Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mag ons almal een wees net soos Jehovah en Jesus een is

Mag ons almal een wees net soos Jehovah en Jesus een is

‘Ek doen versoek sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my is.’ — JOH. 17:20, 21.

LIED: 24, 99

1, 2. (a) Waarvoor het Jesus gevra in sy laaste gebed saam met sy apostels? (b) Hoekom was Jesus dalk bekommerd oor eenheid?

GEDURENDE Jesus se laaste ete saam met sy apostels was hy bekommerd oor eenheid. Toe hy saam met hulle gebid het, het hy gesê dat hy graag wil hê dat al sy dissipels een moet wees, net soos hy en sy Vader een is. (Lees Johannes 17:20, 21.) Hulle eenheid sou ’n kragtige getuienis vir ander mense wees. Dit sou duidelik bewys dat Jehovah Jesus aarde toe gestuur het om Sy wil te doen. Jesus se ware dissipels sou deur hulle liefde geïdentifiseer word, en dit sou hulle help om verenig te wees. — Joh. 13:34, 35.

2 ’n Mens kan verstaan hoekom Jesus so baie oor eenheid gepraat het. Hy het gesien dat die apostels nie heeltemal verenig was nie. Hulle het byvoorbeeld gedurende sy laaste ete saam met hulle weer met mekaar gestry oor “wie van hulle blykbaar die grootste was” (Luk. 22:24-27; Mark. 9:33, 34). Jakobus en Johannes het selfs eenkeer vir Jesus gevra om vir hulle belangrike plekke langs hom in sy Koninkryk te gee. — Mark. 10:35-40.

3. Wat kon veroorsaak het dat daar nie eenheid onder Christus se dissipels was nie, en watter vrae gaan ons nou bespreek?

3 Die begeerte om belangrik te wees, was dalk nie die enigste rede hoekom Christus se dissipels nie verenig was nie. Die mense om hulle was verdeeld as gevolg van vyandigheid en vooroordeel, met ander woorde hulle het ander mense geoordeel nog voordat hulle hulle leer ken het. Jesus se dissipels moes sulke negatiewe gevoelens oorkom. In hierdie artikel gaan ons die volgende vrae bespreek: Hoe het Jesus vooroordeel hanteer? Hoe het Jesus sy volgelinge geleer om werklik verenig te wees en om alle mense dieselfde te behandel? En hoe sal sy leringe ons help om verenig te wees?

JESUS EN SY VOLGELINGE IS MET VOOROORDEEL BEHANDEL

4. Gee voorbeelde van hoe Jesus met vooroordeel behandel is.

4 Selfs Jesus is met vooroordeel behandel. Toe Filippus vir Natanael gesê het dat hy die Messias gevind het, het Natanael gesê: “Kan enigiets goeds uit Nasaret kom?” (Joh. 1:46). Natanael het blykbaar van die profesie in Miga 5:2 geweet en het dalk gedink dat die Messias nie uit ’n onbelangrike dorpie soos Nasaret sou kom nie. Vooraanstaande Jode het ook op Jesus neergesien omdat hy van Galilea was (Joh. 7:52). Baie mense in Juda het gedink dat hulle beter was as die mense in Galilea. Ander Jode het probeer om Jesus te beledig deur hom ’n Samaritaan te noem (Joh. 8:48). Die Samaritane en die Jode was twee verskillende nasies met verskillende godsdienste. Die Jode en die Galileërs het min respek vir die Samaritane gehad en het hulle vermy. — Joh. 4:9.

5. Hoe is Jesus se volgelinge met vooroordeel behandel?

5 Jesus se volgelinge is ook deur die Joodse leiers beledig. Die Fariseërs het gesê dat hulle deel van die “vervloekte mense” was (Joh. 7:47-49). Hulle het enigiemand wat nie aan die rabbynse skole gestudeer het en volgens hulle tradisies gelewe het nie, as minderwaardig en ongeleerd beskou (Hand. 4:13). Die mense in daardie tyd was trots op hulle godsdiens, hulle posisie in die gemeenskap en hulle ras, en daarom het hulle Jesus en sy dissipels met vooroordeel behandel. Maar die dissipels is ook deur vooroordeel beïnvloed. Hulle sou die manier waarop hulle dink, moes verander as hulle verenig wou wees.

