Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Strydwaens en ’n kroon beskerm ons

Strydwaens en ’n kroon beskerm ons

“En dit sal plaasvind—as julle vir seker na die stem van Jehovah julle God luister.”—SAG. 6:15.

LIEDERE: 17, 136

1, 2. Wat was die Jode se situasie in Jerusalem aan die einde van Sagaria se sewende visioen?

AAN die einde van Sagaria se sewende visioen het hy baie gehad om oor te dink. Jehovah het belowe dat hy oneerlike mense vir hulle goddeloosheid sal oordeel. Dit moes Sagaria baie aangemoedig het. Maar niks het verander nie. Mense was nog steeds oneerlik en goddeloos. En Jehovah se tempel in Jerusalem was nog ver van klaar af. Hoekom het die Jode opgehou om die werk te doen wat Jehovah vir hulle gegee het? Het hulle na Jerusalem teruggegaan net om hulle eie lewens te verbeter?

2 Sagaria het geweet dat die Jode wat na Jerusalem teruggegaan het, sterk geloof gehad het. Jehovah het hulle ‘gees opgewek’, of gemotiveer, om hulle huise en besighede in Babilon te los (Esra 1:2, 3, 5). Hulle het die plek verlaat wat hulle goed geken het om te trek na ’n plek wat hulle glad nie geken het nie. Hulle sou nie hierdie moeilike reis van 1 600 kilometer aangepak het as die herbouing van Jehovah se tempel nie vir hulle belangrik was nie.

3, 4. Watter probleme het die Jode gehad?

3 Dink net hoe daardie lang reis terug na Jerusalem toe was. Die Jode het baie tyd gehad om te dink oor die nuwe plek waar hulle sou bly. Hulle het gehoor hoe pragtig Jerusalem en die tempel was (Esra 3:12). Hoe sou jy gevoel het as jy saam met hulle gereis het en Jerusalem vir die eerste keer gesien het? Sou dit jou hartseer gemaak het om die geboue te sien wat vernietig is en vol onkruid was? Sou jy Jerusalem se afgebreekte mure, met groot gapings waar hekke en torings was, vergelyk het met Babilon se groot dubbele mure? Maar die Jode het nie moedeloos geword nie. Hoekom nie? Hulle het gesien hoe Jehovah hulle gedurende hulle lang reis gehelp en beskerm het. Die eerste ding wat hulle gedoen het toe hulle daar aangekom het, was om ’n altaar te bou, en hulle het elke dag offerandes aan Jehovah gemaak (Esra 3:1, 2). Hulle was ywerig en reg om te werk. Dit het gelyk of niks hulle kon onderkry nie.

4 Die Israeliete moes nie net die tempel herbou nie. Hulle moes ook hulle stede en huise herbou en in die landerye werk om kos vir hulle gesinne te voorsien (Esra 2:70). Hulle het baie werk gehad. Toe het hulle vyande gekom en hulle werk probeer stopsit. Hierdie teenstand het 15 jaar lank aangehou, en die Jode het begin moedeloos word (Esra 4:1-4). En toe, in 522 VHJ, het die Persiese koning beveel dat alle bouwerk in Jerusalem moes ophou. Dit het gelyk of die stad nooit herbou sou word nie.—Esra 4:21-24.

5. Hoe het Jehovah sy volk gehelp?

5 Jehovah het geweet dat sy volk krag en moed nodig gehad het. Hy het aan Sagaria nog ’n visioen gegee om die Jode van Sy liefde te verseker en vir hulle te wys dat hy waardeer wat hulle vir hom gedoen het. Hy het belowe om hulle te beskerm as hulle met die bouwerk sou aangaan. Jehovah se belofte oor die bouwerk was: “Dit sal plaasvind—as julle vir seker na die stem van Jehovah julle God luister.”—Sag. 6:15.

’N LEËRMAG VAN ENGELE

6. (a) Hoe begin Sagaria se agtste visioen? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoekom is die perde verskillende kleure?

6 Sagaria se laaste visioen is dalk die een wat ons geloof die meeste versterk. (Lees Sagaria 6:1-3.) Probeer jou voorstel wat Sagaria gesien het: Vier strydwaens kom “tussen twee . . . koperberge” uitgejaag. Die perde wat die strydwaens trek, is verskillende kleure. Dit het dit maklik gemaak om die ruiters van mekaar te onderskei. “Wat is dit?”, het Sagaria gevra (Sag. 6:4). Ons wil dit ook weet, want hierdie visioen raak ons ook.

Jehovah gebruik nog steeds sy engele om sy volk te beskerm en te versterk

7, 8. (a) Wat stel die twee berge voor? (b) Waarom is die berge van koper gemaak?

