Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ken jou vyand

Ken jou vyand

“Ons is nie onkundig omtrent [Satan se] planne nie.” — 2 KOR. 2:11.

LIED: 150, 32

1. Watter inligting het Jehovah in Eden oor ons vyand geopenbaar?

ADAM het sekerlik geweet dat slange nie kan praat nie. Daarom moes hy dalk besef het dat ’n geespersoon deur middel van die slang met Eva gepraat het (Gen. 3:1-6). Adam en Eva het amper niks omtrent hierdie geespersoon geweet nie. Maar nogtans was Adam doelbewus ongehoorsaam aan sy liefdevolle hemelse Vader en het hy saam met hierdie vreemdeling in opstand gekom teen God (1 Tim. 2:14). Jehovah het dadelik inligting oor hierdie vyand begin openbaar, en hy het belowe dat hy hierdie goddelose vyand uiteindelik gaan vernietig. Maar Jehovah het ook gewaarsku dat hierdie geespersoon, wat deur middel van die slang gepraat het, ’n tyd lank die mag sou hê om diegene teë te staan wat vir God lief is. — Gen. 3:15.

2, 3. Wat kan dalk ’n rede wees waarom Jehovah in die tyd voordat die Messias gekom het, so min inligting oor Satan laat opteken het?

2 Jehovah het in sy wysheid nooit vir ons gesê wat die persoonlike naam is van die engel wat teen hom in opstand gekom het nie. * En God het besluit om eers 2 500 jaar ná die opstand in Eden te openbaar wat die beskrywende naam van hierdie vyand is (Job 1:6). Ons ken hom as Satan, wat “Teenstander” beteken. In die Hebreeuse Geskrifte is daar net drie boeke wat hierdie naam noem: 1 Kronieke, Job en Sagaria. Hoekom is daar in die tyd voordat die Messias gekom het, so min inligting oor ons vyand opgeteken?

3 Jehovah wou blykbaar nie te veel aandag op Satan vestig deur baie inligting oor hom in die Hebreeuse Geskrifte te laat opteken nie. Die hoofrede hoekom Jehovah hierdie deel van die Skrif geïnspireer het, was om die Messias te identifiseer en om God se volk na hom toe te lei (Luk. 24:44; Gal. 3:24). Toe die Messias gekom het, het Jehovah hom en sy dissipels gebruik om baie van die dinge wat ons oor Satan en sy engele weet, bekend te maak. * Dit is gepas, want Jehovah gaan Jesus en sy gesalfde medeheersers gebruik om Satan en sy volgelinge te vernietig. — Rom. 16:20; Op. 17:14; 20:10.

4. Hoekom hoef ons nie onnodig vir die Duiwel bang te wees nie?

4 Die apostel Petrus beskryf Satan die Duiwel as “’n brullende leeu”, en Johannes noem hom ’n “slang” en ’n “draak” (1 Pet. 5:8; Op. 12:9). Maar ons hoef nie onnodig vir die Duiwel bang te wees nie, want sy mag is beperk. (Lees Jakobus 4:7.) Jehovah, Jesus en die getroue engele sal ons beskerm. Met hulle hulp kan ons ons vyand teëstaan. Maar ons moet nog steeds die antwoord op drie belangrike vrae kry: Hoeveel invloed het Satan? Hoe probeer Satan ander beïnvloed? En is daar dinge wat hy nie kan doen nie? Terwyl ons hierdie vrae bespreek, gaan ons ook kyk na watter lesse ons kan leer.

HOEVEEL INVLOED HET SATAN?

5, 6. Hoekom kan menseregerings nie die veranderinge aanbring wat die mensdom regtig nodig het nie?

