Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mense wat vrygewig is, is gelukkig

Mense wat vrygewig is, is gelukkig

“Dit verskaf . . . geluk om te gee.” — HAND. 20:35.

LIED: 76, 110

1. Hoe help die skepping ons om te sien dat Jehovah vrygewig is?

HOEWEL Jehovah heeltemal alleen was voordat hy begin het om alles te skep, het hy nie net aan homself gedink nie. Hy het eerder die geskenk van lewe aan intelligente skepsele in die hemel en op die aarde gegee. “Die gelukkige God”, Jehovah, hou daarvan om goeie dinge aan ander te gee (1 Tim. 1:11; Jak. 1:17). En omdat hy wil hê dat ons ook gelukkig moet wees, leer hy ons om vrygewig te wees. — Rom. 1:20.

2, 3. (a) Hoekom maak dit ons gelukkig wanneer ons gee? (b) Wat gaan ons bespreek?

2 God het die mens na sy beeld geskep (Gen. 1:27). Dit beteken dat ons geskep is om sy persoonlikheid te weerspieël. Daarom sal ons gelukkig en tevrede wees wanneer ons Jehovah se voorbeeld navolg deur in ander belang te stel en vrygewig te wees (Fil. 2:3, 4; Jak. 1:5). Hoekom? Want dit is hoe Jehovah ons gemaak het. Al is ons onvolmaak, kan ons Jehovah se voorbeeld navolg en ook vrygewig wees.

3 Die Bybel leer ons hoe om vrygewig te wees. Kom ons kyk na ’n paar lesse wat God se Woord ons oor hierdie onderwerp leer. Ons sal sien hoe ons God se goedkeuring kan kry deur vrygewig te wees en hoe hierdie eienskap ons help om die werk te doen wat God ons gegee het. Ons gaan ook sien hoe ons vrygewigheid met ons geluk verband hou en hoekom ons altyd vrygewig moet wees.

HOE ONS GOD SE GOEDKEURING KAN KRY

4, 5. Wat het Jehovah en Jesus gedoen wat vir ons wys hoe om vrygewig te wees?

4 Jehovah wil hê dat mense hom moet navolg, en daarom maak dit hom gelukkig wanneer ons vrygewig is (Ef. 5:1). Wanneer ons kyk na die manier waarop God ons gemaak het en die pragtige aarde wat hy ons gegee het, is dit baie duidelik dat God wil hê dat mense gelukkig moet wees (Ps. 104:24; 139:13-16). Daarom eer ons hom wanneer ons probeer om ander gelukkig te maak.

5 Ware Christene volg Jesus na, wat vir ons die volmaakte voorbeeld gestel het. Hy het vir ons gewys hoe ’n mens vrygewig kan wees. Jesus het self gesê dat “die Seun van die mens gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Daarom het die apostel Paulus Christene aangespoor: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was . . . Hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem” (Fil. 2:5, 7). Dit sal goed wees om jou af te vra: ‘Wat kan ek doen om Jesus se voorbeeld selfs beter na te volg?’ — Lees 1 Petrus 2:21.

6. Watter les het Jesus ons in die illustrasie van die goeie Samaritaan geleer? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Ons kan Jehovah se goedkeuring kry deur sy volmaakte voorbeeld asook Christus s’n na te volg. Ons doen dit wanneer ons in ander belangstel en na maniere soek om hulle te help. In Jesus se illustrasie van die goeie Samaritaan het hy dit baie duidelik gemaak dat hy van sy volgelinge verwag om uit hulle pad uit te gaan om ander, selfs persone van ’n ander agtergrond, te help. (Lees Lukas 10:29-37.) Onthou jy hoekom Jesus hierdie illustrasie oor die goeie Samaritaan vertel het? ’n Joodse man het hom gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus se antwoord wys dat ons soos die Samaritaan vrygewig moet wees as ons God se goedkeuring wil hê.

7. Wat het in die tuin van Eden gebeur, en hoe wys ons dat ons glo dat Jehovah se manier van dinge doen, die beste is?

7 Daar is ’n hele paar goeie redes waarom Christene vrygewig moet wees. Hierdie eienskap hou byvoorbeeld verband met wat in die tuin van Eden gebeur het. Hoe so? Satan het beweer dat dit vir Adam en Eva — asook vir die hele mensdom — beter sou wees om op hulleself en hulle eie belange te fokus as om aan God gehoorsaam te wees. Eva het iets gedoen wat baie selfsugtig was omdat sy graag soos God wou wees. Adam het gewys dat hy ook selfsugtig was omdat dit vir hom belangriker was om Eva gelukkig te maak (Gen. 3:4-6). Vandag kan die gevolge van hulle besluit duidelik gesien word. Ons sal nooit gelukkig wees as ons selfsugtig is nie. Deur vrygewig te wees, wys ons dat ons glo dat God se manier van dinge doen, die beste is.

