Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom ons baie “vrug bly dra”

Hoekom ons baie “vrug bly dra”

“My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is.JOH. 15:8.

LIED: 53, 60

1, 2. (a) Wat het Jesus kort voor sy dood vir sy dissipels gesê? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoekom is dit belangrik om te onthou waarom ons preek? (c) Wat gaan ons bespreek?

DIE aand voor Jesus se dood het hy ’n lang gesprek met sy apostels gehad en hulle verseker dat hy baie lief is vir hulle. Hy het ook vir hulle die illustrasie van die wingerdstok vertel, wat ons in die vorige artikel bespreek het. Jesus het hierdie illustrasie gebruik om sy dissipels aan te moedig om baie ‘vrug te bly dra’ — om aan te hou om die boodskap oor die Koninkryk te verkondig. — Joh. 15:8.

2 Maar Jesus het nie net vir sy dissipels gesê wat hulle moet doen nie. Hy het ook vir hulle gesê hoekom hulle dit moet doen. Hy het vir hulle redes gegee hoekom hulle moes aanhou om die predikingswerk te doen. Hoekom is dit belangrik dat ons weet wat hierdie redes is? As ons weet hoekom ons moet preek, sal dit ons motiveer om aan te hou om “’n getuienis vir al die nasies” te gee (Matt. 24:13, 14). Kom ons kyk na vier skriftuurlike redes hoekom ons preek. Ons sal ook kyk na vier gawes wat Jehovah ons gee wat ons help om vrug te bly dra.

ONS VERHEERLIK JEHOVAH

3. (a) Watter rede om te preek kry ons in Johannes 15:8? (b) Wat word deur die druiwe in Jesus se illustrasie voorgestel, en hoekom is dit ’n goeie vergelyking?

3 Die belangrikste rede hoekom ons preek is om Jehovah te verheerlik en sy naam te heilig. (Lees Johannes 15:1, 8.) Let op dat Jesus sy Vader, Jehovah, met ’n landbouer vergelyk het wat met druiwe boer. Jesus het homself met ’n wingerdstok, of ’n stingel, vergelyk en sy navolgers met lote, of takke (Joh. 15:5). Daarom stel die druiwe die vrug van die Koninkryk voor wat deur Christus se navolgers voortgebring word. Jesus het vir sy apostels gesê: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra.” Net soos ’n landbouer geëer word wanneer sy wingerdstokke goeie druiwe dra, word Jehovah geëer, of verheerlik, wanneer ons ons bes doen om die boodskap oor die Koninkryk te verkondig. — Matt. 25:20-23.

4. (a) Hoe heilig ons Jehovah se naam? (b) Hoe voel jy oor die voorreg wat jy het om God se naam te heilig?

4 Hoe heilig ons predikingswerk God se naam? Ons kan nie God se naam heiliger maak nie. Dit is alreeds heilig in die volste sin van die woord. Maar let op wat die profeet Jesaja gesê het: “Jehovah van die leërs — Hom moet julle as heilig beskou” (Jes. 8:13). Ons heilig God se naam onder andere wanneer ons dit belangriker as enige ander naam beskou en wanneer ons ander help om dit ook as heilig te beskou (Matt. 6:9). Byvoorbeeld, ons verdedig God se naam teen Satan se lasterlike leuens wanneer ons mense die waarheid oor Jehovah se wonderlike eienskappe en oor sy voorneme vir die mens vertel (Gen. 3:1-5). Ons heilig ook God se naam wanneer ons hard werk en mense in ons gebied help om te sien dat Jehovah verdien om “die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang” (Op. 4:11). Rune, wat al 16 jaar lank pionier, sê: “Ek is baie dankbaar dat ek die kans gegee is om ’n getuie vir die Skepper van die heelal te wees. Dit gee my die begeerte om aan te hou preek.”

ONS IS LIEF VIR JEHOVAH EN SY SEUN

5. (a) Watter rede om te preek kry ons in Johannes 15:9, 10? (b) Hoe het Jesus beklemtoon dat ons volharding nodig het?