5 ’n Groot aantal engele het saam met Satan in opstand gekom. Voor die Vloed het Satan ten minste ’n paar van hierdie engele oorreed om seksuele omgang met vrouens te hê. Die feit dat Satan al hierdie engele oorreed het om hom te volg, word op ’n simboliese manier in die Bybel beskryf wanneer dit sê dat die draak ’n derde van die sterre van die hemel saam met hom gesleep het (Gen. 6:1-4; Jud. 6; Op. 12:3, 4). Toe daardie engele God se gesin verlaat het, het hulle Satan se kant gekies en het hy hulle heerser geword. Maar hierdie rebelle is nie net ’n groep moeilikheidmakers nie. Satan het sy eie regering opgerig, en hy het homself die koning daarvan gemaak. Hierdie regering probeer God se Koninkryk naboots. In die onsigbare geestewêreld het Satan die demone georganiseer, hulle mag gegee en hulle wêreldheersers gemaak. — Ef. 6:12.

6 Satan gebruik sy organisasie om alle menseregerings te beheer. Ons kan daarvan seker wees, want toe Satan vir Jesus “al die koninkryke van die bewoonde aarde gewys” het, het hy gesê: “Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Luk. 4:5, 6). Baie regerings doen nog steeds goeie dinge vir hulle burgers ten spyte van Satan se slegte invloed. En party heersers wil regtig mense help. Maar geen menseregering of individuele heerser kan die veranderinge aanbring wat die mensdom regtig nodig het nie. — Ps. 146:3, 4; Op. 12:12.

7. Hoe gebruik Satan nie net regerings nie, maar ook valse godsdiens en die besigheidswêreld? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Satan en sy demone gebruik nie net regerings nie, maar ook valse godsdiens en die besigheidswêreld om “die hele bewoonde aarde” te mislei (Op. 12:9). Satan gebruik valse godsdiens om leuens oor Jehovah te versprei. Die Duiwel wil ook hê dat soveel mense as moontlik God se naam moet vergeet (Jer. 23:26, 27). Daarom dink party opregte mense dat hulle God dien, maar eintlik word hulle mislei om demone te aanbid (1 Kor. 10:20; 2 Kor. 11:13-15). Satan gebruik ook die besigheidswêreld om leuens te versprei. Hierdie wêreld sê byvoorbeeld dat die beste manier om gelukkig te wees, is deur baie geld te maak en om baie besittings te hê (Spr. 18:11). Mense wat hierdie leuens glo, gebruik hulle lewe om “Rykdom” eerder as God te dien (Matt. 6:24). Uiteindelik kan hulle liefde vir materiële dinge enige liefde wat hulle vir God gehad het, laat verdwyn. — Matt. 13:22; 1 Joh. 2:15, 16.

8, 9. (a) Watter twee lesse kan ons leer uit die verhaal van Adam, Eva en die opstandige engele? (b) Hoe help dit ons om te weet hoeveel invloed Satan het?

8 Ons leer ten minste twee belangrike lesse uit die voorbeelde van Adam, Eva en die opstandige engele. Eerstens, daar is net twee kante, en ons moet een kies. Ons moet óf lojaal aan Jehovah bly óf Satan se kant kies (Matt. 7:13). Tweedens, diegene wat aan Satan se kant is, geniet slegs beperkte voordele. Adam en Eva het die geleentheid gekry om vir hulleself te besluit wat goed is en wat sleg is, en die demone het beperkte invloed oor menseregerings gekry (Gen. 3:22). Maar om Satan se kant te kies het altyd slegte gevolge. Daar is geen ware voordele nie! — Job 21:7-17; Gal. 6:7, 8.

9 Hoe help dit ons om te weet hoeveel invloed Satan het? Dit help ons om die regte beskouing van regerings te hê, en dit motiveer ons om die goeie nuus te verkondig. Ons verstaan dat Jehovah wil hê dat ons die regerings moet respekteer (1 Pet. 2:17). En Jehovah verwag van ons om die wette van menseregerings te gehoorsaam, solank dit nie bots met sy standaarde nie (Rom. 13:1-4). Maar ons besef ook dat ons neutraal moet bly. Ons moet nooit dink dat een politieke party of menseleier beter as ’n ander een is nie (Joh. 17:15, 16; 18:36). Ons sien wat Satan met Jehovah se naam en reputasie probeer doen, en daarom doen ons alles wat ons kan om die waarheid oor God aan ander te leer. Ons is trots daarop om sy naam te dra en dit te gebruik. Ons weet dat ons liefde vir God ons gelukkiger kan maak as enige liefde vir geld of besittings. — Jes. 43:10; 1 Tim. 6:6-10.

