Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ken jy Jehovah soos Noag, Daniël en Job hom geken het?

Ken jy Jehovah soos Noag, Daniël en Job hom geken het?

“Mense wat tot kwaad geneig is, kan die reg nie verstaan nie, maar dié wat Jehovah soek, kan alles verstaan.” — SPR. 28:5.

LIED: 126, 150

1-3. (a) Wat sal ons in hierdie laaste dae help om getrou aan God te bly? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

ONS lewe vandag in die einde van die laaste dae, en goddelose mense ‘spruit soos plante uit’ (Ps. 92:7). En daarom is ons nie verbaas dat baie mense vandag nie meer volgens God se standaarde lewe nie. Hoe kan ons in hierdie wêreld “klein kindertjies ten opsigte van slegtheid” wees, maar tog “volgroeid in begripsvermoëns”? — 1 Kor. 14:20.

2 Die antwoord is in ons temateks, wat sê: “Dié wat Jehovah soek, kan alles verstaan” — dit wil sê alles wat nodig is om Jehovah gelukkig te maak (Spr. 28:5). Spreuke 2:7, 9 sê ook dat Jehovah vir die regskapenes, of opregte persone, “praktiese wysheid as ’n skat bewaar”. En dan sal die opregte persone “regverdigheid en reg en regskapenheid verstaan, die hele weg van wat goed is”.

3 Noag, Daniël en Job het hierdie wysheid gehad (Eseg. 14:14). En God se knegte vandag kan dit ook kry. Wat van jou? ‘Verstaan jy alles’ wat nodig is om Jehovah gelukkig te maak? Dit is belangrik om Jehovah goed te ken. In hierdie artikel gaan ons kyk (1) hoe Noag, Daniël en Job God leer ken het, (2) hoe daardie kennis hulle gehelp het en (3) hoe ons geloof soos hulle kan hê.

NOAG — GETROU AAN GOD IN ’N GODDELOSE WÊRELD

4. Hoe het Noag Jehovah leer ken, en hoe het hierdie kennis hom gehelp?

4 Hoe Noag Jehovah leer ken het. Van die mens se begin af, het mans en vrouens van geloof God op drie maniere leer ken: deur te kyk na die dinge wat Jehovah gemaak het, by ander mense wat God dien en deur self te sien hoe Jehovah hulle geseën het omdat hulle gehoorsaam was (Jes. 48:18). Deur na die skepping te kyk, het Noag baie bewyse gesien dat God bestaan. Hy kon ook van God se eienskappe leer soos “sy ewige krag en Godheid” (Rom. 1:20). Daarom het Noag nie net in God geglo nie, hy het sterk geloof in hom gehad.

5. Hoe het Noag geleer wat God vir die mens wou hê?

5 Die Bybel sê dat “geloof volg . . . op wat gehoor word” (Rom. 10:17). Hoe het Noag van Jehovah gehoor? Noag het seker by sy familie van Jehovah geleer. Dalk by sy pa, Lameg, wat ’n man van geloof was en gelewe het toe Adam nog op die aarde was. (Sien prent aan begin van artikel.) Hy kon ook dalk by sy oupa Metusalag en by Metusalag se oupa Jared van Jehovah geleer het. Noag was 366 jaar oud toe Jared oorlede is (Luk. 3:36, 37). * Noag het dalk by hierdie manne, en miskien ook by hulle vrouens, geleer wat Jehovah vir die mens wou hê. Hy het geleer dat Jehovah die mens geskep het, dat hulle kinders moes hê, die aarde moes vul en Jehovah moes dien. Hy sou ook geleer het dat Adam en Eva ongehoorsaam was aan Jehovah, en hy kon die slegte gevolge van hulle besluit met sy eie oë sien (Gen. 1:28; 3:16-19, 24). Noag het gehou van wat hy geleer het en dit het hom gemotiveer om Jehovah te dien. — Gen. 6:9

6, 7. Watter hoop het Noag se geloof versterk?

6 Geloof word deur hoop versterk. Dink net hoe Noag moes gevoel het toe hy uitvind dat sy naam die idee van hoop insluit, want dit beteken moontlik “Rus” of “Vertroosting” (Gen. 5:29). Jehovah het Lameg geïnspireer om die volgende woorde oor sy seun Noag te sê: “Hý sal vir ons vertroosting bring van . . . die pyn van ons hande as gevolg van die grond wat Jehovah vervloek het.” Noag het hoop gehad dat God dinge sou verbeter. Net soos Abel en Henog voor hom, het hy geglo in die “saad” wat die slang se kop sal vermorsel. — Gen. 3:15.