HOE ONS DIE WERK KAN DOEN WAT GOD SY KNEGTE GEGEE HET

8. Hoekom behoort die eerste man en vrou ook aan ander te gedink het?

8 God het vir die eerste man en vrou instruksies gegee wat hulle moes laat dink het aan wat die beste vir ander sou wees, selfs al was hulle alleen in die tuin van Eden. Jehovah het Adam en Eva geseën en vir hulle gesê om kinders te hê, die aarde te vul en dit te onderwerp (Gen. 1:28). Net soos die Skepper baie belanggestel het in wat die beste vir sy skepping was, moes die eerste menseouers belanggestel het in die geluk van die kinders wat hulle sou hê. Die Paradys moes oor die hele aarde uitgebrei word sodat Adam se nageslag dit kon geniet. Hulle almal sou moes saamwerk aan hierdie enorme projek.

9. Hoekom sou dit mense gelukkig gemaak het om die aarde ’n paradys te maak?

9 Volmaakte mans en vrouens sou ten volle met Jehovah moes saamwerk om die aarde ’n paradys te maak en sy voornemens te vervul. Op hierdie manier sou hulle in sy rus ingaan (Heb. 4:11). Stel jou net voor hoe lekker en bevredigend dit sou gewees het om aan daardie projek te werk! As hulle onselfsugtig was en gewys het dat hulle in ander belangstel, sou hulle baie seëninge gekry het en werklik tevrede gewees het.

10, 11. Hoe kan ons die opdrag om te preek en dissipels te maak, uitvoer?

10 Vandag het Jehovah sy knegte die werk gegee om te preek en dissipels te maak. As ons hierdie werk wil doen, moet ons regtig vir mense omgee. En ons kan net daarin volhard as ons dit vir die regte rede doen — liefde vir God en liefde vir ons naaste.

11 In die eerste eeu HJ het Paulus van homself en ander Christene gepraat as “God se medewerkers” omdat hulle gehelp het om saadjies van Koninkrykswaarheid te plant en nat te maak (1 Kor. 3:6, 9). Vandag kan ons ook “God se medewerkers” wees as ons vrygewig is met ons tyd, energie en materiële dinge en dit gebruik om die werk te doen wat God ons gegee het. Dit is beslis ’n wonderlike voorreg!

Daar is min dinge wat ons so gelukkig maak as om persone te help om geestelike waarhede te verstaan (Sien paragraaf 12)

12, 13. Wat sou jy sê is die seëninge wat ons kry wanneer ons dissipels maak?

12 Wanneer ons vrygewig is met ons tyd en energie deur te preek en dissipels te maak, maak dit ons baie gelukkig. Baie wat al die voorreg gehad het om ’n Bybelstudie te hou met iemand wat vordering gemaak het, sal jou vertel dat daar min dinge is wat ’n mens so gelukkig maak. Dit maak ons regtig bly om te sien hoe opgewonde iemand raak wanneer hy geestelike waarhede verstaan, sy geloof sterker word, hy veranderinge in sy lewe maak en hy ander van die waarheid begin vertel. Dit het Jesus ook baie bly gemaak toe die 70 wat hy uitgestuur het om te gaan preek “met vreugde teruggekeer” het omdat hulle goeie ondervindinge gehad het. — Luk. 10:17-21.

13 Verkondigers regoor die wêreld is baie bly wanneer hulle sien hoe die goeie nuus mense help om hulle lewe te verbeter. Kyk byvoorbeeld na die ondervinding van Anna, ’n jong ongetroude suster. * Sy het meer in haar bediening begin doen deur na ’n gebied in Oos-Europa te trek waar daar baie meer verkondigers nodig is. Sy skryf: “Dis baie maklik om Bybelstudies hier te begin, en ek hou regtig daarvan. Ek geniet my velddiens baie. Wanneer ek by die huis kom, het ek nie tyd om op myself te fokus nie. Ek dink aan die mense met wie ek studeer — aan hulle probleme en die dinge waaroor hulle hulle bekommer. Ek dink aan wat ek kan doen om hulle aan te moedig en op watter praktiese maniere ek hulle kan help. En ek is nou daarvan oortuig dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’.” — Hand. 20:35.

