulle aanbidding sal aanvaar as dit nie opreg is nie. Kom ons kyk na Sagaria se sesde en sewende visioen. Dit sal ons wys hoe Jehovah die Israeliete gehelp het om op te tree, en hoe hierdie twee visioene ons ook kan help.

JEHOVAH STRAF DIÉ WAT STEEL

4. Wat het Sagaria in sy sesde visioen gesien, en hoekom was daar op albei kante van die boekrol geskryf? (Sien prent 1 aan begin van artikel.)

4 Sagaria hoofstuk 5 begin met ’n buitengewone visioen. (Lees Sagaria 5:1, 2.) Sagaria het ’n boekrol gesien wat deur die lug vlieg. Dit was omtrent nege meter lank en vier en ’n half meter breed! Dit was oopgerol en reg om te lees. Dit het ’n ernstige oordeelsboodskap bevat (Sag. 5:3). Gewoonlik was daar net op een kant van ’n boekrol geskryf, maar hierdie boodskap was so belangrik dat dit op albei kante geskryf was.

Christene moet enige vorm van diefstal vermy (Sien paragraaf 5-7)

5, 6. Hoe voel Jehovah oor mense wat steel?

5 Lees Sagaria 5:3, 4. Almal is aanspreeklik teenoor Jehovah. Dit is veral waar vir Jehovah se volk omdat hulle sy naam dra. Dié wat vir God lief is, weet dat as hulle steel hulle “die naam van [hulle] God skend” (Spr. 30:8, 9). Party mense dink dalk dat dit nie verkeerd is om te steel as jy ’n goeie rede het nie. Maar maak nie saak wat die rede is nie, ’n persoon wat steel se begeerte na materiële dinge is vir hom belangriker as Jehovah, Sy naam en Sy wet.

6 Het jy opgelet dat Sagaria 5:3, 4 sê dat “die vloek . . . in die huis van die dief [sal] ingaan . . . en dit [sal] binne-in sy huis oornag en dit vernietig”? Volgens hierdie teks kan Jehovah alle verkeerde dade sien en dit oordeel. Al kry iemand wat steel dit reg om dit vir die polisie, werkgewers, ouer manne of ouers weg te steek, kan hy dit nie vir Jehovah wegsteek nie. God sal seker maak dat enige soort diefstal sal uitkom (Heb. 4:13). Ons geniet dit werklik om saam met mense te wees wat hulle “in alles eerlik wil gedra”!—Heb. 13:18.

7. Wat leer ons uit die visioen van die vlieënde boekrol?

7 Jehovah haat alle vorme van diefstal. Dit is vir ons ’n groot voorreg om Jehovah se standaarde te ken en te gehoorsaam en op ’n manier te lewe wat nie oneer op Sy naam bring nie. As ons dit doen, sal Jehovah ons nie saam met die ongehoorsame mense oordeel nie.

BLY BY JOU WOORD “DAG NA DAG”

8-10. (a) Wat is ’n eed? (b) Watter eed het koning Sedekia nie nagekom nie?

8 Die boodskap op die vlieënde boekrol gee ’n waarskuwing aan dié ‘wat in God se naam valslik ’n eed aflê’ (Sag. 5:4). ’n Eed is ’n verklaring om te bevestig dat iets waar is of ’n plegtige belofte dat iemand iets sal doen of nie sal doen nie.

9 Om ’n eed af te lê in Jehovah se naam is ’n baie ernstige saak. Dit is presies wat die laaste koning wat in Jerusalem regeer het, gedoen het. Sedekia het ’n eed afgelê in Jehovah se naam dat hy ’n lojale dienaar van die koning van Babilon sal wees. Maar Sedekia het nie by sy woord gebly nie. En daarom het Jehovah hom geoordeel en gesê: “So waar as ek lewe, . . . in die woonplek van die koning wat die een as koning aangestel het wat sy eed verag het en wat sy verbond verbreek het, by hom, in Babilon, sal [Sedekia] sterf.”—Eseg. 17:16.

10 Koning Sedekia het hierdie eed in God se naam afgelê, en Jehovah het verwag dat hy daarby moes bly (2 Kron. 36:13). Maar Sedekia het sy belofte verbreek en Egipte gevra om hom te help om los te breek van Babilon. Maar Egipte kon hom nie help nie.—Eseg. 17:11-15, 17, 18.

11, 12. (a) Wat is die belangrikste belofte wat ons ooit sal maak? (b) Hoe moet ons toewydingsgelofte ons daaglikse lewe raak?

11 Jehovah luister ook na die beloftes wat ons maak. As ons Jehovah wil gelukkig maak, moet ons ons beloftes hou (Ps. 76:11). Die belangrikste belofte wat ons kan maak, is om onsself aan Jehovah toe te wy. Wanneer ons ons aan Jehovah toewy, belowe ons dat ons hom altyd sal dien, maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie.