6. Gee voorbeelde om te wys hoe vooroordeel ons kan beïnvloed.

6 Vandag is vooroordeel baie algemeen. Dalk word ons met vooroordeel behandel, of dalk behandel ons ander mense met vooroordeel. ’n Suster wat nou ’n pionier in Australië is, sê: “Hoe meer ek gefokus het op die onregverdige manier waarop die Aborigines nou en in die verlede behandel is, hoe meer het ek wit mense gehaat. Die feit dat ek self mishandel is, het alles net erger gemaak.” ’n Broer in Kanada sê dat daar ’n tyd was toe hy bevooroordeeld was teenoor mense wat ’n ander taal praat. Hy erken: “Ek het gedink dat mense wat Frans praat, beter as ander is. En ek het vyandig begin raak teenoor mense wat Engels praat.”

7. Hoe het Jesus vooroordeel hanteer?

7 Net soos in Jesus se dag, kan vooroordeel ook vandag diep in mense se harte gewortel wees. Hoe het Jesus hierdie probleem in sy dag hanteer? Eerstens, hy het vooroordeel verwerp deur onpartydig te wees, met ander woorde hy het almal dieselfde behandel. Hy het vir rykes en armes gepreek, asook vir Fariseërs en Samaritane en selfs vir belastinggaarders en sondaars. Tweedens, Jesus het deur sy voorbeeld en leringe vir sy dissipels gewys dat hulle nie agterdogtig of bevooroordeeld teenoor ander moet wees nie.

OORKOM VOOROORDEEL MET LIEFDE EN NEDERIGHEID

8. Op watter belangrike beginsel is ons Christelike eenheid gebaseer? Verduidelik.

8 Ons eenheid is gebaseer op ’n belangrike beginsel wat Jesus vir sy volgelinge geleer het. Hy het gesê: ‘Julle is almal broers.’ (Lees Matteus 23:8, 9.) Ons is natuurlik “broers” in die sin dat ons almal kinders van Adam is (Hand. 17:26). Maar dit is nie al nie. Jesus het verduidelik dat sy dissipels broers en susters is omdat hulle erken het dat Jehovah hulle hemelse Vader is (Matt. 12:50). Hulle het ook deel geword van een groot geestelike familie wat deur liefde en geloof verenig is. Daarom het die apostels dikwels in hulle briewe hulle mede-dissipels ‘broers en susters’ genoem. — Rom. 1:13; 1 Pet. 2:17; 1 Joh. 3:13. *

9, 10. (a) Hoekom het die Jode geen rede gehad om trots te wees op hulle ras nie? (b) Hoe het Jesus ander geleer om rassevooroordeel te oorkom? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Nadat Jesus dit duidelik gemaak het dat ons mekaar as broers en susters moet beskou, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is om nederig te wees. (Lees Matteus 23:11, 12.) Soos ons gesien het, het onnodige trots veroorsaak dat sy apostels partykeer nie heeltemal verenig was nie. En ’n ander probleem was dalk dat hulle trots was op hulle ras. Baie Jode het gevoel dat hulle rede gehad het om trots te wees omdat hulle nakomelinge van Abraham was. Maar Johannes die Doper het vir hulle gesê: “God [het] mag om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.” — Luk. 3:8.

10 Jesus het gesê dat rassetrots verkeerd is. Hy het hierdie punt beklemtoon toe ’n skrifgeleerde vir hom gevra het: “Wie is dan my naaste?” Jesus het hom geantwoord deur ’n illustrasie te vertel van ’n Samaritaan wat liefdevol gesorg het vir ’n reisiger — ’n Jood — wat deur diewe geslaan was. Alhoewel ’n paar Jode verby hierdie arme man geloop het, het hulle hom geïgnoreer. Maar die Samaritaan het hom jammer gekry. Aan die einde van Jesus se illustrasie het hy vir die skrifgeleerde gesê om soos daardie Samaritaan te wees (Luk. 10:25-37). Jesus het gewys dat ’n Samaritaan vir die Jode kon leer wat dit beteken om ware liefde vir jou naaste te hê.

11. Hoekom moes Christus se dissipels onpartydig wees teenoor uitlanders, en hoe het Jesus hulle gehelp om dit te verstaan?

11 As Jesus se dissipels hulle opdrag wou uitvoer, moes hulle hulle trots en vooroordeel oorkom. Voordat hy hemel toe gegaan het, het hy vir hulle gesê om “in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te preek (Hand. 1:8). Jesus het hulle vroeër vir hierdie toewysing voorberei deur vir hulle te wys dat uitlanders ook goeie eienskappe het. Hy het ’n leëroffisier, wat ’n uitlander was, geprys vir sy groot geloof (Matt. 8:5-10). In sy tuisdorp, Nasaret, het Jesus vertel hoe Jehovah uitlanders gehelp het, soos die Fenisiese weduwee van Sarfat en Naäman, die melaatse man van Sirië (Luk. 4:25-27). En Jesus het nie net vir ’n Samaritaanse vrou gepreek nie, hy het ook twee dae in ’n Samaritaanse dorp gebly omdat die mense daar na sy boodskap geluister het. — Joh. 4:21-24, 40.