7 Noag het dalk nie God se belofte in Genesis 3:15 heeltemal verstaan nie, maar hy het wel verstaan dat hierdie profesie ons hoop vir die toekoms gee. Die belofte wat in Eden gemaak is en die boodskap wat Henog verkondig het, is dieselfde. Jehovah sal die goddelose vernietig (Jud. 14, 15). Henog se boodskap, wat by Armageddon vervul sal word, het sekerlik Noag se geloof en hoop versterk!

8. Hoe het akkurate kennis van God Noag beskerm?

8 Hoe dit Noag gehelp het om God goed te ken. Omdat Noag kennis van Jehovah gehad het, het dit hom geloof en goddelike wysheid gegee. Dit het hom beskerm, veral geestelik, sodat hy nie iets sou doen wat Jehovah sou seermaak nie. Noag het byvoorbeeld “met die ware God gewandel”, en daarom het hy nie gewandel, of was hy nie vriende, met goddelose mense nie. Die demone wat aarde toe gekom het, was baie kragtig. Die mense was sekerlik beïndruk met hulle krag, en het dalk selfs die demone probeer aanbid. Maar Noag het nie toegelaat dat dit hom beïnvloed nie (Gen. 6:1-4, 9). Noag het ook geweet dat Jehovah wou hê dat mense kinders moes hê en die aarde moes vul (Gen. 1:27, 28). Daarom het Noag geweet dat dit verkeerd was vir die demone om vir hulle vroue te neem en kinders te hê. En dit is bewys toe hierdie kinders groter en sterker geword het as al die ander kinders. Later het Jehovah Noag gewaarsku dat Hy ’n vloed sou bring wat al die goddelose mense sou vernietig. Noag se geloof in hierdie waarskuwing het hom gemotiveer om die ark te bou, en dit het hom en sy gesin gered. — Heb. 11:7

9, 10. Hoe kan ons Noag se geloof navolg?

9 Hoe ons geloof soos Noag kan hê. Dit is belangrik om goeie studente van God se Woord te wees en om lief te wees vir wat ons leer. Dit wat ons leer moet ons ook gebruik om veranderinge en goeie besluite in ons lewe te maak (1 Pet. 1:13-15). Dan sal geloof en wysheid van God ons beskerm teen Satan se slim planne en die wêreld se invloed (2 Kor. 2:11). Hierdie dinge beïnvloed mense om lief te wees vir geweld en onsedelikheid. Dit veroorsaak dat hulle beheer word deur hulle vleeslike begeertes (1 Joh. 2:15, 16). Mense wat geestelik swak is, kan selfs die bewyse ignoreer dat God se groot dag naby is. Toe Jesus ons dag met Noag s’n vergelyk het, het hy nie op geweld of onsedelikheid gefokus nie, maar op die gevaar om afgelei te word en Jehovah nie meer te dien nie. — Lees Matteus 24:36-39.

10 Vra jou af: ‘Wys die manier waarop ek lewe dat ek Jehovah werklik ken? Motiveer my geloof my om volgens God se standaarde te lewe en om ander daarvan te vertel?’ Jou antwoorde op hierdie vrae sal jou help om te sien of jy ook ‘met die ware God wandel’.

DANIËL HET GODDELIKE WYSHEID GEHAD IN HEIDENSE BABILON

11. (a) Wat vertel Daniël se liefde vir Jehovah ons van sy ouers? (b) Watter eienskappe van Daniël wil jy graag hê?

11 Hoe Daniël Jehovah leer ken het. Daniël was sy hele lewe lank lief vir Jehovah en sy Woord omdat sy ouers dit vir hom geleer het. Selfs toe hy baie oud was het hy nog steeds die Skrif bestudeer (Dan. 9:1, 2). Daniël het Jehovah baie goed geken. Hy het ook geweet wat Jehovah vir die Israeliete gedoen het. Ons kan dit sien in die profeet se opregte en berouvolle gebed wat opgeteken is in Daniël 9:3-19. Lees hierdie gebed en dink daaroor na. Vra jou af: ‘Wat leer hierdie gebed my oor Daniël?’