5 Lees Johannes 15:9, 10. ’n Belangrike rede hoekom ons die boodskap oor die Koninkryk verkondig, is omdat ons lief is vir Jehovah en vir Jesus (Mark. 12:30; Joh. 14:15). Jesus het nie net vir sy dissipels gesê om in sy liefde te wees nie, maar om ‘in sy liefde te bly’. Hoekom het Jesus dit gesê? Want ons het volharding nodig as ons jaar na jaar ’n ware dissipel van Christus wil bly. Jesus het beklemtoon hoe belangrik volharding is deur die woord “bly” oor en oor in Johannes 15:4-10 te gebruik.

6. Hoe wys ons dat ons in Christus se liefde wil bly?

6 Hoe wys ons dat ons in Christus se liefde wil bly en sy goedkeuring wil hê? Deur te doen wat Jesus sê. Wat Jesus eintlik vir ons sê, is: ‘Wees gehoorsaam aan my.’ Jesus vra ons net om te doen wat hy gedoen het, want hy sê verder: “Net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly.” Jesus stel die voorbeeld. — Joh. 13:15.

7. Watter verband is daar tussen gehoorsaamheid en liefde?

7 Jesus het gewys dat daar ’n verband tussen gehoorsaamheid en liefde is toe hy vroeër vir sy apostels gesê het: “Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet” (Joh. 14:21). Jesus se gebooie, of opdragte, kom van sy Vader. Daarom wys ons dat ons vir Jehovah lief is wanneer ons Jesus se opdrag om te preek, gehoorsaam (Matt. 17:5; Joh. 8:28). En wanneer ons vir Jehovah en Jesus wys dat ons hulle liefhet, hou hulle ons in hulle liefde.

ONS WAARSKU MENSE

8, 9. (a) Watter ander rede het ons om te preek? (b) Hoe motiveer Jehovah se woorde in Esegiël 3:18, 19 en 18:23 ons om aan te hou preek?

8 Ons het nog ’n rede waarom ons aanhou om die predikingswerk te doen. Ons preek om mense te waarsku. In die Bybel word Noag “’n prediker” genoem. (Lees 2 Petrus 2:5.) Terwyl hy voor die Vloed vir mense gepreek het, het hy hulle blykbaar ook gewaarsku dat die wêreld vernietig gaan word. Hoekom kan ons dit sê? Let op wat Jesus gesê het: “Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was — hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie — so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:38, 39). Al het die mense nie geluister nie, het Noag getrou aangehou om Jehovah se waarskuwingsboodskap te verkondig.

9 Vandag verkondig ons die boodskap oor die Koninkryk om mense die kans te gee om te leer wat God se wil vir die mensdom is. Net soos Jehovah, wil ons graag hê dat mense na die boodskap moet luister en “bly lewe” (Eseg. 18:23). Maar wanneer ons van huis tot huis en in die openbaar preek, is ons ook op dieselfde tyd besig om soveel mense as moontlik te waarsku dat God se Koninkryk gaan kom en hierdie goddelose wêreld gaan vernietig. — Eseg. 3:18, 19; Dan. 2:44; Op. 14:6, 7.

ONS IS LIEF VIR ONS NAASTE

10. (a) Watter rede om te preek kry ons in Matteus 22:39? (b) Hoe het Paulus en Silas ’n tronkbewaarder in Filippi gehelp?

10 Daar is nog ’n belangrike rede hoekom ons aanhou preek: Ons preek omdat ons lief is vir ons naaste (Matt. 22:39). Hierdie liefde motiveer ons om aan te hou preek. Ons weet dat mense se gesindheid dalk kan verander wanneer hulle omstandighede verander. Kom ons kyk wat met Paulus en Silas in die stad Filippi gebeur het. Teenstanders het hulle in die tronk gegooi. Toe, in die middel van die nag, was daar skielik ’n aardbewing wat die tronk geskud het en die deure oopgeruk het. Die tronkbewaarder was so bang dat die gevangenes ontsnap het dat hy homself wou doodmaak. Maar Paulus het uitgeroep: “Moenie jouself kwaad aandoen nie!” Die tronkbewaarder het gevra: “Wat moet ek doen om gered te word?” Hulle het vir hom gesê: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.” — Hand. 16:25-34.

