Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom mag publikasies van Jehovah se Getuies nie op ’n persoonlike webwerf of op sosiale media geplaas word nie?

Party mense dink dat omdat ons Bybelgebaseerde publikasies nie verkoop word nie, dit aanvaarbaar is om dit op ander webwerwe of sosiale media te plaas. Maar mense wat dit doen, oortree die Gebruiksvoorwaardes * van ons webwerf, en dit het al ernstige probleme veroorsaak. Hierdie voorwaardes stel dit duidelik dat niemand “kunswerk, elektroniese publikasies, handelsmerke, musiek, foto’s, video’s of artikels van hierdie webwerf op die Internet (enige webwerf, lêerdeel-webwerf, videodeel-webwerf of sosiale netwerk)” mag plaas nie. Hoekom is hierdie beperking nodig?

Ons publikasies word deur kopiereg beskerm, en niemand mag dit op ander webwerwe plaas nie

Alles op ons webwerwe word deur kopiereg beskerm. Afvalliges en mense wat ons teëstaan, probeer om ons publikasies te gebruik om Jehovah se Getuies en ander na hulle webwerwe te lok. Die doel van hierdie webwerwe is om twyfelgedagtes by lesers te saai (Ps. 26:4; Spr. 22:5). Ander het die inhoud van ons publikasies of ons jw.org-logo gebruik in advertensies, op items wat te koop is en in apps op elektroniese toestelle. Omdat ons kopiereg- en handelsmerk-beskerming het, het ons die wetlike reg om sulke misbruik stop te sit (Spr. 27:12). Maar as ons doelbewus toelaat dat mense, selfs ons broers, ons digitale inhoud op ander webwerwe plaas of ons jw.org-handelsmerk gebruik om produkte te verkoop, sal die howe dalk nie ons pogings ondersteun om sulke misbruik deur teenstanders en besighede stop te sit nie.

Dit kan gevaarlik wees om ons publikasies van enige ander plek behalwe jw.org af te laai. Jehovah het net aan “die getroue en verstandige slaaf” die verantwoordelikheid gegee om geestelike voedsel te voorsien (Matt. 24:45). Hierdie “slaaf” gebruik slegs sy amptelike webwerwe om geestelike voedsel te voorsien. Hierdie webwerwe is www.pr418.com, tv.pr418.com en wol.pr418.com. En ons het net drie amptelike apps vir elektroniese toestelle — JW Language®, JW Library® en JW Library Sign Language®. Ons kan daarvan seker wees dat hierdie webwerwe en apps geen advertensies bevat nie en vry is van enige invloed van Satan se wêreld. As ons geestelike voedsel van die “slaaf” op enige ander webwerf of app sien, is daar geen waarborg dat dit nie verander is om ons te mislei nie. — Ps. 18:26; 19:8.

En as ons publikasies op webwerwe geplaas word waar mense kommentare kan lewer, gee dit afvalliges en ander wat ons werk kritiseer ’n kans om iets te sê wat mense oor Jehovah se organisasie kan laat twyfel. Party broers het by besprekings op die Internet betrokke geraak, en dit het nog meer oneer op Jehovah se naam gebring. ’n Aanlyn forum is nie ’n gepaste plek om “dié wat nie gunstiggesind is nie, met sagmoedigheid [te] onderrig” nie (2 Tim. 2:23-25; 1 Tim. 6:3-5). Party mense het al in die naam van die organisasie, die Bestuursliggaam of die lede van die Bestuursliggaam ’n webwerf of ’n Internetrekening op sosiale media geskep. Maar nie een van die broers van die Bestuursliggaam het ’n webblad of ’n rekening op sosiale media nie.

Ons help om die “goeie nuus” te versprei wanneer ons mense van jw.org vertel (Matt. 24:14). Die elektroniese hulpmiddele wat ons kry om in ons bediening te gebruik word al hoe beter. Ons wil graag hê dat dit almal moet help. Daarom kan ons, soos die Gebruiksvoorwaardes sê, vir iemand ’n elektroniese kopie van ’n publikasie e-pos of ’n skakel na enigiets op jw.org stuur. Wanneer ons vir mense van ons amptelike webwerwe vertel, bring ons hulle in kontak met die enigste ware bron van geestelike voedsel, “die getroue en verstandige slaaf”.

^ par. 1 ’n Skakel na die Gebruiksvoorwaardes kan onderaan die tuisblad van jw.org gevind word. Hierdie beperkings geld vir alles wat op ons webwerwe is.