HOE PROBEER SATAN ANDER BEÏNVLOED?

10-12. (a) Wat het Satan dalk gebruik om die ander engele te laat sondig? (b) Watter lesse leer ons uit die voorbeeld van die engele wat gesondig het?

10 Satan gebruik verskillende metodes om ander te beïnvloed. Hy probeer om hulle te vang en hulle te kry om dinge op sy manier te doen. En hy probeer ook om hulle te boelie sodat hulle hom moet dien.

11 Dink net hoe Satan dit reggekry het om ’n groot aantal engele te laat sondig. Hy moes hulle baie lank dopgehou het om te weet wat hy kon gebruik sodat hulle sy kant sou kies. Party van die engele het in Satan se strik getrap en seksuele omgang met vrouens gehad. Hulle kinders was gewelddadige reuse wat die mense om hulle wreed behandel het (Gen. 6:1-4). Satan het die ongehoorsame engele dalk nie net met onsedelike seks versoek nie, maar ook met die geleentheid om mag oor die mensdom te hê. Sy doelwit was dalk om in te meng met die vervulling van die profesie oor ‘die vrou se saad’ (Gen. 3:15). Wat sy plan ook al was, Jehovah het die Vloed gebring en al Satan en die opstandige engele se planne in die wiele gery.

Satan probeer om ons te vang met onsedelikheid, selfsugtige trots en spiritisme (Sien paragraaf 12, 13)

12 Wat kan ons hieruit leer? Ons moet nooit onderskat hoe maklik ons deur onsedelikheid of trots gevang kan word nie. Die engele wat by Satan aangesluit het, was baie jare lank saam met God in die hemel. Maar ten spyte van hierdie goeie omgewing het baie toegelaat dat verkeerde begeertes in hulle ontwikkel en al hoe sterker word. Net so dien ons miskien al jare lank in die aardse deel van God se organisasie. Maar selfs in hierdie geestelike rein omgewing kan verkeerde begeertes in ons hart begin ontwikkel (1 Kor. 10:12). Dit is baie belangrik dat ons gereeld ons hart ondersoek, onsedelike gedagtes verwerp en ontslae raak van selfsugtige trots! — Gal. 5:26; lees Kolossense 3:5.

13. Wat gebruik Satan nog om ons te vang, en hoe kan ons dit vermy?

13 Nog iets wat Satan gebruik om ons te vang, is nuuskierigheid oor spiritisme. Vandag gebruik Satan nie net valse godsdiens om mense nuuskierig te maak oor die demone nie, hy gebruik ook die vermaaklikheidswêreld om dit te doen. Flieks, elektroniese speletjies en ander soorte vermaak laat spiritisme opwindend lyk. Wat kan ons doen om hierdie strik te vermy? Ons moenie verwag dat God se organisasie ons ’n lys van goeie en slegte vermaak moet gee nie. Elkeen van ons moet ons eie gewete oplei sodat ons goeie besluite kan neem wat op God se beginsels gebaseer is (Heb. 5:14). Maar ons sal wyse besluite neem as ons die apostel Paulus se geïnspireerde raad toepas deur seker te maak dat ons liefde vir God “sonder huigelary” is (Rom. 12:9). Ons kan ons afvra: ‘Sal die tipe vermaak wat ek kies ander die indruk gee dat ek skynheilig is? Sou my Bybelstudente of herbesoeke dink dat ek een ding sê en iets heeltemal anders doen wanneer hulle sien watter tipe vermaak ek kies?’ Hoe meer ons woorde met ons dade ooreenstem, hoe kleiner is die kans dat ons deur Satan gevang sal word. — 1 Joh. 3:18.