VOOROORDEEL IN DIE EERSTE EEU

12, 13. (a) Hoe het die apostels gereageer toe Jesus ’n Samaritaanse vrou geleer het? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat wys dat Jakobus en Johannes nie mooi verstaan het wat Jesus hulle probeer leer het nie?

12 Dit was nie maklik vir die apostels om hulle vooroordeel te oorkom nie. Dit het hulle verbaas om te sien dat Jesus bereid was om ’n Samaritaanse vrou te leer (Joh. 4:9, 27). Joodse godsdiensleiers sou nooit met ’n vrou in die openbaar praat nie, wat nog te sê ’n Samaritaanse vrou met ’n slegte reputasie. Die apostels het daarop aangedring dat Jesus moet eet, maar sy antwoord het gewys dat hy die geestelike gesprek so geniet het dat hy dit nie wou onderbreek net omdat hy honger was nie. Dit was sy Vader se wil dat hy vir alle mense, selfs vir ’n Samaritaanse vrou, moes preek. En die predikingswerk was vir hom soos kos. — Joh. 4:31-34.

13 Jakobus en Johannes het hierdie les nie mooi verstaan nie. Terwyl die dissipels saam met Jesus deur Samaria gereis het, het hulle slaapplek gesoek in ’n Samaritaanse dorpie. Die Samaritane het geweier om vir hulle slaapplek te gee. Jakobus en Johannes het baie kwaad geword en wou hê dat daar vuur uit die hemel moet kom om die hele dorpie te vernietig. Jesus het hulle ernstig tereggewys (Luk. 9:51-56). ’n Mens wonder dalk of Jakobus en Johannes op dieselfde manier sou gereageer het as hierdie onvriendelike dorpie in Galilea was, die gebied waar hulle vandaan gekom het. Dit lyk asof vooroordeel die rede vir hulle vyandigheid was. Die apostel Johannes was dalk ’n bietjie skaam oor hierdie uitbarsting toe hy jare later aan ’n suksesvolle predikingskampanje in Samaria deelgeneem het. — Hand. 8:14, 25.

14. Hoe is ’n probleem opgelos wat dalk as gevolg van taal ontstaan het?

14 Nie lank ná Pinkster 33 HJ nie, het ’n ander probleem kop uitgesteek. Daar is teen sekere Christene gediskrimineer. Toe kos aan weduwees in die gemeente uitgedeel is, het die weduwees wat Grieks gepraat het, niks gekry nie (Hand. 6:1). Vooroordeel teenoor mense wat ’n ander taal praat, was dalk die rede hiervoor. Die apostels het die probleem gou opgelos deur geestelik bekwame broers aan te stel om die kos uit te deel. Al hierdie broers het Griekse name gehad. Dit sou dit dalk makliker gemaak het vir die weduwees wat oorgesien was om hulp van hulle te aanvaar.

15. Hoe het Petrus geleer om onpartydig teenoor almal te wees? (Sien prent aan begin van artikel.)

15 In 36 HJ het die dissipelmaakwerk na ander nasies toe uitgebrei. Dit was die apostel Petrus se gewoonte om net met Jode te assosieer. Maar nadat God dit duidelik gemaak het dat Christene nie partydig moet wees nie, het Petrus vir Kornelius, ’n Romeinse soldaat, gepreek. (Lees Handelinge 10:28, 34, 35.) Daarna het Petrus saam met nie-Joodse gelowiges geëet en geassosieer. Maar jare later het Petrus opgehou om saam met nie-Joodse Christene in die stad Antiogië te eet (Gal. 2:11-14). Paulus het Petrus hieroor tereggewys, en hy het die raad aanvaar. Toe Petrus sy eerste brief aan die Joodse en nie-Joodse Christene in Klein-Asië geskryf het, het hy met liefde gepraat van die hele gemeenskap van broers. — 1 Pet. 1:1; 2:17.

