Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

UIT ONS ARGIEF

Openbare toesprake maak die goeie nuus in Ierland bekend

Openbare toesprake maak die goeie nuus in Ierland bekend

DIT is Mei 1910. Op ’n boot in die Belfast Lough, ’n groot inham in die see, staan ’n klein groepie passasiers en kyk na die heldergroen heuwels in die stralende oggendlig. Tussen hulle staan Charles T. Russell, wat Ierland vir die vyfde keer besoek. Broer Russell sien twee yslike passasierskepe wat onder konstruksie is, die Titanic wat later sou sink en haar susterskip die Olympic. * Anderkant die skeepswerf staan 12 Bybelstudente op die kaai en wag om hom te verwelkom.

Omtrent 20 jaar vroeër het broer Russell na die beste manier gesoek om die goeie nuus regoor die wêreld te verkondig. Hy het besluit om ’n reeks besoeke aan ander lande buite die Verenigde State te doen. Sy eerste toer het in Julie 1891 begin met ’n besoek aan Ierland. Terwyl hy op die skip City of Chicago was, het hy gekyk hoe die son sak oor die kus van Queenstown. Dit het hom dalk herinner aan wat sy ouers hom vertel het oor die plek waar hulle voorheen gebly het. Terwyl broer Russell en sy metgeselle deur die netjiese dorpies en pragtige platteland gereis het, het hulle besef dat hierdie veld “gereed is om geoes te word”.

Broer Russell het Ierland sewe keer besoek. Tydens sy eerste besoek was daar baie belangstelling. Dit is moontlik hoekom honderde, soms duisende, mense na hom kom luister het toe hy Ierland weer besoek het. Teen sy tweede besoek aan Ierland, in Mei 1903, is openbare vergaderinge in Belfast en Dublin in die plaaslike koerante geadverteer. Russell het gesê dat die “gehoor aandagtig geluister het” na sy toespraak oor Abraham se geloof en die toekomstige seëninge vir die mensdom.

Omdat daar soveel mense was wat belanggestel het, het Russell Ierland ingesluit by sy derde toer van Europa. Een oggend in April 1908 het vyf broers hom verwelkom toe hy in Belfast aangekom het. Later daardie aand het die geadverteerde openbare toespraak “Die omverwerping van Satan se wêreldryk” ’n “gehoor van omtrent 300 belangstellendes” gelok. Daar was ’n persoon wat nie saamgestem het nie, en hy is vinnig reggehelp met die vaardige gebruik van die Bybel. In Dublin was daar nog ’n teenstander wat meer vasbeslote was, mnr. O’Connor, die sekretaris van die YMCA. Hy het probeer om die gehoor van 1 000 persone te oorreed dat die Bybelstudente verkeerd is. Wat het gebeur?

Kom ons dink aan wat moontlik by daardie geleentheid kon gebeur het. ’n Man wat in Bybelwaarhede belangstel, besluit om ’n openbare toespraak by te woon wat in The Irish Times geadverteer is. Hy kan skaars ’n plek kry om te sit omdat daar so baie mense in die saal is. Hy luister aandagtig na die spreker met wit hare, ’n baard en ’n lang swart jas. Terwyl die spreker sy toespraak hou, beweeg hy heen en weer op die verhoog en maak hy baie gebare. Hy verduidelik een teks na die ander en help die man om Bybelwaarhede te verstaan. Selfs sonder die gebruik van klanktoerusting kan almal in die saal die spreker hoor. Die gehoor hang ’n uur en ’n half lank aan die spreker se lippe. Daarna word hy in ’n vraag-en-antwoord-sessie deur O’Connor en sy vriende aangevat, maar hy gebruik die Bybel om die boodskap op ’n vaardige manier te verdedig. Die gehoor klap hande omdat hulle hou van wat hulle hoor. Wanneer alles tot bedaring kom, gaan praat die belangstellende man met die broers om meer te leer. Volgens ooggetuies het baie die waarheid op hierdie manier geleer.

In 1909 het broer Russell vanaf New York vertrek op die Mauretania vir sy vierde besoek aan Ierland. Om die tyd op die see goed te benut het broer Russell ’n stenograaf, broer Huntsinger, saam met hom geneem om artikels vir die Watch Tower te tik terwyl hy dit dikteer. Daar was 450 mense wat na broer Russell se toespraak in Belfast kom luister het. Omtrent 100 van hulle moes staan omdat daar nie genoeg sitplek was nie.

Broer C. T. Russell op die Lusitania

Tydens sy vyfde besoek, wat aan die begin genoem is, het min of meer dieselfde gebeur. Nadat hy ’n openbare toespraak in Dublin gehou het, het ’n bekende teoloog, wat saam met O’Connor gekom het, skriftuurlike antwoorde op sy vrae gekry. Die gehoor het dit baie geniet. Die volgende dag het broer Russell en sy metgeselle die vinnige posboot na Liverpool geneem en toe met die Lusitania na New York vertrek. *

’n Openbare toespraak wat in The Irish Times op 20 Mei 1910 geadverteer is

Tydens broer Russell se sesde en sewende besoek aan Ierland in 1911, het hy ook openbare toesprake gehou wat geadverteer is. In die lente van daardie jaar het 20 Bybelstudente in Belfast reëlings getref sodat 2 000 mense na die toespraak “Die hiernamaals” kon luister. In Dublin het O’Connor nog ’n predikant saamgebring wat vrae gehad het. Broer Russell het antwoorde uit die Bybel gegee, en die gehoor het weer eens hande geklap. In die herfs van daardie selfde jaar het hulle ander dorpies besoek, en baie mense het kom luister. O’Connor en 100 moeilikheidmakers het weer probeer om die vergadering in Dublin te ontwrig, maar die gehoor het die spreker heelhartig ondersteun.

Alhoewel broer Russell destyds die meeste van die openbare toesprake gehou het, het hy erken dat “geen mens onvervangbaar is nie”, want “dit is nie ’n mens se werk nie; dit is God se werk”. Geadverteerde openbare toesprake, wat later die Openbare Vergadering geword het, was uitstekende geleenthede om Bybelwaarhede aan ander oor te dra. Wat was die resultaat? Openbare toesprake het gehelp om die goeie nuus bekend te maak, en gemeentes is in verskeie stede regoor Ierland gevorm. — Uit ons argief in Brittanje.

^ par. 3 Die Titanic het omtrent twee jaar later gesink.

^ par. 9 Die Lusitania is in Mei 1915 aan die suidkus van Ierland deur ’n missiel getref en het gesink.