Ons preek omdat ons lief is vir Jehovah, vir Jesus en vir ons naaste (Sien paragraaf 5, 10)

11, 12. (a) Hoe kan die verhaal van die tronkbewaarder op ons bediening toegepas word? (b) Wat wil ons altyd gereed wees om te doen?

11 Hoe kan die verhaal van die tronkbewaarder op ons bediening toegepas word? Let op dat die tronkbewaarder eers die aardbewing sy gesindheid verander het en vir hulp gevra het. Vandag is daar ook mense wat voorheen nie na die boodskap in die Bybel wou luister nie. Maar nadat iets verskrikliks in hulle lewe gebeur het, verander hulle gesindheid dalk en vra hulle vir hulp. Byvoorbeeld, party in ons gebied is dalk geskok omdat hulle jare lank by ’n plek gewerk het en toe skielik afgedank is. Ander is miskien baie hartseer omdat hulle deur ’n egskeiding gegaan het. En party voel dalk verslae nadat hulle gehoor het dat hulle ’n ernstige siekte het of omdat iemand vir wie hulle lief was, gesterf het. Wanneer sulke dinge gebeur, begin mense dalk wonder oor die doel van die lewe en soek hulle antwoorde op vrae waarin hulle voorheen nie belanggestel het nie. Hulle wonder dalk selfs: ‘Wat moet ek doen om gered te word?’ Wanneer ons dan met hulle praat, wil hulle dalk vir die eerste keer in hulle lewe na ons boodskap van hoop luister.

12 Deur getrou te wees in ons predikingswerk, maak ons seker dat ons altyd gereed sal wees om mense te vertroos wanneer hulle na ons boodskap wil luister (Jes. 61:1). Charlotte, wat al 38 jaar lank in die voltydse diens is, sê: “Vandag het mense nie hoop nie. Hulle moet die kans gegee word om die goeie nuus te hoor.” Ejvor, wat al 34 jaar lank pionier, sê: “Vandag, meer as ooit tevore, voel baie mense moedeloos. Ek wil hulle graag help. Dit motiveer my om te preek.” Liefde vir ons naaste is beslis ’n goeie rede om aan te hou preek!

GAWES WAT ONS HELP OM TE VOLHARD

13, 14. (a) Watter gawe word in Johannes 15:11 genoem? (b) Hoe sal Jesus se vreugde ons vreugde word? (c) Hoe help vreugde ons in ons bediening?

13 Die aand voor Jesus se dood het hy ook vir sy apostels van ’n paar gawes vertel wat hulle sou help om aan te hou vrug dra. Wat is hierdie gawes, en hoe help hulle ons?

14 Die gawe van vreugde. Sal dit ooit vir ons ’n las word om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om te preek? Glad nie. Nadat Jesus die illustrasie van die wingerdstok vertel het, het hy gesê dat dit ons vreugde sal gee om oor die Koninkryk te preek. (Lees Johannes 15:11.) Hy het ons verseker dat sy vreugde ons vreugde sal word. Hoe sal dit gebeur? Soos ons vroeër gesien het, het Jesus homself met ’n wingerdstok vergelyk en sy dissipels met takke. ’n Wingerdstok ondersteun die takke. Solank die takke deel van die wingerdstok is, sal hulle water en voedingstowwe van die wingerdstok kry. Dit gee Jesus vreugde om sy Vader se wil te doen en solank ons in eenheid met hom bly en sy voetstappe noukeurig volg, sal ons dieselfde vreugde as hy ervaar (Joh. 4:34; 17:13; 1 Pet. 2:21). Hanne, wat al meer as 40 jaar pionier, sê: “Die vreugde wat ek ervaar nadat ek velddiens gedoen het, spoor my aan om in Jehovah se diens te volhard.” Ja, vreugde sal ons beslis die krag gee om aan te hou preek, selfs in moeilike gebiede. — Matt. 5:10-12.

15. (a) Watter gawe word in Johannes 14:27 genoem? (b) Hoe help vrede ons om aan te hou vrug dra?

