Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God sal binnekort swaarkry heeltemal wegneem

God sal binnekort swaarkry heeltemal wegneem

“Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red?” (Habakuk 1:2, 3). Dit was Habakuk se woorde, ’n goeie man wat God se vriend was. Het sy woorde gewys dat hy te min geloof gehad het? Glad nie! God het Habakuk daarvan verseker dat Hy ’n vasgestelde tyd het wanneer Hy ’n einde aan swaarkry sal maak. — Habakuk 2:2, 3.

Wanneer jy of iemand na aan jou swaarkry, is dit maklik om te dink dat God nie vinnig genoeg iets doen nie, dat hy teen hierdie tyd al moes opgetree het. Maar die Bybel verseker ons: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.” — 2 Petrus 3:9.

WANNEER SAL GOD IETS DOEN?

Binnekort! Jesus het gesê dat ’n spesifieke geslag ’n unieke kombinasie van toestande sou sien wat sou wys dat dit die laaste dae van ’n “stelsel van dinge” is (Matteus 24:3-42). Die feit dat Jesus se profesie in ons dag vervul word, wys dat God binnekort iets omtrent die mens se situasie sal doen. *

Maar hoe sal God swaarkry heeltemal wegneem? Toe Jesus op die aarde was, het hy gewys dat God die krag het om die mens se swaarkry te verminder. Kyk na ’n paar voorbeelde hiervan.

Natuurrampe: Terwyl Jesus en sy apostels met ’n boot op die See van Galilea gevaar het, het ’n verskriklike windstorm amper veroorsaak dat hulle boot sink. Maar Jesus en sy Vader het gewys dat hulle wel die natuurkragte kan beheer (Kolossense 1:15, 16). Jesus het net gesê: “Bedaar! Wees stil!” Die gevolg? “Die wind het gaan lê, en daar het ’n groot kalmte gekom.” — Markus 4:35-39.

Siekte: Jesus was bekend daarvoor dat hy mense wat blind en verlam was, kon gesond maak. Hy kon ook mense met epilepsie, melaatsheid of enige ander soort siekte gesond maak. “Hy het almal genees met wie dit sleg gegaan het.” — Matteus 4:23, 24; 8:16; 11:2-5.

Voedseltekorte: Jesus het die krag gebruik wat sy Vader hom gegee het om die bietjie kos wat daar was, te vermeerder. Die Bybel sê dat hy twee keer gedurende sy bediening duisende mense kos gegee het. — Matteus 14:14-21; 15:32-38.

Die dood: Die feit dat daar drie opgetekende gevalle is waar Jesus mense lewend gemaak het, wys dat Jehovah die krag het om die dood weg te neem. Een van die mense wat hy lewend gemaak het, was al vier dae lank dood. — Markus 5:35-42; Lukas 7:11-16; Johannes 11:3-44.

^ par. 5 Vir meer inligting oor die laaste dae sien les 32 van die boek Geniet die lewe vir ewig! uitgegee deur Jehovah se Getuies. Jy kan dit gratis aflaai by www.pr418.com/af.