12-14. (a) Hoe het Daniël gewys dat hy goddelike wysheid gehad het? (b) Hoe het Jehovah Daniël geseën omdat hy lojaal en dapper was?

12 Hoe dit Daniël gehelp het om God goed te ken. Dit was vir ’n getroue Jood in heidense Babilon nie maklik om God te dien nie. Jehovah het byvoorbeeld vir die Jode gesê: “Soek . . . die vrede van die stad waarheen ek julle in ballingskap laat gaan het” (Jer. 29:7). Maar hy het ook van hulle verwag om Hom alleen met hulle hele hart te dien (Eks. 34:14). Wat het Daniël gehelp om aan albei opdragte gehoorsaam te wees? Goddelike wysheid het Daniël gehelp om te weet dat hy eers aan God gehoorsaam moet wees en dan aan menseheersers. Honderde jare later het Jesus dieselfde beginsel aan ander geleer. — Luk. 20:25.

13 Kom ons kyk wat Daniël gedoen het toe daar ’n nuwe wet was wat gesê het dat hulle vir 30 dae nie tot enige god of mens behalwe die koning mag bid nie. (Lees Daniël 6:7-10.) Daniël kon verskonings gemaak het, soos: ‘Dertig dae is nie vir altyd nie!’ Maar hy het nie toegelaat dat die koning se bevel belangriker word as sy aanbidding nie. Daniël kon ook gebid het waar niemand hom sou sien nie. Maar hy het geweet dat almal hom elke dag gesien bid het. Al het dit beteken dat hy sy lewe kon verloor, het Daniël besluit dat hy niks sou doen wat dit kon laat lyk het of hy Jehovah nie meer dien nie.

14 Jehovah het Daniël se dapper en lojale besluit geseën. Jehovah het ’n wonderwerk gedoen en hom van ’n baie wrede dood gered. Dit was ’n baie groot getuienis vir Jehovah, en al die mense in die Medo-Persiese ryk het hiervan gehoor. — Dan. 6:25-27.

15. Hoe kan ons geloof soos Daniël hê?

15 Hoe ons geloof soos Daniël kan hê. Om sterk geloof te hê, moet ons nie net God se Woord lees nie, ons moet ook “die sin daarvan begryp” (Matt. 13:23). Ons wil weet hoe Jehovah oor dinge dink en voel, en daarom moet ons diep nadink oor wat ons lees sodat ons Bybelbeginsels kan verstaan. Dit is ook belangrik dat ons uit die hart uit bid, veral wanneer ons deur moeilike tye gaan. Wanneer ons Jehovah vir wysheid en krag vra, kan ons seker wees dat Jehovah dit vir ons sal gee. — Jak. 1:5.

JOB HET GOD SE BEGINSELS IN GOEIE EN SLEGTE TYE GEBRUIK

16, 17. Hoe het Job Jehovah leer ken?

16 Hoe Job Jehovah leer ken het. Job was nie ’n Israeliet nie. Maar hy was ver langs familie van Abraham, Isak en Jakob. En Jehovah het hulle van homself vertel en wat sy voorneme vir die mens is. Job het ook baie van hierdie waarhede op die een of ander manier geleer (Job 23:12). Hy het gesê: “Van hoorsê het ek van u gehoor” (Job 42:5). En Jehovah het self gesê dat Job die waarheid oor Hom gepraat het. — Job 42:7, 8.

Ons geloof word sterker wanneer ons Jehovah se onsigbare eienskappe in die skepping sien (Sien paragraaf 17)

17 Job het ook Jehovah se eienskappe leer ken deur na die skepping te kyk (Job 12:7-9, 13). Later het Elihu en Jehovah die skepping gebruik om Job te herinner dat die mens baie klein is in vergelyking met God (Job 37:14; 38:1-4). Jehovah se woorde het Job se hart geraak en hy het nederig vir Hom gesê: “Ek het te wete gekom dat u alles kan doen, en daar is geen idee wat vir u onbereikbaar is nie . . . Ek het berou in stof en as.” — Job 42:2, 6.

18, 19. Hoe het Job gewys dat hy Jehovah goed geken het?