Wanneer ons elke huis in ons gebied besoek, gee ons mense ’n kans om na die Koninkryksboodskap te luister (Sien paragraaf 14)

14. Hoe kan jy jou bediening geniet, al luister min mense na die goeie nuus?

14 Wanneer ons mense ’n kans gee om die boodskap van die goeie nuus te hoor, kan dit ons gelukkig maak, selfs al kies hulle om nie na ons te luister nie. Die werk wat ons vandag doen, is baie dieselfde as die profeet Esegiël s’n. Jehovah het vir hom gesê: “Jy moet my woorde tot hulle spreek, ongeag of hulle hoor of dit nalaat” (Eseg. 2:7; Jes. 43:10). Selfs al waardeer party mense nie ons boodskap nie, waardeer Jehovah wat ons doen. (Lees Hebreërs 6:10.) Kyk na die goeie gesindheid wat een broer teenoor sy bediening het. Hy het geskryf: “Ons het geplant, natgemaak en gebid met die hoop dat Jehovah die belangstelling sal laat groei.” — 1 Kor. 3:6.

HOE OM GELUKKIG TE WEES

15. Hoe reageer baie mense wanneer iemand vrygewig teenoor hulle is, en moet hulle reaksie ’n invloed op ons hê?

15 Jesus wil hê dat ons gelukkig moet wees deur vrygewig te wees. Baie mense waardeer dit wanneer iemand vrygewig teenoor hulle is. Daarom het Jesus ons aangespoor: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet” (Luk. 6:38). Natuurlik sal nie almal dankbaar wees wanneer ons vrygewig teenoor hulle is nie. Maar wanneer hulle wel dankbaar is, kan dit ’n kettingreaksie veroorsaak en hulle aanmoedig om ook vrygewig te wees. Daarom moet ons altyd vrygewig wees, selfs al lyk dit asof mense dit nie waardeer nie. Jy weet nooit watter goeie uitwerking dit kan hê nie.

16. Wat moet ons motiveer om vrygewig te wees?

16 Mense wat regtig vrygewig is, verwag nie dat ander vir hulle iets moet teruggee nie. Dit is wat Jesus in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, kreupeles, verlamdes, blindes; en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie” (Luk. 14:13, 14). Die Bybel sê dat ’n vrygewige persoon ‘geseën sal word’. Dit sê ook: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe” (Spr. 22:9; Ps. 41:1). Ja, ons moet vrygewig wees, want dit maak ons gelukkig om ander te help.

17. Wat is ’n paar maniere waarop ons kan gee?

17 Toe Paulus Jesus se woorde aangehaal het dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’, het hy nie net van materiële dinge gepraat nie. Ons kan ook gee deur ander aan te moedig, raad te gee en op praktiese maniere te help (Hand. 20:31-35). Die apostel Paulus het ons deur sy woorde en sy voorbeeld geleer om van onsself te gee — ons tyd, ons energie, ons aandag, ons liefde.

18. Wat sê baie navorsers oor vrygewigheid?

18 Navorsers op die gebied van sosiale wetenskappe het ook gesien dat dit mense gelukkig maak wanneer hulle gee. Volgens een artikel voel mense gelukkiger nadat hulle goeie dinge vir ander gedoen het. Navorsers sê dat wanneer ons ander help, dit voel asof ons lewe meer betekenis het en ons ’n doel in die lewe het. Daarom raai deskundiges mense dikwels aan om vrywillige werk te doen omdat dit hulle gelukkig sal maak en dit goed is vir hulle gesondheid. Dit verbaas ons nie, want ons liefdevolle Skepper het nog altyd gesê dat dit mense gelukkig maak as hulle vrygewig is. — 2 Tim. 3:16, 17.

HOU AAN OM VRYGEWIG TE WEES

19, 20. Hoekom wil jy vrygewig wees?

19 Dit kan moeilik wees om vrygewig te wees wanneer die mense om ons net aan hulleself dink. Maar Jesus het vir ons gewys wat die twee belangrikste gebooie is. Hy het gesê dat ons Jehovah moet liefhê met ons hele hart, siel, verstand en al ons krag en dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (Mark. 12:28-31). In hierdie artikel het ons gesien dat diegene wat vir Jehovah lief is, hom navolg. Jehovah en Jesus is vrygewig, en hulle moedig ons aan om ook vrygewig te wees omdat dit ons waarlik gelukkig sal maak. As ons ons bes doen om vrygewig teenoor God en ons naaste te wees, sal dit vir ons en vir ander goed wees en sal ons Jehovah eer.

20 Miskien probeer jy alreeds om vrygewig te wees en ander te help, veral jou medegelowiges (Gal. 6:10). As jy aanhou om dit te doen, sal ander jou liefhê en waardeer, en dit sal jou gelukkig maak. Spreuke 11:25 sê: “Die vrygewige siel sal vet gemaak word, en wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.” In ons Christelike lewe en bediening is daar natuurlik verskillende gebiede en baie maniere waarop ons kan wys dat ons onselfsugtig, liefdevol en vrygewig is, en dit kan vir ons baie seëninge bring. In die volgende artikel gaan ons na ’n paar van hierdie maniere en gebiede kyk.

^ par. 13 Naam is verander.