7 In die Bybel word berge soms gebruik om koninkryke, of regerings, voor te stel. Die berge in Sagaria se visioen is soortgelyk aan die twee berge in Daniël se profesie. Een berg stel Jehovah se universele en ewige heerskappy voor. Die ander berg stel die Messiaanse Koninkryk voor met Jesus as Koning (Dan. 2:35, 45). Vandat Jesus in 1914 Koning geword het, het albei berge ’n spesiale rol gespeel in die vervulling van Jehovah se voorneme op die aarde.

8 Waarom is die berge van koper gemaak? Koper is ’n baie waardevolle metaal. Jehovah het gesê dat hierdie blink metaal in die bou van die tabernakel en later in die tempel in Jerusalem gebruik moes word (Eks. 27:1-3; 1 Kon. 7:13-16). Die feit dat die twee berge van koper is, beklemtoon die hoë gehalte van Jehovah se universele soewereiniteit en van sy Messiaanse Koninkryk, wat mense veilig sal laat voel en baie seëninge vir hulle sal bring.

9. Wie is die ruiters van die strydwaens, en wat is hulle werk?

9 Wat stel die ruiters en die strydwaens voor? Die ruiters is engele, moontlik verskillende groepe engele. (Lees Sagaria 6:5-8.) Hulle gaan uit “voor die Here van die hele aarde” om ’n spesiale werk te doen. Wat is hierdie werk? Die engele word na spesifieke gebiede gestuur om God se volk te beskerm, veral teen Babilon, “die land van die noorde”. Jehovah sou nooit weer toelaat dat sy volk slawe van Babilon word nie. Dit moes almal wat in Sagaria se dag die tempel gebou het, baie vertroos het! Hulle het geweet dat hulle vyande hulle nie kon keer nie.

10. Watter versekering kry ons uit Sagaria se visioen oor die strydwaens en hulle ruiters?

10 Jehovah gebruik nog steeds sy engele om sy volk te beskerm en te versterk (Mal. 3:6; Heb. 1:7, 14). Vandat Jehovah se volk in 1919 uit Babilon die Grote vrygelaat is, het ware aanbidding regoor die aarde uitgebrei, al het hulle vyande hard probeer om dit stop te sit (Op. 18:4). Omdat die engele ons beskerm, hoef ons nie bang te wees dat Jehovah se organisasie ooit weer gevangenes van valse godsdiens sal word nie (Ps. 34:7). Ons kan seker wees dat God se knegte sal aanhou om geestelik te groei. En Sagaria se visioen verseker ons dat ons veilig is en beskerm word deur hierdie twee berge.

11. Hoekom hoef ons nie bang te wees vir die komende aanval op God se volk nie?

11 Binnekort sal die regerings in Satan se wêreld saam werk om God se volk te probeer vernietig (Eseg. 38:2, 10-12; Dan. 11:40, 44, 45; Op. 19:19). Esegiël se profesie sê dat hierdie magte die aarde soos wolke bedek. Hulle ry op perde, hulle is woedend en val God se volk aan (Eseg. 38:15, 16). * Moet ons bang wees? Glad nie! Ons het Jehovah se leërmag aan ons kant. Gedurende die groot verdrukking sal die engele God se volk beskerm en almal vernietig wat nie Jehovah se heerskappy aanvaar nie (2 Tess. 1:7, 8). Ons sien baie uit na daardie dag! Maar wie is die leier van Jehovah se hemelse leërmag?

JEHOVAH STEL ’N PRIESTER AS KONING AAN

12, 13. (a) Wat word Sagaria nou gevra om te doen? (b) Hoe weet ons dat die man wat Spruit genoem word, Jesus Christus is?

12 Sagaria was die enigste een wat hierdie agt visioene gesien het. Maar toe het hy iets gedoen wat almal sou aanmoedig wat die tempel herbou het. (Lees Sagaria 6:9-12.) Jehovah het vir Sagaria gesê om silwer en goud by Heldai, Tobia en Jedaja, wat uit Babilon gekom het, te kry. Hy moes dit gebruik om ’n “luisterryke kroon” te maak (Sag. 6:11). Was hierdie kroon bedoel vir goewerneur Serubbabel van die stam van Juda, ’n nakomeling van Dawid? Nee. Jehovah het vir Sagaria gesê om die kroon op die kop van die hoëpriester, Josua, te sit. Dit moes almal verbaas het.

13 Het dit beteken dat Josua nou ’n koning was? Nee. Josua was nie ’n nakomeling van Dawid nie, en daarom kon hy nie koning word nie. Die feit dat die kroon op Josua se kop gesit was, het gewys wat met ’n toekomstige en ewige koning en priester, wat Spruit genoem word, sou gebeur. Die Bybel wys dat Spruit Jesus Christus is.—Jes. 11:1; Matt. 2:23. *

14. Watter werk doen Jesus as Koning en Hoëpriester?

14 Jesus is Koning en Hoëpriester. Hy is die leier van Jehovah se hemelse leërmag. Hy werk hard om God se volk veilig te laat voel in hierdie wrede wêreld (Jer. 23:5, 6). Binnekort sal Christus die leiding neem om Jehovah se volk te beskerm en om die nasies te verslaan wat nie God se heerskappy aanvaar nie (Op. 17:12-14; 19:11, 14, 15). Maar voor dit gebeur, het Jesus, of Spruit, baie werk om te doen.