12 Hoe kan ons ons belofte aan Jehovah nakom? Ons kom “dag na dag” voor klein en groot toetse te staan, en die manier hoe ons daarop reageer, wys hoe sterk ons vriendskap met Jehovah is (Ps. 61:8). Byvoorbeeld, wat sal jy doen as iemand by die werk of by die skool met jou flirt? Sal jy sulke belangstelling verwerp en eerder wys dat jy aan Jehovah gehoorsaam wil wees? (Spr. 23:26). Of miskien is jy die enigste een in jou familie wat Jehovah dien. Vra jy Jehovah om jou te help om aan te hou om soos ’n Christen op te tree? Praat ons elke dag met ons liefdevolle hemelse Vader en sê ons dankie dat hy lief is vir ons en ons lei? Lees ons die Bybel elke dag? Is dit nie wat ons belowe het toe ons ons aan Jehovah toegewy het nie? As ons Jehovah getrou dien, wys ons dat ons lief is vir hom en dat ons werklik aan hom toegewy is. Ons aanbidding is nie net ’n deel van ons lewe nie, dit is ons lewe. Omdat ons getrou is aan Jehovah, belowe hy ons ’n wonderlike toekoms.—Deut. 10:12, 13.

13. Wat leer ons uit Sagaria se sesde visioen?

13 Sagaria se sesde visioen help ons om te sien dat dié wat lief is vir Jehovah, nie sal steel nie en nie hulle beloftes sal verbreek nie. Al het die Israeliete baie foute gemaak, het Jehovah sy beloftes gehou en hulle nie verlaat nie. Hy het geweet dat hulle in ’n moeilike situasie was omdat hulle omring was deur hulle vyande. Jehovah hou altyd sy beloftes, en hy sal ons help om ons beloftes te hou. Een manier hoe hy ons help is deur ons die hoop te gee dat hy binnekort alle goddeloosheid sal wegneem. Sagaria se volgende visioen verseker ons van hierdie hoop.

GODDELOOSHEID WORD ‘OP HAAR PLEK GESIT’

14, 15. (a) Wat sien Sagaria in sy sewende visioen? (Sien prent 2 aan begin van artikel.) (b) Wat stel die vrou in die houer voor, en hoekom is sy in die houer geseël?

14 Nadat Sagaria die vlieënde boekrol gesien het, het ’n engel vir hom gesê om ‘op te kyk’. Sagaria het toe ’n houer gesien wat ’n “efa” genoem word. (Lees Sagaria 5:5-8.) Die houer het ’n “ronde looddeksel” gehad. Toe die houer oopgemaak is, het Sagaria ’n “vrou binne-in” gesien sit. Die engel het verduidelik dat die vrou in die houer “Goddeloosheid” is. Dink net hoe geskok Sagaria moes gewees het toe hy sien hoe die vrou uit die houer probeer klim! Die engel het die vrou vinnig in die houer teruggegooi en dit met die swaar deksel geseël. Wat beteken dit?

15 Hierdie visioen verseker ons dat Jehovah geen goddeloosheid onder sy volk sal toelaat nie. As Jehovah slegte dinge sien, sal hy dit vinnig verwyder (1 Kor. 5:13). Die engel het ons hiervan verseker toe hy die deksel vinnig op die houer teruggesit het.

Jehovah het belowe om sy aanbidding rein te hou (Sien paragraaf 16-18)

16. (a) Wat het met die houer gebeur? (Sien prent 3 aan begin van artikel.) (b) Waarheen neem die vrouens met vlerke die houer?

16 Volgende het Sagaria twee vrouens gesien met sterk vlerke soos ’n ooievaar. (Lees Sagaria 5:9-11.) Hierdie vrouens was heeltemal anders as die vrou in die houer. Hierdie vrouens het met hulle kragtige vlerke die houer met “Goddeloosheid” opgetel en weggevlieg. Waarheen het hulle haar gevat? Hulle het die houer na “die land Sinear”, of Babilon, gevat. Maar hoekom het hulle die houer na Babilon toe gevat?

17, 18. (a) Hoekom was Sinear die “regte plek” vir “Goddeloosheid”? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Die Israeliete in Sagaria se dag sou verstaan het hoekom Babilon die “regte plek” was om “Goddeloosheid” heen te vat. Hulle het geweet dat dit ’n goddelose stad was, vol onsedelikheid en valse aanbidding. Sagaria en ander Jode wat daar grootgeword het, moes elke dag stry teen die heidense invloed. Hierdie visioen het hulle verseker dat Jehovah sy aanbidding rein sal hou.

18 Die visioen het ook die Jode daaraan herinner dat hulle die verantwoordelikheid het om hulle aanbidding rein te hou. Goddeloosheid kan nie en sal nie toegelaat word onder God se volk nie. Jehovah het ons vandag in sy rein organisasie ingebring waar ons sy liefde en beskerming ervaar. Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om Jehovah se organisasie rein te hou. Goddeloosheid het geen plek in ons geestelike paradys nie.

REIN MENSE EER JEHOVAH

19. Wat leer ons uit Sagaria se visioene?

19 Sagaria se sesde en sewende visioen is ’n ernstige waarskuwing vir dié wat aanhou doen wat verkeerd is. Jehovah sal goddeloosheid verwyder. Ons, as sy knegte, moet goddeloosheid haat. Hierdie visioene verseker ons dat as ons hard werk om Jehovah gelukkig te maak, sal hy ons beskerm en seën. Dit is moeilik om rein te bly in hierdie goddelose wêreld, maar met Jehovah se hulp sal ons dit regkry! Maar hoe kan ons seker wees dat ware aanbidding nooit vernietig sal word nie? Hoe weet ons dat Jehovah sy organisasie sal beskerm terwyl die groot verdrukking nader kom? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.