15 Die gawe van vrede. (Lees Johannes 14:27.) Vroeër daardie aand het Jesus vir sy apostels gesê: “Ek gee julle my vrede.” Hoe help Jesus se vrede ons om vrug te dra? Terwyl ons aanhou preek, ondervind ons ’n gevoel van blywende vrede in ons hart omdat ons weet dat ons Jehovah en Jesus se goedkeuring het (Ps. 149:4; Rom. 5:3, 4; Kol. 3:15). Ulf, wat al 45 jaar lank in die voltydse diens is, sê: “Ek voel moeg nadat ek velddiens gedoen het, maar dit laat my regtig tevrede voel en dit gee ware betekenis aan my lewe.” Ons is beslis dankbaar vir die innerlike vrede waarmee ons geseën is!

16. (a) Watter gawe word in Johannes 15:15 genoem? (b) Hoe kon die apostels Jesus se vriende bly?

16 Die gawe van vriendskap. Jesus het gesê dat hy graag wou hê dat die vreugde wat die apostels ondervind het, “volkome gemaak . . . word”. Daarna het hy aan hulle verduidelik hoe belangrik dit is om selfopofferende liefde te betoon (Joh. 15:11-13). Toe het hy vir hulle gesê: “Ek het julle vriende genoem.” Vriendskap met Jesus — wat ’n wonderlike gawe om te ontvang! Wat moes die apostels doen om sy vriende te bly? Hulle moes ‘gaan en aanhou vrug dra’. (Lees Johannes 15:14-16.) Omtrent twee jaar vroeër het Jesus vir sy apostels gesê: “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:7). Daarom het hy hulle op daardie laaste aand aangespoor om aan te hou met die werk waarmee hulle begin het (Matt. 24:13; Mark. 3:14). Dit sou ’n uitdaging wees om Jesus se opdrag uit te voer, maar hulle kon dit doen en sy vriende bly. Hoe sou hulle dit regkry? Met die hulp van nog ’n gawe.

17, 18. (a) Watter gawe word in Johannes 15:16 genoem? (b) Hoe sou hierdie gawe Jesus se dissipels help? (c) Watter gawes help ons vandag?

17 Die gawe van gebede wat beantwoord word. Jesus het gesê: “Wat julle die Vader ook al in my naam vra, hy [sal] dit vir julle . . . gee” (Joh. 15:16). Hierdie belofte het die apostels sekerlik baie versterk! * Al het hulle dit nie heeltemal verstaan nie, sou hulle Leier se lewe op aarde binnekort verby wees, maar hulle sou nog steeds ondersteuning hê. Jehovah was gereed om hulle gebede te beantwoord. Hy sou hulle help om die opdrag uit te voer om die boodskap oor die Koninkryk te verkondig. En dit is presies wat kort daarna gebeur het. Toe hulle Jehovah gevra het om hulle te help, het hy hulle gebede beantwoord. — Hand. 4:29, 31.

Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons gebede beantwoord wanneer ons hom vra om ons te help (Sien paragraaf 18)

18 Dit is vandag nog steeds so. Terwyl ons aanhou vrug dra, geniet ons Jesus se vriendskap. En ons kan daarvan seker wees dat Jehovah gereed is om ons gebede te beantwoord. Hy sal ons help om enige uitdagings te oorkom terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig (Fil. 4:13). Ons is baie dankbaar dat Jehovah ons gebede beantwoord en dat Jesus ons vriend is! Hierdie gawes van Jehovah help ons om aan te hou vrug dra. — Jak. 1:17.

19. (a) Hoekom hou ons aan om die predikingswerk te doen? (b) Wat help ons om die werk te voltooi wat God ons gegee het?

19 In hierdie artikel het ons na vier redes gekyk hoekom ons aanhou om die predikingswerk te doen: om Jehovah te verheerlik en sy naam te heilig, om te wys dat ons lief is vir Jehovah en vir Jesus, om mense te waarsku en om te wys dat ons ons naaste liefhet. Ons het ook vier gawes bespreek: vreugde, vrede, vriendskap en gebede wat beantwoord word. Hierdie gawes help ons om die werk te voltooi wat God ons gegee het. Dit maak Jehovah se hart baie bly wanneer hy sien dat ons ons bes doen en baie “vrug bly dra”!

^ par. 17 In Jesus se gesprek met sy apostels het hy hulle herhaaldelik verseker dat hulle gebede beantwoord sou word. — Joh. 14:13; 15:7, 16; 16:23.