Satan probeer om ons te boelie deur regerings wat ons werk verbied, druk van ons skoolmaats en familie wat ons teëstaan (Sien paragraaf 14)

14. Hoe kan Satan dalk probeer om ons te boelie, en hoe kan ons dit hanteer?

14 Satan probeer ook om ons te boelie en ons bang te maak sodat ons dislojaal aan Jehovah sal wees. Hy kan byvoorbeeld regerings gebruik om ons predikingswerk te verbied. Of hy kan die mense by ons werk of skool gebruik om ons te spot omdat ons volgens die Bybel se standaarde wil lewe (1 Pet. 4:4). Hy kan ook ons familielede, wat dalk goeie bedoelings het, gebruik om te keer dat ons vergaderinge toe gaan (Matt. 10:36). Hoe kan ons hierdie dinge hanteer? Eerstens, ons moet hierdie soort direkte aanvalle verwag, want Satan voer oorlog teen ons (Op. 2:10; 12:17). Ons moet ook besef wat die eintlike rede vir hierdie aanvalle is. Satan beweer dat ons Jehovah dien net wanneer dit maklik is en dat ons Hom sal verlaat wanneer dinge moeilik raak (Job 1:9-11; 2:4, 5). Laastens, ons moet op Jehovah vertrou, want hy sal ons die krag gee om hierdie aanvalle te hanteer. Onthou, Jehovah sal ons nooit verlaat nie. — Heb. 13:5.

WAT SATAN NIE KAN DOEN NIE

15. Kan Satan ons dwing om iets te doen wat ons nie wil doen nie? Verduidelik.

15 Satan kan mense nie dwing om iets te doen wat hulle nie wil doen nie (Jak. 1:14). Baie mense besef nie eers dat hulle aan Satan se kant is nie. Maar nadat hulle die waarheid geleer het, moet elkeen self besluit wie hy of sy wil dien (Hand. 3:17; 17:30). As ons vasbeslote is om God se wil te doen, is daar niks wat Satan kan doen om ons te kry om dislojaal te wees nie. — Job 2:3; 27:5.

16, 17. (a) Watter ander dinge is daar wat Satan en die demone nie kan doen nie? (b) Hoekom moet ons nie bang wees om hardop te bid nie?

16 Daar is ook ander dinge wat Satan en die demone nie kan doen nie. Byvoorbeeld, dit sê nêrens in die Bybel dat hulle die vermoë het om te weet wat ons dink of wat in ons hart is nie. Net Jehovah en Jesus het hierdie vermoë (1 Sam. 16:7; Mark. 2:8). Maar moet ons bang wees dat Satan en die demone ons dalk sal hoor as ons hardop bid of praat en dan ons woorde teen ons sal gebruik? Nee! Hoekom nie? Ons is nie bang om goeie dinge in Jehovah se diens te doen net omdat die Duiwel ons dalk sal sien nie. Net so hoef ons nie bang te wees om hardop te bid net omdat die Duiwel ons dalk sal hoor nie. Die Bybel bevat baie voorbeelde van God se knegte wat hardop gebid het, en dit sê nêrens dat hulle bang was dat die Duiwel hulle sal hoor nie (1 Kon. 8:22, 23; Joh. 11:41, 42; Hand. 4:23, 24). As ons ons bes doen om in ooreenstemming met God se wil te praat en op te tree, kan ons seker wees dat Jehovah nie die Duiwel sal toelaat om ons enige blywende skade aan te doen nie. — Lees Psalm 34:7.

17 Ons moet ons vyand ken, maar ons hoef nie onnodig bang te wees vir hom nie. Met Jehovah se hulp kan selfs onvolmaakte mense Satan oorwin (1 Joh. 2:14). As ons hom teëstaan, sal hy van ons af wegvlug (Jak. 4:7; 1 Pet. 5:9). Dit lyk of veral jongmense ’n teiken vir Satan is. Watter spesifieke dinge kan hulle doen om teen die Duiwel te veg? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

^ par. 2 Ten minste ’n paar engele se persoonlike naam word in die Bybel genoem (Rigt. 13:18; Dan. 8:16; Luk. 1:19; Op. 12:7). Dit sê ook dat Jehovah elke ster ’n naam gegee het (Ps. 147:4). Daarom is dit redelik om te glo dat elke engel, insluitende die een wat Satan geword het, ’n persoonlike naam het.

^ par. 3 Die titel “Satan” word 18 keer in die Hebreeuse Geskrifte genoem, maar meer as 30 keer in die Christelike Griekse Geskrifte.