18 Hoe dit Job gehelp het om God goed te ken. Job het God se beginsels baie goed verstaan. Hy het Jehovah goed geken en dit het hom gehelp om op die regte manier op te tree. Byvoorbeeld, Job kon nie sê dat hy God liefhet as hy nie vir ander mense lief was nie (Job 6:14). Hy het nie gedink dat hy beter as ander is nie. Hy het hulle almal as sy familie gesien, maak nie saak of hulle ryk of arm was nie. Hy het gesê: “Het die Een wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie?” (Job 31:13-22). Selfs toe Job ryk en belangrik was, het hy nie trots geword en ander as minder belangrik gesien nie. Baie mense wat vandag ryk en belangrik is, tree heeltemal anders op.

19 Job het alle afgodediens verwerp. Hy het nie toegelaat dat enigiets vir hom belangriker as Jehovah word nie, nie eers materiële dinge nie. Hy het geweet dat as dit sou gebeur, hy “die ware God daar bo” sou verwerp. (Lees Job 31:24-28.) En die huwelik was heilig vir Job, want dit is ’n belofte wat ’n man en vrou aan mekaar en voor Jehovah maak. Hy het selfs ’n belofte aan homself gemaak om nie met verkeerde gedagtes na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1). Onthou dat Job in ’n tyd gelewe het wat Jehovah mans toegelaat het om meer as een vrou te hê. Daarom kon hy met nog ’n vrou getrou het. * Hy het dalk geweet dat Jehovah tydens die eerste huwelik een man en een vrou bymekaargebring het, en hy het moontlik gekies om daardie voorbeeld te volg (Gen. 2:18, 24). Omtrent 1 600 jaar later, het Jesus dieselfde beginsel herhaal dat seks en die huwelik slegs tussen een man en een vrou moet wees. — Matt. 5:28; 19:4, 5.

20. Hoe help dit ons om die regte vriende en vermaak te kies as ons Jehovah en sy standaarde goed ken?

20 Hoe ons geloof soos Job kan hê. Dit is weer eens belangrik dat ons Jehovah goed ken en dat hierdie kennis ons lewe beïnvloed. Byvoorbeeld, die psalmis Dawid het gesê dat Jehovah ‘elkeen haat wat geweld liefhet’, en Dawid waarsku ons om nie vriende te wees met “mense van onwaarheid”, of mense wat leuens vertel nie. (Lees Psalm 11:5; 26:4.) Vra jou af: ‘Wat sê hierdie tekste vir my oor hoe Jehovah dink? Hoe beïnvloed dit die dinge wat vir my belangrik is, waarna ek op die Internet kyk, wie ek as vriende kies en my keuse van vermaak?’ Jou antwoorde kan jou help om te sien hoe goed jy Jehovah ken. Ons wil nie deur hierdie goddelose wêreld beïnvloed word nie, en daarom moet ons ons “waarnemingsvermoëns” verbeter. Ons doen dit deur te leer wat die verskil is tussen reg en verkeerd en wat wys en onwys is. — Heb. 5:14; Ef. 5:15.

21. Wat sal ons help om ‘alles te verstaan’ sodat ons Jehovah gelukkig kan maak?

21 Omdat Noag, Daniël en Job Jehovah met hulle hele hart gesoek het, het hy hulle gehelp om ‘alles te verstaan’ sodat hulle hom gelukkig kon maak. Hulle het voorbeelde van regverdigheid geword en so bewys dat om dinge op Jehovah se manier te doen tot ’n suksesvolle lewe lei (Ps. 1:1-3). Vra jou af: ‘Ken ons Jehovah so goed soos Noag, Daniël en Job hom geken het?’ Ons kan Jehovah beter leer ken omdat die geestelike lig al hoe helderder word (Spr. 4:18). Soek na geestelike skatte in God se Woord. Dink daaroor na. En bid vir heilige gees. Dit sal jou help om wysheid van God te hê, en jy sal al hoe nader aan Jehovah kom. En dan sal hierdie goddelose wêreld jou nie beïnvloed nie. — Spr. 2:4-7.

^ par. 5 Noag se oupagrootjie Henog het ook “met die ware God bly wandel”. Maar “God het hom geneem” omtrent 69 jaar voordat Noag gebore is. — Gen. 5:23, 24.

^ par. 19 Noag het dieselfde gedoen. Hy het net een vrou gehad, selfs toe mans begin het om met meer as een vrou te trou nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God. — Gen. 4:19.