Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Astrologie en waarsêery — ’n Kykie in die toekoms?

Astrologie en waarsêery — ’n Kykie in die toekoms?

ASTROLOGIE

Astrologie is ’n vorm van waarsêery waar daar geglo word dat die sterre, die maan en die planete mense se lewe op die aarde beïnvloed. Astroloë sê dat die posisie van hierdie hemelliggame by ’n persoon se geboorte, die persoon se persoonlikheid en toekoms vorm.

Al word astrologie van Babilon se dae af gebruik, is dit nog steeds vandag gewild. Volgens ’n opname wat in 2012 in die Verenigde State gedoen is, het ’n derde van die deelnemers gedink dat astrologie “soort van wetenskaplik” is. En 10 persent het gesê dat dit “baie wetenskaplik” is. Is dit waar? Nee. Hier is ’n paar redes hoekom dit nie wetenskaplik is nie.

  • Die planete en sterre straal nie die een of ander krag uit wat mense se lewe beïnvloed soos wat astroloë sê nie.

  • Baie keer is die voorspellings nie spesifiek nie en kan dit op enigiemand van toepassing wees.

  • Astroloë maak vandag voorspellings op grond van die feit dat mense in die ou tyd geglo het dat die planete om die aarde draai. Maar die planete draai eintlik om die son.

  • Voorspellings wat verskillende astroloë vir dieselfde persoon maak, stem nie ooreen nie.

  • Volgens astrologie is daar 12 kategorieë, of sterretekens, en ’n persoon se geboortedatum bepaal in watter kategorie hy val. Elke sterreteken is na ’n konstellasie in die hemelruim vernoem. Maar omdat die aarde se posisie in die ruimte oor die eeue verander het, kom die datums vir elke sterreteken nie meer ooreen met die datums waarop die son deur die konstellasies beweeg nie.

Daar word gesê dat sterretekens jou ’n idee kan gee van hoe iemand se persoonlikheid sal wees. Maar mense wat dieselfde geboortedatum het, het nie dieselfde persoonlikheid nie. ’n Mens se geboortedatum het eintlik niks te doen met jou persoonlikheid nie. Ongelukkig sien astroloë mense nie vir wie hulle werklik is nie. Hulle neem eerder aan dat ’n persoon op ’n spesifieke manier gaan optree en ’n sekere soort persoonlikheid sal hê omdat hy of sy op ’n spesifieke datum gebore is. Is dit nie ’n vorm van vooroordeel nie?

WAARSÊERY

Mense gaan al eeue lank na waarsêers, of fortuinvertellers, toe. Party voorspellers soek na tekens in dinge soos die binnegoed van mense en diere of hulle kyk selfs na hoe ’n hoenderhaan graan oppik. Ander maak voorspellings deur die patrone in teeblare en die afsaksels van koffie te “lees”. Vandag gebruik hulle tarotkaarte, kristalballe, dobbelstene en ander dinge om mense se toekoms te voorspel. Is waarsêery ’n betroubare manier om die toekoms te voorspel? Nee, dit is nie. Kom ons redeneer ’n bietjie hieroor.

Stem hierdie voorspellings oor die toekoms altyd ooreen? Die verskillende metodes wat fortuinvertellers gebruik, veroorsaak dat hulle voorspellings dikwels van mekaar verskil. Selfs al gebruik hulle dieselfde metode, verskil die voorspellings nog altyd van mekaar. Byvoorbeeld, as iemand twee verskillende fortuinvertellers dieselfde vraag oor die toekoms vra en hulle dieselfde kaarte gebruik om die toekoms te “lees”, behoort die antwoorde mos dieselfde te wees. Maar dikwels is dit nie.

Die metodes en motiewe van fortuinvertellers word deesdae deur party mense bevraagteken. Hulle dink dat fortuinvertellers glad nie kaarte of kristalballe gebruik om die toekoms te voorspel nie. Die fortuinvertellers kyk eerder hoe die persoon reageer en maak dan gevolgtrekkings. Byvoorbeeld, ’n ervare fortuinverteller sal algemene vrae vra en nie net goed luister na wat die kliënt sê nie, maar die kliënt ook fyn dophou om te sien wat hulle lyftaal sê. Dit lyk dan asof die fortuinverteller alles oor die persoon geweet het en sy omstandighede geken het, maar eintlik het die kliënt hom alles vertel sonder dat die kliënt dit besef. Omdat party fortuinvertellers die vertroue van hulle kliënte gewen het, kon hulle op ’n oneerlike manier baie geld uit hierdie mense maak.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die gebruik van astrologie en waarsêery kan ’n mens die idee gee dat ons toekoms vooraf bepaal is. Maar is dit waar? Die Bybel sê dat ons die vermoë het om te kies wat ons glo of wat ons wil doen en dat ons keuses ’n uitwerking op ons toekoms het. — Josua 24:15.

Aanbidders van God het nog ’n rede om weg te bly van astrologie en waarsêery. God haat dit wanneer mense die toekoms probeer voorspel deur enige vorm van waarsêery te gebruik. In die Bybel sê dit: “Daar mag niemand onder jou gevind word . . . wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah a verfoeilik.” — Deuteronomium 18:10-12.

a Die naam van “die Allerhoogste oor die hele aarde”. — Psalm 83:18.