16. Waarvoor het die vroeë Christene bekend geword?

16 Dit is duidelik dat die apostels uit Jesus se voorbeeld geleer het om vir “alle soorte mense” lief te wees (Joh. 12:32; 1 Tim. 4:10). Al het dit ’n rukkie gevat, het hulle die manier waarop hulle gedink het, verander. Die vroeë Christene het daarvoor bekend geword dat hulle vir mekaar lief is. Tertullianus, ’n skrywer uit die tweede eeu, het mense wat nie Christene was nie, aangehaal wat gesê het: “Hulle is lief vir mekaar . . . Hulle is selfs bereid om vir mekaar te sterf.” Die vroeë Christene het hulle met “die nuwe persoonlikheid” beklee, en het besef dat alle mense in God se oë gelyk is. — Kol. 3:10, 11.

17. Hoe kan ons vooroordeel uit ons hart verwyder? Gee voorbeelde.

17 Ons het dalk ook tyd nodig om vooroordeel uit ons hart te verwyder. ’n Suster in Frankryk verduidelik dat sy nog daarmee sukkel. Sy sê: “Jehovah het my geleer wat liefde beteken, wat dit beteken om met ander te deel en wat dit beteken om vir alle soorte mense lief te wees. Maar ek leer nog om vooroordeel teenoor ander mense te oorkom, en dit is nie altyd maklik nie. Dit is hoekom ek aanhou om daaroor te bid.” ’n Suster in Spanje sukkel met dieselfde probleem. Sy sê: “Partykeer sukkel ek met gevoelens van vyandigheid teenoor ’n sekere etniese groep, en die meeste van die tyd kry ek dit reg om dit te oorkom. Maar ek weet dat ek moet aanhou om daarteen te stry. Ek is so bly om deel te kan wees van ’n verenigde gesin, en ek dank Jehovah daarvoor.” Elkeen van ons moet ons eie hart goed ondersoek. Moet ons dalk ook, soos hierdie twee susters, vooroordeel uit ons hart verwyder?

HOE MEER LIEFDE, HOE MINDER VOOROORDEEL

18, 19. (a) Hoekom moet ons almal verwelkom? (b) Hoe kan ons dit op praktiese maniere doen?

18 Ons moet onthou dat ons almal voorheen “vreemdelinge”, of uitlanders, was en ver van God af was (Ef. 2:12). Maar Jehovah het ons “met die koorde van liefde” na hom toe getrek (Hos. 11:4; Joh. 6:44). En Christus het ons verwelkom. Hy het dit vir ons moontlik gemaak om deel van God se gesin te word. (Lees Romeine 15:7.) Jesus het ons liefdevol aanvaar, al is ons onvolmaak. Daarom sou ons nie eers daaraan dink om enigiemand te verwerp nie.

Knegte van Jehovah soek die wysheid van bo en is verenig in liefde (Sien paragraaf 19)

19 Hoe nader ons aan die einde van hierdie goddelose stelsel kom, hoe meer verdeeld, bevooroordeeld en vyandig sal mense word (Gal. 5:19-21; 2 Tim. 3:13). Maar as knegte van Jehovah vra ons hom vir sy wysheid. Hierdie wysheid van bo bevorder vrede en help ons om onpartydig te wees (Jak. 3:17, 18). Dit maak ons baie bly om vriende te wees met mense van ander lande, om ander kulture te aanvaar en dalk selfs hulle taal te leer. Wanneer ons dit doen, sal vrede soos ’n rivier vloei en sal regverdigheid soos die golwe van die see wees. — Jes. 48:17, 18.

20. Wat gebeur wanneer ons verstand en hart deur liefde gevorm word?

20 “Die sluise van ware kennis is vir my oopgemaak”, sê die suster van Australië wat vroeër genoem is. Sy verduidelik hoe ’n studie van die Bybel haar gehelp het, en sê: “My hart en verstand is hervorm. En al die diepgewortelde vooroordeel en haat het eenvoudig weggesmelt.” Die broer van Kanada sê dat hy nou besef dat “onkunde gewoonlik die rede vir rassisme is en dat ’n persoon se eienskappe niks te doen het met waar hy gebore is nie”. Hy het met ’n suster getrou wat Engels praat! Hierdie voorbeelde van persone wat hulle gesindheid verander het, is ’n bewys dat Christelike liefde vooroordeel kan oorkom. Dit verenig ons met ’n band van liefde wat nie gebreek kan word nie. — Kol. 3:14.

^ par. 8 Die uitdrukking “broers” kan ook na susters in die gemeente verwys. Paulus het sy brief aan die “broers” in Rome geskryf. Maar dit is duidelik dat hy ook aan die susters geskryf het, want hy het die name van ’n hele paar susters genoem (Rom. 16:3, 6, 12). Die Wagtoring verwys al jare lank na Christene in die gemeente as ‘broers en susters’.