HY SAL DIE TEMPEL BOU

15, 16. (a) Hoe is God se volk in ons dag gesuiwer, en deur wie? (b) Wat sal aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy gebeur?

15 Jesus is nie net as Koning en Hoëpriester aangestel nie. Hy is ook die werk gegee om “die tempel van Jehovah [te] bou”. (Lees Sagaria 6:13.) In 1919 het hy hierdie bouwerk gedoen deur God se volk te bevry van die invloed van valse godsdiens, Babilon die Grote. Hy het veranderinge in die gemeente aangebring en “die getroue en verstandige slaaf” aangestel. Hierdie groep gesalfde broers neem die leiding in die belangrike werk wat in die aardse deel van die groot geestelike tempel gedoen word (Matt. 24:45). Jesus is ook besig om God se volk te suiwer sodat hulle aanbidding rein kan wees.—Mal. 3:1-3.

16 Jesus en sy 144 000 konings en priesters sal vir ’n duisend jaar regeer. Gedurende daardie tyd sal hulle getroue mense help om volmaak te word. Wanneer almal volmaak is, sal daar net ware aanbidders van God op die aarde oorbly. Ware aanbidding sal dan uiteindelik herstel wees!

NEEM DEEL AAN DIE BOUWERK

17. Watter belofte het Jehovah aan die Jode gemaak, en hoe het dit hulle geraak?

17 Hoe het Sagaria se boodskap die Jode in sy dag geraak? Jehovah het belowe om hulle te help en te beskerm sodat hulle die tempel kon klaarmaak. Hierdie belofte het hulle hoop gegee. Maar hulle het dalk gewonder hoe net ’n paar mense soveel werk kon doen. Sagaria het toe iets vir hulle gesê wat hulle vrese en twyfelgedagtes sou wegneem. Jehovah het gesê dat buiten Heldai, Tobia en Jedaja, baie ander sou “kom en aan die tempel van Jehovah bou”. (Lees Sagaria 6:15.) Die Jode was oortuig daarvan dat Jehovah hulle werk sou ondersteun, en hulle het weer begin bou, al het die Persiese koning gesê dat hulle dit nie mag doen nie. Hierdie verbod was soos ’n berg voor hulle, maar Jehovah het dit gou verwyder. Die tempel is uiteindelik in 515 VHJ voltooi (Esra 6:22; Sag. 4:6, 7). Maar Jehovah se woorde beskryf iets baie groter wat in ons dag gebeur.

Jehovah sal nooit ons liefde vir hom vergeet nie! (Sien paragraaf 18, 19)

18. Hoe word die woorde in Sagaria 6:15 in ons dag vervul?

18 Daar is vandag miljoene mense wat Jehovah aanbid. Hulle is bly om hulle “waardevolle dinge” aan hom te gee. Dit sluit hulle tyd, energie en materiële dinge in. Dit is hoe hulle Jehovah se groot geestelike tempel ondersteun (Spr. 3:9). Hoe weet ons dat Jehovah ons lojale ondersteuning waardeer? Onthou dat Heldai, Tobia en Jedaja silwer en goud gebring het waarmee Sagaria die kroon gemaak het. Die kroon was ’n herinnering aan die bydrae wat hulle gemaak het om ware aanbidding te bevorder (Sag. 6:14). Jehovah sal nooit ons liefde vir hom en die werk wat ons vir hom doen, vergeet nie.—Heb. 6:10.

19. Hoe moet Sagaria se visioen ons raak?

19 In hierdie laaste dae het Jehovah se knegte baie gedoen om ware aanbidding te bevorder. Maar dit is net moontlik omdat Jehovah die werk seën en Christus die leiding neem. Ons is bly om deel te wees van ’n organisasie wat ons beskerm en wat vir ewig sal bestaan. Jehovah se voorneme vir ware aanbidding “sal plaasvind”. Waardeer jou plek onder Jehovah se volk, en ‘luister na die stem van Jehovah’. Jy sal dan beskerm word deur ons Koning en Hoëpriester en die engele. As jy alles doen wat jy kan om ware aanbidding te ondersteun, sal Jehovah jou nou, en vir ewig beskerm!

^ par. 11 Vir meer inligting sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2015, bl. 27-28.

^ par. 13 Die woord Nasarener in Matteus 2:23 kom waarskynlik van die Hebreeuse woord vir “spruit”.